Die kluisenaar en sy geliefdes

VRYDAG 13 AUGUSTUS 2004

Die kluisenaar (en sy geliefdes), notas I

Ek het vandag, Vrydag die dertiende, weereens besef hoekom sommige mense kluisenaars word. Dis die stilte, die afwesigheid van konfrontasie met mense wat jou nie verstaan nie, wat nie begryp wat in jou kop aangaan nie, wat jou verkeerd verstaan; ook die afwesigheid van jou eie stem as jy jouself nogmaals probeer verduidelik.

Die kluisenaar gee dus tot ’n groot mate op in sy poging om verstaan te word en om aanvaar te word binne die gemeenskap, selfs deur dié wat hy liefhet.

SONDAG 15 AUGUSTUS 2004

Die kluisenaar (en sy geliefdes), notas II

Ek is lief vir my familie, soos hulle vir my, maar tussen hierdie liefde en die manifestasie daarvan is baie misverstand, en baie frustrasie.

“Praat met hulle daaroor,” sal iemand sê.

Ek kan nie, want hulle kan nie luister nie. Hulle is vasgevang in hul eie onsekerhede en vrese wat, soos dit blyk, nooit behoorlik gekonfronteer is nie. Ek praat teen ’n muur vas, en daar is altyd onderliggende frustrasie en verbale aggressie in hul reaksie. En soms is hierdie frustrasie en verbale aggressie ook teenwoordig in my eie spraak.

My ouers het my lief, maar ek glo hulle respekteer my nie. Die hoofrede is omdat hulle my beoordeel volgens sekere standaarde.

Hulle respekteer my ouer suster, omdat sy gekwalifiseer het vir ’n sekere beroep, ’n vaste betrekking gekry het by ’n groot maatskappy, en “goeie geld” verdien.

Hulle respekteer my jonger suster omdat sy hard probeer het oor die jare om haar eie lewe op te bou op spore waarmee hulle kan vereenselwig – werk, geld, trou, huis-opsit.

In teenstelling met my twee susters val ek uit die bus uit met “kreatiewe onafhanklikheid”, “intellektuele verligting”, “die Verligte Enkeling”, “om los te kom van die arbeider-baas verhouding”, “taal as identiteitskepper”, en “godsbegrip in ’n mens se soeke na sy of haar eie identiteit”.

Ek glo nie een van die mense wat ek inniglik liefhet, verstaan hierdie dinge nie! En dis nie omdat dit bokant hul intellektuele vermoëns is nie – nie een van my gesinslede is onnosel nie. Maar begrip vir die terme “kreatief” en “onafhanklikheid” beteken nie jy gaan verstaan as iemand nie arbeid wil verrig wat sal vereis dat hy sy kreatiewe onafhanklikheid moet prysgee nie – wat ook al die prys daarvoor.

Reaksies op wat ek te sê het, is daar wel. My ouer suster glo ek dink te veel. My jonger suster stel nie belang in my “denke en opinies” nie. En my ouers is net mense – hulle het hul eie begrip van dinge, en enige iets wat dit deurmekaar krap, of wat hulle nie kan begryp nie, lei tot ’n reaksie van verbale aggressie.

Ek is inniglik lief vir my ouers en my twee susters, en ek voel baie maklik jammer vir hulle. Maar om hulle tot beter begrip te probeer lei met verbale kommunikasie, is feitlik onmoontlik. Ek praat in ’n taal wat hulle nie verstaan nie. My wêreld is nie húlle s’n nie. Ek blameer hulle ook nie; ek gee slegs uitdrukking aan my eie frustrasie.

* * *

Wat is familie? Dis individuele entiteite wat deur die noodlot bymekaar gegooi is, en wat deur duisende dae in noue kontak met mekaar te spandeer, lief geraak het vir mekaar. Maar om te verwag dat hulle jou noodwendig moet verstaan omdat hulle lief is vir jou, is om een en vier bymekaar te gooi en te glo jy gaan twee kry. Ek moet die situasie aanvaar soos dit is.

______________________