DIE KERK, DIE VROU, DIE HUIS, EN DIE HANG-UPS
die KERK
Ek kry die gevoel, as ek weer kyk na die laaste maande in Korea en wat ek toe geskryf en geglo het, dat ek nog steeds die punt mis. Ek het toe gesê ek luier, dat ek wag vir die lig om groen te slaan sodat ek verder kan beweeg. (Toe het ek myself besig gehou met video’s kyk en boeke lees. Nou hou ek myself meer produktief besig, en tot so ‘n mate dat ek selfs gelukkig is, want ek raak nie meer so maklik gefrustreerd en verveeld nie.)
Laas Vrydag het my scooter se brieke gefaal. Dit kon op enige tyd gedurende daai oggend gebeur het, en in 80% van die gevalle sou dit baie ernstige gevolge gehad het. Maar op die betrokke tyd en plek waar dit wel gebeur het, was ek in feitlik geen gevaar nie. En siende dat dit nie die eerste keer was wat iets rêrig slegs kón gebeur het met my, maar nie gebeur het nie, het ek gewonder: Hoekom?
Dit het my weer by die tema gebring van roeping; meer spesifiek, die idee of gevoel dat ék een of ander spesiale roeping het. Dat daar iets is wat ek móét doen; ‘n raison d’être, a reason for being.
Ek spandeer soms die beste ure van my dae en nagte hard aan die dink – oor die wêreld, oor die lewe, oor die betekenis van dinge, oor die betekenis van my eie lewe, oor die raaisel van hoekom ek is soos ek is en doen wat ek doen, en hoekom ek die keuses gemaak het wat my gebring het waar ek vandag is. Dis asof ek ‘n speurder is wat die heeltyd opsoek is na leidrade, ongeag of ek voortdurend bewus is daarvan of nie. Soms is dit net ‘n woord wat in my gedagtes vassteek. Soms is dit ‘n monoloog aan die einde van ‘n movie. Soms is dit iets wat iemand nié sê nie. Ander kere weer gebeur iets, of ek doen iets wat oënskynlik geen waarde het nie, and there it is again – nog ‘n leidraad, nog ‘n deel van die legkaart, asof ek moet verstaan.
Ek het nou al menigmaal gedagdroom oor my ideale lewe, en gewoonlik begin dit met geld – om finansieel onafhanklik te wees, om te kan doen wat ék wil doen, wáár ek dit wil doen, vir solank as wat ek dit wil doen. Dit klink soos ‘n lewe van selfsug en hedonisme. Maar ek weet, ek weet net, dit is nie die antwoord nie. Miskien is om meer as genoeg geld te hê deel daarvan, sodat jy jou daaglikse bestaan kan toewy aan watse rede dit ook mag wees dat jy nog leef, sonder om afhanklik te wees van ander mense vir die vervulling van jou daaglikse behoeftes, en sonder dat jy genoodsaak word om jouself te verlaag tot kleinlike gebruike en tradisies om aanvaar te word.
Maar steeds wonder ek, “if this is as good as it gets”. Of wag ek steeds vir ‘n teken, ‘n woord waarop ek sal reageer dat ek nou verstaan, om dan die res van my lewe toe te wy aan wat ek sal sien as my ware roeping?
Dit alles impliseer noodwendig geloof in ‘n Hoër Wese. Indien jy nie glo in die bestaan van so ‘n Wese nie… nou ja, dan kom dit daarop neer om jouself besig te hou op so ‘n wyse dat jy ‘n bewussyn van welstand ontwikkel, en handhaaf. En om te dink aan ander motiverings vir wat jy doen – miskien om onthou te word as dit alles verby is, of om in jou laaste minute geen spyt te hê oor wat jy gedoen het, of nie gedoen het nie.
‘n Rede vir bestaan impliseer dus geloof in ‘n Hoër Wese. Andersins is jy op jou eie, en moet jy jou eie redes en oortuigings volg op grond van die beginsels waarvolgens jy kies om te leef.
Ook, as jy glo aan ‘n rede vir jou bestaan, wat sou hierdie rede wees? Alternatiewelik, geen oortuiging van ‘n spesifieke rede vir jou bestaan nie, en hoe dít jou keuses en lewensuitkyk sal beïnvloed.
die VROU
Die vrou was voorheen in verskeie verhoudings betrokke. Telkens het die verhouding tot ‘n einde gekom omdat die vrou se desperaatheid om te trou die man vervreem het. Sy ontmoet toe weer ‘n ou, en neem haarself voor om dié keer alles reg te doen.
Sy nooi hom uit vir aandete, maak sy gunsteling kos, en maak seker die musiek is iets waarvan hy hou (sy’t dit spesiaal gaan koop die middag). Terwyl hulle eet, laat sy hom praat oor sý lewe. Sy luister aandagtig, en vra die regte vrae op die regte oomblikke. Hy vra haar ook uit oor haar werk, haar familie, en oor haar lewe oor die algemeen. Sy gee deeglike maar kort antwoorde sodat sy hom nie per abuis verveel nie. Toe hy vir haar sê hy sal nog graag vir ‘n paar maande of ‘n jaar in Oos-Europa wil bly, gooi sy haar kop agteroor en lag, asof sy nie kan glo hy sê dit nie. Sy voeg by dat sy ook graag in Parys sal wil woon, of in Rome.
Na ete skuif hulle na die sitkamer toe. Sy bedien koffie en tert. Sy maak verskoning dat die tert nie haar eie handewerk is nie (wat dit wel is), maar sy hoop dit smaak lekker. Dan trek sy haar skoene uit en gaan sit op die bank oorkant hom. Haar bene ingevou op die sagte kussings, haar een hand skamerig op haar voete, kyk sy met verbloemde belangstelling hoe hy sy tert eet. Toe hy klaar is, stel sy voor hulle moet gaan fliek, of miskien ‘n video uitneem.
Hulle besluit dan op die video. Sy vind dit amper uitputtend in die videowinkel om te probeer uitvind presies waarvan hy hou, sodat sy moontlik iets in sy smaak kan voorstel eerder as om net in te stem tot sy keuse.
Terug by die woonstel sê sy iets van “nogals kouerig vanaand”, en gaan kamer toe om iets warms aan te trek. Die donkerblou sweetpak-top waarmee sy oomblikke later verskyn laat haar… huislik lyk, knus. Met die eerste fliek sit sy op die leuningstoel, en hy op die rusbank. Hulle gesels nie veel nie, en sy probeer ongeërg lyk elke keer as hy na haar kant kyk.
Na die eerste video vra sy of hy iets wil drink. Hy drentel saam kombuis toe, en kom tien minute later uit met ‘n skinkbord vol koekies en warm sjokolade. Dié keer sit sy langs hom. Kort na die begin van die tweede video raak hulle gemaklik.
Dié aand is hy nie terug huis toe nie. In die slaapkamer, so het sy enkele dae later aan ‘n vriendin vertel, het sy haarself oortref. Waar sy verbeelding moontlikhede getoon het, het sy dit vrye teuels gegee.
Die volgende oggend was hy gelukkig, en het by homself gedink hy’t ‘n “great vrou” ontmoet. Sy’t na hom geluister, “nie soos ander mense nie”, en sy was geïnteresseerd in alles wat hy gesê het. Hulle het dieselfde smaak in movies gehad, en selfs van dieselfde tipe kos gehou, het hy later aan een van sy vriende vertel. Sy’t ook geen hang-ups in die bed nie, het hy bygevoeg.
Na ‘n paar weke het hy haar aan sy ouers voorgestel. Hoewel sy pa van haar gehou het – sy’t hom “Oom” genoem en gelag vir sy grappies, was sy ma nie beïndruk nie. Sy’t selfs gesê hy moet oppas dat sy hom nie met ‘n slap riem vang nie. Hy’t haar verdedig, en dinge genoem soos dat sy, soos hy, graag oorsee wil gaan woon vir ‘n tyd.
‘n Paar maande later is hulle getroud, al het sy ma se opinie van haar nie veel verbeter nie. Ses weke na die wittebrood sê hy vir haar hulle moenie té gemaklik raak in die nuwe woonstel nie. Hulle wil immers nog oorsee gaan, het hy haar herinner, op so ‘n wyse dat dit nie sou blyk dat hy ‘n argument wil begin daaroor nie.
Sy sê toe sy weet nie, hulle moet maar kyk hoe dit gaan. Met dit tel sy ‘n tydskrif op en begin daardeur blaai.
Toe tref dit hom: hierdie strop, gaan nog styftrek.
die HUIS
Die wêreld is soos ‘n groot huis. Daar’s vertrekke en slaapkamers, kelderverdiepings, solderspasies, ontelbare hoekies en gaatjies, selfs spasies tussen die mure. Die Internasionale Middelklas woon in die grootste vertrek, met die meeste vensters, goeie lugversorging, en ‘n eindelose verkeer van mense en produkte.
Die mense in die Hoofvertrek is die Meesters van die Huis. Die leiers van hierdie groep reguleer toegang tot, asook gebruik en verspreiding van die basiese hulpbronne. Hulle het die meeste sê oor hoe dinge gedoen word, wat reg en verkeerd is, hoe die huis lyk, en hoe dit ge-run word. Meeste van die mense in die Agterkamers en die Hoekies, en selfs sommige van die Kelder droom van ‘n plekkie in die Hoofvertrek. Elke dag word baie van hulle (voorlopig) aanvaar in hierdie vertrek, op dieselfde tyd as wat baie mense geforseer word na die Solder, die Kelder, die Hoekies, die Agterkamers, en selfs die Spasies Tussen die Mure.
Die Hoofvertrek word gekenmerk deur beide konserwatiewe waardes en ‘n dinamiese energie. Om die kultuur van die Hoofvertrek vars te hou, word ‘n oplettende blik altyd gehou op nuwe modes en neigings. Ook nuwe metodes van sosio-politieke beheer, en nuwe idees aangaande wat sin en waarde gee aan mense se lewens word gereeld gekontempleer en bespreek. Sommige van hierdie nuwe dinge word aanvaar vanweë die voordele wat dit inhou vir die heersende klas; sommige word verwerp as nutteloos, en ander word verwerp omdat dit moontlik die magsbasis van hierdie klas kan kompromeer.
Soms gebeur dit dat bewoners van die Hoofvertrek die ruimte vrywilliglik verlaat – óf uit nuuskierigheid oor wat in die res van die huis aangaan, óf omdat hulle om persoonlike redes nie meer tuis voel binne die Hoofvertrek nie. Hierdie enkelinge sal soms in die middel van die nag verdwyn, of soms helder oordag net ‘n deur oopmaak, en uitstap. Soms keer hulle na ‘n tyd terug. Soms sal hulle terugkeer met nuwe kennis of insig, soms getraumatiseer deur die ervaring. Soms sal hulle terugkeer en prominente figure word in die Hoofvertrek. Soms sal hulle terugkeer met die uitdruklike doel om ander te nooi, of te probeer oortuig om saam terug te keer na watter deel die enkeling ook al vir homself gevind, of geskep het. En soms sal so ‘n persoon nie weer terugkeer as hy eers die Hoofvertrek verlaat het nie.
Hoewel geen van die deure ooit gesluit word nie – juis omdat die Hoofvertrek se dinamika en vooruitgang afhang van die terugkeer van sommige van die enkelinge, en ook omdat ambisieuse immigrante altyd benodig word om nuwe bloed aan die Hoofvertrek te verleen – word dit oor die algemeen nie aangemoedig om hierdie vertrek te verlaat nie. Gevestigde instellings soos godsdienstige sentra, skole, en die media word soms ingespan vir propaganda-doeleindes om emigrasie uit die Hoofvertrek te ontmoedig.
Dit het natuurlik al gebeur in die Geskiedenis van die Huis dat daar tye was van groot omwentelinge. Gedurende hierdie tye vind daar fundamentele verskuiwings plaas in die algemene bestuur van die Hoofvertrek. Ook die posisies van verskeie groepe word dan vertikaal aangepas. Die Internasionale Middelklas het juis aan bewind gekom tydens een van hierdie groot omwentelinge.
Groepe met alternatiewe idees van hoe om die huis te bestuur, het ook al in die verlede die regeerders van die Hoofvertrek bedreig. Hierdie groepe word óf mettertyd verslaan, óf hulle planne disintegreer met die verloop van tyd. (Hoofvertrek-individue wat dan steeds hierdie alternatiewe idees aanhang word gewoonlik beskou as eksentrieke randfigure, en word soms deur sosiale en/of ekonomiese druk geforseer na die Agterkamers, die Solder, die Hoekies, die Kelderverdiepings, en selfs, in uitsonderlike gevalle, na die Spasies Tussen Die Mure.)
‘n Oorsigtelike historiese studie dui ook aan dat daar op verskeie stadia in die verlede ander groepe was wat op ander wyses geregeer het, en ‘n ander tipe verhouding gehad het met die bewoners van die res van die huis. Die finale resultaat is egter altyd dieselfde: een groep is in beheer van sleutelposisies van mag, en neem stappe om hierdie mag te verstewig, en te verskans. Die status quo word geïnstitusionaliseer, en ‘n hiërargie word gevestig wat posisies van mag reserveer vir lede van die regeerdersklas. Bewoners van die huis wat nie deel is van laasgenoemde klas nie, moet tevrede wees met voorregte wat aan hulle verleen word deur hierdie klas, en hulle moet voortgaan met hulle lewens so goed as wat hulle kan.
Soos reeds vermeld, is daar verskeie deure tussen die Hoofvertrek en die res van die huis. Een gevolg hiervan is dat ‘n persoon ‘n inkomste kan verdien in die Hoofvertrek, terwyl hy steeds (verkies om te) woon in een van die Ander Vertrekke. So ‘n persoon sal homself ook nie laat inhibeer deur lojaliteit aan enige van die vertrekke nie. Omdat hy gereeld handeldryf, of andersins kontak het met die Hoofvertrek, sal hy selfs sy eie spasie inruim en gerieflik maak met artikels van die Hoofvertrek. Sy verhouding met die bewoners van die Hoofvertrek sal een wees van vreedsame samebestaan. Hierdie simbiotiese verhouding sal egter altyd afhang van wedersydse respek. Sodra antagonisme vermoed word deur enige van die partye, sal konflik volg.
Daar is egter bewoners van die huis wat verkies om in voortdurende konflik te verkeer met die inwoners van die Hoofvertrek. Hierdie antagonisme spruit in vele gevalle uit oortuigings rakende die inherente swakhede van die regerende klas, en vanweë hierdie oënskynlike swakhede ‘n oortuiging wat die immanente val van hierdie groep voorspel. In sommige gevalle word hulle antagonisme bloot gemotiveer deur minagting vir die kultuur en instellings van die Hoofvertrek, en/of minagting vir die moraliteit van ‘n betekenisvolle persentasie van die bewoners van hierdie vertrek. (‘n Argument kan in laasgenoemde geval gemaak word oor vrees, jaloesie, en ‘n moontlike kombinasie van frustrasie en ‘n gevoel van meerderwaardigheid aan die kant van die non-Hoofvertrekkers.)
Ander bewoners is doodgewoon verveeld met die Hoofvertrek, en alles wat hulle daarmee assosieer. Hierdie groep is nie noodwendig antagonisties teenoor die Hoofvertrek nie, maar vind ook geen rede om oordrewe harmonie met die bewoners van hierdie vertrek te kultiveer nie.
Benewens antagonisme tussen die bewoners van verskillende vertrekke in die huis, is daar ook ‘n dralende antagonisme tussen die verskillende sub-klasse van die Hoofvertrek. Al die inwoners is bewus van die rede hiervoor: ongelykheid in die graad van welstand en mag; almal is ook bewus van hulle eie posisie in die Hoofvertrek-hiërargie. Die bewoners wat toegang het tot meer kapitaal, en wat ‘n hoër lewenskwaliteit kan bekostig, sal altyd alles in hulle vermoë doen om hulle beter posisies te verskans. Dié wat hulleself in minder goeie posisies bevind, sal altyd dié in beter posisies beny.
Kompetisie vir die beperkte werksgeleenthede en leefruimte in die “laer” strata van die Hoofvertrek vind ook voortdurend plaas tussen ambisieuse bewoners van die “laer” vertrekke, of Agterkamers, en huidige bewoners van die laer strata van die Hoofvertrek. Hierdie kompetisie vind plaas omdat die posisies van die bewoners van die laer strata minder verskans is as dié van die hoër strata, en omdat dit moontlik is vir ambisieuse bewoners van die laer vertrekke om deur ‘n kombinasie van harde werk en geluk die Hoofvertrek te betree. Omdat daar net beperkte spasie is in elke strata, betree die voormalige bewoners van die laer vertrekke derhalwe die laer strata van die Hoofvertrek ten koste van die verloorders in hierdie stryd, wie se lewenskwaliteit noodwendig ‘n ernstige knou toegedien word.
Toetrede van “immigrante” van die laer vertrekke tot die Hoofvertrek begin dus meestal in die laer strata. Omdat geen bewoners van die laer strata van die Hoofvertrek verseker is van hulle plek nie, sal hierdie bewoners feitlik altyd hulle lewensruimtes en plek fanaties beskerm teen die “indringers”. Konserwatisme en ondersteuning van die status quo kan dus merendeels as vanselfsprekend aanvaar word as karaktereienskappe van laer-strata-lede (tensy hulle lewenskwaliteit direk bedreig word, as ‘n groep, deur bewoners hoër op in die hiërargie van die Hoofvertrek).
Die prominensie van die Hoofvertrek en die status van sy mense as Meesters van die Huis word nooit werklik bedreig deur die bewoners van die res van die huis nie. Redes sluit in die individualistiese, gefragmenteerde, en soms eksentrieke aard van die andersdenkende intelligentsia: meestal Kelder-bewoners, plus die gewone Solder-karakters, en enkele uitsonderlike figure van die Agterkamers. Hierdie kenmerke bemoeilik georganiseerde protes – ‘n noodsaaklike vereiste vir grootskaalse sosiale, politieke en ekonomiese omwenteling. Die feit dat hierdie potensiële Agente van Verandering nie oor die nodige hulpbronne beskik om grootskaalse aksies te loods nie, dra ook by tot die onwaarskynlikheid van radikale verandering.
Solank die status quo aanvaar word deur die meerderheid van die bewoners van die huis, sal die mense van die Hoofvertrek die res toelaat om meestal onverhinderd voort te bestaan. Konflik word egter gesien as ‘n konstante moontlikheid. Beperkte hulpbronne en groepsmentaliteit verskerp tradisionele vyandigheid tussen bewoners van die verskillende vertrekke, en spesifiek tussen mense van die laer vertrekke en mense van die Hoofvertrek. Indien voortdurende, direkte kontak tussen die verskillende groepe aan die orde van die dag is, en dan veral indien dit hoofsaaklik tot voordeel strek van een groep ten koste van ‘n ander (en gedwonge beleefdheid uiteindelik onuitstaanbaar begin raak), sal fisiese konflik die noodwendige resultaat wees.
Onderlinge konflik tussen bewoners van die Agterkamers vind ook sporadies plaas. Hierdie konflikte in soms uitgerek en bloeddorstig, en lei in vele gevalle nie tot ‘n besliste uitslag nie. Die eindresultaat van konflik tussen individue of groepe van die Ander Vertrekke (insluitende die Agterkamers) en dié van die Hoofvertrek is egter meestal voorspelbaar. Die bewoners van eersgenoemde ruimtes keer terug na hulle wonings, óf om hulle wonde te lek, óf om hulle antagonisme verder te gaan aanvuur. As resultate van nederlaag en vernedering, gaan laasgenoemde twee aksies natuurlik ook gereeld hand-aan-hand.
Dit dan, kortliks, is die Huis wat ons bewoon.
die HANG-UPS
Gisteroggend word ek wakker, en ek besef toe ek het nog steeds dieselfde hang-ups as die vorige aand. Dis soos as ‘n mens kamp saam met ‘n groep mense. Die volgende oggend vroeg maak een ou almal wakker, en almal is onmiddellik herkenbaar as dieselfde mense as wat hulle die vorige aand was.
So is dit met my hang-ups. Die oomblik as my wekker afgaan en ek besef dis nie ‘n nagmerrie of ‘n grap nie, dan’s dit asof iemand ook my hang-ups wakker maak. And what do you know! Daar’s hulle almal, op hulle plek, gereed vir nog ‘n dag se diens!
Waarvan praat ek? Wat presies, is my probleem? Hoofsaaklik die feit dat ek dink ek nie veel van ‘n indruk maak op mense wat ek ontmoet nie. Ek wens altyd ek kan ‘n beter vertoning lewer – ‘n sportiewe ou wees vir die sportiewes, ‘n amateur musikant vir die wannabe rock stars, ‘n ervare traveller vir die ervare travellers, ‘n kapitalis vir die kapitaliste, en ‘n kommunis vir die kommuniste. Ek wens ek het meer geweet van meer dinge, sodat ek kon saampraat langs elke vuur. Ek wens ek het al meer ervaar, en meer gesien. Ek wens ek kon meer dinge beter doen, op so ‘n wyse dat mense ánder verwys na my, of na my verwys in hulle gesprekke.
Toe verander alles. Ek dink toe, wie ís hierdie mense wat ek so graag wil beïndruk? Wie is hierdie mense met wie ek myself so onderdruk? Daar’s ses biljoen mense op hierdie planeet, duisende kulture, miljoene subkulture, ‘n ontelbare hoeveelheid agterkamers en gaatjies en hoeke in donker en halfverligte gange. Daar’s kelderverdiepings, soldervertrekke, amper soveel spasies as wat daar mense is. Hoekom, op aarde, onderdruk ek myself so met ‘n paar mense wat eintlik fokkol vir my beteken?
Bevry jouself, wil ‘n mens amper sê.
(Middelste week van Maart 2000)
