die kaal bed
die kaal bed vries die siel
maar voor asemrowend skone beelde
staan die liggaam steeds gekniel
resiterend aan goed geformuleerde eergebede
rede kneus die voorgeskrewe doel
maar wys ook deur die dag en lange nag die pad
sluit oop die deure na
wat geslagte reeds begrawe lê
die dobbelsteen in stof geweek
sal respek by sekere groepe nooit kan kweek
wie nie waag nie bly steeds lê
want die lewe is ‘n weddenskap, word daar steeds gesê
tot stof en alles en nog wat
op my kosmiese getuigskrif bly die klad
draai die blaaie, tel jou somme op
son en sterre, sewe hemels bo my kop
op ‘n kaler bed kom slaap
na diep bepeinsing oor die mure en plafon
kon sy een maal bly tot donker ure
kon ek selfs voorgee dat dit saak sou maak
haar trane vlek die kussings van satyn
merk die pad wat ons sou stap
krap wonde tot die rouste vlees
net in ‘n ander wêreld, sal ons vry kan wees
seine op die bed, flits bewussyn wakker
dansende gesigte, lywe kruipend
smee hul bande met my enkelheid
word die toneel met elke oomblik sagter
platoniese seks met geblinddoekte minnaresse
ontbloot my rug vir die onvermyd’like messe
rowe en littekens as kommoditeit weer uitgeruil
uiteindelik sal ook dit ‘n nuwe tyd ontketen
sal die kaal bed uiteindelik iets meer beteken
as die verdowende alleenheid van ‘n enkel-lewe
sal my mees gevreesde oomblik arriveer
sal ek geboorte gee aan ‘n emosielose wese
tog bly die kamer leeg, word die lakens valer by die dag
waag sy kanse, meer as enige tyd in die onlangse verlede
bly die kas gesluit, my ongesproke woorde steeds haar buit
skryf ek steeds dieselfde strofes oor en oor
skryf, tot die eentonigheid daarvan my kop deurboor
maar al wat ek deur die geweeklaag hoor
is die rymende psalms oor verlore liefde
tot die kalmte van slaap weer oor my spoel
gesprekke soos serenades by my venster
of wakkerword-gebede voor my deur
lewer af die dag soos ongekraakte oggendblad
die swart en wit, die kleur van nugter waarheid
ek stoot teësinnig al die minnaresse grond toe
mompel jammer-sinne in dieselfde rigting
wil vuilgesmeerde note uit ‘n hempsak trek
onthou dan die omgekeerde rolle van die laaste nag
‘n mens sou die uitspraak dalk kon lewer
dat een wat situasies kompliseer, soos hy
een wat moontlikhede systap, of bloot ignoreer
‘n bed soos dié ontvang as sy verdiende loon, dan nie?
maar genade val soos ‘n gordyn vol stof
aanvanklik bitter op die tong en longe
laat strepe maanlig val soos valse hoop
oor die bed van lakens en pretensie weer gestroop
geloof in liefde, en in die waarde van vermaak
want hierdie bed sal eersdaags weer ‘n nuwe rol betree
verhoudings in die pyplyn wat weer sin sal maak
wat nuwe rigting en waarde aan ‘n mens se lewe gee
sal die bed, simbolies van die liggaam en die siel
weer albei oproep uit die dieptes waar mens kniel
sal jy op die punt waar jy glo jy kan nie verder
jou blind staar aan die gesig van ‘n asemrowend skone beeld
___________
