Die handewerk van mense

WOENSDAG 22 MEI 2013

Dit is inderdaad intimiderend om voor die majestueuse konstruksie te staan wat die Christelike religie is, jou keel skoon te maak, en te verklaar dat jy reken dat hierdie godsdiens, in jou beskeie mening, die handewerk is van mense, ontwikkel en verfyn oor meer as 2000 jaar deur duisende denkers en teoloë, priesters en pouse, monnike en pastore, én deur gewone gelowiges.

Dit is ook baie moeilik wanneer jou eie ouers glo dat die Christelike religie die universele waarheid is van die Een en Enigste Almagtige God. Dit is moeilik as jy begin het om presies die teenoorgestelde te glo, maar jy wil nie jou ouers ontstel nie. Wat dit veral ’n sensitiewe onderwerp maak, is dat hulle groot troos vind in hierdie stelsel van oortuigings.

DONDERDAG 23 MEI 2013

’n Belangrike vraag om te vra met betrekking tot die Christelike geloof is die volgende: Waarom moes Jesus sterf?

Die antwoord wat jy kry sal meestal gaan oor ’n bloedofferkultuur wat algemeen was in die Midde-Ooste twee tot drie duisend jaar gelede.

Wat gewoonlik nie veel van ’n indruk sal maak op gelowiges nie, is wanneer jy daarop wys dat dit ’n bietjie vreemd is dat ’n god wat veronderstel is om universeel te wees, wat volgens leerstellings bestaan het miljarde jare voor enige mens vorendag gekom met die eerste teken van kultuur of beskawing, sal toelaat dat sy eie seun – volgens sekere teologiese standpunte, hyself – gemartel en vermoor word omdat ’n kulturele gebruik wat algemeen was op ’n spesifieke tyd en spesifieke plek dit so gedikteer het.

Indien te min belydende gelowiges hierdie tipe vrae vra, is dit heel waarskynlik omdat vrae van hierdie aard aktief ontmoedig word. Gelowiges word ook gereeld herinner aan wat hulle pynvolle en ewige straf sal wees indien hulle versuim om te glo op die regte manier – dat hulle sekerlik nie die “toorn van God” sal kan ontvlug as hulle vrae vra wat hom beledig nie.

Nog ’n vraag wat nie waardeer sal word nie: Waar eindig kultuur van spesifieke tyd en plek, en waar begin wat veronderstel is om tydlose waarheid te wees?

______________________