Die Groot Trek – vlees-en-bloed geskiedenis

MAANDAG 11 APRIL 2016

Ek het as kind aan die Groot Trek gedink as meer Bybelse geskiedenis as gewone geskiedenis. En ek het goed geweet: jy het anders gedink oor Bybelse geskiedenis, jy het anders daaroor gepraat, en jy het dit anders bestudeer.

Soos die Bybelse verhale, was die Groot Trek gevul met super-figure: Piet Retief, Gerrit Maritz, Andries Pretorius, en die vrou wat gesê het sy sal eerder kaalvoet oor die Drakensberg loop as om weer onder Britse heerskappy gebuk te gaan. Daar was ook aartsvyande, van die kaliber wat jy ook net in die Bybel aangetref het, waarvan die bekendste, die boosaardigste, Dingaan was, die koning van die Zoeloes.

Dan was daar gebeurtenisse wat so epies was dat ’n mens as kind nie anders kon as om te dink daaraan as Bybelse tipe-verhale nie. Daar was in die eerste plek die trek oor die vlaktes en later oor die Drakensberg. Dan was daar die moord op Piet Retief en sy geselskap deur hul aartsvyand en sy Zoeloe impi’s. En uiteindelik was daar die epiese triomf by Bloedrivier, toe die Trekkers teen die verwagtinge in hulle vyand, wat die Trekkers oortref het in getalle tien teen een, verslaan het. Om die Bybelse kwaliteit van die Groot Trek storie te verseël, was God ook daar, aan die kant van die Trekkers, soos hy meer as twintig eeue tevore ook aan die kant van die Israeliete was.

Gesien vanuit hierdie beskouing, was die Groot Trek die Boere se Eksodus verhaal; die Oos-Kaap was Babilon; Natal en die Vrystaat en later die Transvaal was die Beloofde Land; Piet Retief was Moses; Andries Pretorius was Joshua; die Engelse was die Egiptenare; en Dingaan was die Farao, of Goliat wat verslaan moes word op die slagveld deur die klein groepie Boere, of dan die getroue kryger, Dawid.

As jong student in ’n veranderende Suid-Afrika in die vroeë negentigs het ek bewus geraak van ’n proses onder geskiedskrywers om die Groot Trek te demitologiseer. Dit was blykbaar glad nie so ’n massiewe volksbeweging nie; net iets soos 10% van die afstammelinge van die oorspronklike Europese immigrante het deelgeneem aan die trek. En die oorwinning by Bloedrivier was ook eintlik glad nie ’n wonderwerk nie; die Trekkers het immers moderne wapens gehad, en die Zoeloes net assegaaie en skilde van hardgemaakte leer om die koeëls van hulle lywe af te weer.

Aan die een kant het jy dus gehad die Groot Trek as mitologie wat vir dekades lank gebruik was deur politici en die regerende elite om etniese nasionalisme te kultiveer; aan die ander kant, gediskrediteerde geskiedenis, iets wat nie regtig was soos wat mens altyd geleer het nie.

Soos ek egter onlangs weer besef het, is die waarheid veel interessanter as enige opgeblase propaganda. As mens met ’n oop kop weer na hierdie geskiedenis kyk, sal jy ontdek die vlees-en-bloed mans en vrouens en kinders wat vrees en onsekerheid ervaar het; mense wat bemin het en wat geliefdes aan die dood moes afstaan wat die wêreld vir hulle beteken het; mense wat gehoop het om rustig te raak op ’n eie stukkie grond as die stof uiteindelik gaan lê het.

* * *

Uit ’n oorsig oor The Great Trek Uncut: Escape from British Rule – The Boer Exodus from the Cape Colony 1836, deur Robin Binckes: “The author distances himself from the noble characters stereotyped for the past two centuries and portrays them in their true light: wonderful, courageous people with human feelings, strengths and failings.”

Koperbedekte seremoniële ysterwaens wat min of meer die uitleg van die waens tydens die Slag van Bloedrivier uitbeeld. Foto deur Renier Maritz (CC BY-SA 3.0)

______________________