[DIE GROOT ONGETITELD]

Deur 28 - 02 - 2004

Dinsdag, 24 Februarie 2004

(16:50)

Ons almal word gebore in ‘n bepaalde era, in ‘n samelewing wat volgens bepaalde reëls regeer word, in ‘n kultuur met bepaalde waardes, konvensies, en idees van wat ‘n goeie lewe is. Dit is altyd ‘n ope vraag hoe elke individu gaan reageer op die wêreld waarin hy of sy gebore is en grootgeword het. Gaan hy die reëls aanvaar en meeste van die tyd daarvolgens speel? Gaan sy sommige reëls aanvaar en ander verwerp? Gaan hy soveel van die reëls verwerp dat hy in sy kort, ellendige bestaan konstant in konflik gaan wees met alles en almal om hom? Gaan hy of sy oorgelewerde waardes en konvensies, en idees oor wat ‘n goeie lewe is, grootliks aanvaar en ‘n eie lewe daarvolgens bou? Indien nie, wat is die alternatiewe?

Ekself hang tussen die boom en die gras. Ek wil nie ‘n “goeie job” – ‘n vaste betrekking – hê nie. Ek weet ek moet geld maak, maar ek glo daar is talle maniere om dit te doen. Ek glo ook aan die edel ambisie van ‘n lewe toegewy aan studie, liefdadigheid en kreatiewe werke. Aan die ander kant hoop ek dat ek kan opeindig in ‘n drie slaapkamer huis in ‘n rustige voorstad of ‘n groterige dorp, met ‘n kleinerige tuin, ‘n kar, en miskien ‘n hond of twee. Ek hoop ook dat ek ‘n vrou sal vind wat my sal bemin en my sal aanvaar soos ek is, vir wie ék kan lief wees, en saam met wie ek twee of drie kinders kan produseer en grootmaak.

Ek gee soms voor asof dit alles te idealisties is. Dit is nie.

Soms reken ek ook dat dit moontlik nie vir my beskore is nie. Maar hierdie idee is die resultaat van persoonlike ervarings, ou oortuigings, en ‘n snars vrees dat ook dít my nie gelukkig sal maak nie.

Wat is dus die alternatief?

Die alternatief is ‘n mik-en-druk.

Ander vereistes vir ‘n alternatiewe lewe sluit in ‘n notaboek, ‘n paar penne, en ‘n liniaal (iets moet netjies gedoen word); geen besittings nie, geen huis nie, en geen intieme verhoudings nie. Ek sal reis van plek tot plek – in my eie land, want om oorsee te gaan kos geld, en jy’t ‘n paspoort en visums nodig. Ek sal hier tyd spandeer, daar oornag, en uiteindelik my veertigste verjaarsdag vier op ‘n bus of ‘n trein êrens heen.

Geen plek nie, toegewyd aan niks en niemand behalwe ‘n swerwersbestaan.

(17:32)

Sal ‘n swerwersbestaan my gelukkig maak?

Nie volgens my eie oortuigings nie.

Ek streef nou al vir jare na die mees volmaakte lewe wat ek kan vind ten einde myself daaraan te kan toewy. (‘n “Ronin”, terloops, is ‘n “masterless samurai, one who’s master had died”. Was ek die afgelope meer as tien jaar ‘n swerwende ronin, opsoek na ‘n nuwe meester om te dien?) Maar wat is ‘n volmaakte lewe? Ek het al ‘n bietjie tyd afgeknyp in die gejaag na daaglikse oorlewing om hierdie aangeleentheid te bepeins, en sover het ek vorendag gekom met drie dinge (reeds genoem): toewyding aan ander (familie, liefdadigheid), toewyding aan vrye kreatiewe uitdrukking, en toewyding aan studie.

Gedurende die afgelope vyftien jaar het ek myself tot ‘n groot mate toegewy aan laasgenoemde twee. Liefdadigheid is ‘n saak wat ek tot dusver sover as moontlik ontwyk het. Hoekom? Ek weet nie. Maar ek glo dat ‘n lewe van vrywillige, onbaatsugtige diens aan ander die mees volmaakte manifestasie van lewe is, en om jou eie lewe te verloor ter wille daarvan dat ander kan leef, die hoogste uitdrukking van hierdie toewyding.

Dit laat my met ‘n vraag: Die lewe wat ek nou al vir jare probeer vermy, naamlik dié van die “gewone ou” wat trou, kinders kry en elke dag werk toe gaan, is dit nie aan die einde ‘n pragtige manifestasie van toewyding aan ander nie?

Miskien geniet die man (of vrou) die werk wat hy (of sy) doen, miskien nie; maar hulle weet genot in hulle werk is nie wat werklik saak maak nie. Vir die werkende, getroude man of vrou is dit aan die einde van die dag hulle huwelik en kinders. Hulle is dus bereid om groter ambisies op te offer ter wille van toewyding aan dit wat “werklik” saak maak – naamlik hulle verhoudings met mekaar, en met hulle kinders.

Hierdie is natuurlik ‘n oorvereenvoudigde prentjie. In werklikheid is daar ambisie wat getroude mans en vrouens verhoed om tyd saam met hulle gesinne te spandeer; daar’s buite-egtelike verhoudings en egskeidings; mans en vrouens wat ‘n konvensionele gesinslewe agterlaat na ‘n paar jare om ander dinge na te jaag – of dieselfde dinge, maar saam met iemand anders.

Kom ons keer vir die oomblik terug na ‘n meer ongekompliseerde beeld van toewyding aan huweliksmaat-en-kinders, en inkomste-genererende aktiwiteite wat tot ‘n mate geniet word. In beginsel blyk dit goed te wees, reg? Die beginsel is dan dat die volwasse man of vrou se lewe aan die einde van die dag toegewy word aan die volgende geslag – hulle seuns en/of dogters.

Moet dit so aanvaar en die saak hier gelaat word? Dalk moet ‘n addisionele vraag gevra word: Wátse tipe lewe word moontlik gemaak deur toewyding aan die volgende geslag? Ek wil dit waag om te sê meeste volwasse mans en vrouens knyp nie genoeg tyd af in hulle daaglikse lewens om hierdie aangeleentheid te bepeins nie. En selfs as hulle dit doen, met watse antwoorde kom hulle vorendag? Word die een geslag se lewens na die ander opgeoffer vir ‘n lewe wat almal uitstel vir ‘n volgende geslag om te definieer? Of glo almal te blindelings aan die ou leuses dat “ons doen maar net die beste wat ons kan” en “alles sal uitwerk soos dit moet”?

(22:47)

Of weet niemand van beter nie, so almal kyk maar om hulle rond en doen soos meeste ander van hulle tyd en kultuur? Is dit goed genoeg om te sê, “Ek het nie tyd om te dink aan sulke dinge nie want ek is te besig by die werk (of by die huis) om alles aan die gang, en kop-bo-water te hou”?

Meeste volwasse mans en vrouens wat trou en kinders kry wy hulle lewens daaraan toe dat hulle seuns en dogters ‘n vae “beter” lewe kan lei; of indien dan nie beter nie, sodat hulle ten minste self as volwassenes kop-bo-water kan hou, en miskien van tyd tot tyd gelukkig kan wees.

Is dit voldoende? Vir baie mense van my tyd en kultuur is dit.

Kan dit genoeg wees vir my?

Miskien is ek nie gekwalifiseerd om hierdie vraag te beantwoord nie: Ek het nog nooit in my murg ervaar hoe dit voel om toegewyd te wees aan ‘n volgende geslag van my eie bloed nie. Watse waarde sal my antwoord in elk geval hê? Na vyf jaar van so ‘n lewe vra ek myself dalk een Saterdagoggend of dit alles “die moeite werd” is? Moontlik antwoord ek “Ja”. As dinge so eenvoudig kan wees sal dit die saak beslis vir die oomblik. Vra ek myself tien, of twintig jaar later weer die vraag, en ek antwoord weer dieselfde, wel… dan móét dit seker die “moeite” werd wees. Gestel ek antwoord “nee” – hoeveel gewig sal dit dra? Moontlik kon iets gebeur het wat my geloof ‘n knou toegedien het, en my bitter gemaak het teenoor my vroeër oortuiging. Selfs in hierdie geval sal die antwoord slegs vir myself geldig wees.

Ek gooi ‘n klomp bestandele in die pot, maar iets smaak nog steeds nie reg nie. Die pruttende dis is eetbaar, maar ‘n essensiële bestandeel is nog afwesig. Ék skryf hierdie woorde. Ék dink hierdie gedagtes. Ék vra hierdie vrae. Ék, nie die muskiet wat my ‘n minuut gelede gebyt het nie, nie die hond wat ‘n uur gelede my fiets se agterwiel wou verskeur nie.

Hoekom dink ék oor hierdie dinge, en skryf ék hierdie woorde neer? Omdat daar iets is wat nie in-plek is nie, omdat daar ‘n antwoord is wat my bly ontwyk.

* * *

(23:26)

Ek glo Boeddhisme verteenwoordig een van die hoogste eindresultate van kontemplerende denke sedert die einde van die ystydperk. Ek glo egter selfs hulle mis iets.

* * *

Sê die man op die fiets op pad terug van die Carrefour (Woensdag, 25 Februarie, middag): “Write up what you can, and leave. To think that you too could lead a normal, happy life is ridiculous. Serve your purpose, and leave the show with your dignity in tact. To try and gain more out of life, is to lose your life.”

Hoekom voel dit so reg?

Slim gespreksgenote sou dalk vra: “Hoe kan jy so seker wees wat jou doel is? Miskien word dit eers oor tien jaar geopenbaar! En wat bedoel jy met ‘leave the show’?”

Ek dink soms aan opgee. Ek reken ek sal die stof byt binne ‘n jaar, en siende dat dit so sal gebeur, kan dit net sowel in my eie land wees. Beskikbare fondse, en liefdadigheid van familie en vriende (voor hulle geduld opraak) sal my aan die gang hou vir ‘n paar maande. Daarna sal dit parke en strate wees tot die einde toe. Notaboeke en uitgedrukte materiaal sal gelaat word by ‘n betroubare vriend…

Dit tref my altyd tussen die ribbes as ek dink aan bogenoemde moontlikheid. Dit ís my voorland as ek ophou probeer. Die feit dat ek nie gisteraand op ‘n leë maag in ‘n park aan die slaap geraak het nie, is te danke aan die feit dat ek nie, sê nege maande gelede, opgehou het om te probeer nie.

Nietemin, hoe doen mens dit, in praktiese terme? Hoe gee mens op?

Jy hou op was. Jy hou op skeer. Jy hou op werk. Jy strek jou fondse uit tot op die laaste sent, en dan gaan staan jy bakhand voor vriende en familie tot ook húlle die deur beleefd in jou vuil, bebaarde gesig toedruk. Daarna is jy oorgelaat aan die elemente, kriminele karakters, siektes, en ‘n vinnig verslegtende fisieke toestand. Jy behoort die vertoning te kan verlaat binne moontlik nie veel meer as ‘n jaar of twee nie (tensy jy natuurlik moed verloor met die opgeëery, of weer moed kry vir die lewe).

(Nuwe notaboek)

Ons staan elke oggend op, gaan deur die gewone roetine, en as ons gelukkig is maak ons dit terug by die huis aan die einde van die dag. Slaap-tot-slaap. Meeste van ons weet nie werklik hoekom nie. Ons klou vas aan vae idees oor ‘n “goeie lewe”, “gelukkig wees” en “vertrou en glo”.

Ek doen dit ook: Staan elke oggend op, sit water op die gasstofie, spoel my twee asbakkies uit, gooi ‘n teelepel kitskoffie in my geel beker, meng my vier ontbytpappe… en die volgende oggend doen ek presies dieselfde.

Miskien is dit nie so maklik om op te gee nie. Miskien verhoed die waardestelsel waarmee ons groot geword het ons om daadwerklik stappe te neem om op te gee. Daar’s dalk geluide uit ons onderbewussyn wat ons ontmoedig; of dalk aanmoedig om voort te gaan met ons bestaan. Daar is wel selfmoord… maar dis onmiddellik, met geen kans op rehabilitasie nie – soos in die geval van iemand wat op ‘n tyd opgegee het, en na maande (of jare) weer ‘n aktiewe poging aanwend om te bly lewe.

Die Duitse filosoof Arthur Schopenhauer het gesê, “Death is the true result and to that extent the purpose of life.” George Orwell het gesê, “Keep the aspidistra flying.”

Ek glo albei is reg. Tussen hierdie twee stellings lê die menslike bestaan opgesluit. Die waarheid is dat ieder en elk van ons se lewens sal eindig in fisiese dood, en dit kan enige dag gebeur. Tot dan moet ons elke dag opstaan, ons gesigte was, miskien skeer, water kook, pap meng, en hoop op ‘n goeie nagrus aan die einde van nog ‘n lang dag. As ons slim is tref ons dalk maatreëls soos huiskoop en vaste betrekkings om te verseker dat hierdie proses kan voortgaan vir so lank as moontlik. ‘n Ander weergawe is om elke dag te hoop op die beste, en hopelik twee of drie etes te geniet voor jy hopelik weer jou kop kan neerlê vir ‘n bietjie rus. Die alternatief is om op te gee, langpad of kortpad.

Donderdag, 26 Februarie 2004

(12:06)

Ek ken die waarheid, maar my daaglikse lewe bestaan daaruit om maatreëls te volg om dit te vermy. Ek het nie geloof nie. Ironies genoeg word gebrek aan geloof gewoonlik verstaan in die konteks van geloof in God, maar dit is nie noodwendig die geval met my nie. My probleem is dat ek nie geloof het in die wêreld nie. Ek kan nog glo dat God my liefhet. Die wêreld, aan die ander kant, gee nie veel om of ek leef of sterf nie. En ek het begrip hiervoor, in dieselfde asem as wat ek dit kritiseer. Ek is deel van die wêreld wat nie veel omgee nie. Ek is beide ‘n pleger van hierdie misdaad, en tot ‘n mate ‘n slagoffer.

Ek het geen geloof in die mensdom nie. Volgens my is ‘n groot persentasie van die mense op hierdie planeet niks meer as diere in klere nie. Nou, ek het niks teen diere nie, dis net dat ek glo die mens is – in beginsel, indien dan nie altyd in die praktyk nie – meer ontwikkeld as ander spesies, en dat ons oor die vermoë beskik om beide verwoesting te saai en te beskerm.

Die mens ís by verre die magtigste van al die diere – in beginsel. Maar wat beteken dit? Wat maak my meer as ‘n stegie-kat, of die rot wat wegskarrel van eersgenoemde? Onder andere my intelligensie, my vermoë om die omgewing te kan manipuleer (veel meer as enige dier), en vrye wil om óf te skep of te vernietig (hoewel ook “vrye wil” aangehits en soms geïnhibeer word deur instinkte en vrese).

Nietemin, ek bejeën die wêreld met agterdog, en het min vertroue in my medemens.

* * *

Ek kontempleer deesdae alternatiewe. Een is om my hare te skeer, ‘n oranje rok te gaan koop, en met my ontbytbakkie by verkeersligte te gaan staan. Alternatiewelik kan ek aansluit by ‘n Boeddhistiese sekte.

Benewens bogenoemde opsies is daar twee ander wat hulleself sporadies by my opdring as van die min moontlikhede wat werklik werd is om te oorweeg: 1) om ‘n bebaarde, alleenreisende voltydse skrywer te wees; en 2) om genoeg geld te maak om ‘n vrou te kan oortuig om as my metgesel haar dae in gemak te slyt.

* * *

(12:46)

As onverfynde wysheid en pittigheid omgeruil kon word vir geld, was ek dalk ‘n ryk man. As ‘n sekere moegheid-vir-die-wêreld gemaak het dat vrouens vleiende skinderstories oor jou versprei, en mans hulle koppe respekvol vir jou knik in die straat, sou ek heel moontlik meer rede gehad het om te glimlag. Maar nou sit ek met ‘n sterk vermoede dat ek óf die res van my dae in toenemende armoede en eensaamheid gaan deurbring, of dat ek alternatiewelik myself gaan “regruk”, een-plus-een bymekaar gaan tel, en hoop twee is goed genoeg vir ‘n paar jare se geluk.

Ek dink te veel, en doen te min. Ek vermoed te veel, en glo te min. Oorlog is een ding, vrede is ‘n ander saak. O ja, en ek is ‘n lafaard wat nie te veel maatreëls tref om my lewe te verskans vir so lank as moontlik nie, maar wat die dood net-net meer vrees as middelklas geluk.

* * *

(16:32)

Jy weet, as jy ‘n hond gehad het vir, sê twee of drie jaar, en jy ken die hond, jy weet wat hom kwaad maak, waar sy irritasiedrumpel lê. Dan eendag sê jy iets vir die hond, of jy doen iets, en skielik grom hy vir jou. Miskien voel jy effens seergemaak, moontlik verontwaardig. “Ek het gedink ek ken die hond,” sal jy sê.

* * *

Mense wat nie opgee nie het iets om voor te leef. Wat het ék om voor te leef? Finansiële stabiliteit met ‘n vrou en kinders? En dis as ek my dobbelstene reg gooi en ek het geluk aan my kant! Alternatiewe vir hierdie toekoms-scenario bestaan… as kompensasies en maatreëls om eksistensiële angs onder beheer te hou.

“Jy verwerp dinge nog voor jy weet hoe gelukkig dit jou sal maak,” sou iemand dalk sê.

“Jy’s reg,” sal ek antwoord. “Maar wat sê jy? Finansiële stabiliteit plus huwelik plus kinders is gelyk aan geluk? Dan ís die lewe mos wiskunde en wetenskap! En dan ís my huidige toestand bloot die resultaat van vermiste mense en gebroke kontantvloei.”

“Jy laat toe dat huidige omstandighede jou geloof en hoop verblind,” sal die persoon terugkap, en sy sigaret in die asbakkie aftik.

“Hitte laat water kook. Sekere omstandighede werp lig op sekere aangeleenthede,” sal ek reageer, en trek aan die sigaret.

Dan sal ek ‘n eenvoudige versoek maak. “Dis Donderdag, 26 Februarie om 4:49 in die namiddag. Sê my nou, op hierdie oomblik, wat die waarheid is.”

“Ek weet nie,” sal my gespreksgenoot antwoord. “Of miskien weet ek, maar ek kan nie onthou nie. Of miskien kan ek onthou, maar ek is nie lus om te sê nie.”

En die sigaret word doodgedruk.

* * *

Vrydag, 27 Februarie 2004, twaalf minute na middernag.

Ek ken die waarheid al vir meer as vier en ‘n halwe ure lank. Dit was aan my geopenbaar terwyl ek op die mat van ‘n vertrek in ‘n naskoolsentrum gesit het, besig om ‘n sesjarige Taiwanese tweeling ‘n paar Engelse sinne te leer. Die mooi gesiggies, die onskuld, die woeligheid, die warmte van handjies wat jou vinger vasgryp as jy na ‘n prentjie wys… het my amper hardop laat uitroep: “Dít, om jou eie kinders groot te maak, om hulle te sien groot word elke dag, om hulle onvoorwaardelike liefde te ervaar, en onvoorwaardelik vir hulle lief te wees, dit moet tog alles die moeite werd maak!”

En toe tref dit my. Dis ál waarna ons soek, die heel beste waarvoor ons ooit kan hoop! Liefde, kuns, vermaak, seks, geld, vakansies, kreatiewe vryheid, studie, samesyn – alles is maatreëls wat ons tref om die lewe die moeite werd te maak!

Ons almal weet hoe weerloos ons is, hoe die dood soos ‘n duisend peste in ‘n duisend verskillende manifestasies orals rondkruip. En selfs al vermy ons dit sover vir twintig of dertig of tagtig jaar, kry sal dit ons kry!

Maar as dit net die dood was wat ons gevrees het was dit nog een ding. Tussen geboorte en dood wag daar pyn, hartseer, honger, siekte, armoede, leed, onvervulde begeertes, verlange, vernedering, skete, en ouderdom wat hare laat uitval, vingers laat kromtrek, oë laat verdof, ore doofmaak, en harte laat oppak.

As dit moontlik kon wees om tyd te vries vir ‘n oomblik, en al die data van elke mens wat op daai oomblik leef op te gaar, om al die pyn, lyding, honger, verlange, vernedering, en alle ander emosionele, fisieke en spirituele ongerief te kon vat, en dan ook al die blydskap, geluk, liefde, al die mooi en wonderlike dinge van die lewe, as jy aan alles ‘n spesifieke gewig kon gee sou die eindresultaat gewees het dat die gemiddelde menslike lewe op die planeet Aarde gevul is met meer pyn as liefde, met meer ellende en verlange en honger as geluk en tevredenheid.

Enige mens kan moontlik die geldigheid van hierdie punt protesteer, of verklaar dat hy reken die mooiheid en geluk is die pyn en ellende werd wat mens soms ervaar, al ervaar jy die mooiheid en geluk vir net ‘n oomblik of net ‘n dag. Miskien sal ek saamstem, miskien nie. Maar selfs so ‘n persoon sal vind dat ook hý die Waarheid bevestig – dat die mooi en goeie dinge die pyn en ellende (soms) die moeite werd maak (en as die persoon verder wil gaan kan hy selfs byvoeg, “vir sommige” – want vele ander gaan lewenslank gebuk onder diepe oortuiging van die teenoorgestelde).

Alles wat ons doen is ‘n bewustelike of onbewustelike poging om die “beste te maak” van ons lewens – asof ons weet, diep binne ons, dat dit eintlik ‘n slegte saak is.

Diere – sommige troeteldiere uitgesluit – leef gewoonlik ‘n bestaan gevul met gevaar, voedsel, plesier, en dood weens siekte, ongeluk, ouderdom, of aan die kaak van ‘n ander, sterker dier.

Mense, aan die ander kant, word gebore, leer hoe om te oorleef in die omgewings waaruit hulle bestaan gespruit het, en begin van kleins af maatreëls te tref om soveel as moontlik geluk uit die lewe te kry (wat in sommige ellendige gevalle bitter min is, en in sommige gevalle dalk te veel vir hulle eie beswil).

Meeste volwassenes bereik ‘n punt waar hulle besef mense gaan soms makliker dood as vlieë, en dat mens soms jare se tyd en energie spandeer om iets op te bou wat jy in ‘n oogwink kan verloor. Meeste weet, en erken die uiteinde van (fisiese) lewe is DOOD.

Dié onder ons met ‘n goeie waarnemingsvermoë besef ook dat om so lank as moontlik uit te hou op hierdie planeet eindig, as ons gelukkig is, in ‘n ouetehuis of ‘n gastekamer by familie, of – in ernstige gevalle – in ‘n hospitaalkamer, met buisies in jou neus, jou vel ineengekrimp, en jou sig en gehoor van so aard dat jongeres soms nie kan help om agter hulle hande te lag nie.

Sommige van ons ontken selfs hierdie dinge; of indien ons nie so ver gaan nie, etiketteer ons dié wat ons herinner aan hierdie waarhede as pessimiste, smartvrate en ellendelinge.

Maar hoeveel onder ons kan eerlikwaar sê ons is nie net ietwat onrustig oor die moontlikheid dat ons oor drie dae dood kan wees nie? Hoeveel mense kan regtig sê hulle kan nie wag om tagtig te slaan nie? En kan enige iemand die waarde ontken wat geluk inhou vir die meerderheid inwoners van hierdie planeet as kompensasie vir hierdie onaangename waarhede?

Waar pas God in hierdie waarheid in? Ek weet nie, maar ek weet wel dat ateïste, panteïste, monoteïste, Christene, agnostici, Hindoes, Moslems en Boeddhiste almal siek raak, pyn ervaar en dood gaan. Die Waarheid geld vir almal. Dis universeel.

Vyfhonderd jaar gelede het almal behalwe ‘n paar eksentriekes geglo die aarde is plat. Die feit dat mense heftig geprotesteer het teen die idee dat die aarde rond was, het die aarde nie ‘n millimeter platter gemaak het nie.

ONTKEN DIT OF AANVAAR DIT – TERWYL BLOED IN ONS ARE VLOEI, DOEN ONS ALLES WAT ONS DOEN TER WILLE DAARVAN OM ONS LEWENS DIE MOEITE WERD TE MAAK.

Wat sê dit van my kritiek oor die middelklas wat ek tot vervelens toe resiteer? ‘n Middelklaslewe is dan mos net ‘n eerlike poging om die lewe die moeite werd te maak! Wat sê dit van my voorkeur aan ‘n lewe toegewy aan kreatiwiteit en studie? Ook dít is net ‘n eerlike poging met presies dieselfde oogmerk!

(Dis Vrydag, 27 Februarie 2004, om agt minute oor een in die vroeë oggend.)

* * *

As bogenoemde die waarheid is, wat is dan die verskil tussen ‘n “goeie lewe” en ‘n “edel bestaan”?

‘n Goeie Lewe is een waar lewe vir die betrokke persoon die moeite werd is, en as jy dit ook die moeite werd kan maak vir mense wat jóú lewe die moeite werd maak, soveel te beter.

Die strewe na ‘n Edel Bestaan kan gedefinieer word as aktiewe deelname aan ‘n stryd om die lewe die moeite werd te maak nie net vir jouself en jou eie geliefdes nie, maar ook vir ander met wie jy geen persoonlike verbintenis het nie.

Wanneer jou lewe toegewy word aan (onder andere) die verbetering van ander se lewenskwaliteit, slaag jy daarin om meer waarde te gee aan jou eie lewe as wat die geval sou wees as jy bloot nog ‘n enkele organisme was wat gestreef het na eie behoud.

Om fisiese oorlewing te verseker vir jouself (en selfs vir ‘n uitgesoekte groepie betekenisvolle ander) op wyses wat ander ontneem van ‘n oortuiging dat die lewe die moeite werd is, is om… jou lewenswaarde te beperk tot slegs jouself (en ‘n uitgesoekte groepie betekenisvolle ander).

Om ‘n bestaan te voer wat gekenmerk word deur onetiese aktiwiteite wat ander sporadies, en in wisselende grade beroof van oortuiging dat die lewe vir húlle die moeite werd is, is om die isolasie van die betrokke persoon en die beëindiging van sy destruktiewe aktiwiteite ‘n edel strewe te maak vir mense wat dit najaag om die lewe die moeite werd te maak vir hulleself en vir betekenisvolle ander, en wat ‘n oortuiging dat die lewe die moeite werd is wil fasiliteer vir ander lede van die breër gemeenskap.

Die lewe is ‘n stryd? Ja, ‘n stryd om oorlewing, en ‘n stryd om die lewe die moeite werd te maak. ‘n Goeie Lewe is om te slaag in hierdie stryd. ‘n Buitengewoon Goeie Lewe is relatief tot wat vir jou die lewe die moeite werd maak (as reis na onbekende plekke een van die dinge is wat vir jou die lewe die moeite werd maak, is om gereeld en vir lang periodes op reis te gaan iets wat jou lewe buitengewoon goed maak – vir jou). ‘n Edel Bestaan is om ánder individue – selfs vreemdelinge – by te staan in húlle stryd; ook om ‘n advokaat te wees vir die oortuiging dat LEWE die moeite werd is, of kan wees. Om jóú lewe te verloor sodat ander kan leef, is

Saterdag, 28 Februarie 2004

Ek vra dus nie meer net na die betekenis van my lewe nie. Die vraag wat eers beantwoord moet word is, “Hóékom moet die lewe sin maak?” oftewel “Hoekom moet mý lewe betekenis hê?”

Die antwoord op hierdie vraag is natuurlik indien jou lewe betekenis het, gee dit vir jou rede om te leef (en as jy rede het om te leef, gee dit uit die aard van die saak betekenis aan jou lewe). Hoekom het jy rede nodig om te leef? Sonder om verskeie dinge te herhaal wat ek reeds gesê het, kan die antwoord opgesom word deur uit te wys dat jy nooit gekies het om hier te wees nie, dat die lewe nie altyd maklik is nie (en soms is dit downright ellendig), en dat daar verskeie maniere is om jou lewe te beëindig. (En as jy ander beny wat wél rede sien hoekom húlle wil leef, is daar metodes om ‘n paar van hierdie optimiste saam met jou te vat.) Dit sal dus nie oordrewe wees nie om op hierdie punt die gevolgtrekking te maak dat dit van die allergrootste belang is om redes te vind
HOEKOM
JY
WIL
LEEF.

Terloops, die laaste sin wat ek gister begin skryf het is nooit voltooi nie omdat almal aan hulle eie naamwoorde of frases kan dink om die sin mee klaar te maak. Moontlikhede sluit in, (“Om jóú lewe te verloor sodat ander kan leef, is…”) “om ‘n held te wees”, “om ‘n gewer van lewe te wees”, ensovoorts. Mense wat self rede insien hoekom húlle wil leef, maar steeds op die ingewing van die oomblik, of na lang bepeinsing besluit om die risiko te neem om moontlik hulle lewens te verloor ter wille daarvan dat ander kan leef, verdien om geëer en onthou te word.

Die ander rede hoekom ek nie gister die sin voltooi het nie, was omdat ek nie lus was om verder daaraan te dink nie.

Ek kan wel dink aan heelwat redes hoekom ék wil leef: samesyn met familie en vriende, liefde, moontlik my eie gesin eendag, om kreatief te wees, om meer van die wêreld te leer en te verstaan. Huidiglik gee sommige van hierdie dinge vir my rede op ‘n daaglikse basis om voort te gaan met my bestaan. Ek is egter ook genoodsaak om ander dinge te doen wat nie op ‘n daaglikse basis op hulle eie goeie redes is om voort te gaan met my bestaan nie, maar wat met die verloop van tyd hopelik ‘n nuwe omgewing en bestaanstoestand sal bewerkstellig wat, so glo ek tans, vir my nog meer rede sal gee om te leef.

* * *

Om op te som en af te sluit:

Elkeen van ons word gebore in ‘n bepaalde era en in ‘n samelewing met sekere reëls en heel moontlik ‘n bepaalde dominante kultuur, met ‘n verskeidenheid hulpbronne om ons behoeftes mee te bevredig, en wisselende hoeveelhede daarvan. Na ‘n dekade of drie het ons gewoonlik ‘n paar dinge uitgevind oor die lewe: dis soms hard, dis soms lekker; dis soms sleg, en soms is dit goed. Die mooiste dinge kom soms oor ons pad, en soms gebeur die teenoorgestelde. Ons raak ook bewus van die feit dat almal uiteindelik doodgaan, maar dat dit ook maklik genoeg is om ons eie dood te verhaas. Diep onder die invloed van al voorafgenoemde dinge besluit ons met die verloop van tyd WAT ons met ons lewens wil doen, WAAR, en moontlik SAAM MET WIE. Ons kontempleer ook moontlik die betekenis van ons lewens, en ‘n moontlike doel vir ons bestaan.

Terwyl ons die antwoorde op hierdie vrae probeer uitwerk, of moontlik ná ons reeds ‘n paar bevredigende antwoorde geformuleer het, of soms nog vóór ons enige moontlikhede oorweeg het, moet ons weet of ons WIL lewe. (Ek sê “weet” eerder as om te sê ons moet dit “kontempleer” want hoewel dit sekerlik ‘n algemene verskynsel is dat mense dink oor sake soos wát jy met jou lewe wil doen, wáár en saam met wié, reken ek nie soveel mense gaan sit onder ‘n boom of op ‘n klip en kontempleer die vraag of hulle inderdaad wíl lewe nie. Soms sal mense ‘n punt bereik wanneer hulle bewus raak van ‘n gebrek aan entoesiasme om voort te gaan met hulle bestaan. Tot iemand hierdie punt bereik, aanvaar hulle dit egter heel moontlik as vanselfsprekend dat hulle wíl lewe, siende dat dit reeds die bestaande realiteit is, en hulle ervaar wat beskou kan word as ‘n aanvaarbare minimum entoesiasme vir hulle eie voortbestaan.)

As jy bewus is van ‘n mate van bereidwilligheid om die lewe ‘n kans te gee, of selfs ‘n graad van entoesiasme, volg dit dat jy redes sal oorweeg hoekom jy sal wil voortgaan met ‘n bestaan wat begin het sonder dat jy ‘n keuse gehad het oor die dag, plek, en ander detail wat ‘n deurslaggewende rol speel in wie en wat jy is.

Wil jy dus voortgaan met jou lewe?

Indien wel, hoekom?

Indien jy nié wil voortgaan met jou lewe nie, is jy bereid om – terwyl jy steeds bewus is daarvan – verantwoordelikheid te aanvaar vir die gevolge wat jou besluit sal hê vir die betekenisvolle ander persone in jou lewe, en kan jy jouself versoen met die nalatenskap wat die resultaat sal wees van jou besluit?

* * *

Aan die einde het ons net onsself, ons verhoudings met ander mense, en wat ons in glo. Die hoop is altyd dat ons iéts sal vind om ons geloof aan vas te bind, iets wat ons sal oortuig dat alles aan die einde van die dag die moeite werd is. Die hoop is verder dat hierdie goeie dinge ons pad na die afgrond sal blokkeer, sou ons dit wel ernstig oorweeg om op te gee.

EINDE VAN DIE STORIE.

Hierdie inskrywing dateer: 28 - 02 - 2004 om 21:53 en sorteer onder Boek Drie. [...]

Gesluit vir kommentaar.