Die Groot Laatmiddag-Agterstoep-Ontwaking
[Tussen my woonstel en die stegie agter my woonstel was 'n ruimte waarna ek verwys het as my agterstoep. Dit was my gewoonte om daar te gaan staan en 'n sigaret te rook as ek tussen klasse 'n draai by die huis gaan maak het – derhalwe was dit die ideale spasie vir nuwe gedagtes oor ou onderwerpe.]
———————
Ek sal eerder ‘n bietjie te veel “klas” wil hê vir die laer-middel, as te min “klas” vir die hoër-middel. Mense van die laer-middelklas sal jou aanvaar as jy húlle aanvaar, terwyl mense van die hoër-middelklas dink hulle doen jou ‘n guns – hulle bewys hulle is nie snobs nie – deur sosiaal met jou om te gaan (as jy nie werklik “een van hulle” is nie).
Mense van beide sub-klasse hou jou egter op ‘n afstand totdat jy jou “ware kleure” gewys het, en hulle sal voortgaan om jou op ‘n afstand te hou as hulle nie hulle eie gewone gedrag kan vertoon teenoor jou sonder om ongemaklik te voel nie.
Feit van die saak: Ek is half-klas. Ek was in die proses om die waardes en voorkeure van die hoër-middelklas te kultiveer toe die vloei gearresteer is [sien nota]. Omdat ek nie groot geword het in wat beskryf kan word as ‘n laer-middelklas omgewing nie, het ek ook nooit gemaklik gevoel met voorkeure en lewenstyl wat algemeen is in daai sosio-ekonomiese omgewing nie. Laasgenoemde was egter die klas waarin ek myself, te oordeel aan die gemeenskap se kriteria, bevind het. Ons gesin – ek, my ouers en twee susters – het egter bly streef na hierdie droom, hierdie ideaal van die hoër-middelklas.
Dit het my al hierdie jare geneem om te besef dat niemand anders dink ek en my familie hoort werklik in die hoër-middelklas nie. Hulle het ons altyd geplaas waar ons gehoort het, in terme van die kriteria van die gemeenskap. Dit was net ons wat altyd gedink het, “Maar ons hoort eintlik by julle! Ons het net ‘n paar tydelike terugslae beleef…”
~ Uit die Ligbruin Notaboek, November 1999
———————
[nota: ‘n Ander beeld wat later by my opgekom het was dié van ‘n Internet download. Ek was besig om al die “waardes en voorkeure van die hoër-middelklas” af te laai toe die proses onderbreek is. Ek was derhalwe nie in staat om “korrek” te funksioneer in daardie spesifieke omgewing nie, omdat my “program” nie behoorlik gelaai was nie.]
