Die GEGEWE SELF, en die rol van intellektuele

VRYDAG 25 JUNIE 2004

(Hoe min kan mens van jouself weet, en nog steeds funksioneer, as ’n volwasse mens, binne die grense van wat as “normaal” gereken word deur die gemeenskap?)

Sonder mense kan geen gemeenskap staande bly nie. Sonder voldoende getalle mans en vrouens, en mense met verskillende talente en vermoëns, kan geen gemeenskap gesond bly en vooruitgaan nie.

Die Gemeenskap – die liggaam van mense wat ’n stel kulturele, linguistiese en ander waardes deel op ’n partikulêre plek – verskaf aan die individu ’n soms voorlopige maar nietemin werkbare identiteitsmodel/self-model wat saamgestel is uit noodlotsdata, kulturele data, en soos die jare aanstap, behoeftes van daai partikulêre gemeenskap in daai partikulêre tyd. Meeste mense aanvaar hierdie GEGEWE model van wie en wat hulle is – tot verskillende grade, maar die vereiste minimum kwota word behaal onder die bevolking vir die gemeenskap om ten minste staande te bly.

Wat dan gemaak met mense wat skepties is, en krities, wat alewig rondkrap vir antwoorde op wat vele reken onnodige vrae is; mense vir wie dit oënskynlik ’n lewenslange strewe is om die formules te ontdek van hoe dinge werk, mense wat nie dinge wil aanvaar soos dit tans is nie? Die Gemeenskap kan uiteindelik nie staande bly sonder ook die bydrae van hierdie mense nie – insluitende sommige wetenskaplikes, sielkundiges, sosioloë, historici, filosowe en akademici uit ander velde, skrywers, digters, kunstenaars en musikante.

Die primêre bydrae van hierdie individue is om voortdurend aan mense idees te bied waardeur hulle moontlik ’n beter begrip kan ontwikkel oor hul eie bestaan. Hierdie individue moet ook dien as teenwig vir irrasionele groepspolitiek, en verwante destruktiewe bewegings wat in onseker tye aan mense ’n vaster begrip gee van wie en wat hulle is, van wat hulle rolle in die gemeenskap behoort te wees, en van die waarde en betekenis van hulle lewens. Natuurlik is daar intellektuele wat juis sulke destruktiewe idees die wêreld injaag. Vir presies hierdie rede is dit belangrik om konstruktiewe idees te bevorder, en die advokate van hierdie idees aan te moedig.

Intellektuele neem dit dan op hulleself om die lede van die breë gemeenskap bewus te maak van die destruktiewe aard van sekere opvattings, ideologieë en verwante bewegings. Hulle speel ook ’n leidende rol in die voortdurende proses waardeur onderskeid getref word tussen dit wat Beskaafde Gemeenskap staande hou in grond vrugbaar vir groei en vooruitgang, en wat dit by die nate laat lostrek.

———–

[Hoeveel verstaan die “gewone” man of vrou op straat reeds van wat hulle gemeenskap by die nate sal laat lostrek, en op watter punt moet die Intellektuele Voorhoede in die Stryd vir Gesonde Gemeenskap op die seepkassies spring?

Ek glo dat as meeste werkende volwassenes te besig is om sogenaamd meer akademiese vraagstukke soos byvoorbeeld die verhouding tussen taal en “waarheid” te bepeins, hulle heel moontlik ook te besig sal wees om Rome om hulle te sien val – wat soos meeste mense weet, nooit in een dag gebeur nie.

Intelligensie is nie wat hier ter sprake is nie – ’n mediese dokter is nie noodwendig slimmer as ’n chemiese ingenieur net omdat hy verstaan hoekom laasgenoemde se maag aanhou pyn nie. So ook met die Intellektuele Voorhoede, wie se belangstellings, en passie vir sekere sake hulle oë beter instel daarop om dinge raak te sien voor dit pynlik sigbaar is vir almal, en moontlik te laat is.]

______________________