DIE 20 MEI 2003-INSIDENT
[Die "20 Mei-Insident" verwys na 'n argument wat ek gehad het met 'n vriendin. Die onderwerp – nie my keuse nie – was my toekomsplanne. My vriendin het sekere opinies gehuldig oor die werkbaarheid van my idealistiese toekomsvisie. Ek het gemeen haar aannames was verkeerd. Sy't anders gereken. Hierdie teks kom uit die e-pos wat noodwendig geskryf sou word later die aand.
Die vuur agter my reaksie het gevoed op my sluimerende vermoede dat ek nie "groot" genoeg is vir die grootmens-wêreld nie – vanweë geld, werk, en moontlik my enkel-status. (Dit het dalk nie so duidelik deurgeskemer in Taiwan nie, maar ek het vermoed dat dit duideliker sou vertoon indien ek wel sou terugkeer Suid-Afrika toe.) Die argument wat ons gehad het, het op hierdie bewussyn ingewerk (my sogenaamde senuweepunte raakgetrap), en my vir die oomblik minderwaardig laat voel in die teenwoordigheid van 'n betekenisvolle ander persoon.
Ek sluit dit in by hierdie projek nie omdat ek steeds vasklou aan die argument nie, maar omdat die argument, en hierdie brief as 'n resultaat daarvan illustreer hoe ek myself en my plek en waarde in die wêreld gesien het teen Mei 2003. In die stuk, BALLINGSKAP 14, verwys ek na hierdie tema, en ook na die insident wat dit toegelig het. Om hierdie brief in te sluit, verduidelik die probleem beter as wat die geval sou wees met 'n voetnota, of blokhakie-kommentaar.
Die leser mag dalk die indruk gekry het aan die einde van BOEK EEN dat ek die belangrikste dinge uitgesorteer het in my lewe. Die waarheid is dat enkele gebeure, en sekerlik algemene neigings wat mens altyd jaag, gemaak het dat ek teen die tyd waaruit hierdie stukkie teks dateer weer gekonfronteer is met sekere partikulêre werklikhede.]
———————
Ek kan sekerlik bladsye vol skryf oor hierdie tweede argument in vier dae, maar ‘n paar lyne sal voldoende wees. En ek skryf nie om ‘n argument voort te sit omdat ek niks beters het om met my tyd te doen nie. [...]
Dié keer het dit nie gegaan oor enige iemand anders, of oor iets waaroor ek miskien bloot ‘n sterk opinie het nie. Dit het gegaan oor hoe ek probeer, tot in die nag as ek uiteindelik gaan slaap, en vandat ek weer die eerste keer in die oggend bewus raak van my kapasiteit om nugter te dink, om ‘n sekere lewe te laat werk – hoe idealisties dit ook al mag voorkom aan ander mense. Dit het gegaan oor hoe ek poog om ‘n lewe te lei wat myne is, in ‘n wêreld wat nie is nie.
Jy’t gevat wat ek oor maande al vir jou probeer verduidelik, en dit gereduseer tot die gebabbelry van ‘n naïewe 31-jarige dromer wat moet wakker skrik en besef hy moet volgens die reëls speel. Die individuele punte wat jy gemaak het was nie noodwendig verkeerd nie; die probleem is, dis nie op my van toepassing nie.
Hierdie hele storie sê vir my een ding: Jy’t na al hierdie tyd nie die vaagste benul wie ek is nie. En dit ten spyte van die feit dat ek al planne in detail aan jou uitgelê het, en nog nooit iets so sinneloos kwytgeraak het soos dat ek permanent wil teruggaan Suid-Afrika toe, en lekker lewe, en skryf, en trou, en kinders kry… en na ‘n paar maande op die vrou skree oor wat van die laaste brood geword het nie.
Jy’t dit wat vir my die heel belangrikste is gevat en ‘n kru, onlogiese, tot naïwiteit-gereduseerde weergawe teruggegooi in my gesig. En toe ek kwaad word daaroor, dink jy dis goed genoeg om te argumenteer dat dit my skuld is omdat ek sensitief is daaroor. Wat de hel het jy gedink gaan gebeur?! Het jy gedink ek gaan daar sit en luister hoe jy alles wat ek vir jou gesê het vandat ons vriende is teruggooi asof ek, in jou beskeie opinie, nog nie lank genoeg daaroor gedink het nie? Wie dink jy is jy? My ouer suster?! Nie eers sy waag dit meer om sulke simpel goed kwyt te raak nie!
En ek het lank genoeg geluister, en nog aanvanklik probeer verduidelik, want ek was oortuig daarvan dat jy nie werklik vir my sê wat jy gesê het, en op die wyse wat jy dit gedoen het nie. Maar jou “ek wil nie hieroor argumenteer nie” en “OK, los dit!” was presies wat mense sê as hulle weet hulle het [twak] gepraat, en dat hulle maar moet spore maak voor ek my composure terugkry en vir hulle presies verduidelik op hoeveel maniere hulle verkeerd is.
Is ek sensitief oor hierdie dinge? Ja. Moet ek verskoning maak daarvoor? Nee. Is dit goed genoeg om te sê ék het dit verkeerd hanteer, en dat hoe ék dit hanteer het dit wat jy gesê het verkeerd gemaak het? Omdat ek dit in die verkeerde lig gesien het? Omdat dit nie was wat jy bedoel het nie? Omdat dit net vriendelike kritiek was? Omdat vriende mekaar mos kan kritiseer? Nee. Dis nie goed genoeg nie, en dis nie ‘n teenargument nie. Om dit te sê is om slim te probeer wees as jy weet dat jy die [swakste] statements van die jaar gemaak het, om nie te noem dat dit gebaseer is op ‘n totale vals aanname nie. En as ek nog nooit eintlik vir jou vertel het van wat ek wil doen nie, goed dan. Maar jy weet beter as enige iemand wat my langtermyn-planne is. Het jy ‘n paar fundamentele dinge vergeet? Het jy nie gekonsentreer toe ek jou daarvan vertel het nie? En as jy geweet het jy’t miskien die pot misgesit, hoekom het jy aangehou met jou argument?
Dis ‘n kwessie van vertroue, en waardigheid. Jy’t my soos ‘n rykmanskind-idealis behandel wat nie weet hoe die lewe werk nie, of ‘n dronkaard wat moet wakker skrik en besef hy’s laat vir werk.
Dat ek nou kwaad is, is nie regtig ter sprake nie. Ek ís goed bedonderd, maar ek weet net so goed soos jy dat ek teen môre-aand anders sal voel. Dis hoekom ek nóú vir jou hierdie brief skryf, want dit gaan nie net oor emosie nie – dit gaan oor hoe ‘n mens se beste vriende jou sien. Jy’t in ‘n onbesonne oomblik vir my gewys dat jy geen idee het waarvan ek praat nie. Jy hét my senuwee-punte raakgetrap. En om te sê vriende kan dit maar doen, is om desperaat te raak in jou verdediging.
Tot jou verdediging gaan ek aanvaar dat jy nie behoorlik gedink het voordat jy gepraat het nie, en dat jy weet hóé jy gesê het wat jy gesê het onvanpas was, om die minste te sê. [...].
(Dinsdagaand, 20 Mei 2003)
___________
