Deurweek met spesifieke doel en funksie

VRYDAG 20 JULIE 2012

Stel jouself voor ’n dik sny witbrood. Jy smeer ’n dun lagie botter op, en dan gooi jy omtrent sewe eetlepels goue stroop oor die sny brood. Sewe eetlepels. Dan gaan kyk jy TV vir so ’n uur. Wat kry jy as jy terugkom in die kombuis? Soos verwag kan word, kry jy ’n sny brood absoluut deurweek met stroop.

So is dit met doel en alle lewe op aarde. Alles van die oog van die vlieg tot die onderdele van ’n mikro-organisme, tot by jou eie oë, vel, tone, bloed en beendere – alles is absoluut deurtrek met spesifieke doel en funksie. [Eintlik nogal ’n komplekse saak. Eers het wetenskaplikes gedink heelwat van die menslike genetiese struktuur is “gemors DNS” met geen funksie nie, toe ontdek hulle dat hulle dalk ’n paar dinge misgekyk het.]

Hoe op aarde kan elke onderdeel van elke klein en groot organisme en kreatuur op hierdie planeet ’n spesifieke doel hê, maar die geheel van die vis of die kokkerot of die renoster het nie ’n doel nie? Hoe kan elke klein onderdeel van die mens ’n spesifieke “taak” hê om te doen, maar die mens as geheel nie? Hoe kan iemand sy skouers optrek en beweer dat sy of haar lewe nie juis ’n doel dien nie? En as dit wel ’n doel dien, weet hulle nie wat dit is nie.

Natuurlik word niemand gebore met ’n nota vasgemaak om hulle nek wat verduidelik wat die doel van hulle lewe veronderstel is om te wees nie, maar hoeveel mense is nie juis vreeslik entoesiasties om te soek na wat dalk die doel van hulle lewens kan wees nie?

Het menslike lewe ’n doel? Het elke individu ’n spesifieke rol om te vervul? Indien wel, wie – of wat – bepaal wat dit is? En na watse moontlikhede kyk ons?

Vele mense wat wonder hieroor, sal draai na hulle plaaslike dominee, pastoor, priester, imam of rabbi, en verwag dat hierdie figure vir hulle sal sê wat die doel van hulle lewe veronderstel is om te wees, om dit vir hulle uit te spel, om vir hulle duidelike instruksies te gee.

Ek dink dit is lui. Ek dink dis die maklike pad. Ek dink dis ’n kort pad wat te veel mense vat.

’n Vraag: Berei die opvoeding wat ons kry van ons ouers, en op skool, en by die breë gemeenskap, ons voor om uit te sorteer of te ontdek wat die doel van ons lewens is?

Indien nie, wat kan ons as volwassenes doen om dit vir die volgende geslag makliker te maak? Wat moet ons as volwassenes doen, vandag, om hierdie soektog ’n redelike kans te gee op sukses – vir die volgende geslag, en ook vir onsself?

———–

Hierdie aantekening is geïnspireer deur Dokument 1_181104_2359.doc.

Sien ook: Die doel van bestaan 310305.doc

______________________