Dalk eenvoudig nie goed genoeg nie

WOENSDAG 1 MAART 2017

(1)

’n Professionele tennisspeler tree af op 33-jarige ouderdom. Hy het oukei gedoen vir homself. Hy kon die huispaaiement bekostig op ’n drie slaapkamer huis in ’n goeie middelklas woonbuurt, en hy kon sorg vir sy gesin.

Die hoogtepunt van sy tennisloopbaan het gekom toe hy 27 jaar oud was. Hy het in die vierde rondte van ’n Grand Slam-toernooi gespeel, en die week daarna het hy sy persoonlike hoogste plek op die ranglys bereik, naamlik 52.

Hy het ’n goeie afrigter gehad op skool, en sy ouers het baie geld spandeer om sy talent te ontwikkel. Hy kon redelik goed tennis speel, dit was verseker. Maar selfs op sy heel beste was hy eenvoudig nie goed genoeg om in die top 50 in te breek nie.

(2)

’n Jong seun neem al vir drie jaar kunsklasse. Die klasse is nie goedkoop nie, so een aand vra die pa of hy ’n bietjie kan kyk na die seun se sketse. Hy vat sy tyd, en kyk peinsend na elke stuk papier wat voor hom neergelê is.

Dan sit hy die sketse neer en sê hy gaan ’n bietjie deur die tuin stap. Wil sy vrou nie dalk saamstap nie, vra hy.

Naby die roosbome vra hy sy vrou geskok wat aangaan. Drie jaar se kunsklasse, en daai sketse is die beste wat die seun kan doen?

Sy vrou verdedig die kind. Dalk het hy net nie talent vir kuns nie, stel sy voor.

“Goed en wel,” antwoord haar eggenoot, “maar kon ons dit nie twee jaar gelede al besef het nie?”

———–

Voorbeelde van tennisspelers wat meer as ’n dekade lank beroeptennis gespeel het, en min of geen titels gewen het nie (maar steeds ’n goeie bestaan gemaak het):

Stephane Robert se loopbaan as professionele tennisspeler het begin in 2001. Na 16 jaar is die hoogste plek op die ranglys wat hy sover gehaal het, nommer 50. Tot op hede het hy nog geen titels gewen nie. Totale prysgeld: $2 109 805.

Guillermo Garcia Lopez speel al vir 15 jaar lank beroeptennis. Sy hoogste rang was 23. Hy het tot dusver vyf titels gewen. Totale prysgeld: $7 162 298.

Konstantin Kravchuk speel al beroeptennis sedert 2004. Hoogste plek op die ranglys: 78. Titels: Geen. Totale prysgeld: $878 386.

Victor Estrella Burgos speel al sedert 2002. Hoogste plek op die ranglys: 43. Titels: 3. Totale prysgeld: $1 772 334.

Dan kom ’n mens by die toonbeeld van sukses: Roger Federer. Sy loopbaan as beroepspeler het begin in 1998. Die hoogste plek wat hy op die ranglys behaal het, was nommer 1. Hy het tot dusver 91 titels gewen, insluitende 19 grand slams. Totale prysgeld: $103 990 195.

______________________