Hoe vergelyk my lewe in Taiwan met my tyd in Korea?

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

Ek het Korea toe gegaan as iemand wat niks gehad het om te verloor nie – behalwe natuurlik die gemeenskap van mense vir wie ek omgee het, ’n sekere handelsmerk bier, en miskien die unieke Suid-Afrikaanse landskap. Hoe langer ek egter in Korea gespandeer het, hoe meer het ek begin vashou aan dinge wat ek nie gehad het in Suid-Afrika voor ek Ooste toe is nie – ’n werk, ’n inkomste, en ’n plek wat ek my eie kon noem, al was dit net tydelik.

Natuurlik was hierdie dinge nie genoeg om my in Korea te hou nie. Die mense en dinge wat ek gemis het in my eie land het geblyk ’n veel kragtiger magneet te wees. In Suid-Afrika kon ek weer Black Label drink, braaivleis ruik op ’n Saterdagaand, en my familie gereeld sien. Die werk, die inkomste, en my huislike situasie in Suid-Afrika het egter nie opgeweeg teen waaraan ek gewoond geraak het in Korea nie.

In Taiwan was my situasie van die begin af soortgelyk as in Korea. Ek het werk gehad, ’n inkomste verdien, en ’n baie beter plek gehad as wat ek verwag het ek sou hê (behalwe vir die gebrek aan vensters).

Wat is dan die verskil tussen die lewe wat ek gehad het in Korea, en die afgelope paar jaar in Taiwan? My werksituasie in Taiwan is beter – minder ure, en meer afwisseling, my huislike situasie is beter – veral my huidige woonstel, maar die mees betekenisvolle verskil is persoonlike projekte.

Ek doen in Taiwan waarvan ek in Korea net gepraat het. Ek doen dinge om myself te motiveer, om myself aan die gang te hou wanneer daar nie veel anders is wat inspireer nie. Ek het voortgegaan met aantekeninge oor my lewe toe ek hier aangekom het, en dit het ’n kerf opgeskuif nadat ek my eerste rekenaar gekoop het in Junie 1999. Daarna was daar fotografie, musiekinstrumente, Engelse handboeke, Chinese studie, en vir die afgelope jaar ’n spesifieke literêre projek.

My projekte, en die feit dat ek genoeg vrye tyd het, is meer as enige iets anders verantwoordelik daarvoor dat my lewe beter is in Taiwan as wat dit in Korea was.

______________________

Nuwe insigte, Februarie 1999

Maandag 15 Februarie 1999

Om vry en onafhanklik te wees, het ek meer as een keer die afgelope paar maande geskryf, is my groot ideaal.

Oppervlakkig beskou het dit gegaan daaroor om nie meer finansiële verpligtinge teenoor enige skuldeisers te hê nie. Maar dit het dieper gestrek as dit: Ek wou géén verpligtinge hê nie. My ideale lewe was dié van ’n losloper, ’n steppenwolf. Geen verbintenis nie, geen verpligtinge teenoor enige iemand nie.

So ’n jaar gelede het ek “commitment” en “belonging” geïdentifiseer as fundamenteel goeie idees, ook vir myself. Wat ek nie besef het nie, was dat ek twee perde in die resies gehad het. En ek het altwee probeer ry. Ek wou belong-and-commit, maar ek wou ook vry-en-onafhanklik wees. Wat ek blykbaar nie aanvanklik begryp het nie, was dat jy nie jouself tot iets kan verbind, en terselfdertyd “Vryheid!” kan roep nie; dat jy nie êrens kan behoort, en ook wil beweer dat jy onafhanklik is nie.

Die idee van ’n gesin van my eie was iets wat ek nooit lekker kon inwerk in my ideale leefstyl van vry-en-onafhanklik nie. Nou, dit sou nie ’n probleem gewees het as ek nie so gesmag het na hierdie basiese vreugdes van die lewe nie.

Dit dring toe tot my deur dat om ’n vrou lief te hê, en om saam met haar kinders te verwek, veel meer van ’n inperking sal wees op my vryheid en onafhanklikheid as om finansiële verpligtinge te hê teenoor skuldeisers.

Toe ek dít besef, was dit asof ’n gewig van my skouers gelig is. Ek het verlig gevoel. Ek kon ontspan, omdat ek toe geweet het dat algehele vryheid en onafhanklikheid nie is wat ek wil hê nie! As dit is wat ek wou bereik, was dit moontlik! Dis nie ’n illusie nie. Dis nie ’n droom wat nooit vervul kan word nie. Dis ’n droom wat ek nie wil hê nie! Dis ’n pad wat ek nie werklik enduit sou wou loop nie, omdat ek dan aan niks verbind sou wees nie, en nêrens sou behoort nie. En ek wíl myself verbind aan iets. Ek wíl myself toewy aan iets. Ek wil na iets streef, en ek wil voel ek behoort êrens.

In Johannesburg sou ek nie maklik hierdie insig kon wysraak nie, omdat vryheid en onafhanklikheid daar konkrete korttermyn ideale, selfs begeertes was, wat ek verwar het met ’n lewensideaal. Ek het nodig gehad om Taiwan toe te kom, om te besef dat as ek vry en onafhanklik wil wees, dit iets is wat ek kán doen, dat dit ’n ideaal is wat verwesenlik kan word. Ek moes weet dat dit ’n lewe is wat ek kan nastreef en realiseer, as dit is wat ek wíl doen. Maar dit is nie.

Natuurlik wil ek steeds my skuld afbetaal, so gou as moontlik. Ek haat dit om onder die swaard van skuld te leef. Ek glo om iemand geld te skuld, is om iemand se slaaf te wees. Dis nie dieselfde as om iemand lief te hê, en om ’n finansiële verpligting teenoor die persoon te wíl nakom uit liefde nie.

In finansiële terme wil ek definitief steeds vry en onafhanklik wees. Maar ek wil ook ’n ander ideaal realiseer – ek wil êrens behoort. Ek wil ’n huis hê in die volle sin van die woord. Ek wil lief wees vir ’n vrou, en bemin word deur haar.

Ter afsluiting dan van hierdie notaboek, wat sy eerste ink geproe het tien maande gelede in Stellenbosch, en wat Johannesburg met my meegemaak het, die volgende: Ek wil myself toewy aan ’n ideaal waarvan die verwesenliking reeds begin het, naamlik om ’n skrywer te wees. En ek wil bemin, en bemin word, en sodoende êrens behoort.

I am committed. And one day, I will also belong.

______________________

Laaste gedagtes voor Taiwan … Eerste gedagtes in Taiwan

Laaste gedagtes voor Taiwan

Dinsdag 29 Desember 1998

Ek sit hier en wonder of daar nie alternatiewe was, al die pad terug in April nie. Nie uit spyt nie, net soort van as ’n noodsaaklike mental exercise.

Is ek spyt oor enige iets? Die versoeking is groot om te sê “ja”, but it wouldn’t hold up to rigorous scrutiny. So, nee. Hier volg die redes. Ek het die belangrikste stap denkbaar geneem om my skuldeisers in die gesig te staar. Enkele dae na my terugkeer [uit Korea] was ek besig om versoening te onderhandel. Ek het al die belangrikste kennisse en vriende gesien, en kennis gemaak met ’n paar nuwes. Ek het ses weke by die huis gespandeer, en toe vir ses maande lank gewerk vir ’n maatskappy wat hoofsaaklik toegespits is op wins. Ek het eerstehands ervaar wat ek nog altyd gedink het van corporate life. Ek het in Johannesburg gewerk en gewoon vir ses maande lank, wat my onkunde oor die plek ’n doodsknal gegee het. Ek voel werklik meer ingelig, en meer ervare danksy hierdie tydperk. Ek het ook baie plekke gesien, en dinge ervaar wat ek gemis het tydens my “isolasie” in Korea.

Maar, dit is om ’n mooi prentjie te skets ter wille daarvan om nie spyt te wees nie. Ter wille van eerlikheid, moet ek ook die anderkant van die verhaal skets.

In terme van mag – wat ek oudergewoonte definieer as die vermoë om keuses te kan maak, keuses te kan uitoefen, en om nie afhanklik te wees van ander nie – was ek ’n big time loser die afgelope sewe of agt maande. Big time. Ek stel myself inderdaad in die verleentheid om steeds te probeer om terug te baklei, om steeds my waardigheid te wil verdedig.

Die waarheid is dat ek tans meer magteloos is as wat ek ooit tevore in my lewe was. Vir al die belangrikheid wat mag, onafhanklikheid, waardigheid en trots vir my gehad het agt maande gelede, is dit ironies dat ek soveel verloor het op al hierdie terreine! Vir hierdie rede, en hierdie rede alleen, sou ek kon sê dat ek spyt is dat ek nie reeds einde Junie probeer het om weer ’n teaching job te kry in die Ooste nie.

Maar, daar’s geen sin in spyt nie, so ek gaan nie tyd daarop mors nie. Ek het gedoen wat ek gedoen het. Ek het ’n paar dinge geleer, en ek was ’n paar keer neergevel teen die grond. But at least I came out for the fight, of hoe? Al was dit half teësinnig, en al lyk ek nie exactly soos ’n held op die oomblik nie.

Wat’s volgende?

Ek het gesien, vir as ek vergeet het, hoe lyk finansiële magteloosheid. Nie weer nie. Nie as dit van my afhang nie. Hierdie jaar was na alles een van die verrykendste jare van my lewe, al gaan ek dit gewond en beseerd, en swak gewapend uit. (Mens kan amper sê ek het die jaar ingegaan soos ’n Duitse soldaat in 1939, en ek gaan dit uit soos ’n Russiese soldaat in 1917.) ’n Verlore jaar was dit nie, daarvoor het ek veels te veel baklei, en te veel skermutselings oorleef. Die res van die duisend myl reis wat ek begin het, sal voortgaan. Two steps forward, one step back. Maar ek sál voortgaan.

Lank lewe my eie rewolusie!

Eerste gedagtes in Taiwan

Woensdag 27 Januarie 1999

Fengshan City, Kaohsiung County

Op die onderwerp van toewyding: Wanneer jouself toewy aan Een Saak, Een Ding, moet dit elke dag deel van jou lewe wees, anders vervaag die toewyding. Jy moet jouself op ’n daaglikse basis, aktief – nie noodwendig uitsluitlik nie, maar aktief – daaraan toewy.

Later meer oor Fengshan City, Taiwan …

______________________

Nie ’n volmaakte lewe nie, maar …

Woensdag 2 Desember 1998

Iemand met my agtergrond – middelklas, tersiêre opleiding – het basies twee opsies. Die een is om ’n betrekking by ’n maatskappy of instelling te aanvaar en finansiële sekuriteit te probeer bewerkstellig; die ander een is om ’n eie besigheid te begin. Ek is nie bereid om vir ’n maatskappy of instelling te werk op die langtermyn nie. Dis net hoe dit is. Ek het ook weereens gevind dat ek myself nie kan verbind aan ’n besigheid van my eie nie. Dit sal beperkte bevrediging bied vir ’n kort rukkie, maar wat dan?

Wat is die ander opsies? Een is Foreign English Teaching: eenjaarkontrakte; goeie kontantvloei; nie nodig om op skuld en krediet te leef nie; relatiewe goeie lewensomstandighede; jy’t nie ’n kar nodig nie; jy’t nie nodig om ’n goeie kredietrekord te hê om ’n telefoon te kry nie; jy leef in ’n vreemde land met ’n vreemde kultuur; lewenservaring van ’n ander aard; en uiteindelik, finansiële bemagtiging.

’n Volmaakte lewe? Nee. In meer opsigte as wat jy op jou een hand kan aftel, is dit ’n slegte lewe. Maar dit is ’n lewe waarin jy jouself kan bemagtig – op meer as een gebied.

______________________

Ontnugtering, en nuwe planne

Sondag 8 November 1998

Wat ’n jaar …

Vier en ’n bietjie maande in Johannesburg. Wat het ek sover gedoen? Ek het kanse gewaag. Ek het dinge gedoen, en doen dit steeds, wat ek gesê het ek nooit sal doen nie. Ek het Johannesburg toe getrek vir ’n office job. Ek het my baas/vriend se aanbod om vir tyd en wyl in die bediendekamer op sy erf te bly, aanvaar. Ek doen sales … En wat het ek? Fokkol.

Ek hou myself “produktief” besig – dis al wat ek kan sê. Ek lees. Ek skryf. Ek kan nie bekostig om by ’n restaurant te gaan eet nie. Selfs al was flieks gratis, kon ek nie daar uitkom nie. Selfs al was hier ’n honderd vrouens wat moontlikhede ingehou het vir ’n man, sou dit net van akademiese waarde gewees het, want as hulle nie binne stapafstand van my huis af woon nie, kan ek hulle nie ontmoet vir koffie of iets nie. En selfs al het ek ’n kar gehad, het ek nie geld nie. Ek bly in ’n fokken buitekamer soos ’n student. Ek het nie eens ’n behoorlike radio nie!

Klink dit asof ek net kla, terwyl soveel mense slegter af is as ek? Fok dit. Ek het my eie agenda. As ek tevrede was met wat ek het net omdat soveel mense in ’n slegter posisie is as ek, sou ek mense wat slegter af is as ek, beledig het, want ook húlle wil ’n beter lewe hê, om nie eens te noem dat hulle sou gedink het ek is ’n idioot om nie iets beters vir myself te wil hê nie!

Ek het geld nodig. Ek het ’n kar nodig. Ek het ’n rekenaar nodig. Ek het ’n behoorlike blyplek nodig. Al hierdie dinge is buite my onmiddellike bereik in Suid-Afrika op hierdie stadium. Miskien oor vyf jaar … That’s it, ek gaan Taiwan toe. En ek kom nie weer terug Suid-Afrika toe voor ek nie behoorlik vir myself kan sorg nie.

———————

[Verduideliking: Die Suid-Afrikaner wat my saam met die Koreaanse man meer as twee jaar tevore ingewag het op die lughawe in Seoel, was teen hierdie tyd in Taiwan. Ons het ’n paar e-posse uitgeruil – hy’t my vertel oor sy lewe in Taiwan, en ek het hom ingelig oor my situasie in Johannesburg. Teen laat Oktober het hy aangebied om vir my geld te leen vir ’n vliegtuigkaartjie Kaohsiung toe – ’n aanbod wat ek aanvanklik van die hand gewys het.]

______________________