“Jakob” skryf ’n storie

Donderdag 18 April 1996

Aangesien ek nog steeds wag vir die groen lig om Korea toe te gaan, moet ek iets kry waarmee ek myself sinvol kan besig hou en waarmee ek my onrustigheid kan kalmeer.

Hier volg dus nou ’n storie wat goed moet wees, want dit moet opmaak vir die feit dat ek nog in Pretoria sit. Ek moet myself kan troos dat as ek nou al in Korea was, ek nie hierdie storie sou geskryf het nie.

Die storie is natuurlik heeltemal fiktief.

———–

Jakob is nou al drie weke by sy suster in Pretoria, wagtende vir iets om te gebeur sodat hy kan vertrek – weg, na ’n vreemde land toe. (Sy suster is finansiële bestuurder by ’n plaaslike konstruksiemaatskappy. Sy woon in ’n klein woonstel – een slaapkamer, sitkamer en ’n kombuis – in ’n woonstelbuurt op die rand van die middestad. As die oudste kind het sy al geleer om geduldig te wees met haar jonger broer en suster, veral siende dat hulle skynbaar geen idee het wat om te maak met hulle volwasse lewens nie. Dis reeds die tweede keer in drie maande wat sy aan een van hulle haar spaar matras, ’n kussing, ’n paar komberse en spasie op haar sitkamervloer moet voorsien.)

As Jakob ver genoeg terugstaan van die hele situasie, sien hy dit vir wat dit is: ’n gewag op iets groters in die lewe, iets wat miskien ook aan hóm ’n plek in die son sal gee. Hy weet ook die huidige situasie is bloot die volgende hoofstuk in sy verhaal, ’n voortsetting van ’n fase in sy lewe wat begin het die dag toe hy sy laaste vraestel op universiteit geskryf het. Die tyd het toe aangebreek wat hy moes besluit in watter rigting hy sy lewe gaan vat, siende dat sy vriendin op universiteit, Karien, hom oortuig het om tydelik af te sien van sy ideaal om ’n kluisenaar te word – wat sy hare en baard sou laat groei, en net nou en dan sy gordyne sou ooptrek om te sien watse seisoen dit is. (Dan weer, selfs kluisenaars het deesdae ’n inkomste nodig.)

Enkele maande voor sy gradeplegtigheid het hy besluit om die onvermydelike lewenslange stryd om geld, huis en kinders tydelik op die agtergrond te skuif. Hy sou eers gaan reis vir ’n paar maande. Hy’t geweet dit sal nie noodwendig aan hom ’n plek in die son besorg nie, maar soos hy aan iemand verduidelik het oor ’n bier een aand, die landskap van ’n vreemde bestemming sou hom hopelik moed gee vir lewe in die hoofstroom, en ’n bietjie inspirasie.

So het hy Europa toe vertrek. Die plan was om êrens te werk vir ’n paar maande, ’n paar lande te besoek, en dan op ’n mooi lentedag terug te keer en sy jonger suster in Stellenbosch te verras. Hy sou haar by Bakoven inwag op haar pad terug van die skool af. Dan sou hy haar die middag vertel van alles wat hy gesien het, en van al die interessante mense wat hy ontmoet het. Sy sou luister soos een wie se wêreld, met elke woord, voor haar oë verbreed. Sy sou ’n opmerking maak oor sy lang hare en sy baard, en van mening wees dat mense hom nie eers sou herken nie. Hy sou ’n pelgrim wees wat skielik huis toe gekom het.

Vyf weke na hy Europa toe vertrek het – nie lank genoeg om veel van ’n verskil aan die hare of die baard te maak nie, was hy terug. ’n Paar mense wat verbaas gevra het, “Nou al?” het hy geantwoord met dieselfde illusie waarmee hy sy eie teleurstelling probeer verdoesel het: Hy het net sy “sake kom afhandel”. Hy sou weer vertrek “binne die volgende maand of drie”.

Maande van armoede en vervaagde hoop het gevolg.

Mense wat hom uitgevra het oor hoekom hy steeds in Stellenbosch is, het hy geantwoord met nog ’n halwe waarheid: Hy’t besluit om eerder sy suster deur matriek by te staan aangesien hulle ouers nou in ’n ander deel van die land woon.

Teen Kersfees was hy platsak. Sy suster was toe reeds weg – na hulle ouers se nuwe blyplek in KwaZulu-Natal. Hy het agtergebly in die munisipale woonstel met maande se onbetaalde elektrisiteitsrekeninge, en huurgeld wat driftig op pad was in dieselfde rigting. Om aan die lewe te bly het hy die meubels verkoop, totdat net ’n paar komberse en kussings, en ’n geleende swart-en-wit TV oorgebly het. Die krag – soos hy verwag het – is afgesny vroeg in Januarie. Hy’t die aande op sy beddegoed op die andersins kaal sitkamervloer in donkerte deurgebring.

“My lewe het begin stagneer,” het hy een aand gedink. Dat hy vorendag moes kom met ’n plan om uit die gemors te kom waarin hy gesit het, was nie altemit nie.

’n Maand na Kersfees het hy sy oorblywende goed in bokse gepak, meeste daarvan by ’n vriend gestoor, en sy 1967 Wolseley wat al vir amper ’n jaar gestaan en blare vergaar het onder ’n boom, te koop aangebied in die Eikestadnuus. ’n Paar dae na die kar verkoop is, het hy die trein gevat noorde toe. Dié jaar sou anders wees, het hy geglo. Hy was gereed, inderdaad uitgehonger, vir nuwe ervarings.

Nie lank na hy in die stowwerige dorp, Pongola, in KwaZulu-Natal, aangekom het nie, kry hy ’n oproep van ’n Suid-Afrikaner wat woon en werk in Seoel, Suid-Korea. Hy’t onmiddellik teruggedink aan die dag in Desember toe hy die advertensie vir Engelse onderwysers in die Cape Times gesien het (“Teach in Korea,” het die opskrif gesê, met ’n naam en ’n nommer). Hy kon onthou hoe entoesiasties hy hom teruggehaas het woonstel toe om te reageer op die advertensie. Die Suid-Afrikaner in Seoel het hom gevra of hy nog belangstel. “Dit sal ongeveer vyf weke duur om al die reëlings af te handel,” het die stem belowe. Jakob was verseker hy was eerste op die lys van nuwe onderwysers.

“Die oplossing vir al my probleme het gearriveer!” het Jakob opgewonde gedink.

Vyf weke is vinnig besig om drie maande te word. Intussen wag hy maar, meestal op die bank in sy suster se woonstel. Hy slaap op die sitkamervloer, rook die goedkoopste sigarette op die mark, drink koffie, en eet toebroodjies. Hy lees oor modes en verhoudings in sy suster se tydskrifte, probeer volg wat in die wêreld aangaan op ’n TV wat meer strepe en kolle wys as enige iets anders, en stap elke oggend OK Bazaars toe – vir die oefening, maar ook omdat dit soms beter is om na enige plek toe te gaan as om nêrens heen te gaan nie.

Jakob het ’n lang pad gekom ná sy laaste vraestel op universiteit. Miskien, reken hy, sal dit ’n goeie idee wees om ’n paar draaie te gaan loop deur die bekende landskap van sy geboortestad.

———–

Goed, dis nie ’n meesterstuk nie … en dis nie heeltemal fiktief nie.

Dalk moet ek gaan koffie drink êrens om die illusie te skep dat ek nie die hele dag in my suster se sitkamer spandeer nie.

______________________

Terug na 15 April 1996 om 19:56 en 25 sekondes

Maandag 15 April 1996

Ek is amper 25 jaar oud, amper halfpad deur wat beskryf word as die beste jare van mens se lewe. Ek het al glimpses daarvan ervaar, maar ook die downside – die rusteloosheid, die onsekerheid, en die finansiële en emosionele onstabiliteit. Ek is oortuig daarvan dat as ek my twenties kan oorleef, ek oukei sal wees.

[…]

Ek oorleef somber oomblikke met ’n versigtig optimistiese geloof in my toekoms. En ek praat nie van die verre toekoms nie; ek praat hier na die volgende vyf jaar, wat oorbly van my twintigerjare. Ek glo dat ek voor ’n opwindende periode van my lewe staan. Ek glo ek gaan meer van die wêreld sien. Ek gaan ook skaaf aan my identiteit op kreatiewe wyses. Dalk sal ek die immer ontwykende “liefde van my lewe” ontmoet. En ek glo, of hoop, dat ek somewhere down the line, binne die volgende vyf jaar, stabiliteit in my lewe sal ervaar.

Terug na 15 April 1996 om 19:56 en 25 sekondes, 26 sekondes, 27 sekondes, 28 sekondes … 58 sekondes. Hierdie is ’n vlietende oomblik en dag in my lewe, en in hierdie tydperk van my aardse bestaan. Dit sal verbygaan. Ek sal ’n metamorfose ondergaan en uiteindelik wakker word in ’n nuwe tyd van my lewe. As ek eendag terugkyk na 15 April 1996, sal ek sien dat dit net ’n vlietende oomblik, net ’n deeltjie van ’n groter geheel was, of ’n porsie van ’n groter deel wat uiteindelik deel sal word van ’n nog groter geheel.

Om nou op te gee, net omdat ek ’n onseker, onstabiele, ietwat eensame bestaan voer, is nie realisties nie. Ek het al baie sulke dae, en sulke tye in my lewe ervaar. In fact, van daai tye was erger as nou, en somehow het ek dit oorleef! Ek is bly ek was sterk in sulke tye, al het ek nie altyd hoop gehad nie. Of miskien is die volgende stelling nader aan die waarheid: Ek is bly ek het nie die moed gehad om in daai tye op te gee nie, want sterk was ek nie altyd nie.

______________________

Sondag 31 Desember 1995

Ek voel verplig om iets te sê oor 1995. Ek sal dit eenvoudig en kort hou. Dit was ’n jaar van uiterstes. Dae soos Dinsdag 14 Maart toe ek in die koue strate van Parys gesoek het na die woonstel waar ek veronderstel was om af te pak vir ’n paar dae (of weke). Ekstase, en dan … ongetelde, datumlose dae. Dae van vervaagde selfrespek, vae drome, versigtige geluk … Mag alles wat goed is vir my wag in 1996.

* * *

“I know you are sceptical, but […] join in with the ordinary current of life, and it will take you somewhere. Whither, you ask? Have no care on the subject, you will land and take root somewhere yet! Where? I cannot say, I only believe you have yet long to live.”

~ Fyodor Dostoevsky, Crime and Punishment

______________________

Die skrywer se testament, April 1994

Hierdie stuk het geen uitgewerkte skema nie. Ek gaan net begin met ’n paar idees wat rondmaal in my kop. […]

Wat ek hier skryf is veronderstel om my testament te wees, maar nie die soort wat gemik is op ’n gehoor wat bymekaar sal kom na ’n mens se afsterwe nie (in elk geval nie in die konvensionele sin van die woord nie). Wat ek hierin gaan nalaat is nie aardse besittings nie, dis woorde: my woorde, my gedagtes.

Jy sal jouself onmiddellik afvra wat my die idee gee dat mense sal belangstel in wat ek dink. Die antwoord maak nie regtig saak nie. Al lees niemand anders dit nie, sal dit ook nie ’n verskil maak nie. Miskien is dit ’n manier om vir myself te bewys dat ek lewe. Hierdie stuk sal ’n bewys wees dat ek werklik is, dat ek nie net ’n illusie is nie – amper iets soos Descartes wat gesê het, “Ek weet ek is, want ek dink.”

Ek weet ek bestaan wanneer ek skryf. Dit wat ek skryf word ’n simbool van my; dit dien ook as ’n eksterne bewys van my bestaan. Ek kan later na my skryfwerk terugkeer en weet ek het werklik hierdie spesifieke oomblikke geleef.

Dit wat ek skryf is deel van my, maar dit het ook ’n lewe van sy eie. Woorde lééf. Oop spasie op papier is soos klei. Dit wag op iemand om dit te vorm, om daarvan ’n kunswerk te maak. Wat die kunstenaar skep, dien jare na sy afsterwe steeds as bewys van sy eertydse bestaan. So is dit met enige stuk werk wat ’n mens skep. So is dit met hierdie stuk wat ek nou skryf. Solank as wat hierdie stukke papier behoue bly, sal ’n deel van my bly voortleef, want dit wat hier staan, is ék. Ek is in die woorde wat ek gebruik, in die manier hoe ek my sinne konstrueer, in my gedagtes wat manifesteer in die teks. Dit herinner amper aan die idee dat God lewe van Hom laat afstraal het soos ’n fontein, en waar die strale val, is daar lewe. So is alles wat lewe dan deel van God, omdat God die oorsprong is. So is alles wat ek skryf deel van my, omdat ek die oorsprong daarvan is.

[…]

Eers ’n belangrike nota. Jy moet jouself verstaan as jy ’n skrywer wil wees. Jy moet ten minste ’n vae begrip hê van hoe jy funksioneer, en wat jy regtig wil hê met enige iets wat jy doen. […]

[Hierdie] nie ’n kortverhaal of ’n roman, of enige iets tussen die twee nie. Tog moet dit ’n vorm hê wat dit leesbaar sal maak vir die nasate en ander belangstellendes. Ek het vroeër gesê dis ’n testament. Ek dink ek gaan bly by hierdie genre. ’n Testament is tog ’n amptelike dokument wat veronderstel is om bewaar te word, en as die skrywer van die testament dood is, moet dit gelees word aan almal wat saak maak. Ek hou verseker daarvan.

Dan is dit nou amptelik. Hierdie is my testament en dit sal voorgelees word wanneer daar klaar van my fisiese oorblyfsels ontslae geraak is. Ek sal naby aan hierdie stuk leef vir ’n onbepaalde tyd. Dis iets waarmee ek in verhouding kan staan, wat afhanklik is van my om te ontwikkel en te groei.

[…]

Wat behels dit as mense praat van die “rat race”? Wat beteken verkeersreëls en regerings en georganiseerde sport en media, en om skool en universiteit toe te gaan? Wat is die voordele daarvan om in te pas in die konvensionele gang van sake? Wat is die nadele daarvan? Verskaf dit werklik satisfaksie om in te pas? Gee dit aan ’n mens ’n gevoel dat daar sin in die lewe is? […]

Wat soek mense regtig in die lewe? Is dit nie maar net om oukei te voel oor alles om jou nie? Om vir jouself te kan sê, “Alles in ag genome, al die goed en sleg in die wêreld en in my eie lewe, voel ek oukei, en ek dink die wêreld is actually ’n orraait plek.” Is dit nie waaroor alles gaan nie? Om te probeer inpas by die orde wat die samelewing op jou voorstoep plaas soos ’n oggendkoerant, en wat jy moet optel en jou eie maak – en op jou eie manier is jy weer verantwoordelik daarvoor dat wat jy leer, ook by ander mense uitkom.

Word religieuse en politieke instellings nie maar net geëer om ’n mens in staat te stel om aan die einde van die dag in jou stoel te kan neersak en te kan sê, “Ek is oukei” nie? Al is dit nie regtig die geval nie, maar solank jy net glo jy is, werk dit naastenby uit! Dan ís die voorstedelike kleinburger bestaan mos ’n waardige opsie vir almal wat skeppers en onderhouers daarvan is, of hoe?

Maar wat van die massas wat nié dink die lewe is oukei nie? Wat van “emotional breakdown caused by fear, loneliness and spiritual impoverishment” [oorspronklik geskryf oor die tema van die Pink Floyd album, The Dark Side Of The Moon]?

Is mense in suburbia regtig gelukkig? En hoe groot is die verskil tussen dié wat aan die einde van die dag welgeluksalig in hulle stoele terugsak en werklik dink die lewe is oukei, en dié wat hulle gatte af probeer net om hulleself te glo as ook húlle dit sê, maar wat nie daarin slaag om hulleself te oortuig nie?

[…]

Ons soek voortdurend na iets waaroor ons seker kan wees. Soms vind jy dit in ’n intieme verhouding met ’n ander persoon. Soms vind jy dit in die godsdienstige sisteem wat jy kies om aan te hang, in jou geloof in die god wat jy aanbid. Ek vind my sekerheid in drie dinge: Geboorte, Lewe en Dood. Die mens word gebore. Die mens leef. Die mens sterf. Dis onwrikbare bakens van die mens se bestaan.

[…]

Hoeveel waarde moet mens heg aan die idee dat daar nie iets soos ’n volmaakte lewe is nie? Dat dit wat jy het, miskien die beste is wat jy gaan kry; dat daar nie ’n volmaakte lewe is wat nagestreef moet word nie; dat daar met ander woorde nie ’n teiken is wat gemis kan word nie. Is dit ’n vals aanname dat jou lewe beter en beter gaan word hoe nader jy aan ’n teiken van veronderstelde “volmaaktheid” kom? Beweeg die lewe in sirkels in plaas van in ’n naastenby reguit lyn? Het God ’n “plan” waarvolgens lewe op aarde ontwikkel?

Hoe sou ’n volmaakte lewe lyk? Genoeg kos om te eet, ’n huis om in te bly wat nie van jou weggevat sal word nie, liefde en aanvaarding, erkenning van ander mense, ’n gevoel dat jy besig is om jou eie potensiaal te verwesenlik, ’n aktiewe estetiese belangstelling in jou omgewing, en om alles te kroon, vrede met almal wat jou lewensruimte deel en met wat ook al buite die sintuie bestaan? Word ons almal geleer om so ’n lewe na te streef, en dat volmaakte geluk die resultaat sal wees indien ons hierdie lewe kan bewerkstellig?

Kan die lewe wat meeste mense leef voorgestel word tussen twee pole, naamlik volmaakte geluk aan die een kant en totale wanhoop en ellendigheid aan die ander? En die mens moet probeer om soveel as moontlik van die een uiterste weg te vlug in blinde najaging van die teenoorgestelde?

Is ons te veel doelwit georiënteerd? Word “effektiwiteit” beklemtoon ten koste daarvan om mense toe te rus om emosioneel te oorleef in ’n soms bitterlik onregverdige wêreld? Is dit eties regverdigbaar om mense te druk om die heeltyd die “regte” keuses te maak, veral om “reg” te kies met godsdiens – om te verhoed dat jy dalk vir die res van jou onsterflike siel se bestaan in ’n poel vuur verteer gaan word? Is dit regverdigbaar?

[…]

Wat is die sin van orde? Hoekom wil ’n mens jou lewe orden? Hoekom moet jou lessenaar reggepak wees, jou klere op die regte plek in die kas, jou bed opgemaak? Hoekom wil ’n mens weet wat om te verwag? Hoekom wil jy voorbereid wees? Hoekom wil jy op die “regte” wyse reageer op mense en gebeure? Hoekom klassifiseer ’n mens? Hoekom orden jy, pak jy reg, praat jy dinge uit, rangskik jy aksies in orde van belangrikheid? Hoekom handhaaf jy beginsels? Hoekom skryf ’n mens onsamehangende stukke om jou lewe uit te sorteer? Het dit te make met sekuriteit? Om te weet – of te glo – jy behoort op een of ander manier aan die groter orde van dinge? Maak dit deel uit van jou soeke na identiteit en die handhawing daarvan in verhouding met alles en almal om jou?

[…]

Nog iets vir die rekord: Ek dink nie ek is ’n skrywer nie. Ek dink nie ek gaan ooit bekendheid verwerf buite my kring van vriende en naaste familielede nie. Ek dink nie “my” idees is oorspronklik, of enigsins die moeite werd om te lees nie. Ek dink net dit sal baie eensaam wees om dood te gaan sonder om ’n paar woorde agter te laat wat later deur geliefdes gelees kan word. My motivering is dus dieselfde as iemand wat ’n nota skryf voor hy homself met ’n laken aan die dak ophang – om myself te verduidelik.

[…]

My ma raak ontsteld wanneer ek oor die dood praat. Sy dink ek spot. Dis natuurlik nie waar nie. Soos ek reeds gesê het is die dood net vir my die natuurlike einde van iets wat ook ’n begin gehad het. Ek het nie tans ’n duidelike opinie oor “lewe na die dood” nie, maar ek weet verseker dat dood op die mees elementêre vlak beteken dat iemand se fisiese bestaan geëindig het. Dit beteken jy hoor nie meer die persoon lag of praat nie. Jy proe nie meer koffie wat deur die persoon gemaak is nie, en jy eet nie meer kos wat deur die persoon voorberei is nie. Die persoon reageer nie meer op gebeure nie, en neem nie meer deel aan gesprekke nie. Die persoon raak nie meer saam met jou opgewonde oor iets nie. Die persoon kies nie meer jou kant in ’n argument nie. Die persoon is nie meer daar om by te gaan kla of te gaan raad vra nie. En dit is hartseer. Dis baie hartseer. Daar’s seker niks so hartseer soos as iemand doodgaan vir wie jy lief was nie. Maar selfs die hartseer, nes die dood, is deel van die sirkel van lewe.

Jy begin as ’n gevoel tussen twee mense, en jy eindig as ’n herinnering in mense se gedagtes. Jou lewe begin lank voor jy fisies ontstaan, en jy sterf nooit ten volle as jy fisies ophou om te bestaan nie – jy vervaag net in mense se geheue. Jou fisiese geboorte en jou fisiese dood is albei oorheersende momente in jou lewe. Net soveel blydskap en geluk soos wat die een bring, soveel hartseer en weemoed bring die ander. Die feit dat dit natuurlike momente van die lewe is, vat niks van die emosie weg wat gepaard gaan met hierdie gebeure nie. Al is dit dus hoe hartseer, bly dit ’n natuurlike gebeurtenis in die lewe van die mens om te sterf. En al is dit ’n natuurlike gebeurtenis in die bestaan van die mens om te sterf, sal dit altyd gepaard gaan met hartseer en rou. Dis al wat daar te sê is. Dood bly onwrikbaar staan. (Maar hoekom moet ’n mens se lewe begin met blydskap, en eindig met hartseer?)

[…]

Ek het op die 6e April besluit ek gaan ’n skrywer word. Op daai betrokke stadium het ek gedink: Ek is moeg vir al hierdie onsekerheid! Ek het nie ’n sent op my naam nie. Ek het nog nie my losies vir die maand betaal nie, en dis reeds die vyftiende. Ek leef omtrent op mieliepap: met bruinsuiker en ou poeiermelk in die oggend; vir middagete die oorskiet van die ontbyt; aandete by my ouers se woonstel is dit gewoonlik mieliepap met wors en brood. Of frikkadelle en aartappels. Ons sluk dit gewoonlik af met die slegste sigoreimengsel op die mark.

Ek wens ek was ’n miljoenêr. Ek sou vir my ouers ’n huis gekoop het, en vir myself ’n borrelbad. Ek sou geleef het op caramel milkshakes en cream doughnuts, en heeldag TV gekyk het.

Dit is wat gelei het tot my besluit op die 6e April om ’n skrywer te word. Ek was besig om nog ’n kortverhaalbundel van André Letoit te verslind, en ek reken toe dat ek die lewe heeltemal te ernstig vat, dat ek my insecurities produktief moet aanwend en ’n skrywer moet word. Skrywers, so het ek gemeen, leef onseker lewens. Juis dít kwalifiseer ’n skrywer om een te word! Natuurlik kry jy professionele skrywers wat opleiding gekry het in die skryfkuns en dinge heeltemal anders benader. Maar die tipe skrywer wat ék wil word, is die insecure tipe.

[…]

’n Askeet. ’n Monnik. ’n Monnik sonder geloof.

Sal ek woon in ’n klipfort – ’n oorblyfsel van ’n glorielose oorlog van die verre verlede? Moet die gras plek-plek groei deur die klipvloer? Moet my fort ’n houtdeur hê wat met ’n dwarsbalk gesluit word? En moet dit net een vertrek hê, met ’n kaggel? Moet die skietgate toegemaak word met luike? En moet ek orals kerse hê om lig te maak teen die donker? Moet ek ’n swaar houtbed hê wat naby die kaggel staan, of sommer ’n mat met beddegoed op?

Daar sal definitief ’n swaar houttafel wees in die middel van die vertrek. Daar sal ’n ou deurgetrapte mat voor die kaggel wees, en rakke vol boeke teen die mure. Ek sal ’n hond hê wat by my voete sal lê terwyl ek werk, en wat saam met my sal gaan stap in die koel aandwind. Ek sal my hare en my baard laat groei, en ’n bruin jurk en sandale dra. Ek sal baie lees en baie skryf. Ek sal skilder en mosaïekwerke maak. En ek sal beelde kerf uit hout.

Ek sal gelukkig wees en nie mense mis nie.

My grense is so vaag dat ek dit oorsteek sonder om werklik bewus te wees daarvan. En dan, wanneer ek ná my venture on the outside wil terugkeer, besef ek daar’s niks om na terug te keer nie – net ’n vaag gedefinieerde wêreld met min of geen vaste bakens.

Daar word gesê die mens is basies ’n dier. Die verskil is dat die mens geleer het hoe om instrumente te gebruik en vuur te maak, en toe paaie en geboue en motors en fabrieke en banke en skole en universiteite en hawens en parlemente en sportstadia en tronke en hospitale gebou het. As deel van ’n geslag wat gebore is in ’n tyd toe al hierdie dinge reeds gevestigde bakens van menslike beskawing geword het, en waar daar van jou verwag word om net in te val, om te konformeer aan die standaarde van hierdie samelewing, help dit jou nie veel om te wens jy kon in eenvoud leef soos jou broers en susters in die natuur nie.

Ons samelewing is te groot, en te onpersoonlik. Ons, en dié voor ons het ’n monster geskep wat lank reeds buite beheer geraak het, wat ’n lewe van sy eie gekry het. En as jy nie voor die monster neerbuig nie, word jy verslind en jou oorblyfsels eenkant uitgespoeg.

Ek sal sterf as ek nie skryf nie. Daar’s net twee dinge wat die lewe vir my draaglik maak – om uitdrukking te gee aan hoe ek die lewe ervaar, en om lief te hê.

Ons leef op ’n planeet waarvan daar miljoene is. Ons staan geen kans teen die kosmiese magte nie. Ons het lankal ons oorspronklike habitat verlaat waar ons soos ander diere net moes sorg vir kos en skuilplek en net gehoop het op gemeenskap met ander soos ons. En ons is almal aan die einde bestem om te sterf, om soos plante te vergaan. So, presies waaroor gaan hierdie komplekse moderne samelewing waarbinne ons gebore is, en wat ons gedoem is om in stand te hou?

______________________