Voorhoede van die bourgeoisie – Persoonlike Agenda

VRYDAG 25 NOVEMBER 2005

17:21

Ek kyk na die wêreld om my, en ek kan nie anders nie as om te verklaar dat die groot hoop vir die voortbestaan van menslike beskawing op aarde, die middelklas is – daai groot massa mense in die sogenaamde ontwikkelde wêreld, en kleiner persentasies mense in sogenaamde ontwikkelende lande, wat elke dag werk toe gaan, karre en huise en TV’s en rekenaars en yskaste besit, en verskeie stelle beddegoed en musiekversamelings en mooi koffietafelboeke en aandenkings van vakansies op ander plekke.

Mense wat skatryk is, maak ook ’n bydrae, maar teen hierdie tyd weet ons meeste van daai geld drup nooit af na die massa mensdom wat hul bestaan voer buite die rykes se piepklein weelderige wêreld nie.

Die werkende armes dra ook by tot die voortbestaan van menslike beskawing deur teen klein fooitjies arbeid te verrig waarmee niemand anders hul hande wil bevuil nie.

Sonder die middelklas, sal menslike beskawing egter in brutale donkerheid verval. Die Middelklas is Lig, Ruggraat en Balanserende Faktor.

Een belangrike ekstra vermelding moet gemaak word: Ten einde te kan voortgaan om Lig, Ruggraat, en Balanserende Faktor te wees, is dit van allergrootste belang dat die meerderheid lede van hierdie stratum opgevoed, verdraagsaam en vredeliewend moet wees.

Natuurlik is dit ’n naïewe ideaal.

Hier is wat sal help: ’n voorhoede van rasionele, goed opgevoede, oopkop en verdraagsame individue. Intellektuele hoef hulle nie noodwendig te wees nie, hoewel ’n kerngroep behoort te bestaan uit rasionele denkers. Hierdie groep mense behoort die leiers te wees van middelklas gemeenskappe. ’n Organisasie, selfs ’n politieke beweging, kan ook voorgestel word wat die idee kan bevorder van sterk, verdraagsame, stabiele sosio-ekonomiese gemeenskappe, gelei deur rasionele, oopkop en verdraagsame individue. (Lank leef die voorhoede van die bourgeoisie?)

17:56

Mens kry tog die idee uit bogenoemde dat ek niks nuut sê nie. Wat ek beskryf in die stukkie teks as die hoop van menslike beskawing is alreeds vir eeue lank ’n aktiewe faktor in die voortbestaan en ontwikkeling van menslike bestaan op aarde. Die voorhoede van rasionele, goed opgevoede, oopkop en verdraagsame mense sal wel ’n groot verbetering wees.

As hierdie my konklusies moet wees na tien-plus jare se dink oor die samelewing, is dit duidelik dat ek nie rewolusies voorstel nie, maar meer van dieselfde – net beter.

SONDAG 27 NOVEMBER 2005

My verhouding met [N.], en haar verhouding met my, is ’n uitdrukking van die tipe mense wat ons graag wil wees, en weerspieëlings van die tipe mense wat ons is.

WOENSDAG 30 NOVEMBER 2005

17:41

Wat sê ek in “Persoonlike Agenda”? Ek sê, stryd is ’n kernaspek van ons bestaan – aanvanklik vir oorlewing, en daarna vir meer. Om uit te werk wat hierdie “meer” is, is deel van ons lewensreis.

Ook, hoe voer ons die stryd? Hoe bestaan ons van dag tot dag? Ons bestaan, en handhaaf en rig ons stryd, deur ’n Spesifieke Persoon te word, met ’n min of meer unieke identiteit. Hierdie identiteit stel ons in staat om te oorleef en te funksioneer. Ons persoonlike stryd word rigting gegee deur tradisie, kultuur of religie, of dit word gedefinieer deur onsself in ’n komplekse proses wat elemente van verskillende bronne insluit. Hierdie stryd word die doel van ons bestaan – dit gee waarde en betekenis aan ons lewens.

18:00

In Korea het ek gesê: Belonging and Commitment.

In Taiwan het ek eers gesê: Stryd en Skepping, en uiteindelik: Stryd, Identiteit, Doel.

______________________

Trek terug van die detail – tapisserie – persoonlike verlies

MAANDAG 21 NOVEMBER 2005

’n Nutsman gaan na ’n buurdorp laat een middag om ’n wasmasjien te gaan regmaak. Vir ’n driekwart uur is hy gefokus op die masjien voor hom: drade en proppe en buise, en die gereedskap wat hy nodig het. Hy lê miskien op die naat van sy rug op die kombuisvloer en sy konsentrasie is skerp ingestel op wat hy besig is om te doen. Dit is soos dit moet wees; dit is hoe hy sy werk behoorlik gedoen sal kry.

Hierdie nutsman moet egter op enige oomblik kan terugtrek van die wasmasjien voor hom, en vrae kan beantwoord oor sake belangriker as net hierdie spesifieke wasmasjien. Hy moet byvoorbeeld ’n vae idee hê in wie se huis hy is – miskien die plaaslike slagter by wie hy al ’n paar keer biltong gekoop het; hy moet weet in watse dorp hy is – nie sy eie dorp nie, maar die buurdorp; hy moet weet hoe laat hy reken hy by die huis sal wees – dalk so 18:00 se kant; hy moet ook weet hoe hy moet ry om by die huis te kom; moontlik selfs hoe die weer buite lyk – miskien hoor hy die donderweer van ’n naderende storm. As die situasie dit vereis, mag hy dalk ook ander dinge in ag neem: sy ouderdom – middel veertigs, sy gesin – vrou en twee kinders, sy inkomste – ±R12 000 per maand, en sy finansiële verpligtinge – huis- en voertuig paaiemente, inkopies, skoolgelde, polisse, ensovoorts.

Sou dit nodig wees, kan die nutsman terugsit, weg van die masjien en die gereedskap en die buise en moere en pype, en vir ’n paar oomblikke die wyer spektrum van sy lewe oorweeg.

WOENSDAG 23 NOVEMBER 2005

Op die onderwerp van paaie wat vir jou uitgelê is, en die stappe wat jy in jou jeug en twintigs neem om hierdie pad jou eie te maak, die volgende metafoor: ’n tapisserie. Die prent, die motief, is reeds uitgewerk voor jy begin met weke se tydsame arbeid met wol en naald. Aan die einde het jy ’n pragtige tapisserie. Die tapisserie is jou eie. Jy het hard gewerk daaraan. Maar dit verander niks aan die feit dat die plan, die patroon, reeds uitgelê was voor die tyd, deur iemand anders nie.

DONDERDAG 24 NOVEMBER 2005

Hoe gaan jy voort met jou lewe as jy ’n groot persoonlike verlies gely het? Ek reken jy gaan nie … kán nie voortgaan met jou lewe soos jy dit geken het nie. Daai lewe, daai bewussyn van dinge, is verby. Wat jy doen, is jy begin met ’n nuwe lewe, gebou op die fondasie, en met die boumateriaal van jou ou lewe. Ek glo alleenlik dan kan jy werklik voortgaan met jou lewe.

______________________

Werkersklas intellektueel – grys wêreld – duisend jaar gebeente

WOENSDAG 2 NOVEMBER 2005

11:16

As godsdiens ten nouste verbind is aan identiteit, en nasionale trots ten nouste verbind is aan identiteit, en die beskerming van die bron van identiteit letterlik ’n saak van lewe en dood is, en oorlog word gevoer oor godsdiens, nasionale trots en beskerming van huis en haard, kan dit gesê word dat oorlog ten nouste verbind is aan identiteit.

11:20

Oorlog is in die verlede gevoer vir hulpbronne, land, prestige, avontuur en die moontlikheid van plundery.

[15/11/10: Oorlog word gevoer deur militêre en politieke leiers bo, en deur voetsoldate op die grond, en heel moontlik om verskillende redes.]

VRYDAG 4 NOVEMBER 2005

Hoekom is dit belangrik of jy ’n middelklas intellektueel of ’n werkersklas intellektueel is? Dit beïnvloed waar jy woon, waarmee jy rondry, waar jy en jou gesin klere koop, watse tipe kruideniersware julle kan bekostig, selfs waar jou kinders skoolgaan (as jy kinders het). Dit beïnvloed ook hoe jy jouself sien in die gemeenskap waar jy woon. As jy jouself posisioneer in ’n middelklas omgewing maar jy kan nie die spreekwoordelike rekening betaal nie, gaan jy dink aan jouself as ’n mislukking, en jy gaan heel waarskynlik beskou word as een.

WOENSDAG 16 NOVEMBER 2005

Geen rasionele mens kan ontken dat ons in ’n grys wêreld woon nie. Maar ongeag of ons die wêreld sien in skadu’s van grys, of in swart en wit, is besluite nooit grys nie. Dit is die dilemma: om swart-en-wit besluite te neem in ’n grys wêreld.

SONDAG 20 NOVEMBER 2005

Het ek een van hulle geword? Hulle – wat rusteloos raak wanneer hulle gedwing word om tyd te spandeer in hul eie geselskap, wat so verknog raak aan die geselskap van ’n spesifieke persoon, dat hulle dit begin nodig kry, soos suurstof.

* * *

Om die saak te dien van beskawing is ’n waardige en edel onderneming.

* * *

Ons vlees, en ons bewussyn van bestaan duur op die meeste dekades. Ons beendere, insluitende die skedel wat ons bewussyn huisves terwyl daar lewe in ons are vloei, mag moontlik oor ’n duisend jaar nog steeds bestaan.

______________________

Die lewe is ’n treinreis – bloedige idealisme

WOENSDAG 19 OKTOBER 2005

“Real life is how well we pretend.” ~ karakter uit Ready When You Are Mr McGill

15:39

Ek vind die metafoor van die lewe as ’n treinreis met stasies waar jy afklim, baie handig. So vra ek op hierdie oomblik: Wat daarvan as ek sê ek het my stasie gevind? Ek weet dis nie New York Central nie, maar dis ook nie juis in die middel van nêrens nie!

Mens kan tog later ’n ander stasie opsoek, kan jy nie? ’n Mens kan tog, sou jy wou, die reis op ’n later stadium voortsit, dan nie? Dis immers nie die Middeleeue, of die 1950’s nie!

Nog ’n ding: Wat gebeur as jy hoop om ’n stasie te bereik wat belangriker is as die een waar jy tans vertoef, maar jy besef jou ambisie het jou vermoëns oortref? Spring jy saam met ander vlugtelinge sonder ’n kaartjie op die dak van die eerste trein wat verbykom, net sodat jy steeds op pad is êrens heen? Of as jy dan êrens moet vertoef, moet dit noodwendig in ’n goedkoop motel wees, in ’n koue kamer met lekkende krane en gevlekte beddegoed en ’n stukkende ou TV?

22:40

Idealisme was altyd vir my ’n inspirasie, maar die waarheid is dat idealisme – in praktyk – ’n bloedige affêre kan wees.

Die Franse Rewolusie is geloods deur idealiste (“vryheid, gelykheid, broederskap”), en verskans deur terreur. Nasionaal-Sosialisme in Duitsland is aangevuur deur ’n korrupte ideaal, maar ’n ideaal nietemin, van rasse suiwerheid, en geïmplementeer deur metodes wat die doodskampe ingesluit het. Kommunisme was die ideaal van ’n klaslose wêreld. Weereens het die praktiese uitvoering van die idee (ten minste in die twintigste eeu) gepaard gegaan met terreur, massaslagting en amper patologiese onderdrukking van persoonlike vryheid. Fundamentalistiese Islam se voorliefde vir die vermorsing van onskuldige bloed is welbekend, met die ideale eindresultaat van ’n paradys op aarde.

Is idealisme in die wortel vrot? Skuil daar diep binne idealisme die saad van terreur en menslike lyding?

______________________

Regverdig jou keuses – Hiërargie van Omgewings

MAANDAG 17 OKTOBER 2005

15:42

Die kwessie van waar jy jouself vestig herinner my aan iets wat Ayn Rand geskryf het (my eie bewoording): omdat mens ’n vrye entiteit is en jou keuses uitdrukkings is van vrye wil, het jy nodig om jou keuses (aan jouself) te regverdig. As ek byvoorbeeld kies om in Taiwan te bly eerder as om terug te gaan Suid-Afrika toe, moet ek dit voortdurend aan myself kan regverdig ten einde voort te kan gaan om te glo dat dit inderdaad die regte keuse is. Soms is dit ’n probleem.

Ek wonder ook: Hoekom het ons nodig om dit te regverdig?

16:18

Is dit nie waar nie dat dit soms makliker sou gewees het as mens minder keuses gehad het, as jy minder vry was, as’t ware? Dat dit makliker sou wees om jou keuses te regverdig, want jy sou net jou skouers kon ophaal en sê, “Wat bedoel jy? Hierdie keuse was die beste onder die omstandighede.” Of nog beter: “Ek het geen ander opsie gehad nie!”

As jy egter ’n vrye individu is en jou keuses uitdrukkings is van jou vrye wil, moet jy dit aan jouself kan regverdig dat dit inderdaad, onder die omstandighede, die regte keuses was.

My vraag is steeds, hoekom?

20:40

’n Paar gedagtes van verlede week wat verdwaal het op pad na die notaboek:

I. […]

II. […]

III. Saterdagaand by [’n huweliksonthaal] by die Grand Hotel staan ek eenkant en rook. Ek dink toe so oor myself, in my deftige broek en my deftige hemp en my deftige das en my blink skoene, tussen al die ander deftige mense.

Ek dink toe: Daar’s ’n Hiërargie van Omgewings. Aan die een kant het jy die omgewing waar jy absoluut die baas is, waar jy kan sê wat jy wil, doen wat jy wil, lyk soos jy wil – jou eie agterplaas, in ander woorde. Aan die ander kant van die spektrum het jy ’n omgewing waar dit gedikteer word hoe jy lyk, wat jy moet doen, hoe jy dit moet doen, wat jy moet sê; ’n omgewing waar jy vir alle praktiese doeleindes nie juis vry is nie. Tussen in is daar dosyne ander omgewings.

Die omgewing waar ek myself Saterdagaand bevind het, was een waar ek in Basiese Beleefde Modus was.

DINSDAG 18 OKTOBER 2005

Ek het vroeër gewonder waarom ons ons keuses aan onsself moet regverdig. Ek reken ek het nou die antwoord.

As jy in ’n posisie is om elke dag keuses te maak, dan het jy nodig om te glo in jou vermoë om keuses te maak. As jy nie daaraan glo nie, is dit soortgelyk daaraan om elke dag te moet fietsry werk toe, maar elke keer wat jy op die fiets klim, is jy onseker van jou vermoë om die fiets vorentoe te beweeg en jou balans te behou. Of om elke dag ’n bepaalde werk te moet doen, en elke dag te vrees dat jy gaan opfok, en die suur vrugte daarvan sal moet eet.

So is dit met vrye wil, en keuses. Jy moet vertroue koester in jou vermoë om die regte keuses te kan maak, of die beste keuses onder die omstandighede. Dit is hoekom jy jou keuses aan jouself moet regverdig – jy bewys aan jouself dat jy bevoeg is om te kan funksioneer as ’n vry individu. Deur oortuig te wees daarvan dat jy meeste van die tyd goeie keuses maak (of dan die beste keuses onder die omstandighede), ontwikkel jy die vertroue om dit die volgende dag weer te doen – om weereens, wanneer jy gekonfronteer word met belangrike keuses, die beste keuses te maak onder die omstandighede.

———–

[In ’n nota op Maandag 17 Oktober om 09:26 noem ek dat ek glo dat “vrye wil nie heeltemal so vry [is] soos wat ons graag wil hê dit moet wees nie”. Nietemin, ons is gewoonlik bewus van die graad waartoe ons wel die vermoë het om te kan kies tussen twee of meer opsies. Indien ons moet erken dat ons die vermoë het, of gehad het, het ons nodig om ons keuses aan onsself te regverdig.]

______________________