Woensdag 31 Desember 2014

Ek is regtig bly dis die laaste dag van die jaar. Dit gee my ’n verskoning om vandag en môre by die huis te bly.

(Vir meer as dit sal ek ’n formele hoedjie moet opsit en allerhande konvensies moet eerbiedig. En ek sou dalk as ek nie ’n vaakheid, of verveling, oor my voel neerdaal het nie.)

Ten minste die helfte van 2014 was besonders lekker. Ek het baie gedoen. Ek gaan 2014 uit op ’n goeie punt. Ek betree derhalwe 2015 op ’n goeie punt.

Ek hoop ten minste die helfte van 2015 gaan net so goed, of selfs beter wees as 2014 … oftewel, ek gaan my uiterste doen om dit so te maak.

Hoop dis dieselfde vir almal.

____________________

Opsies vir die ongelowige

DONDERDAG 25 DESEMBER 2014

Om jouself ’n ateïs te noem, is in my opinie ietwat simpel. Is dit nie soortgelyk daaraan om jouself “nie ’n WP-ondersteuner” te noem nie? Hoekom dan nie eerder jouself identifiseer wat jy wel is nie – ’n Blou Bul-ondersteuner, ’n Goue Leeus-ondersteuner, ensovoorts?

Die ander probleem daarmee om jouself te identifiseer as ateïs, is dat die onus dan op jou rus om te definieer waarin jy nié glo nie. Wát of wié is die god waarin jy geen geloof het nie?

* * *

’n Paar minute se navorsing oor die onderwerp het my geleer dat daar sterk ateïsme en swak ateïsme is. Die Sterk Ateïs (ook Positiewe Ateïs) neem die standpunt in dat daar rede is om te glo dat daar geen god bestaan nie, dat dit selfs logies onmoontlik is dat daar ’n god of gode bestaan. Die sogenaamde Swak Ateïs (of Negatiewe Ateïs) reken dat daar geen rede is om te glo dat daar wél enige god bestaan nie.

Dan is daar die ignostici – mense wat die posisie inneem dat elke godsdienstige oortuiging te veel veronderstel oor die konsep van “God”. Die ignostikus sê derhalwe dat beide die “gelowige” en die “ongelowige” te veel veronderstellings maak oor waaraan hulle glo, of nie glo nie.

Nog ’n alternatief is om jouself aan die kant te skaar van mense wat gekant is teen enige geloof in die bestaan van ’n god, naamlik die anti-teïs. Christopher Hitchens het in sy boek, Letters to a Young Contrarian geskryf dat hy nie net glo dat alle religieë weergawes van dieselfde onwaarheid is nie, maar ook dat die invloed van kerke en die effek van godsdienstige oortuiging meer skade doen aan mens en samelewing as goed.

______________________

Die alleenloper se stem aan die einde van ’n sekere pad

DINSDAG 23 DESEMBER 2014

Brand Smit soos gemanifesteer in 2003 se Persoonlike Agenda: Boek Twee, 2004 se Boek Drie en Slothoofstuk, en ook die res van 2004 se materiaal, was ’n alleenloper. Meer as dit, hy het te velde getrek teen mense wat hy gereken het nie alleen kán wees nie. Hy het aangedring daarop dat mense hom nie anders moet behandel net omdat hy nie deel is van ’n paartjie nie.

Toe, skielik, van Maart 2005 af, was hy nie meer alleen nie. Die alleenloper was skielik deel van ’n tweetal.

* * *

Ek hét nog geskryf in 2005, en tot ’n mate steeds in die stem van Brand Smit van Persoonlike Agenda – ek het geen ander stem gehad nie. Teen 2006 was daar geen twyfel nie: Ek was gelukkiger, my lewe was beter, en ek het definitief die einde van ’n sekere pad bereik as skrywer.

______________________

’n Naam wat jou sê waar om te soek

MAANDAG 22 DESEMBER 2014

’n Naam, dit weet almal, is meer as ’n klank wat geuiter word wanneer iemand spesifiek jóú aandag wil trek. Dis meer as ’n trek van lyntjies en krulle op papier vir administratiewe doeleindes. ’n Naam koppel jou aan mense, en aan verhoudings. Ek is nie net “Brand Smit” nie – ek is “Brand”, seun van “Barend” en “Adriana”.

Hierdie verbintenis gee vir jou ’n aanduiding van hóé en moontlik selfs wáár jy jouself moet posisioneer. Byvoorbeeld, is “Barend” en “Adriana” figure in die Russiese kriminele onderwêreld? Is hulle Inuïete wat woon in ’n nedersetting in die noorde van Kanada? Is hulle wynboere in Chili?

Soos dit uitgewerk het, is my ouers pottebakkers en besigheidsmense van meestal Europese afkoms, wat Afrikaans praat en grootgeword het in hoofsaaklik Afrikaanse gemeenskappe in Suidelike Afrika. Dit gee vir my iets om mee te werk, of dit het vir my iets gegee om mee te werk beginnende ’n bietjie meer as veertig jaar gelede.

Daar is een belangrike punt wat ek vermoed baie mense miskyk, of misverstaan. Hierdie inligting oor my kulturele, etniese en linguistiese herkoms het nie vir my gesê wié om te wees of wát om te doen nie, dit het bloot vir my gesê wáár om te kyk vir idees oor wat om te doen en wie om te wees. Dit sê dus nie, wéés dit nie. Dit sê: Soek hier.

______________________

Jy bou nog so lekker aan jou kaarthuis …

VRYDAG 19 DESEMBER 2014

Jy’s besig om vir jouself ’n huis te bou – met speelkaarte. Iemand stap nader, kyk na wat jy besig is om te doen, en stamp die huis om. Die kaarte fladder aarde toe. Jy’s woedend. “Wat de fok …” gil jy. “Hoe durf jy? Ek was besig om ’n huis te bou – ’n tuiste! Beteken dit niks vir jou nie? Beteken dit niks vir jou dat ek al maande lank bou aan hierdie huis nie?!”

“Ek het jou ’n guns gedoen,” begin die ou te verduidelik. “Ek verstaan dat jy besig was met iets waaraan jy baie waarde heg, maar goeie aarde ou vriend, jou huis was gebou met kaarte! Met speelkaarte! Wat dink jy sou gebeur het as jy en jou familie hier ingetrek het en die eerste storm steek op?”

Jy stap woedend weg, skree elke nou en dan iets vieslik oor jou skouer.

Die volgende dag sien jy weer die ou. Jy skud sy hand. Jy sê, dankie, ek verstaan nou. “Ek was so gefokus op my plan,” gaan jy voort, “op die idee van ’n tuiste, ’n huis van my eie, dat ek die werklikheid misgekyk het.”

Daai selfde dag begin jy, weereens, van voor af.

______________________