Die vrou is ’n barbaar

DINSDAG 22 OKTOBER 2013

Net voor ek intrek by ’n oop parkeerruimte by die supermark, parkeer ’n vrou en haar seun in die ruimte langsaan. Maar sy parkeer skeef, oor die ruimte waar ek moet intrek. Soos sy wegstap, kyk sy oor haar skouer. Sy sien sy’t skeef geparkeer. Sy sien ek moet by die spasie ingaan waar die voorste ent van haar scooter staan. Sy draai haar kop weg, en stap by die supermark in.

My beskouing van haar is baie eenvoudig: Sy’s ’n barbaar.

Hoe anders? Sy verwag heel waarskynlik dat ander mense dit nie met haar moet doen nie, maar sy doen dit aan ander mense. Dit beteken sy’s nie redelik of rasioneel in haar gedrag nie. Ook, as almal moet doen wat sy gedoen het, sal daar chaos en konstante konflik wees. Sy is dus nie ’n redelike mens nie, en sy is nie rasioneel in haar gedrag nie.

Per definisie is sy dus ’n barbaar.

Ek het haar ’n vuil kyk probeer gee by die groente afdeling, maar sy’t weggekyk.

Hoe anders? (Of dink ek te veel?)

In ander nuus, ek het ’n noue ontkoming gehad, kort voor my ontmoeting met die barbaarse vrou. Ek was besig om deur die tonnel te ry wat onderdeur die treinspoor gaan. Voor my was ’n ander fietsryer. Ek hou altyd regs in die nou tonnel sodat mense op scooters my kan verbygaan, maar in hierdie geval kon ek sien dat ek die fietsryer moes verbysteek. Net soos ek na links mik om verby hom te skuur, hoor ek ’n helse knal! Ek kyk toe af en sien dat die ander ou oor iets gery het wat sy agterwiel se band laat bars het.

As hy nie daar was nie, het ek oor die skerp voorwerp gery.

Dan sou ek nie supermark toe gegaan het nie, en derhalwe nie die barbaar teëgekom het nie.

Dan sou ek nie hierdie kort stukkie geskryf het nie, en jy sou nou iets anders gelees het.

Snaaks hoe dinge uitwerk.

______________________

As jy wil verkoop wat jy skryf, wees bewus van ’n paar dinge

MAANDAG 21 JANUARIE 2013

Gisteroggend het my Smashwords rekening aangedui dat ek oornag twee kopieë verkoop het van A shorter version of a longer book (wat ek net enkele ure tevore beskikbaar gestel het), maar teen gisteraand het dit geblyk die resultaat te wees van ’n “fraudulent payment method”. (Wat beteken dit? ’n Skurk het ’n obskure versameling essays wat ek geskryf het, probeer koop met ’n gesteelde kredietkaart? Dit sê interessante dinge van my beskrywing van die materiaal, of van die skurk.)

Ek het wel van die geleentheid gebruik gemaak om myself te herinner aan ’n paar dinge:

1. Sommige mense gaan jou boek koop, nie hou van wat hulle lees nie, en dan hulle geld probeer terugkry van die plek waar hulle dit gekoop het.

2. Sommige mense gaan jou boek koop, nie hou van wat jy geskryf het of hóé jy dit geskryf het nie, en sal dan soms gemene kommentaar los op die blad waar die boek verkoop word sodat ander voornemende kopers kan sien wat hulle dink daarvan (of hoe min hulle daarvan dink).

3. Sommige mense gaan jou boek koop, skrik as hulle sien wat jou opinie is van sekere sake, en onmiddelik ’n uitlaatklep soek vir hulle afkeer – soms deur hulle geld terug te vra, soms deur gemene, maar wat hulle steeds reken as eerlike, kommentaar te lewer op ’n openbare forum.

4. Sommige mense gaan jou boek koop, dink dit sal snaaks of vermaaklik wees, dit nie snaaks of vermaaklik vind nie (of nie genoeg na hulle smaak of verwagting nie) en dan vies wees vir hulleself dat hulle hul geld gemors het.

Daar, ’n paar brokkies raad vir dié wat dit oorweeg om ’n bestaan te maak met die pen, of tikmasjien, of enige ander metode om gedagtes of opinies oor te dra aan die bevolking buite sy of haar gemaksone.

Dit is, so reken ek, seker die prys wat mens bereid moet wees om te betaal as jy nie net hierdie gedagtes of opinies op papier wil vaslê nie (of in digitale formaat), maar as jy so wrintie waar so ver gaan om dit beskikbaar te stel sodat ander mense dit kan koop en lees.

______________________