Maandag 31 Desember 2012

Ek was ietwat geskok gister toe ek herinner word daaraan dat ons vanaand na ’n Oujaarspaartie toe gaan, met die implikasie dat môre die begin van ’n nuwe jaar is.

As ek sê ek wil nie hê hierdie jaar moet eindig nie, bedoel ek nie dat ek wil vashou aan dit wat verby is nie. Wat ek wil hê, is dat ek môre moet opstaan – die eerste dag van 2013 – en naatloos moet voortgaan met alles wat ek hierdie jaar gedoen het.

Ek wil nie ophou, en dan weer begin nie. Ek wil voortgaan.

Heelwat waarde kan geput word uit die advies van Mary Schmich: “Whatever you do, don’t congratulate yourself too much, or berate yourself either. Your choices are half chance. So are everybody else’s.”

Dit gesê, jy’s steeds tot ’n groot mate self verantwoordelik vir die enorme hoeveelheid sukses en geluk wat jou kant toe kom in 2013. En siende dat dit so is, maak seker jy doen wat jy kan om dit te realiseer.

———–

Teks van die Mary Schmich artikel “Advice, like youth, probably just wasted on the young” was gebruik deur Baz Luhrmann in sy 1999 snit, “Everybody’s Free (To Wear Sunscreen)”. Die oorspronklike artikel is op sy beurt soortgelyk aan die 1927 gedig deur Max Ehrmann (1872–1945), getitel “Desiderata”. ’n Kort uittreksel: “With all its shams, drudgery, and broken dreams, it is still a beautiful world. Be cheerful. Strive to be happy.”

______________________

Kersdag is ’n bietjie soos die lewe

DINSDAG 25 DESEMBER 2012

Kersdag is ’n bietjie soos die lewe.Kersdag 2012, Johannesburg. Dankie Mandi vir die foto.

As jy en familie of vriende bymekaarkom op die vyf-en-twintigste dag van die twaalfde maand van die jaar, een persoon of ’n paar mense of almal saam berei ’n hele tafel vol kos voor, maak die huis skoon, sleep ’n spesiale boom die sitkamer binne en hang dit vol liggies en klein disco balletjies en poppies en beertjies en sterretjies, en koop vir die kinders speelgoed en draai dit toe in kleurvolle papier, en sing dalk ’n paar liedjies, en eet jouself trommeldik en lag en kuier en gesels, dan’s dit Kersfees.

As jy nie bogenoemde dinge doen nie, is dit net die vyf-en-twintigste van die maand, en die maand is toevallig die twaalfde van die jaar.

So ook, is dit met die lewe.

______________________

Dankie tog kinders is nie soos (sommige) volwassenes nie

VRYDAG 30 NOVEMBER 2012

As kind weet jy aanvanklik nie hoe om skaak te speel nie; jy weet nie hoe om fiets te ry nie, hoe om ballet te doen of rugby te speel nie; jy weet nie hoe om ’n rekenaar te gebruik nie; jy weet nie eens hoe om te lees of te skryf nie.

As kind het jy gewoonlik nie getwyfel wanneer dit by iets nuuts gekom het wat jy moes bemeester nie. Jy’t net gedoen wat vir jou gesê is, aangehou probeer, en na ’n paar maande of ’n paar jaar kon jy skaak speel, fietsry, rugby speel en/of ballet doen, jy kon lees en later skryf, en uiteindelik selfs ’n rekenaar gebruik.

Hoekom dan, as volwassene, twyfel soveel mense in hulle vermoëns om iets nuuts te kan leer? Hoekom twyfel soveel volwassenes in die moontlikheid dat hulle iets nuuts kan bemeester?

“Ek weet nie hoe nie,” sal die man of vrou prewel.

“Ek is te oud om iets nuuts te leer,” sal die 30- of 40- of 50-jarige man of vrou sê.

“Nee, goeie genade! Daar’s geen kans dat ek dit sal kan doen nie!” sal die persoon uitroep, veilig in die wete dat daar ten minste ’n handvol ander volwassenes in die omgewing is wat hulle sal ondersteun in hulle oortuiging dat hulle nie in staat is om iets te kan doen nie.

“Nee, ou Sarel, ek is verseker ook te dom daarvoor,” sal Karel sy ondersteuning aanbied, en almal sal lag vir wat – kom ons wees eerlik daaroor – eintlik ’n bietjie pateties is.

Kan jy jouself dit voorstel as kinders moes lei aan dieselfde droefenis?

“Agge nee wat, Pappa, daai fiets is so groot. Ek gaan afval en my toon stamp,” sal klein Sarel sê, en wegstap om onder die boom te gaan sit.

“Daai ballet dansies lyk te moeilik, Mamma! Ek kan dit nie doen nie!” sal klein Juanita sê, en weier om uit die kar te klim buite die ballet plek.

“Skaak lyk so ingewikkeld …”

“Ek weet nie hoe om daai krulletjies en lyntjies te trek soos die ander seuns en meisies in die klas nie …”

“Ek is bang vir muise, en die rekenaar maak altyd sulke snaakse geluide …”

Die einde van beskaafde gemeenskap soos ons dit ken. Die begin van Zombieland.

“As jy dink jy kan iets doen of as jy dink jy kan nie iets doen nie, is jy reg,” het Henry Ford gemeen.

“Watse voorbeeld dink jy stel jy vir die nageslag as jy op 25 ophou glo jy kan iets nuuts bemeester?” wil ek weet.

______________________

My model werk, maar nie vir almal nie

SATERDAG 13 OKTOBER 2012

Wanneer iemand my raad vra oor beroep of werk of maniere om geld te maak – of wanneer ek dit in elk geval gee, baseer ek altyd my opinie op ’n sekere model wat ek in my kop het. Hierdie model sê, moenie te veel gewig gee aan wat aan jou hoër status sal gee in die gemeenskap nie – veral nie as dit net in jou eie kop is nie, dink twee keer voor jy aandring daarop om geld te wil maak met dit waarin jy belangstel – want daar’s nie noodwendig geld daarin nie, en selfs as daar is, mag jy dalk na ’n paar jaar van kommersieel besig wees met hierdie passie nie meer so passievol wees daaroor nie, en moenie jouself verbind aan ’n beroep of ’n kommersiële aktiwiteit waar jy dieselfde ding oor en oor gaan doen nie, Maandag tot Vrydag, tot iemand jou uiteindelik aan die skouer ruk en sê, “Stop! Jy’s 65. Tree af!”

Ek reken, en het nog altyd gereken, die model maak sin. Derhalwe kan ek nooit verstaan as iemand na my goed bedoelde raad luister en presies die teenoorgestelde doen nie.

Daar is egter iets wat ek neig om te vergeet.

Mense kry in vele gevalle iets terug as hulle hul eie koppe volg en status in die gemeenskap oorweeg, as hulle gaan vir iets waaroor hulle nog altyd ’n passie gehad het, en ’n beroep of besigheid kies waarin hulle tot vervelens toe dieselfde ding oor en oor gaan doen. Hulle bewerkstellig ’n gereelde inkomste waarmee hulle kos op die tafel kan sit en die huur kan betaal. Hulle ontwikkel ’n verhouding met ander mense in die gemeenskap. Hulle raak deel van iets. Hulle sal vir my sê, “Jy weet wat? Dis waar dat die werk soms vervelig is, maar ons hou van wat ons aan die einde van die dag en aan die einde van die maand terugkry. Dit wat ons terugkry, nie net geld nie maar ook die mense saam met wie ons werk en vir wie ons werk doen, maak op vir dit waarvan ons nie hou nie. Ons verduur maar net die minder aangename aspekte van ons arbeid.”

My model werk vir die enkeling wat uitgelos wil word, vir die persoon wat nie sy passie wil kompromitteer met kommersiële verpakking nie, en wat baie beslis nie elke dag dieselfde vervelige werk oor en oor wil doen tot hy van sy kop af raak nie. My model werk vir die persoon wat nie ’n familie aan die lewe hoef te hou nie, wat nie vervelige werk wíl verduur nie.

Is ek dus verkeerd?

Nee. Ek neem net nie altyd in ag wat werk vir ander mense nie, wat hulle wil hê uit die lewe nie, en wat hulle bereid is om op te gee vir wat hulle terugkry nie.

______________________

Skepping, ewolusie, intelligente ontwerp, en soos gewoonlik, taal en waarheid

SATERDAG 6 OKTOBER 2012

Hier’s my opinie, kortliks, en soos enige redelike opinie is dit oop vir gesprek en goeie teen-argumente:

Ek glo nie die ontwikkeling van lewensvorme was ’n “random event” nie. Ek glo daar was intelligensie – “iets” agter die vroegste vorm van lewe.

Ek glo verder dat die skeppingsmitologie wat gepredik word deur geïnstitusionaliseerde religie dieselfde doel dien as wat dit twee en drie en vier duisend jaar gelede gedoen het. Iets moet die ontstaan van lewe verduidelik; iets wat deel kan vorm van mense se geïntegreerde wêreldbeeld. Die skeppingsverhaal gee aan volgelinge van hierdie religieë presies dit.

Nietemin, ek glo dis hoogs onwaarskynlik dat lewensvorme ontstaan het sonder … een of ander vorm van intelligensie.

Ek glo verder dis hoogs onwaarskynlik dat die heelal – en alle lewensvorme – ontstaan het in sewe dae, of sewe jaar, of sewe duisend jaar, of enige ander nommer of jaartal wat strook met religieuse simboliek.

Laastens, ek glo gewone mense, geleerde mense, wetenskaplikes, digters, skrywers, lekeprekers en selfs teoloë se pogings om die ontstaan van lewensvorme te probeer verduidelik, is vergelykbaar met die tipe gesprek wat Org die Grotbewoner met sy neef kon gehad met oor kwantumfisika kort na die laaste groot ystydperk tot ’n einde gekom het. Nie Org of sy neef het oor genoeg woordeskat beskik nie. En die data tot hulle beskikking was onvolledig – om dit akademies te stel.

Soos dit is met meer dinge as wat vele mense bereid is om te erken, is dit ook hier ’n geval van taal. Wat presies bedoel mens met “intelligensie”? Wat bedoel mens met “ontwerp”? Wat presies word bedoel met “random event”?

Die goeie nuus: solank ons koppe oop bly en die gesprek aan die gang, is die waarskynlikheid sterk dat ons binne die volgende duisend jaar of so ’n beter begrip sal ontwikkel van dinge.

———–

Lees meer:

Kwantum Fisika, almagtig en alwys

Intelligent Design Creationism: Fraudulent Science, Bad Philosophy.

Evolution vs. Intelligent Design: 6 Bones of Contention

______________________