Saterdag 31 Desember 2011

[16:22]

Die laaste dag van die jaar is soos die laaste wakker uur van ’n dag: Sommige mense ly gewoonlik aan ligte skok en teleurstelling dat dit verby is, dat dit wat jy nie vandag gedoen kon kry nie, moet wag vir môre.

Oor ’n paar ure is 2011 verby.

Hierdie was ’n goeie jaar, ’n besonderse jaar. My en N. se verhouding was van die begin af van so ’n aard dat ons nie ’n dokument nodig gehad het om te weet ons hoort bymekaar nie, maar verlede maand het ons na amper sewe jaar amptelik en wettiglik trou aan mekaar gesweer. Op die werksfront het ek hoofsaaklik op twee kommersiële projekte gefokus hierdie jaar. In Februarie het ek ook begin om weer die beste ure van my dag te spandeer aan my literêre projekte – iets wat ’n so te sê daaglikse realiteit geword het. En laastens, ek het heelwat tyd gespandeer die afgelope 12 maande by ’n tandarts genaamd Harmony, met die gelukkige resultaat dat ek uiteindelik weer behoorlik kan eet.

Vanuit die posisie waarin ek myself op hierdie oomblik bevind, as gevolg van wat ek gedoen het tussen Saterdag 1 Januarie en nou, Saterdag 31 Desember, lyk 2012 asof dit dalk net ook ’n goeie jaar mag wees.

Wat betref die volgende 365 dae, is ’n nota van Dinsdag 4 Januarie 2011 gepas:

“’n Jaar in ’n mens se lewe is soos ’n kind. Jy kan beplan, jy kan voorberei, en jy kan hoë verwagtinge koester. Maar aan die einde moet die kind toegelaat word om sy eie gang te gaan, om sy eie karakter te ontwikkel. Jy kan – en moet – leiding gee, maar aan die einde moet jy vrede maak: Doen jou absolute bes, en vertrou vir die res.”

Mag 2012 ’n goeie jaar wees, vir myself, vir my beminde, en vir al ons vriende en familie. En mag dit ’n goeie jaar wees vir alle goeie mense op hierdie planeet wat elke dag hoop en stry vir ’n beter dag.

____________________

Is ’n kameelperd werklik oranje, soos ’n lemoen?

WOENSDAG 19 OKTOBER 2011

Vanoggend om en by vyfuur wakker geword vir omtrent vyf sekondes, ’n gedagte gehad oor ’n handvol vetkryt, ’n kind en ’n prentjie, en die betekenis wat daaruit getrek kan word oor die beperking van taal as dit kom by godsdiens en “absolute waarheid”, en toe verder geslaap.

Die punt was dit: jy gee aan enige iemand ’n palet met 10 of 15 kleure. Dan trek jy die gordyne oop op ’n pragtige, kleurvolle toneel – kom ons sê ’n grasveld in Afrika net na goeie reëns, met dosyne spesies diere wat orals rondstaan, rondloop, of rondlê. Na die persoon die toneel ingeneem het, gee jy aan hom die opdrag om te skets of te teken wat hy gesien het. En hy moet dit doen met die 10 of 15 kleure wat jy aan hom beskikbaar stel.

Dalk is die persoon werklik talentvol, en sy prent is ryk aan detail, en vol kleur.

Vraag is, is sy prent ’n 100% akkurate verteenwoordiging van die werklike toneel – van die gras en bome en diere en lug en wolke en voëls en al die ander fyner detail wat die werklikheid vol maak?

Hoe kan dit wees? Hy’t net ’n dosyn of so kleure gehad waarmee hy die toneel kon verf! En dan is daar sy persoonlikheid, selfs die gemoedstoestand waarin hy was toe hy die prent gemaak het. Het hy, om een voorbeeld te kies, doelbewus nie die onweerswolke deel gemaak van sy weergawe nie? Hoeveel detail het hy uitgelaat, eenvoudig omdat sy talent te kort geskiet het?

Kom ons vat nou die analogie verder. Die persoon wat die toneel geverf het, word later gesien as ’n gesagsfiguur in een of ander religieuse tradisie. Benewens die landskap voorstelling, produseer hy honderde ander prente en sketse en stukke teks, wat alles toenemend kosbare kommoditeite word na sy afsterwe. Al hierdie dokumente en kunswerke word later voorskrifte oor hoe mense moet optree, en dit dikteer hoe sekere dinge beskryf word. Binne ’n paar geslagte voorsien die landskap voorstelling dan byvoorbeeld leiding aan die gemeenskap oor hoe daar oor diere gepraat word soos aangetref op ’n Afrika grasveld net na goeie reëns.

Aanvanklik sou dit nog aanvaarbaar gewees het as iemand sou sê, “Hierdie is duidelik ’n kameelperd, hoewel ’n kameelperd nie werklik oranje is soos ’n lemoen nie, dis meer ’n donker mosterdkleur.”

’n Paar geslagte later is hierdie prent se waarde, soos die waarde van die honderde ander sketse en prente en stukke teks geproduseer deur hierdie gesagsfiguur, verhef tot heilige artefak. Dit volg dat dit teen hierdie tyd ortodoks is om te verwys na ’n kameelperd as oranje, soos ’n lemoen, selfs dat dit nog nooit enige iets anders as oranje was nie. Hoekom? Die prent dui dit so aan – duidelik, vir almal wat oë het om te sien. “Hoe kan enige een dit ontken?” sal gevra word. “Selfs ’n kind kan dit sien. Inderdaad, jy moet glo soos ’n kind.” Om hierdie begrip te bevestig, word volumes teks geskryf wat die korrekte en enigste aanvaarbare wyse verduidelik hoe die artefak geïnterpreteer moet word.

Kom ons sê nou met die verloop van ’n paar eeue word hierdie religieuse gemeenskap die dominante groep in die samelewing. Nou kan jy in ernstige moeilikheid kom by die owerhede van die dag as jy eens daaraan dink om te beweer ’n kameelperd is enige iets anders as Oranje, Soos ’n Lemoen. Individue wat waag om agter sy hand iets te prewel wat klink soos “mosterd” in verwysing na die kameelperd, kan summier voor die hof gedaag word, in die kerker gewerp word, gefolter word, en in gevalle waar vermoed word dat so ’n persoon dalk ander onskuldige siele kon besoedel met die ketterse mosterdkleur besigheid, na die brandstapel gestuur word.

“Jy is verkeerd,” is wat mense eeue later, in meer beskaafde tye sou sê. “’n Kameelperd is oranje, ’n leeu is bruin, gras is helder groen, lug is blou, bokke is ook bruin en hul oë is geel. Dit is hoe dit is, dit moet so wees, dit kan nie anders nie, want die Heilige Prent sê so.”

En enige een wat slim dinge wil kwytraak van ’n antieke palet wat net 10 of 15 kleure gehad het, en dat die oorspronklike prent net ’n opregte poging was om ’n voorstelling van ’n werklikheid te maak veel ryker in kleur, smaak, klank en gevoel vir enige mens met beperkte hulpbronne en vermoëns om ooit 100% akkuraat weer te gee, is eenvoudig te slim vir hulle eie beswil.

______________________

Leer by die jeug (ten spyte van ydelheid en obsessies)

DINSDAG 27 SEPTEMBER 2011

My hele volwasse lewe al dink ek aan myself as ’n jong man – ek weet immers nie regtig hoe dit voel om oud te wees nie.

Maar ’n man kom op ’n punt waar hy besef daar’s ander jong mans wat 20 jaar jonger as hy is.

“Twintig jaar!” wil hy uitroep. “Twintig jaar?!”

En om alles te kroon moet hy homself herinner daaraan dat hy enige dag van die week iets kan leer by hierdie jongeres – dat ’n ou van 20 of 25 ook op ’n klip kan sit vir ’n uur lank en kan opstaan met ’n wysheid of ’n damn goeie punt om te deel met die naaste bystaander.

Aan die einde van die dag is dit net ydelheid, en ’n obsessie met hoe jy verskyn aan die wêreld wat grens aan patalogiese onsekerheid oor jou eie waarde wat jou laat vashou aan tyd, wat jou paniekerig maak wanneer jy dink hoe tyd dag na dag uit jou vingers glip – soos dit uit almal s’n doen.

______________________

Argument oor ’n fiets

MAANDAG 15 AUGUSTUS 2011

Die RT-Mart verkoop nou ’n “UK Design” fiets vir NT$2,074.

Ek sê nou al vir lank dat ek sal wag tot my fiets heeltemal stukkend is voor ek ’n nuwe fiets sal koop.

Enkele punte hieroor:

1. As dit my standpunt is, moes ek drie maande gelede my fiets vervang het. Die een binneband was pap. Beide die buitebande was voos gery. Die remme het nie behoorlik gewerk nie. En die fiets het gekraak soos net ’n stuk metaal kan wat 10 jaar gelede al in ’n junk yard tot ruste moes kom. Wat ek gedoen het, was om alles reg te maak.

2. ’n Fiets raak nie totaal en al opgeneuk soos ’n rekenaar of ’n rekenaar monitor nie. ’n Rekenaar kan vandag nog werk, môre is dit net een’s en zero’s en liggies wat flikker en skerms wat stol. Dan vat jy dit na die rekenaarwinkel toe, en dan sê die tegnikus jy kan net sowel vir jou ’n nuwe rekenaar koop. Selfde met ’n rekenaarskerm: flikker, poef, af. ’n Fiets, aan die ander kant, breek. Dan identifiseer jy die probleem (gewoonlik voor die hand liggend), en jy maak dit óf self reg, óf jy betaal iemand NT$100 om dit te doen. Dan ry die fiets weer. As jy wag tot ’n fiets geheel en al gedaan is, mag jy dalk lank wag. (Vir die rekord moet ek noem dat my vorige fiets wel daai status bereik het; hy was toe vervang met die huidige fiets wat omtrent 20 jaar ouer is as die eerste een.)

3. Daar’s ook fietse vir NT$3500 en selfs so hoog as NT$5000 – voor jy natuurlik die supermark fietsafdeling verlaat en by ’n behoorlike fietswinkel tussen vyf en tien keer soveel betaal vir fietse wat tussen 10 en 20 keer beter kwaliteit is. Nietemin, hoekom dan nie maar net gaan vir die NT$4000 fiets eerder as die NT$2074 “UK Design” nie? Want, reken ek, al die supermark fietse is ewe broos. ’n Kabel gaan in elk geval breek binne ’n paar maande. Die saal gaan heel moontlik afval binne ses maande. Die raam sal heel moontlik buig, die remme sal breek, en die ratte sal seker ook net twee weke lank sorgeloos gly van stadig na vinnig, voor dit vassteek in tiende rat. So, of dit nou NT$2074 of NT$4250, dis nie NT$25,000 of NT$49,500 nie.

4. Ek kan eerder nou my huidige ouma-fiets aftree, en weet dat ek enige tyd in die toekoms, wanneer omstandighede dit vereis, net die wiele opblaas en weer kan ry soos die wind (as die wind erg genoeg waai die dag).

Dis dan dit. Ek koop ’n nuwe fiets voor die einde van die maand.

En teen NT$2074 kan ek selfs bekostig om die ou Swart Gevaar te beloon vir goeie diens met ’n nuwe saal, voor ek haar staanmaak in die agterkamer.

______________________

Drie redes hoekom ek foute moes maak

DONDERDAG 7 JULIE 2011

Die laaste keer toe ek in Suid-Afrika was het my ma vir my gesê my pa is bang ek maak dieselfde foute as hy.

Ek het dit baie interessant gevind. Ek het geweet beide my pa en ma bedoel dit op ’n sekere manier; ek het saamgestem, maar omdat ek dit verstaan het op my eie manier.

As literatuur die pad is wat ek moet stap, die lewensweg wat ek moet volg, kan dit gesê word dat ek die laaste vyf jaar (en ‘n paar maande) die pad byster geraak het. Dat ek inderdaad dieselfde fout as my pa gemaak het, deur te doen wat ek gedink het “reg” is volgens ander se standaarde (of dalk was my eie standaarde ietwat gekompromeer, maar dis ’n storie vir ’n ander stuk).

Ek is egter van opinie dat die najaag van wins op meer maniere as wat ek kan tel die afgelope half-dekade, nie ’n mors van tyd was nie. Hier is die redes:

1. Ek het geleer hoe om my eie werk te publiseer. Van domain-registrasie tot HTML en WordPress, tot print-on-demand dienste soos CreateSpace, CafePress en Lulu. Dan is daar ook lesse in bemarking, en ervaring met sites soos Twitter, Facebook, YouTube, en dosyne minder bekende platforms wat jou die geleentheid bied om jouself voor te stel, en jou werk bekend te stel aan ’n potensiële gehoor enige plek in die wêreld.

In kort, ek het niks, of nie veel geweet van hierdie dinge voor ek begin kyk het daarna as deel van pogings om geld te maak nie.

2. ‘n Paar jaar gelede het ek geskryf hoe ontuis ek voel in die sogenaamde Wêreld van Geld. Ek het gekyk na mense wat geld het, en ek hulle beny vir die oënskynlike gemak waarmee hulle beweeg het in die Wêreld van Geld. Dit was baie duidelik dat hulle oor die regte woordeskat beskik het, geweet het wat die regte aksies was om te neem om geld te maak, en genoeg ander mense ken wat in oor soortgelyke talente beskik.

In die Wêreld van Geld het ek gevoel soos die vaal, plattelandse kind sonder skoene voel wat by sy neefs en niggies gaan kuier in die Groot Stad.

Nou, meer as vyf jaar nadat ek my soektog na wins en finansiële welstand begin het, na honderde eBoeke oor bemarking en how-to-make-money, dosyne video tutorials, selfs ernstige ondersoek na die moontlikhede van online Poker en Forex Trading, kan ek met ’n aansienlike graad van oortuiging sê dat ek nie meer ongemaklik voel in die Wêreld van Geld nie. Meer as dit, ek kan nou sien dat vele van die mense wat my voorheen so beïndruk het met hulle kennis en bedrewenheid in die Wêreld van Geld, eintlik elke dag maar net die dobbelsteen gooi, hulle oë toeknyp en hoop vir die beste.

3. Teen die einde van 2005 het my inspirasie vir nuwe skryfwerk begin opdroog. Daar was nie veel meer wat ek kon of wou sê oor die vele onderwerpe wat ek aangeraak het in my Persoonlike Agenda projek en die ses maande se skryfwerk wat daarna gevolg het nie. Natuurlik was daar ander onderwerpe waaroor ek kon skryf, maar nie enige wat my genoeg geïnspireer het, of waaroor ek genoeg selfvertroue gehad het om te skryf nie.

Die laaste vyf jaar se vele mislukkings en enkele (maar betekenisvolle) suksesse, asook die wye spektrum van onderwerpe waaroor ek gelees het, en selfs mense wie ek teëgekom het op online forums en oor wie ek gelees het, was, in terugskouing, presies wat ek as produseerder van literatuur nodig gehad het.

Moes ek dus in Januarie 2006 anderpad gekyk toe ek die eerste advertensies gesien het wat een of ander kits-rykdom produk aan my wou verwansel? Ek wens soms ek het. Ek wens soms ek het nie soveel tyd gemors met so baie navorsing en projekte wat uiteindelik geen dividend gelewer het nie – buiten ’n kriptiese kantnota wat bloot sê, “Dit werk nie”. Ek was voorheen vol selfvertroue oor my keuses; ek was spyt oor min dinge wat ek gedoen of nie gedoen het nie.

Dis nou duidelik dat die laaste vyf jaar ‘n goeie leermeester was. Dat ek waardevolle lesse geleer het deur foute te maak soortgelyk aan foute wat my eie pa dalk dertig of veertig jaar gelede gemaak het.

Ek is selfs in die versoeking om te sê ek is ’n beter mens as gevolg daarvan.

______________________