Naskrif II

Uit: Brief aan Ouers

SATERDAG 18 NOVEMBER 2000

“[…]

Ek het gister my 22-maand herdenking gehad van die dag wat ek in Taiwan aangekom het, wat belangrik is vir die eenvoudige rede dat ek in Korea was vir 22 maande en drie dae. Teen volgende week sal ek dus langer in Taiwan wees as wat ek in Korea was.

So gaan die tyd verby. Ek staan gereeld in my sitkamer en kyk om my rond, en as ek dink hoe hierdie einste sitkamer gelyk het toe ek hier aangekom het, kan ek nie anders as om te dink ek het orraait gedoen sover nie. Ek sien my netjiese klein rekenaar; ek sien al die CD’s en al die boeke. Ek sien ook die Spaanse kitaar wat ek vir R60 by die pandjieswinkel gekoop het, en ek sien my blou elektriese kitaar, en die kleur-TV …

Ek gee nie op die oomblik soveel klasse as verlede jaar nie. Dit was ’n sinnelose gejaag wat my nooit behoorlik tyd gegee het vir wat ek regtig wil doen nie. Dit mag klink of ek nie my vinger op die pols van die werklikheid het nie, maar ek het reeds genoeg van die wêreld leer ken om te weet dat ’n mens moet doen wat jy goedvind, en waarvan jy hou, anders word jy oud en jy’t net die game gespeel wat dié wat kastig beter weet, vir jou geleer het. Pa het altyd gesê ek kan nie net doen wat ék wil doen nie, ‘dis nie hoe dit werk nie’. Ek moet bieg dat ek nie veel respek het vir hoe dinge werk nie.

As ’n mens net jou lewe leef volgens hoe dinge veronderstel is om te werk, word jy uitgebuit deur dié wat nie die reëls nakom nie. Ek het al ’n bietjie insig gekry in die werkinge van hierdie wêreld, en ek het nie tyd vir mense wat oor my baas wil speel net omdat hulle meer geld het as ek, en daarom – ‘omdat dit is hoe dit werk’ – ek moet doen soos hulle sê nie. In elk geval het hierdie wêreld nie vorentoe beweeg omdat mense altyd die ‘sinvolle’ ding gedoen het nie.

Dit moet egter kategories gestel word dat ek nie heeltemal naïef is nie. Ek weet al te goed wat gebeur met mense wat die geld storie nie ernstig opneem nie. Ek weet al te goed hoe die hiërargie van ons samelewing werk. My edel politiek sal my nêrens bring as ek nie geld het om dit te ondersteun nie. Dosyne geskiedenisboeke het ook vir my ’n goeie idee gegee van hoe mense in posisies van mag kom, en hoe hulle daar bly. En ek het al genoeg eerstehandse ervaring opgedoen om te weet mense word om die bos gelei om sekere dinge te glo, sodat dié wat bo is, bo kan bly.

Genoeg politiek. Dis voldoende om te sê dat ek ander maniere ondersoek om geld te maak. Ek beplan nie om weer arm te wees nie. Maar ek beplan ook nie om ander se agendas te dien nie.

Hierdie hardkoppige onafhanklikheid kom natuurlik teen ’n prys. As ek ’n meer konvensionele pad gevolg het, sou ek moontlik teen dié tyd die konvensionele belonings gehad het van ’n huis – waarvoor ek vir die res van my lewe aan die bank sou behoort, ’n pragtige gesinsmotortjie – waarvoor ek vir ten minste ’n dekade aan ’n ander bank sou behoort, en ’n lieflike vrou met wie ek my lewe kon deel.

Dink ek daaraan om een of ander tyd terug te gaan Suid-Afrika toe? Ek kontempleer sporadies die moontlikheid. Ek kan dink aan baie redes hoekom dit goed sal wees. Die realiteit is egter dat ek in hierdie land, met wat in werklikheid ’n deeltydse werk is, R10 000 per maand kan verdien, en selfs meer. In Suid-Afrika sal ek wáár, en vir hoe lank elke dag moet werk om die helfte daarvan in die hande te kry?

Daar is sekerlik moontlikhede waaraan ek nog nooit gedink het nie. Die probleem is om hierdie dinge te ontdek. As ’n mens ’n jaar in ’n plek spandeer waar jy gereeld idees uitruil met ander mense, sal ’n mens sekerlik aan ’n paar moontlikhede kan begin werk. Maar hoe gemaak om terug te gaan, jouself aan die lewe te hou, nie jou momentum te verloor met die projekte waarmee jy besig is nie, én terselfdertyd maniere van geldmaak te ontdek wat jou en jou persoonlike agenda pas …”

______________________

 

Boek Een: Inleiding

Die vrae wat ons vra

Meeste mense soek na iets. Dat jy moontlik eers na jare ’n vinger daarna kan wys en kan sê, “Dit!” maak gewoonlik nie die soektog minder freneties nie. Party mense soek na maniere om geld te maak, of maniere om gewild te wees. Ander soek na ’n plek, waar hulle na die lang soektog kan terugsit en vir die eerste keer in hulle lewens kan sê, “Ek het gearriveer.” Ander mense (of dieselfde mense wat na al voorafgenoemde dinge ook soek) soek na ’n persoon – iemand wat saam met hulle die pad kan stap, wat moontlik saam met hulle kan soek na iets anders, of na soortgelyke dinge.

Een universele aspek van al die soektogte is dat vrae gevra word. ’n Betekenisvolle persentasie van die vrae handel oor die vraagsteller self – elke persoon word gedryf deur instink om informasie in te win oor hom- of haarself, en om verwante redes soortgelyke informasie oor ander mense.

’n Paar bekende vrae: Hoe lyk ek? Is ek mooi of lelik? Is ek slim of dom? Is ek ’n “ingenieur” of ’n “advokaat” of ’n “kunstenaar”? Hou ek van pizza? Hóé hou ek van my pizza? Hoe hou ander mense van hulle pizza? Wat wil ek met my lewe doen? Wil ek ryk wees? Hoe ryk? Sal dit orraait wees as ek nie in die grootste huis in die straat bly nie? Wil ek ’n kar hê, of ’n motorfiets? Hoe wil ek my hare dra? Hou ek van pienk? Van watse musiek hou ek? Glo ek in God? Is dit goed genoeg om net elke nou en dan kerk toe te gaan? Vir watter party stem ek? Kyk ek sport, en indien wel, wie of wat ondersteun ek? Wie’s my vriende? Van watse tipe mense hou ek? Hoekom hou ek van hierdie tipe mense? Watse tipes mense hou van my (en weereens om watter redes)? Wat doen ek in my vrye tyd …

En hierdie is net die vrae waaraan ek gedink het terwyl ek besig was om ’n ander CD op te sit. Ek kan nog dosyne hierby voeg. En dan kan jy as leser na die lys kyk en sê, “Goed, maar jy’t ’n paar gemis.”

Dink ons die heeltyd aan hierdie dinge? Nee. Sommige van hierdie vrae vereis moontlik dat ons sal stilsit vir ’n wyle om daaroor te dink; ander dinge wéét ons net. Die belangrike ding is, hóé ons hierdie vrae beantwoord, bepaal hoe ons onsself sien – op ons eie, in die privaatheid van ons eie spasies, en ook wanneer ons tussen ander mense is.

Vele van ons bevind onsself ook op een of ander stadium op vreemde plekke waar niemand ons ken nie, wat ons dwing om onsself voor te stel aan ’n skare vreemdelinge: “Hallo, ek is (X). Ek hou van popmusiek. Ek wil eendag my eie boekwinkel hê. Ek hou nie van uie op my pizza nie, en ek gaan een keer ’n maand kerk toe.”

Die vrae wat ons onsself vra, die maniere hoe ons dit beantwoord, hoe ons onsself voorstel aan vreemdelinge en hoe hierdie mense reageer op ons teenwoordigheid, bepaal uiteindelik of jy saam met ander pizza-eters uithang of nie, of jy glo dat jou siel uitgesorteer is die dag as jy doodgaan, of, en saam met wie jy moontlik eendag kinders sal produseer, en hoe jy jou vrye tyd spandeer. Om weer maar net ’n paar voorbeelde te noem.

Dit bring my by die boek wat nou voor jou ooplê. Hierdie is die resultaat van my eie pogings – veral gedurende die afgelope vier jaar op die eiland van Taiwan – om ’n paar vrae te formuleer, en om bypassende antwoorde bymekaar te skraap.

Wie ek is in die konteks van die wyer wêreld is nie van groot belang nie. Ek is inderdaad ’n skim, wat nooit meer as ’n paar van die mense sal ontmoet wat hierdie woorde sal lees nie. (Wat net sowel is! As ek moes wag tot ek bekend is aan meer as net tien mense voor ek hierdie projek sou aanpak, het ek eerder nou gesit en TV kyk.)

Ek is tot ’n groot mate net ’n gewone mens. Sekere dinge wat ek ervaar het, het ander mense ook al ervaar, en sal nog ervaar word deur vele ander. Probleme wat ek het, gehad het, en nog gaan hê, is soortgelyk aan die probleme wat miljoene mense elke dag die hoof moet bied. Baie wat hierdie bladsye sal lees, het ook al ander, en heel moontlik interessanter dinge ervaar; of het meer, en ernstiger probleme as wat ek ooit sal hê. Daar is ook die mense wat moontlik nog nooit so gelukkig was soos wat ek is, was, of moontlik nog gaan wees nie. Ander kan weer getuig van die teenoorgestelde.

Wat almal van ons bind, is dat ons soortgelyke vrae op die een of ander tyd aan onsself móét vra. Vrae waarop antwoorde gevind móét word, al vat dit ’n leeftyd.

* * *

Die materiaal is merendeels chronologies, en is veronderstel om ten minste hier en daar te lyk soos die storie van iemand se lewe.

Belangrik ook om te noem dat ek nie gaan sit het, ’n boek beplan het en toe begin skryf het nie. Die boek is saamgestel uit ’n paar jare se notas – meestal aan myself, joernaalinskrywings, briewe aan vriende en familie, en ’n paar essays wat ek van tyd tot tyd geïnspireer was om te skryf – weereens, hoofsaaklik vir my eie vermaak en latere verwysing. Die idee om dit saam te bundel in ’n enkele projek en dit beskikbaar te stel aan ’n wye lesersmark, het eers redelik onlangs by my opgekom.

Gooi dus vandag se koerant eenkant toe, sit die TV se klank af, maak vir jouself ’n vars koppie tee, en lees verder.

Fengshan, Taiwan
Sondag 18 Mei 2003

______________________

Naskrif I

Ek het aan die begin die edel bewering gemaak dat hierdie versameling materiaal [1999 tot 2003] opgedra is aan ’n paar spesiale mense. Vir die rekord moet ek byvoeg dat ek hierdie boek ook vir myself geskryf het – sekere administratiewe sake moes afgehandel word voordat ek kon aanbeweeg na enige ander plek op hierdie planeet. Vir jare al dreig ek om al die stukke wat ek geskryf het, asook al die stukke wat ek begin skryf het maar nooit klaargemaak het nie, bymekaar te maak in een folder. Opstelle wat ek op die rekenaar geskryf het, moes uitgedruk word, e-posse wat ek geskryf het moes van die Hotmail server afgelaai word, en ek wou ’n paar gedagtes vervat in notaboeke en joernale, oortik.

Hierdie projek is dus, op ’n elementêre vlak, goeie kantooradministrasie – om items op ’n dinge-om-te-doen-lys deur te haal. Maar dit het ook vir my van eksistensiële belang geraak om iets voor myself op die tafel te kan gooi en te sê: “Dáár – dis onder andere wat ek met my tyd gedoen het.”

Ek het ook vermoed ek mag dalk, met die wyer beeld wat so ’n projek vir ’n mens gee van jou lewe, op ou insigte afkom waarvan ek vergeet het, of op idees wat dalk bestaande planne deurmekaar kan krap.

Aan die einde het ek tot ’n mate geslaag in al bogenoemde doelwitte.

Die proses van materiaal deurlees en verwerk het selfs ’n paar ander, onverwagte vrugte afgewerp. Ek het nie verwag om ’n goue lyn te sien vleg deur vier jaar se skrywery nie, maar ek sien tog nou meer redes as ooit hoekom dit nodig was om Taiwan toe te kom, en hoekom dit nodig was om vir so lank hier vas te haak.

Wat maak ’n mens as jy klaar is met so ’n projek? Jy kan begin deur jou woonstel skoon te maak … vir ’n slag weer ’n besem oor die stoep te trek … weer ’n bietjie deur ’n supermark te stap … maar wat dan? Jy begin natuurlik te werk aan ’n volgende projek, of jy gaan voort met die projek wat sonder waarskuwing op ys geplaas is ’n paar maande tevore.

Wat ek ook al volgende aanpak, ek hoop dat dit moontlik sal wees om weg te stap van hierdie selfgesentreerde Sake van die Hart – ten minste wanneer ek iets skryf. Vrae sál steeds in die lug hang, en ek sal steeds soms in die nag wakker skrik om ’n voorlopige antwoord te mompel in die rigting van die plafon. Maar daar is immers ander onderwerpe wat my besig kan hou: die pluspunte van Oosterse kos, die redes hoekom dit goed is vir jou om elke dag groen tee te drink, en my idee oor hoekom Taiwannese mense so vrot bestuur.

As ek gelukkig is, sal ek net soms wonder of al hierdie alternatiewe temas my enigsins nader bring aan ’n plek – ’n punt in my lewe, waar ek nog altyd wou wees.

Mei 2003

______________________

Taiwan: ’n Kort oorsig

Al die materiaal in hierdie boek (met die uitsondering van enkele paragrawe) dateer uit die Taiwan periode van my lewe. Dis belangrik om te noem dat hierdie boek nie gaan oor Taiwan nie; dat dit die omgewing is waar sekere temas verder ontwikkel het, en waaruit ander gespruit het, is wel van belang. Enkele bladsye oor hierdie omgewing sal derhalwe nie onvanpas wees nie.

Geografie

Taiwan is ongeveer 160 kilometer van China af, en lê op die westelike rand van die sogenaamde Ring van Vuur – wat al wat leef om die Stille Oseaan terroriseer met aardbewings en vulkane. Taiwan is bergagtig, met van die hoogste bergpieke in Noordoos-Asië.

’n Subtropiese ligging reduseer Taiwan se klimaat tot twee seisoene. Dit sous in die somer, en elke nou en dan storm ’n tifoon van die Filippyne af in. (’n Gelukkige somer is een waar ’n mens nie vir drie maande sonder end ly onder nat en onuithoudbaar bedompige kondisies nie.) Danksy hierdie tipe klimaat is daar heelwat plantegroei, maar om dit werklik te geniet moet ’n mens die stad verlaat. Daar’s blykbaar ook bere en verskillende tipes bokke te sien in die berge. (Siende dat ek dit gewoonlik net maak tot by die plaaslike kafee oor naweke, kan ek dit nie bevestig nie.)

Geskiedenis

Volgens die Lonely Planet – wat ooplê langs die rekenaar soos ek hierdie stuk skryf – is daar al mense in Taiwan vir iets soos tien duisend jaar. Die eerste bewoners het van ander eilande in die omgewing gemigreer hiernatoe, en hulle deel genetiese eienskappe met mense in die nabygeleë Filippyne. Teen die tyd wat die eerste Chinese hier aangekom het, was daar hoofsaaklik twee inheemse groepe: dié wat op die vlaktes gebly het, en die ander groep wat meestal in die berge gehou het.

Van die vyftiende eeu af het Chinese in groter groepe hier aangekom. Omdat hulle meestal afkomstig was van die Fujian Provinsie in China, is die taal wat meeste Taiwannese praat amper identies aan die Fujian dialek van Chinees (hoewel Mandaryns die amptelike taal is in Taiwan).

In die jaar 1517 het die Portugese hier ’n draai gemaak, en die eiland Ilha Formosa genoem. (Ilha Formosa beteken Pragtige Eiland. Dit was egter die Chinese wat aan Taiwan haar huidige naam gegee het, wat vertaal as Baai van Terrasse.) Die Hollanders het ook anker kom gooi in 1624, en hulle het lekker bere en bokke gejag tot ’n Ming lojalis met die naam van Cheng Cheng-kung hulle kom verjaag het in 1661. Omdat die Qing dinastie op daai stadium die troon in Beijing vol gesit het, het hulle weer op hulle beurt Taiwan oorgeneem in 1682. Vir die volgende twee honderd jaar was daar grootskaalse immigrasie uit die suidelike provinsies van China.

Die volgende groot gebeurtenis was toe Japan die plek oorgeneem het as ’n kolonie in 1895. Dit was een van die pryse wat die Japanese gekry het omdat hulle as oorwinnaars getree het uit ’n oorlog met China in die genoemde jaar. Vir die volgende 50 jaar was Taiwan deel van die groeiende Japannese ryk. Teen die tyd wat Japan die Tweede Wêreldoorlog verloor het, het sake in China van so ’n aard verander dat dit net ’n kwessie van tyd was voor Taiwan se geskiedenis weer onherroeplik sou verander.

Die oomblik toe die Japannese onttrek aan China, het die burgeroorlog tussen die kommuniste en die regering van Chiang Kai-Sjek sy laaste, en bloedigste fase betree. Teen die begin van ‘49 het Chiang besef sy dae is getel in China. Hy besluit toe om die hele versameling kulturele skatte van die National Palace Museum, al die geld van China se nasionale bank, amper een-en-’n-half miljoen ondersteuners en 600,000 soldate op skepe te laai en ’n bietjie te kom rus in Taiwan. Die idee was om “binne twee jaar” met die uitgeruste troepe weer die vasteland binne te val – en weer die skatte terug te sit in die oorspronklike museum in Beijing.

Chiang en al sy troepe het aan die einde oud geword in Taiwan (Chiang is in 1975 dood op die ouderdom van 87), en soos meeste mense weet sit die kommuniste nog steeds die troon warm in Beijing.

Politiek

Chiang het in 1949 nie net met troepe, ondersteuners, geld en Ming vase hier aangeland nie, hy’t ook die titel, vlag en nodige politici saamgesleep wat hom die reg kon gee om te sê hy’s nog steeds die Hoofman van die Moederland. Hy het op hierdie oewers aangeland as die president van die Republiek van China, en teen die tyd wat hy dood is in 1975, was hy nog steeds die president van die Republiek van China.

Tot en met die sewentigerjare het die res van die nie-kommunistiese wêreld saam met Chiang gestem dat sy regering in Taiwan die regmatige regering van die hele China is. Dinge het egter begin verander in daai dekade, en vandag is daar slegs ’n handvol lande wat nog erkenning gee aan die owerhede in Taipei as die regmatige regering van Groter China.

So, die Verenigde Nasies skop toe die ou van Taiwan uit in ‘71, en meeste lande het in die jare daarna hulle ambassades in Taipei gesluit – net om die volgende dag besigheid voort te sit as sogenaamde “trade offices”. Wat is Taiwan dan as dit nie die fisiese adres is van die regering van China nie? Van 1949 af is Taiwan in praktyk geregeer as onafhanklik van China – hoewel enige Taiwannees in die tronk kon beland het tot en met die laat tagtigs as hy dit hardop gedink het. Van die tyd dat die regeringsleiers in die sewentigs die memo gekry het dat hulle nie meer erken word as die politieke meesters van China – met Taiwan as haar provinsie – nie, het hulle met ’n staatkundige identiteitskrisis gesit. Hulle het nietemin nog steeds werk gehad om te doen, naamlik om ’n verantwoordelike regering te wees vir die 25 miljoen mense in Taiwan.

Moet die naam dan nie net doodgewoon verander na die Republiek van Taiwan nie? Om dit te vra is om ’n senuwee raak te trap onder die plaaslike bevolking. Sommiges glo Taiwan moet een of ander tyd weer deel word van die Moederland. Ander glo weer Taiwan moet erken word vir wat sy is, en vir die afgelope meer as vyftig jaar al was: ’n onafhanklike staat. En in hierdie vreemde politieke situasie is die laaste groep mense wat wil hê Taiwan se naam moet amptelik verander, die regering in Beijing. Hulle glo die oomblik as Taiwan ’n amptelike naam kry wat die werklikheid meer akkuraat weerspieël, dan verklaar hulle onafhanklikheid van die Moederland. En dan is die hel los.

So, tot vandag toe, huisves Taipei die regering van die Republiek van China, met ’n provinsiale regering in ’n ander Taiwanese stad wat op papier verantwoordelik is vir die provinsie Taiwan.

* * *

Dit dan, is die geografie, geskiedenis en ongewone politieke staat van die land waarin ek myself die afgelope vier jaar bevind het.

______________________

Ballingskap dertien

Laat dit gesê word – soos ek ook vroeër genoem het, dat ’n mens moeg raak, nie oud nie. En so het dit ook gebeur met my in Taiwan. Vier jaar lank al skryf ek “ballingskap” essays, en tot onlangs het ek dit selfs oorweeg om die titel te verander. Want is ek na 47 maande werklik steeds in selfopgelegde ballingskap?

Hoekom het ek in die eerste plek, na ek in ’95 tot die besef gekom het dat ek nie meer ’n enkele akademiese boek se reuk kon verduur nie, nie begin werk soek soos talle van my tydgenote, en besig geraak met wat beskryf kan word as ’n meer konvensionele post-universiteitsbestaan nie? Hoekom het ek na ’n land toe gegaan wat ek nie eers aanvanklik op ’n kaart kon vind nie, om ’n werk te doen waarvoor ek geen ervaring gehad het nie, om my kop neer te lê – wie kon weet waar?

* * *

Vir weke lank het die rebelle ’n stryd gevoer teen die regeringsmagte, teen die status quo. Dokumente is een aand op groot skaal vernietig in dofverligte kantore in die hoofstad. Daar was gerugte van rebelle in die voorstede, van swaargewapende mans wat in die voortuine van verskrikte burgers gesit en braai het.

Toe kom daar ’n teenaanval, die Maandagoggend, op een flank van die rebelle-leër. Twee groepe wat mekaar moes aanvul het onderling stry gekry, en die regering het dit slim uitgebuit. ’n Skietstilstand is uitgeroep, en die regering en die rebelle het gesels. Die regering het verduidelik dat die twee kante vir dieselfde ideaal stry. “Moet hulle dan nie eerder saamwerk nie?” is herhaaldelik voorgestel.

Teen weekseinde was daar weer in die voortuine baklei. Teen Sondag was die regering so te sê op sy knieë.

Sondagnag laat loods die regering ’n desperate propaganda-aanval. Hulle laat weet as die volk hulle vir eers berus by die huidige bestel, die regering bereid is om ’n toegewing te maak: die tydelike reünie van familielede wat tydens die Ballingskap geskei geraak het.

Die rebelle verloor steun, vir die eerste keer in drie weke. Die regering praat weer met die rebelle-leiers. Laasgenoemde ontken heftig dat hulle nie genoeg proviand en ammunisie het om die stryd onbepaald voort te sit nie, maar gee toe dat die manne moeg is. En, laat hulle ook hoor, as die volk dan dinge so wil hê, moet daar seker maar gepraat word, vir eers. Van hulle kant af het die regering erken dat daar steun is vir die ideologie van die rebelle selfs in die regering se eie geledere.

Daar word besluit dat dinge op so ’n manier hervorm kan word – as die rebelle vir eers terugstaan – dat die bestel anders daarna sal uitsien binne die afsienbare toekoms.

Dit was Maandagmiddag. Dinsdag het mense weer werk toe gegaan, kinders is skool toe, en geld het hande verwissel op die markte.

Teen Woensdag was daar egter weer onrustigheid in die lug. ’n Groot groep mense het teen Woensdagnag laat voor die regeringskantore begin uitkamp. Die regering het die konklusie van die pratery aan die volk bekend gemaak, wat dit – tot die regering se teleurstelling – halfhartig aanvaar het.

Teen Donderdagoggend was daar genoeg van ’n rumoer dat die rebelle-leiers weer die kanonne begin laai het. Albei kante het weer hulle saak aan die volk gestel. Manifeste en planne is verduidelik, geherformuleer en op plekke verander sodat die volk dan nou eenmaal kan besluit.

Die volk was moeg. Aan die een kant was daar die werklike begeerte vir verandering, en die aantreklike humanistiese ideologie van die rebelle. Die volk was nietemin bewus van die probleme wat rewolusie sou bring – daarvan het die rebelle-leiers seker gemaak met duidelike voorbeelde uit die geskiedenis. Opofferings sou gemaak moes word – daaroor het die volk nie getwyfel nie. Hulle het ook onthou van die vorige poging tot verandering wat gesneuwel het na ses maande. Die harde werklikheid van die huidige bestel kon egter nie geïgnoreer word nie.

So ook, kon die rebelle-leiers nie die probleme van hulle huidige aanslag afskryf as oorkombare struikelblokke nie. Hulle was inderdaad by ’n kruispad.

Teen die Vrydagaand het die rebel-leiers aan hulle vegters en aan die volk verduidelik dat die volle implementering van hul ideologie onmoontlik sal wees indien die rewolusie op die huidige tydstip deurgevoer word, in ag genome a) beperkte fondse, wat gestrek sal moet word om die status quo omver te werp, en b) die besluit van die leierskap dat langtermyn ideale nie in gedrang gebring moet word ter wille van korttermyn voordele nie.

Die heldhaftige pogings van die rebelle het die regering geskud, en die volk is rusteloos. Die regeringsleiers weet dat hulle plegtige voorneme om die huidige bestel te hervorm ’n belangrike rede was hoekom hulle hierdie laaste slag kon wen.

Die volk is rusteloos, en winde van verandering waai. Hoewel die rebelle vir eers sal retireer, hoewel die leiers en die voetsoldate vir eers sal rus, bly die kanonne ingestel op die instellings van die regering. Glimmend. Gereed. Die huidige bestel is kennis gegee.

(Saterdag 4 Januarie 2003)

’n Vergelyking van Hervormde Planne 1 & 2

[…]

(Dinsdag 7 Januarie 2003)

Faktor vier, en die implikasies

Toe dink ek goed, ek is nou ’n bietjie rustiger oor die hele “plan” issue. Op pad huis toe ’n paar dae gelede – terwyl ek verby ’n man ry wat vars lemoensap van ’n trokkie af verkoop – dog ek, eintlik is hierdie plek nie so sleg nie. Die lug is blou, die vrouens fris, en jy kan vars lemoensap van ’n trokkie af koop op pad huis toe.

Die middag op pad na die tennis neem ek die gedagte verder. Ek dink toe weer aan die hele storie van ’n week gelede toe ek gedink het as ’n mens vier jaar gelede met ’n vierjaarplan hier aangekom het … en dat dit wel goed sal wees, en dat dit nie onmoontlik is om steeds my huidige planne uit te voer, én soort van besig te wees met ’n drie-tot-vyfjaarplan nie. En toe dink ek aan vakansie, en om ’n pelgrimstog aan te pak om slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog te besoek.

Kort voor lank dink ek weer aan my idees vir volgende jaar, en dat ek reken ek moet … uhm … en dis alreeds Dinsdagnag/Woensdagoggend, 14/15 Januarie 2003. Mooi.

______________________