Maandag 31 Desember 2012

Ek was ietwat geskok gister toe ek herinner word daaraan dat ons vanaand na ’n Oujaarspaartie toe gaan, met die implikasie dat môre die begin van ’n nuwe jaar is.

As ek sê ek wil nie hê hierdie jaar moet eindig nie, bedoel ek nie dat ek wil vashou aan dit wat verby is nie. Wat ek wil hê, is om môre – die eerste dag van 2013 – op te staan, en om naatloos voort te gaan met alles wat ek hierdie jaar gedoen het.

Ek wil nie ophou en dan weer begin nie. Ek wil voortgaan.

* * *

Vandag is ook ’n goeie dag om waarde te put uit die advies van Mary Schmich: “Whatever you do, don’t congratulate yourself too much, or berate yourself either. Your choices are half chance. So are everybody else’s.”

Dit gesê, jy is steeds tot ’n groot mate self verantwoordelik vir die enorme hoeveelheid sukses en geluk wat jou kant toe kom in 2013. En siende dat dit so is, maak seker jy doen wat jy kan om dit te realiseer.

———–

Teks van die Mary Schmich artikel, “Advice, like youth, probably just wasted on the young” was gebruik deur Baz Luhrmann in sy 1999-snit, “Everybody’s Free (To Wear Sunscreen)”. Die oorspronklike artikel is op sy beurt soortgelyk aan die 1927-gedig deur Max Ehrmann (1872-1945), getitel “Desiderata”. ’n Kort uittreksel: “With all its shams, drudgery, and broken dreams, it is still a beautiful world. Be cheerful. Strive to be happy.”

______________________

Kersdag is ’n bietjie soos die lewe

DINSDAG 25 DESEMBER 2012

Kersdag is ’n bietjie soos die lewe.Kersdag 2012, Johannesburg. Dankie Mandi vir die foto.

As ’n hele tafel vol kos voorberei word op die vyf-en-twintigste dag van die twaalfde maand van die jaar, ’n spesiale boom die sitkamer binne gesleep word en vol liggies en balletjies en poppies en sterretjies gehang word, speelgoed vir die kinders gekoop word en toegedraai word in kleurvolle papier, ’n paar liedjies dalk gesing word, en almal hulleself trommeldik eet en lag en kuier en gesels, dan’s dit “Kersfees”.

As jy nie bogenoemde dinge doen nie, is dit net die vyf-en-twintigste dag van die maand, en die maand is toevallig die twaalfde van die jaar.

So ook, is dit met die lewe.

______________________

’n Identiteit wat geld maak

DONDERDAG 15 NOVEMBER 2012

Omdat ek my bes probeer om mislukking en teleurstelling te voorkom, wonder ek lank en hard of ’n spesifieke manier om geld te maak, reg kan wees vir my. Ek wil seker wees voordat ek begin om tyd, en geld, te spandeer aan ’n projek.

Enkele opmerkings:

1. Daar is geen waarborg dat jý geld sal maak met enige iets nie – selfs al verdien ander mense hulle brood en botter daarmee, jaar in en jaar uit.

2. Daar is ’n parallel met identiteit: wie ek is versus wie ek wil wees. Besluit of jy geld wil maak met iets, of dit iets is wat jou lewenstyl pas, of dit iets is waarmee jy jouself kan vereenselwig, en of dit iets is wat volhoubaar sal wees vir ten minste die volgende tien jaar. Indien jy besluit dat dit wel iets is waarmee jy geld kán en wil maak, doen dan wat jy moet doen, en leer wat jy moet leer, om die moontlikheid werklik te maak. Verbind jouself daartoe om suksesvol te wees met hierdie aktiwiteit.

Wat meer wil ek hê? Bevestiging in ’n hopie teeblare? Moet iemand eers ’n handvol dolosse gooi om te bevestig iets is reg vir my?

Besluit iets is reg vir jou, en máák dit dan reg vir jou.

WOENSDAG 12 DESEMBER 2012

(Ek het moontlik reeds hierdie gedagte genoteer.)

My pogings om geld te maak vanaf 2006 was tot ’n groot mate ’n soeke na identiteit – in ’n nuwe “omgewing”.

Vir jare het ek gereken hoe jy geld maak, is nie wie jy is nie, dis net wat jy doen om in jou eie behoeftes, en miskien die behoeftes van ’n familie te voorsien. Jy is dus nie ’n advokaat nie – dis net wat jy doen vir geld.

Projekte wat ek aangepak het met die uitsluitlike doel om geld te maak daarmee, het ingesluit “affiliate marketing”, “sports betting”, “short report writing”, en die verkoop van domeinname en webwerwe. Ek was heeltemal kapabel en intelligent genoeg om die nodige vaardighede aan te leer en die kennis te bekom om uiteindelik geld te maak met hierdie aktiwiteite, en in sommige gevalle was ek tot ’n mate suksesvol.

Nie een van die maniere hoe ek geld gemaak het, of in teorie geld kon maak in meeste gevalle, was egter iets wat ek as deel van my identiteit wou sien nie. Wat ek uiteindelik geleer het, was dat indien jy nie ’n bepaalde manier hoe jy geld kan maak, as deel van jou identiteit sien nie, dit nie heeltemal onverklaarbaar is as jy nie ’n rasende sukses maak daarvan nie.

MAANDAG 17 DESEMBER 2012

Om aan myself te dink as ’n “uitgewer” is tot ’n groot mate ’n verlore deel van die legkaart.

Sedert die vroeë negentigs al hou ek vas aan die beeld van die “skrywer” – onafhanklik; verhewe bo alledaagsheid; op sy eie. Die spesifieke visie was van myself in ’n ou klipfort, êrens in ’n bergagtige wildernis, of dalk op die vlakte, ten minste ’n paar dae se stap van die naaste beskawing af.

Dat hierdie romantiese figuur geld nodig het – of nog erger, nodig het om geld te maak, was nog altyd ’n reuse struikelblok.

Dis hoekom die idee van die uitgewer so kragtig is. Die uitgewer se besigheid, tot ’n mate meer as die skrywer s’n, is boeke. Waar die skrywer idees en opinies en stories verwoord, fokus die uitgewer daarop om te publiseer. Die uitgewer is die een wat die skrywer se kreatiewe werk in die hande van die leser plaas.

Die skrywer is in die wildernis – of op die vlakte. Hy skryf, en hou hom nie op met banale goed soos geld nie.

Die uitgewer is in die stad. Hy bemark. Hy adverteer. Hy produseer boeke in verskillende formate. Hy praat besigheid.

Die uitgewer is die een wat geld maak. Hy is die een wat seker maak die skrywer oorleef.

______________________

Dankie tog kinders is nie soos (sommige) volwassenes nie

VRYDAG 30 NOVEMBER 2012

As kind weet jy aanvanklik nie hoe om skaak te speel nie. Jy weet nie hoe om fiets te ry, of hoe om ballet te doen of rugby te speel nie. Jy weet nie hoe om ’n rekenaar te gebruik nie. Jy weet nie eens hoe om te lees of te skryf nie.

As kind het jy gewoonlik nie getwyfel wanneer dit by iets nuuts gekom het wat jy moes bemeester nie. Jy’t net gedoen wat vir jou gesê is. Jy het aanhou probeer, en na ’n paar maande of ’n paar jaar kon jy skaak speel, fietsry, rugby speel, of ballet doen. Jy het leer lees en leer skryf, en uiteindelik geleer om ’n rekenaar te gebruik.

Hoekom dan, as volwassenes, twyfel soveel mense in hulle vermoëns om iets nuuts te kan leer?

“Ek weet nie hoe nie,” sal die man of vrou prewel.

“Ek is te oud om iets nuuts te leer,” sal die 30- of 40- of 50-jarige man of vrou sê.

“Nee, goeie genade! Daar’s geen kans dat ek dit sal kan doen nie!” sal een persoon uitroep, veilig in die wete dat daar ten minste ’n handvol ander volwassenes in die omgewing is wat hulle sal ondersteun in hulle oortuiging dat hulle nie in staat is om iets te kan doen nie.

Kan jy jouself dit voorstel as kinders moes lei aan dieselfde droefenis?

“Agge nee, Pappa, daai fiets is so groot. Ek gaan afval en my toon stamp,” sal klein Sarel sê, en wegstap om onder die boom te gaan sit.

“Daai dansies lyk te moeilik, Mamma! Ek kan dit nie doen nie!” sal klein Juanita sê, en weier om uit die kar te klim by die balletskool.

“Skaak lyk so ingewikkeld …”

“Ek weet nie hoe om daai krulletjies en lyntjies te trek soos die ander seuns en meisies in die klas nie …”

“Ek is bang vir muise, en die rekenaar maak altyd sulke snaakse geluide …”

Die einde van beskaafde gemeenskap soos ons dit ken. Die begin van Zombieland.

“As jy dink jy kan iets doen, of as jy dink jy kan nie iets doen nie, is jy reg,” het Henry Ford gemeen.

Watse voorbeeld dink mense stel hulle vir die volgende geslag as hulle op 25 of 40 of 50 ophou glo hulle kan iets nuuts bemeester, wil ek weet.

______________________

Op ’n stadium ander planne (al was dit op ’n doodlooppad)

DINSDAG 6 NOVEMBER 2012

Ek het in 1998 ’n paar planne gehad wat nie heeltemal uitwerk het nie. Ek wou my eie woonplek gehad het, al was dit net ’n klein woonstel. Ek wou ’n gereelde inkomste verdien het, al was dit nie ’n fortuin nie. Ek wou ’n kar gehad het, al was dit net-net padwaardig. Ek wou beslis nié weer my tasse pak en oorsee gaan nie. Ek wou nié weer werk as Engelse onderwyser nie. En ek het geen brandende begeerte gehad om Taiwan toe te kom nie.

Taiwan het uiteindelik baie beter uitgewerk as wat ek myself ooit kon voorstel – deels die resultaat van my eie besluite en aksies wat ek geneem het; deels geluk. Dit is egter belangrik dat mens jouself soms herinner daaraan dat jy op ’n stadium ander planne gehad het, selfs al was daai planne op ’n doodlooppad.

Op kantoor, November 1998
Woning, laaste paar maande van 1998

______________________