Saterdag 31 Desember 2011

Die laaste dag van die jaar is soos die laaste wakker uur van ’n dag: Sommige mense ly aan ligte skok en teleurstelling dat dit verby is, dat dit wat jy nie vandag gedoen kon kry nie, moet wag vir môre.

Oor ’n paar ure is 2011 verby.

Hierdie was ’n goeie jaar, ’n besonderse jaar. My en Natasja se verhouding was van die begin af van so ’n aard dat ons nie ’n dokument nodig gehad het om te weet ons hoort bymekaar nie. Nietemin, verlede maand het ons na amper sewe jaar amptelik en wettiglik trou aan mekaar gesweer. Op die werksfront het ek hoofsaaklik op twee kommersiële projekte gefokus. In Februarie het ek ook begin om weer die beste ure van my dag te spandeer aan my skryfprojekte – iets wat ’n so te sê daaglikse realiteit geword het. En laastens, ek het heelwat tyd gespandeer die afgelope twaalf maande by ’n tandarts genaamd Harmony, met die gelukkige resultaat dat ek uiteindelik weer behoorlik kan eet.

Vanuit die posisie waarin ek myself op hierdie oomblik bevind, as gevolg van wat ek gedoen het tussen Saterdag 1 Januarie en nou, Saterdag 31 Desember, lyk 2012 asof dit dalk net ook ’n goeie jaar mag wees.

’n Nota van Dinsdag 4 Januarie 2011 mag dalk gepas wees: “’n Jaar in ’n mens se lewe is soos ’n kind. Jy kan beplan, jy kan voorberei, en jy kan hoë verwagtinge koester. Maar uiteindelik moet die kind toegelaat word om sy eie gang te gaan, om sy eie karakter te ontwikkel. Jy kan, en moet, leiding gee, maar aan die einde sal jy moet vrede maak: Doen jou absolute bes, en vertrou vir die res.”

Mag 2012 ’n goeie jaar wees, vir myself, vir my beminde, en vir al ons vriende en familie. En mag dit ’n goeie jaar wees vir alle goeie mense op hierdie planeet wat elke dag hoop en stry vir ’n beter dag.

____________________

Daar is nie genoeg vir almal nie (of is daar?)

WOENSDAG 3 AUGUSTUS 2011

Daar is nie genoeg vir almal in Suid-Afrika nie – nie genoeg voedsame kos nie, nie genoeg kontant vir almal om ’n bietjie geld in die bank te hê nie, nie genoeg huise vir almal om veilig en warm te slaap nie, nie genoeg klere vir almal om goed te voel oor hoe hulle in die openbaar verskyn nie, nie genoeg werksgeleenthede vir almal om ’n leefbare inkomste te verdien nie, nie genoeg hospitaalbeddens vir al die siekes en beseerdes nie, en nie genoeg goed toegeruste klaskamers vir almal se kinders om ’n goeie opvoeding te kry nie. Honderd jaar gelede was daar nie genoeg vir die Engelse EN die Afrikaners, of die Boere nie. Vyftig jaar gelede was daar nie genoeg vir die wittes EN almal wat nie wit was nie. En vandag is daar nie genoeg vir AL die mense wat swaargekry het onder die vorige bedeling nie.

So, as jy geld gemaak het onder die vorige bedeling – ongeag van ras, en jy kon daaraan vashou, is jy in. So ook as jy die regte besigheid- en politieke verhoudings opgebou het die afgelope 15 tot 20 jaar, en die kontant stroom onbeheersd in jou bankrekeninge in. Jy het duidelik die regte dinge gedoen, en/of die regte mense geken – ook jý is in.

Vir die res, blank en arm in ’n plakkers-karavaanpark, swart en arm in plakkerskampe of op gehuggies êrens op die platteland, en alle ander kleure wat nie blank of swart is nie maar ook arm, is daar doodgewoon NIE GENOEG NIE.

Daar sal gepraat word. Daar sal pleisters op gebreekte bene geplak word. Maar aan die einde van die dag bly hierdie realiteit: Daar is eenvoudig nie genoeg vir almal nie. (Of is daar?)

DONDERDAG 29 DESEMBER 2011

Ek verstaan dat daar nie genoeg is vir almal nie. Maar dit is nie die enigste probleem nie. Selfs as jy slaag daarin om ’n meer regverdige verspreiding van hulpbronne te bewerkstellig, sal ’n deel van die bevolking uiteindelik hulpbronne en geleenthede verspil, óf weens gebrek aan opleiding, óf ’n gebrek aan wilskrag, óf ’n gebrek aan talent, of weens ’n kombinasie van hierdie faktore.

Dan sal daar mense wees wat yweriger en vindingryker sal wees. Hierdie mense sal binne ’n generasie of twee op die hoogste vlak van die samelewing wees, as beide heersers en voorste begunstigdes van geleenthede.

Een of twee generasies later sal die nageslag van diegene wat minder goed presteer, onreg protesteer en hulle protesbaniere voorberei om ’n regverdiger samelewing te vereis – ’n meer gelyke verspreiding van hulpbronne.

Teenargument: Verdien die lui, talentlose, verbeeldinglose nageslag van suksesvolle vroeë geslagte beter onderwys en beter geleenthede as die hardwerkende, talentvolle en bekwame nageslag van minder suksesvolle vorige geslagte?

______________________

Nota nommer 517 aan myself

DONDERDAG 3 NOVEMBER 2011

Hou op om met elke man en vrou op straat te baklei.

Hou op om met elke persoon wat jy teëkom ’n argument aan te knoop.

Hou op om elke geleentheid wat jy kry aan te gryp om rusie te maak.

Hou op om die hond te wees wat elke kat jaag wie se reuk die wind na hom toe aanwaai.

Hou op om die hond te wees wat by ieder en elke boom op blaf, of daar ’n kat in is of nie.

Stry die stryd waar jy ’n redelike kans het om te wen.

VRYDAG 23 DESEMBER 2011

As mens in ’n betekenisvolle verhouding is … Of, kom ek maak dit meer persoonlik. Ek vind my verhouding met Natasja maak dit vir my makliker om myself toe te laat om gelukkig te wees. Die rede is omdat ek weet die geluk van die vrou wat ek liefhet en vir wie se welsyn ek omgee, hang tot ’n groot mate daarvan af of ék gelukkig is.

As jy nie jouself toelaat om gelukkig te wees nie, gaan die mense naaste aan jou geaffekteer word daardeur. As jy omgee vir die mense naaste aan jou, as jy opreg hoop dat hulle daaglikse bestaan ’n graad van geluk sal insluit, sal jy jouself dit vergun om gelukkig te wees.

Dis die onbaatsugtige ding om te doen.

______________________

Is ’n kameelperd werklik oranje, soos ’n lemoen?

WOENSDAG 19 OKTOBER 2011

Vanoggend om en by vyfuur wakker geword vir omtrent vyf sekondes, ’n gedagte gehad oor ’n handvol vetkryt, ’n kind en ’n prentjie, en die betekenis wat daaruit getrek kan word oor die beperking van taal as dit kom by godsdiens en “absolute waarheid”, en toe verder geslaap.

Die punt was dit: Jy gee aan enige iemand ’n palet met tien of vyftien kleure verf op. Dan trek jy die gordyne oop op ’n pragtige, kleurvolle toneel – kom ons sê ’n grasveld in Afrika net na goeie reëns, met meer as ’n dosyn spesies diere wat orals rondstaan, rondloop, of rondlê. Na die persoon die toneel ingeneem het, gee jy aan hom die opdrag om te skilder wat hy gesien het. En hy moet dit doen met die tien of vyftien kleure wat jy aan hom beskikbaar stel.

Dalk is die persoon werklik talentvol, en sy prent is ryk aan detail, en vol kleur.

Vraag is, is sy prent ’n 100% akkurate verteenwoordiging van die werklike toneel – van die gras en bome en diere en lug en wolke en voëls en al die ander fyner detail wat die werklikheid vol maak?

Hoe kan dit wees? Hy’t net ’n dosyn of so kleure gehad waarmee hy die toneel kon skilder! En dan is daar sy persoonlikheid, selfs die gemoedstoestand waarin hy was toe hy die prent gemaak het. Het hy, om een voorbeeld te kies, doelbewus nie die onweerswolke deel gemaak van sy weergawe nie? Hoeveel detail het hy uitgelaat, eenvoudig omdat sy talent te kort geskiet het?

Kom ons vat nou die analogie verder. Die persoon wat die toneel geskilder het, word later gesien as ’n gesagsfiguur in een of ander religieuse tradisie. Benewens die prent van die landskap, produseer hy honderde ander prente en sketse en stukke teks, wat alles toenemend kosbare items word na sy afsterwe. Mettertyd word al hierdie dokumente en kunswerke gebruik as voorskrifte vir hoe mense moet optree, en vir hoe dinge beskryf moet word. Binne ’n paar geslagte voorsien die prent van die landskap dan byvoorbeeld leiding aan die gemeenskap oor hoe daar oor diere gepraat word soos aangetref word op ’n Afrika grasveld net na goeie reëns.

Aanvanklik sou dit nog aanvaarbaar gewees het as iemand sou sê, “Hierdie is duidelik ’n kameelperd, hoewel ’n kameelperd nie werklik oranje is soos ’n lemoen nie, dis meer ’n donker mosterdkleur.”

’n Paar geslagte later is hierdie prent, soos honderde ander sketse en prente en stukke teks geproduseer deur hierdie gesagsfiguur, verhef tot heilige artefak. Dit volg dat dit teen hierdie tyd ortodoks is om te verwys na ’n kameelperd as oranje – soos ’n lemoen, selfs dat dit nog nooit enige iets anders as oranje was nie. Hoekom? Die prent dui dit so aan – duidelik, vir almal wat oë het om te sien. “Hoe kan enige een dit ontken?” sal gevra word. “Selfs ’n kind kan dit sien. Inderdaad, jy moet glo soos ’n kind.” Om hierdie begrip te bevestig, word honderde volumes teks geproduseer wat die korrekte en enigste aanvaarbare wyse verduidelik hoe die artefak geïnterpreteer moet word.

Kom ons sê nou met die verloop van ’n paar eeue word hierdie religieuse gemeenskap die dominante groep in die samelewing. Nou kan jy in ernstige moeilikheid kom by die owerhede van die dag as jy net daaraan dink dat ’n kameelperd enige iets anders is as Oranje – Soos ’n Lemoen. ’n Individu wat waag om agter sy hand iets te prewel wat klink soos “mosterd” in verwysing na die kameelperd, kan summier voor die hof gedaag word, in die kerker gewerp word, gefolter word, en in gevalle waar vermoed word dat so ’n persoon dalk ander onskuldige siele kon besoedel met die ketterse mosterdkleur besigheid, na die brandstapel gestuur word.

“Jy is verkeerd,” is wat mense eeue later, in meer beskaafde tye sou sê. “’n Kameelperd is oranje, ’n leeu is bruin, gras is helder groen, lug is blou, bokke is ook bruin, en hul oë is geel. Dit is hoe dit is. Dit moet so wees. Dit kan nie anders nie, want die Heilige Prent sê so.”

En enige een wat wil praat van ’n antieke palet wat net tien of vyftien kleure gehad het, en van die oorspronklike prent wat net ’n opregte poging was om ’n voorstelling van ’n werklikheid te maak veels te ryk in kleur, smaak, klank en gevoel vir enige mens met beperkte hulpbronne en vermoëns om ooit 100% akkuraat weer te gee, is eenvoudig te slim vir hul eie beswil.

______________________

Herhaal tot jy werklik verstaan (Die appel is groen)

WOENSDAG 5 OKTOBER 2011

Daar is een patroon wat herhaal in die werkroetine van almal wat gereeld geld maak, van my vrou tot my ouers en my susters, tot by Bill Gates en Warren Buffet, mense wat rondspeel op die aandelemark, selfs professionele sportwedders.

Nou, as ek skryf oor ’n patroon wat herhaal in die aktiwiteite van suksesvolle mense, lyk dit dalk vir die oomblik asof ek ’n meester is van hierdie tipe insigte. Moenie jouself laat flous daardeur nie. In werklikheid is die situasie heel absurd.

Dit is soos iemand wat sê: “Die appel is groen.” Dan sê jy: “Ek weet. Die appel is groen.” Dan klap die ou jou. Terwyl jy nog jou sinne bymekaar maak, sê hy weer: “Die appel is groen.” Weer antwoord jy: “Ek weet. Die appel is groen.” Weer klap hy jou. Dié keer voeg hy by: “Jy weet nie regtig nie. Jy dink jy weet, maar jy weet nie. Nie regtig nie.” Dan herhaal hy die sin: “Die appel is groen.” Dié keer is jy ’n bietjie versigtiger, so jy sê dit sagter. “Ja, ek weet: Die appel …” Klap!

So hou dit aan vir ’n hele paar minute. Uiteindelik sê die ou weer: “Jy sê dit, en jy dink jy weet. Maar jy besef nie regtig wat jy sê nie. Die appel … is groen.”

Teen dié tyd is jou wange al rooskleurig geklap, en jy is diep onder die indruk dat die ou sekerlik ’n punt moet beethê. Dan dink jy ’n bietjie oor wat hy sê. Jy dink regtig daaroor. Jy is stil vir ’n hele paar minute, en jy dink. Dan besef jy: “Die fokken appel is groen.”

So was dit met my. Ek bespiegel al vir lank oor hoekom ek nie méér geld maak as die paar rand wat ek elke week verdien deur twee of drie Engelse klasse te gee nie, al probeer ek so hard, al werk ek aan so baie projekte, al het ek al so baie geleer oor so baie onderwerpe, en al het ek al so baie vaardighede aangeleer.

Ek het ook gewonder oor ander mense wat geld maak – die vrou in my lewe, my familie, my vriende … Wat doen húlle dan so reg wat ek verkeerd doen?

Tog weet ek wat die antwoord is. Ek het vanoggend ook geweet, maar dit nie regtig besef tot vanaand nie: Die Groot Geheim. Die Rede Hoekom Ek Nie Die Afgelope Vyf Jaar Méér Geld Gemaak Het Nie. Die Sleutel Tot Sukses.

My vrou gaan op ’n Maandagmiddag na ’n taalsentrum toe, waar sy vir omtrent sewe ure lank klasgee. Dinsdag doen sy dit weer. Woensdag doen sy dit weer. Donderdag en Vrydag weer.

Warren Buffet het nie sy fortuin gemaak met een goeie koop-en-verkoop van aandele dertig of veertig jaar gelede nie. Hy doen dit die heeltyd. Hy herhaal dieselfde ding oor en oor en oor en oor.

Professionele sportwedder Ian Erskine maak nie £50,000 per jaar omdat hy elke nou en dan ’n paar weddenskappe wen nie. Hy analiseer dosyne sokkerwedstryde elke week. Hy plaas dosyne weddenskappe elke maand. Oor en oor en oor. Maand na maand, jaar na jaar.

My ouer suster maak geld deur bestuur toe te pas op maatskappye se finansiële sake. Sy voer nie net een taak uit per jaar nie, sy doen honderde. Oor en oor en oor – dieselfde, of soortgelyke take en bewerkings. Maand in, en maand uit. Jaar na jaar.

HERHALING. VAN IETS WAT WERK. VAN IETS WAT GELD PRODUSEER.

Elke maand wat verbygegaan het sedert Januarie 2006 wat ek nie genoeg geld gemaak nie, of wat ek graag méér geld wou gemaak het, het presies dieselfde patroon sien herhaal: Ek het óf die verkeerde ding gedoen – verkeerde mark, verkeerde metode, verkeerde projek, onwerkbare manier van geld maak, óf, wanneer ek die regte ding gedoen het, het ek nie genoeg daarvan gedoen nie.

Ek het op ’n stadium ’n paar produkte nagevors, resensies daaroor geskryf, en dan die resensies gepubliseer op ’n paar plekke, met my persoonlike skakel onder die teks sodat wanneer iemand daarop kliek en die produk koop, ek ’n kommissie kan verdien daarvoor. Dit het gewerk! Ek het geld gemaak daarmee. Maar ek het dit net gedoen met ses of sewe produkte! En ek het die resensies net gepubliseer op ’n paar plekke! Ek moes sewentig, of honderd resensies geskryf het! Ek moes die resensies op tien, vyftien plekke gepubliseer het! Drie of vier skakels na ’n webwerf met resensies op? Dit moes drie honderd skakels gewees het! En die volgende jaar moes ek nog ’n honderd, of twee honderd resensies gedoen het, en ook dít gepubliseer het op twintig, dertig plekke.

Ek het al geld gemaak deur bundels met sogenaamde “private label” artikels beskikbaar te stel – artikels wat ander mense kan verander en kan publiseer onder hulle eie name. Hoeveel bundels het ek beskikbaar gestel? Tien of twaalf. Dit moes twee honderd … nee, vyf honderd bundels gewees het! Die een of twee verkope wat ek wel gekry het met ’n dosyn bundels sou dan herhaal het – sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale, sale

Ek het al geld gemaak deur “private label” artikels te herskryf sodat dit ’n bietjie meer oorspronklik is. Oukei, dit was hoogs vervelig, maar ek het baie vinnig geld gemaak daarmee! Kan ek ontken dat ek meer en meer geld sou gemaak het indien ek dit herhaal het, en dan weer, en weer, en weer, en weer en weer en weer?

Ek het ook al geld gemaak deur webwerwe vir mense te skep. Hoeveel webwerwe? Twee of drie. Twee of drie? Dit moes vyftig of sestig gewees het! En die volgende jaar honderd! “Jim Buyer just sent you money …” sou die boodskap van PayPal gelees het. Dan nog een. Dan nog een. Dan nog een. En nog een. Nog een. Nog een. Nog een. Nog een.

Ek het ’n paar maande gelede, nadat ek in ’n PDF gelees het hoe om dit te doen, ’n domeinnaam verkoop wat ek gehad het. Presies soos die e-boek verduidelik het. Hoeveel domeinname het verkoop? Een. Hoeveel het ek op daai manier probeer verkoop? Twee of drie.

Herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal, herhaal.

Ek is nie besig met die verkeerde projekte op die oomblik nie. Wat ek doen, kan beter gedoen word, en verbeteringe sal nog aangebring word. Maar wat ek doen, is heeltemal goed genoeg om geld te maak. Ek doen net te min daarvan.

HERHAAL. NOG. WEER. NOG. HERHAAL. NOG TIEN. NOG VYFTIG. NOG VYF. WEER. HERHAAL. NOG TIEN. NOG VYF. NOG VYFTIG.

* * *

Waaroor gaan uitkontraktering? Dit gaan daaroor om meer en meer en meer gedoen te kry van iets wat werk.

* * *

“Ek maak nie geld hiermee nie.”

“Maak wat jy doen, sin? Maak ander mense geld daarmee?”

“Dit maak sin, en ander mense maak geld daarmee.”

“Dan is dit omdat jy nie genoeg daarvan doen nie. Of as jy iets verkoop, herhaal jy iets nie genoeg kere om dit onder genoeg mense se aandag te bring nie. Óf jy doen iets verkeerd, óf as wat jy doen, die regte ding is, doen jy nie genoeg daarvan nie.”

DINSDAG 18 OKTOBER 2011

Idees en inisiatief kan nie uitgekontrakteer word nie. Omtrent al die res kan wel. Don’t sweat the small stuff. Moenie onnodig sweet vir werk wat jy ander mense kan betaal om te doen nie.

______________________