BRIEWE AAN A.

Deur 19 - 08 - 1999

[A. is 'n ou vriendin van my, die foto in my beursie wat in 1991 gemaak het dat die R170 binne-in meer as voldoende gevoel het. Hoewel ons ietwat onkonvensionele verhouding geeïndig het kort na my aankoms in Stellenbosch, het ons steeds deur die jare kontak behou. Sy was teen die tyd van hierdie skrywe reeds getroud, en was werksaam by 'n maatskappy in Kaapstad. Die e-posse wat ek aan haar gestuur het, het 'n wye spektrum van onderwerpe gedek.]

———————

Blameer Dit Op Iemand; Die Piketberg-Blues

19 Augustus 1999

“Die verkeer maak my mal! Die kinders maak my mal! Die straatkat en haar broeisel wat hulleself tuis gemaak het in my studeerkamer maak my mal! Die vrouens… nou ja, vrouens is mos maar daar om ‘n man mal te maak, dan nie?

Ek het gelukkig nou ‘n uur-en-’n-half af voor my laaste klas van die dag, so ek kan ‘n bietjie wegkom van hierdie conspiracy teen my sanity. Ek is net verskriklik vaak op die oomblik…”

[Etlike ure na my verwagte terugkeer na die rekenaar]

“Blameer dit op die Mormone! Ek het halfnege by die huis gekom, en toe kort daarna daag die ‘elders’ weer op (soos hulle gedoen het die afgelope paar Donderdagaande) om my, teen hulle beter oordeel, te oortuig van die ‘waarhede’ wat hulle aanhang. Maar godsdiens is die laaste ding wat ek nou met jou wil bespreek, so kom ons gaan nie in op die detail nie.

Ek is wel uitgeput op die oomblik, en ek het dit so aan hulle probeer verduidelik. Ook dat ek ietwat opgewerk raak oor die onderwerp as ek gedwing word om daaroor te praat, maar dat ek die res van die tyd vrede in my hart het. Hulle kon dit ook eers nie verstaan toe ek hulle uitnodiging van die hand wys om hulle boek te lees nie. Hulle het dan gedink ek het soveel vrae, en volgens hulle is al die antwoorde in hulle boek! Toe kondig ek skielik tot hulle groot verbasing aan, na weke se vrae wat ek aan hulle gevra het – en hulle nie kon beantwoord nie; ek het later begin om antwoorde vir hulle uit te dink – dat ek inderdaad nie enige vrae het nie. Ook dat ek al die antwoorde het op al die vrae waarmee ek hulle so sonder genade gepeper het vir weke lank. Ons kom toe beleefd ooreen dat hulle my nie weer sal besoek nie.

Genoeg daarvan. Ek is terug agter die rekenaar, maar ek gaan nou eers ‘n dampie slaan buite op die stoep. Is jy nog met my?”

***

“Ek het die Piketberg-blues. Gisteraand toe droom ek van ‘n meisie wat ek geken het in Piketberg – ek praat nou van so 1983 se kant. Sedert ons destyds uit die Kaap weg is, was hierdie meisie die personifikasie van my jeug in die Swartland.

Die storie was dat sy op ‘n stadium getroud was, dat haar man iets oorgekom het, dat sy later ‘n verhouding met ‘n ander man gehad het en ‘n kind by hom het. Maar dié verhouding het ook al lankal geëindig.

Die bottomline van die droom was ek ontmoet haar toe weer by ander mense, en dit word duidelik gemaak dat sy ‘n man soek. Ek dog toe, ‘Well, she does have a lot of appeal.’

Vandat ek opgestaan het vanoggend, het ek dus vir die soveelste keer in my lewe die Piketberg-blues. Die berg het sulke lang skaduwees oor die dorp gegooi, hier teen laatmiddag as ek van die rugby-oefening af gekom het… jy praat van veilig voel? Dít was ‘n tyd en plek waar ek veilig gevoel het. Snaaks dat ek jou nooit daarvan vertel het nie…”

Nie Eers Tyd Om Hoed Te Dra Nie; Nog 18 Maande; Dis Wat Ek Wil Hê; Drome, En Die Kollega Met Die Tone

6 – 10 September 1999

“Hier gaan dit… vreemd. Ek werk nóg meer as laas toe ek ‘n opmerking gemaak het daaroor. Die werk bly net instroom, en ek bly dit net indruk in ‘n skedule wat reeds vroeër oorlaai was. Ek dink ek het die fyn lyn oorgesteek. Ek leef nie exactly wat beskryf kan word as ‘n gebalanseerde lewe op die oomblik nie.
Nie dat ek kla nie – elke uur in ‘n 10-uur dag is immers omtrent R100 kontant werd. Die probleem is dat ek verveeld geraak het met shopping doen; was nooit eintlik ‘n wafferse consumer nie, maar ek het altyd gedink dit was maar net omdat ek nooit geld gehad het nie.

Groete vir eers. Ek moet gaan Coke en smokes koop, dan ‘n bad vat en gaan slaap. Môre het alreeds begin iewers, en as ek nie op my hoede is nie, vang dit my onverhoeds. En ek dra nie eens meer hoede nie.”

***

“Die sad ding is dat ek nie tyd het om in enige iemand se geselskap deur te bring nie. Ek het myself al oortuig dat [al die werk] nie eers meer oor die geld gaan nie; ek doen dit net omdat dit daar is om te doen. Moet egter nie vir ‘n oomblik glo dat ek uit die oog verloor watse verskil geld maak aan ‘n mens se lewe nie. Dis nie net om ‘n consumer te kan wees nie, dis die feit dat ‘n mens ‘n ander uitkyk op die lewe kry.

Ek het nou weer die afgelope paar dae, soort van as ‘n ritueel, gedink aan teruggaan Suid-Afrika toe. Ek het gereken ek kan teen einde Februarie so R35000 gespaar hê, maar ek het nog nie ‘n bevredigende plan geformuleer oor wat om dán te doen nie. Die enigste manier om ‘n behoorlike salaris in Suid-Afrika te verdien is deur iets te doen wat ek nie wil doen nie. En as ek doen wat ek wíl doen, sal ek basically altyd broke wees.

So ek dink ek gaan vir ten minste nog 18 maande hier bly…”

***

“Wat ek wil doen in Suid-Afrika? Ek sal dit geniet om te skryf, en my formele kennis uit te brei. Die enigste opsie is om lank genoeg hier te bly om al my studieskuld af te betaal (so teen volgende Junie), en dan genoeg geld terug te vat om te settle. Ek is nie geïnteresseerd daarin om te leef op krediet nie, en ek het nie die temperament om vir iemand te werk soos die vrou by julle kantoor nie.

Ek is ‘n free spirit. Ek raak neuroties as ek bevele moet uitvoer. Soos jy sekerlik verstaan is ‘n maatskappy omgewing nie geskik om sekere tipe mense te akkomodeer nie. En ek fel geen oordeel oor mense wat wél vir maatskappye werk nie; ek het lankal daai argumente laat vaar as oppervlakkig en stereotiperend. (Ek het selfs vrede gemaak met die idee van die middelklas. Ek dink Aristoteles moet die krediet kry daarvoor.)

So jy kan sien dat geld, en genoeg daarvan, die enigste oplossing is. Enige iemand wat ooit arm was weet dit maar te goed.

Vrede, liefde, ‘n gevoel dat ‘n mens iewers hoort, dat jy veilig is, dat jy iemand het sonder wie jy nie kan leef nie (en wie jy weet jou net so nodig het), en om jou eie potensiaal te verwesenlik. Dis wat ek wil hê. O ja, en genoeg geld. Hegel het gesê, ‘If a man has found a work that he enjoys, and a woman that loves him, he has squared his account with life.’

[...]”

[As bogenoemde teks maar net meer waarhede bevat het. “Volgende Junie” is intussen uitgestel tot volgende dekade, en ek fel soms nog steeds oordeel oor mense wat vir maatskappye werk (en my argumente is soms steeds “oppervlakkig en stereotiperend”). En ek het miskien vrede gemaak met die “idee van die middelklas”, maar vrede met die middelklas sou nog jare vat.]

***

“Sy werk saam met my in die oggende. Ek het eers gedink sy’s getroud, maar sy lig my toe in dat sy nie is nie. Ons het verlede week al gepraat van koffie drink een of ander tyd, en toe vanoggend vra ek haar of sy besig is hierdie naweek. Sy stel toe voor dat ons Sondag gaan koffie drink.

Sy’s heelwat korter as ek, en sy’t baie oulike tone. En… wel, jy’t seker nie nodig om al die detail te weet nie, of hoe? Ons sal nou maar sien hoe dit gaan. Die nuwe Cruise/Kidman movie begin vandag hier te wys, maar dit sal seker te obvious wees as ek, net so terloops, voorstel dat ons dít moet gaan sien. In elk geval, ek werk aan ander planne op die oomblik.

Ek het gisteraand gedroom die buurvrou skop my uit die woonstelle uit omdat my musiek te hard is, maar nie voor sy my herenig het met my koffiemaker nie. Op pad na die dak waar die koffiemaker was, gaan ons toe deur ‘n woonstel wat die hele boonste verdieping van die blok beslaan; net so een moerse groot vertrek. Die plafon was omtrent 30 meter hoog.

Sneeu in Stellenbosch? Imagine dit.”

Dis ‘n Struggle!

14 September 1999

“[...]

Jou hele wêreld is verkeerd. Dis wat ek altyd vir mense probeer vertel, maar dan dink hulle ek maak ‘n grap. Ek verstaan wat mense sê daaroor om in beheer te wees, en om aan die ander kant van ‘n tonnel uit te kruip – vol kneusplekke en modder op jou handpalms en kniekoppe, maar heel. Ek het altyd gedink my strewe moet wees om ‘n balans te handhaaf, te alle tye (die ekwilibrium moes tog om hemelsnaam net nie versteur word nie).

Toe, ‘n paar weke gelede tref dit my soos ‘n vars tert in die gesig: DIS ‘N STRUGGLE! Alles in die lewe, van genetiese ontwikkeling, die natuur, teëspoed, geluk, tot persoonlike verhoudings, alles het te make met die strewe om voort te gaan. Om die stryd te oorleef, om nie te verdwyn in die vergetelheid nie.

Dit is hoe ek myself motiveer. Dis wat vir my sin maak. Dis ‘n gedagte, ‘n idee waaroor elke mens moet besin. Dit is kompleks, en ongelooflik eenvoudig: Gaan jy vorentoe, staan jy stil, of is jy besig om by die dag meer agteruit te gaan? Dis wat elke mens voortdurend vir hom- of haarself afvra. En dis nie ‘n vraag wat noodwendig op ‘n bewustelike vlak gevra word nie. As jy stilstaan of agteruitgaan, is jy meeste van die tyd intens bewus daarvan. Hierdie bewussyn manifesteer op talle wyses, soos die organisme desperaat probeer om die vergetelheid vry te spring wat dreig om almal in te trek.

Hoekom skryf ek hierdie dinge vir jou? Ek skryf gewoonlik ter wille van my eie opvoeding en vermaak, maar so nou en dan mag iemand anders dalk waarde put daaruit…

Om terug te kom by my vorige punt, as ‘n mens besef jy’s besig om agteruit te gaan, om dan freneties te probeer om kosmetiese verstellings te maak sonder om die groter prentjie raak te sien, gaan nie jou saak bevorder nie. Dit is waar dat om enige iets te doen is soms beter as om niks te doen nie, maar as ‘n mens oortuig is daarvan dat iets aan jou lewe verander moet word, is my idee altyd dat jy stil moet sit vir ‘n wyle om ‘n bietjie voorraad te neem; om die zoomlens so wyd as moontlik oop te draai, en dan aksie te neem.

Is jy nog met my? Ek wens soms ek kan myself langs meer konvensionele lyne uitdruk, maar dan is dit ook so dat ek altyd – amper asof ek dit nie kan verhelp nie – verder wil kyk as wat vanselfsprekend is, asof ek die raaisel agter die motief probeer uitrafel. Miskien as dit nie so was nie… wel, dan was ek dalk teen dié tyd al gelukkig getroud met twee honde en ‘n grassnyer. Maar nou ja, somebody’s gotta do the dirty job.

[...]”

Oor Die Aardbewing, September 1999

21 September 1999

“Ja ek is OK, net so ‘n bietjie dronk in die kop. Ek het nét in die bed geklim, toe voel ek hoe my binneste roer. Ek het gereken dis een van twee dinge: ‘n hartaanval, of ‘n aardbewing.

Dit was nogal ietwat scary. Dit het gevoel asof ‘n baie sterk wind waai, maar die gordyn het net effens beweeg. Die mure, en derhalwe die hele woonstel, het geskud. Ek het maar op die punt van die bed gesit en gewag vir die ride om oor te gaan, toe my ma-hulle gebel om te sê ek het nou net my eerste aardbewing oorleef.

Ek was nog besig om met my ma te praat toe die vloer weer begin roer. Dis nogal ontstellend as die sitkamer waarin jy soveel ure al gespandeer het, optree asof hy skielik ‘n skip is. My ma het dit natuurlik nie amusant gevind nie. Ek sê toe vir haar sy moenie bekommerd wees nie, dis nie so erg nie. Dit was eers toe [L.], en direk daarna my suster, my drie ure later bel om te vra of ek OK is, wat ek begin besef het dat die bigger picture nogal skrikwekkend is.

Om alles te kroon, vanmiddag toe ek in ‘n klas staan (op die derde verdieping), toe’s daar weer so ‘n roering. Van toe af voel ek maar dronkerig. My woonstel is gelukkig op die grondvloer. Ek het met ‘n vrou gesels wat op die sestiende verdieping van ‘n woonstelgebou bly, en sy sê die meubels het geskuif, en van die vensters het gebreek.

[...]

Anyways, dankie vir die besorgdheid.”

Hierdie inskrywing dateer: 19 - 08 - 1999 om 06:39 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.