“Brand Smit” en ʼn beter lewe

DINSDAG 4 JULIE 2006

As iemand op hierdie oomblik vir my moet vra, “The whole truth, nothing but the truth, hoe gaan dit?” wat sal ek antwoord?

As ek sê dit gaan goed, sal dit ’n positiewe antwoord wees wat ekself sal waardeer. Die waarheid is dat ek sekere dinge sal ignoreer met so ’n stelling: Ek moet redelik dringend by ’n tandarts uitkom; my fiets mag dalk nog een keer die kafee haal, maar hy sal dit heel waarskynlik nie terug maak nie; en ek het maande laas genoeg geld gehad om te spandeer op genotvolle aktiwiteite soos om by ʼn behoorlike restaurant te gaan eet.

Aan die ander kant, as ek sê dit gaan sleg, sal dit ’n uiters negatiewe stelling wees wat een belangrike ding sal ignoreer: Ek het ’n maat gevind, ’n vrou wat my liefhet, wie ek bemin meer as enige vrou voor haar, met wie ek alreeds baie goeie tye gedeel het, en met wie ek die res van my dae op aarde wil spandeer. In my boek is die teenwoordigheid van so ’n persoon teenstrydig met ’n algemene stelling dat dit “sleg” gaan.

DONDERDAG 6 JULIE 2006

“En so kom ons aan die einde van nog ’n dag in die lewe van Brand Smit. Vandag was die mees onlangse in ’n reeks van duisende dae in hierdie man se lewe, sommige soortgelyk aan vandag, sommige veel beter, ander – veel slegter.”

DINSDAG 18 JULIE 2006

Snaaks hoe dit wil voorkom asof my brein oortyd werk as ek effens koorsig is. My berekeninge blyk dan ook altyd dieselfde te wees: Ek gee voor asof die lewe dit werd is om te leef, want om die waarheid in die gesig te staar, sal eenvoudig te veel wees om te hanteer.

My nugter opinie oor hierdie sogenaamde berekening is eenvoudig: te hel daarmee. Stry daarteen wanneer jy gesond is, en stry daarteen wanneer jy siek en koorsagtig is.

As ons so ʼn pessimistiese siening aanvaar as die somtotaal van ons bewerkings, dan is ons slagoffers van kulkuns. Die hand was vinniger as die oog. Ons het nie goed genoeg gekyk nie, nie fyn genoeg opgelet nie, en die resultaat is dat ons iets gemis het.

DINSDAG 25 JULIE 2006

Jy kan ʼn verskil maak in mense se lewens – spesifiek in die lewens van mense wat sukkel om kop bo water te hou – deur sekere aksies te onderneem, sonder om fisies teenwoordig te wees in ʼn bepaalde gemeenskap.

DONDERDAG 27 JULIE 2006

Ek het nodig om te glo aan ’n beter lewe. Hierdie geloof moet gegrond wees in realiteit. Vir die geloof om gegrond te wees in realiteit, moet ek werk daaraan om hierdie realiteit werklik te maak.

Dus, as ek nie werk nie, ondermyn ek die poging om my geloof te grond in realiteit. As my geloof nie gegrond is in realiteit nie, kan ek nie daaraan vashou nie. As ek nie hierdie geloof het om aan vas te hou nie, val ek.

Dit is hoe dit is. My werk – skryfwerk, en ander arbeid – is my religie, in die mees praktiese sin. Ek is die pous, die hoë priester en die predikant van my eie religie. Werk is die rituele wat bevestig dat my geloof meer is as net fantasie.

SATERDAG 29 JULIE 2006

Enkele moontlikhede:

a) Daar is ’n vooraf opgestelde plan en doel vir my bestaan – wat beteken ieder en elke menslike lewe van die afgelope 30 000-plus jare moes haarfyn beplan word om (onder andere) “Brand Smit” te produseer. Dit beteken niks kon aan toeval oorgelaat word nie, en geen faktor wat alles in die wiele kon ry, soos vrye wil, kon enigsins toegelaat word nie. Wat beteken niemand is skuldig aan enige aksies wat hulle pleeg wat nie “goed” is nie, want almal speel net hul rolle. (’n Sogenaamde krimineel is derhalwe net so skuldig aan sy of haar misdaad as wat die akteur Anthony Hopkins skuldig is aan moord in die film, Silence of the lambs.)

b) Daar is geen vooraf opgestelde plan nie, maar dit is wel moontlik dat ʼn plan en doel opgestel is na my geboorte, in ag genome bekende feite oor my bestaan (agtergrond, etnisiteit, taal, ensovoorts) en statistiese moontlikhede.

c) Vrye wil, wat beteken ekself definieer die doel en rede vir my bestaan, en streef dit na so goed as wat ek kan, volgens my vermoëns en diepte van my oortuigings.

(Ek het nie die nota doelbewus afgestuur op die “vrye wil” moontlikheid nie; dit was eenvoudig die derde moontlikheid. Daar mag ook ander moontlikhede wees.)

______________________