Bou ’n wêreldbeeld – werk wat moontlik maak

DONDERDAG 22 DESEMBER 2005

Verskeie gedagtes oor 2006 (en die res van my toekoms) kom neer op een beginsel: ’n Mens kan jou verbeelding en jou intellek inspan om ’n beter lewe te bewerkstellig.

VRYDAG 23 DESEMBER 2005

My geheel het twaalf, dertien jaar gelede begin disintegreer.* Sedertdien het ek hard gewerk daaraan om weer die dele bymekaar te sit op so ’n wyse dat ek kan terugstaan en kan sê: “Dis goed. Dit werk. Ek verstaan … nie alles nie, maar ek verstaan genoeg om te kan funksioneer.”

* Christelike wêreldbeeld: elkeen en alles het ’n plek, ’n rol, ’n doel, ’n storie, ’n waarde gehad. Hierdie een sê dit? Dis omdat hy X is. Daai een sê dat? G’n wonder nie. Sy’s mos …

Na wat vir my letterlik ’n leeftyd was wat ek my lewe ingerig en geleef het volgens hierdie wêreldbeeld, het die verduidelikings en antwoorde eenvoudig al hoe dunner geraak, en het ek al hoe meer die hand van die mens herken in die ontwikkeling daarvan.

SATERDAG 24 DESEMBER 2005

Op pad terug van die Carrefour af, besef ek: dis nou presies tien jaar sedert die Kersfees van macaroni gekook in ’n ketel, goedkoop aanmaak kaassous van die kafee, en ’n twee-liter bottel aanmaak koeldrank – o ja, en ’n buisie knoffelpolonie.

Die klim van daai punt af was hard. En hoewel die kruin nog in die verte wink, is ek veel, veel nader.

MAANDAG 26 DESEMBER 2005

12:20

Die speelveld kan nooit gelyk gemaak word vir almal nie. Die stryd moet wees om dit gelyker te maak as wat dit nou is.

17:47

Jare gelede het ek gevra: Hoe kan ek my eie belangstellings volg en my eie agenda nastreef, en steeds aan die lewe bly, ’n woonplek bekostig, rekeninge betaal, ensovoorts. My eerste antwoord was eenvoudig: Jy word ryk. Dan koop jy ’n huis, meubels, ’n TV en ’n rekenaar en ’n stoof en ’n wasmasjien en ’n yskas, en jy werk rustig aan dit waaraan jy wil werk. Later het ek gereken jy’t ’n ambag nodig, iets wat jy kan doen waarvoor daar ’n mark is, waarmee jy dan ’n inkomste kan bewerkstellig sonder om jou belangrikste werk te veel te ondermyn.

Ek het vanmiddag gedink aan ’n ander moontlikheid: undemanding work. Jy kan ook jou eie agenda nastreef deur geld te verdien in ’n werk wat nie te veeleisend is nie, wat nie te veel van jou tyd opeis nie, en wat jy kan doen terwyl jou aandag steeds min of meer by jou agenda werk is – soos ek wat hierdie nota skryf, en die gedagte gehad het, terwyl ek geld verdien deur ’n Engelse klas aan te bied in Taiwan.

DINSDAG 27 DESEMBER 2005

Binne elke mens is die saad van lewe, en elke mens dra die saad van dood. Elke mens kan ’n agent van lewe wees. Net so is elke mens ’n potensiële agent van die dood.

______________________