Boek Twee: INLEIDING

Deur 06 - 01 - 2004

Deel Een: Die Vaste Betrekking

Die gemeenskap waarin ek groot geword het – dié van die middelklas Afrikaner – het sedert die Groot Depressie ‘n hoeksteen van die moderne wêreld aangeneem as dogma: die konsep van die Vaste Betrekking. Die idee was om klaar te maak met hoërskool (nog ‘n teken van vooruitgang, iets wat vorige geslagte nie altyd as vanselfsprekend aanvaar het nie), en dan deur tersiêre studie jouself te kwalifiseer vir ‘n beroep. Na die suksesvolle afhandeling van hierdie opleidingsfase – gewoonlik as die jong volwassene in sy of haar vroeë twintigs is – dan dikteer die reëlboek dat die jong gekwalifiseerde moet soek vir dit wat sy volwasse lewe ‘n vaste fondasie sal gee.

Die vaste betrekking is dus die ideale eindresultaat van ‘n paar jare se tersiêre studie. Die vaste betrekking is wat aan die jong volwasse man ‘n stabiele inkomste sal gee, en wat hom in staat sal stel om ‘n vrou die hand te vra en ‘n lewe saam met haar te begin. (Aan die enkellopende man of vrou sal dit ten minste finansiële onafhanklikheid gee.) Die vaste betrekking, met alles wat daarmee gepaard gaan – status in die gemeenskap, jaarlikse verhogings, bevordering, en ander byvoordele soos ‘n mediese fonds – sal die jong getroude paartjie verder in staat stel om ‘n gesin te begin, en ‘n goeie, stabiele lewe te verseker vir hulleself en hulle onmiddellike nageslag.

Natuurlik is ‘n vaste betrekking nie vir almal wat dit begeer, beskore nie. Ekonomiese realiteit, en ander faktore maak dit soms onmoontlik vir almal om matriek te behaal, wat nog te sê van om ‘n tersiêre kwalifikasie te bekom. Die idee van die vaste betrekking bly egter die ideaal, selfs in hierdie gevalle.

Benewens dié wat daarin slaag om ‘n vaste betrekking te bekom, is daar ook jong volwassenes wat van vroeg af talent vertoon as entrepreneurs. Selfs al sou ‘n jong man se ouers graag wou hê dat hy een of ander tersiêre kwalifikasie moes behaal – miskien om op “terug te val” – sal hy sy vryheid van die konvensionele pad kan koop met harde kontant wat gegenereer word uit sy eie besigheid. Laasgenoemde mag enige iets wees van professionele tuindienste, tot ‘n reeks pizza restaurante, of die maak van tuinstoele en -tafels. Solank as wat sy entrepreneursprojekte aan hom ‘n gereelde inkomste gee, en hy derhalwe kan bewys dat hy nie net vir homself nie, maar ook op die langtermyn vir die welsyn van ‘n gesin (mede-) verantwoordelikheid kan aanvaar, sal wat hy doen die seëninge wegdra van sy familie.

Daar is ook ‘n derde geval (buiten al die ander opsies soos kriminele aktiwiteite), en dit is ‘n beroepskeuse wat óf vanweë talent en persoonlikheid, óf godsdienstige oortuigings die jong volwassene dryf daartoe om sy dae te vul met werk wat nie altyd ‘n inkomste genereer nie. Een voorbeeld wat genoem kan word is die musikant wat net genoeg geld verdien om vir ‘n kamer in ‘n losieshuis te betaal, en wat gereeld in argumente betrokke raak met sy familie omdat hy nooit vir hulle kan verduidelik hoe hy eendag ‘n gesin gaan onderhou nie. ‘n Ander voorbeeld is die sendeling, wat teen karige betaling die Evangelie verkondig in vreemde en soms eksotiese lande. Laasgenoemde kan ten minste nog hoop op ‘n bietjie simpatie as hy met ‘n ou bakkie rondry, en nie geld het om by duur restaurante te eet nie. Hy kan sy finansiële situasie regverdig omdat wat hy doen, gesien word as selfopoffering vir ‘n Goeie Saak.

Deel Twee: Die Skrywer, Geloof en die Vaste Betrekking

Dit bring ons by die skrywer van hierdie literêre projek. ‘n Musikant sou hy graag wou wees, maar die enkele musiekinstrumente wat hy besit vergaar vinniger stof as ‘n skrynwerker se tafel. Entrepreneurswese, aan die ander kant, is iets wat hy altyd geassosieer het met ‘n Saterdagmiddag in 1985 buite die destydse Loftus Versfeld, met hom wat besig was om worsrolletjies te verkoop vir die koffers van die Christelike Jeugvereniging. Sy opinie van hierdie alternatief tot ‘n vaste betrekking het egter in die laaste paar jare meer gesofistikeerd geraak, en hy’t selfs boeke en ander leesmateriaal begin aanskaf om homself uiteindelik suksesvol te kan voordoen as ‘n smous van enige iets wat ‘n miljoen kan maak.

Dit moet ook genoem word dat die skrywer in sy jeug sekere godsdienstige oortuigings baie ernstig opgeneem het. (Om watter ander rede sou hy worsrolletjies wou verkwansel op ‘n middag wat meeste ander mense rugby wou kyk?) Sekere persoonlikheidstrekke, en sy erns met kerklike oortuigings het sy familie laat glo dat hy moontlik nie bestem was vir ‘n vaste betrekking in die wêreld van geld en besigheid nie. ‘n Predikant miskien, of ‘n sendeling, is daar gefluister.

Helaas, geld vir die luuksheid van ses jaar se teologiese studie om uiteindelik ‘n vaste betrekking in die Kerk te aanvaar, was daar nie. En so het die skrywer die tweede beste opsie uitgeoefen – hy’t onderwys gaan studeer.

Sy belangstelling in teologie en sy erns met godsdienstige oortuigings was egter nooit oorskadu deur die realiteite van die grootmenswêreld nie. Toe hy vakke moes kies vir sy Baccalaureus graad in die kunste, het hy Bybelkunde gekies eerder as ‘n vak wat hom ‘n beter kans sou gee op ‘n vaste betrekking in die onderwys. Vir die volgende paar jare was sy belangstelling toenemend gefokus op teologiese studie – dat hy eintlik besig was om onderwys te studeer was net van akademiese waarde.

Teen die tyd wat hy uiteindelik by die Diploma vir Hoër Onderwys uitgekom het, het sy godsdienstige oortuigings egter ‘n transformasie ondergaan. Hy het in groot opregtheid vrae begin vra wat sy ouers, en enige skoolhoof, sou verkies het hy eerder nie moes uiter nie. Oor die bestaan van die God aan wie hy voorheen sy lewe wou toewy, was hy nou onseker. Teen die formele dogma van die Kerk waarin hy gedoop en aangeneem is, het hy lang argumente afgesteek (wat die gedagte op een stadium by ‘n familielid geïnspireer het dat hy moontlik die Antichris is). Hy het nietemin voortgegaan om die “ware doel en betekenis” van sy eie lewe te ondersoek. In die proses het hy daarin geslaag om in volslae onsekerheid te verval oor wat dit beteken om ‘n mens te wees. Hy het ook begin om aantekeninge te maak oor sy opinies, en oor die vrae wat hom gepla het (soms in rowwe poësie; ander tye in lang, persoonlike stukke).

Die verhaal van ons skrywer se lewe het hierdie rampspoedige fase getref presies op die tyd wat hy veronderstel was om sy skoene te poets vir sy eerste poging tot ‘n vaste betrekking. Ernstige student soos die skrywer was, het hy op hierdie stadium reeds twee grade verwerf (benewens die Diploma in Hoër Onderwys). Dit sou dus sin maak vir hom om, soos dit ‘n persoon betaam wat oor sulke kwalifikasies beskik, te probeer om ‘n onderwyspos êrens los te slaan. Nie noodwendige ‘n vaste pos nie, maar enige iets tydelik sou hom op die regte spoor plaas. As hy gelukkig was, en hy kon homself sover bring om ‘n toegewyde onderwyser te wees, kon hy moontlik binne ‘n dekade die mees gesogte prys toeëien wat enige jong onderwyser kan begeer: ‘n vaste betrekking.

Wat het ons jong, pas gekwalifiseerde onderwyser-skrywer gedoen? Het hy, soos sy maats in die Fakulteit Onderwys, die betrekkingsbulletin met skrefiesoë gefynkam? Het hy navraag gedoen by plaaslike skole? Het hy ten minste ‘n Curriculum Vitae opgestel, om aan enige skoolhoof wat daarna kyk ‘n idee te gee van watse lojale en bekwame onderwyser hy kan wees? Nee. Hy’t twee dinge gedoen wat hy gereken het sal verseker dat geen respektabele skoolhoof twee keer na hom sal kyk nie: Hy’t sy hare laat groei, en ‘n gat in sy een oorlel laat skiet waarin hy ‘n silwer son gedruk het. En dit was die einde van sy onmiddellike kanse op ‘n vaste betrekking…

Geld moes egter verdien word, dit sou hy geweet het selfs al het sy ouers en sy meer verantwoordelike ouer suster nooit die onderwerp aangeroer nie. “Wat gaan jy doen met jou lewe?”, “Wat is jou planne?” en “Hoe beplan jy om geld te verdien?” was vrae wat niemand werklik nodig gehad het om hom te vra nie. Tesame met al die vrae oor die bestaan van God, die doel en betekenis van sy lewe, en die vraag na wát presies die mens is, moes hy ook die vraag kontempleer oor waar in die arbeidsmark hy ‘n begin gaan maak wat moontlik, na die verloop van tyd, mag lei tot ‘n stabiele, besoldigde posisie. Want behalwe vir die geldaspek, moes hy ten minste probeer om in te pas, miskien ‘n vrou te vind, en – wie weet? – dalk selfs ‘n motorkar aan te skaf wat verder as die naaste dorp kon ry.

Oor die volgende paar jare het die skrywer probeer om ‘n middeweg te vind in plekke soos Korea, Johannesburg en Taiwan. Hoe kon hy al die vrae beantwoord wat hom soos mal demone jaag, en terselfdertyd geld verdien? Hoe kon hy homself verbind aan iets wat aan hom ‘n gereelde inkomste gee, terwyl hy terselfdertyd oortuig kon wees van die feit dat hy nie sy lewe mors in die oënskynlik eindelose stryd om oorlewing, en miskien ‘n greintjie materiële gemak nie?

Die jong seun wat in groot erns gebid, en getrou sy Bybel bestudeer het, het as ‘n jong volwassene afstand gedoen van sy geloof in die dogma van die Kerk. Maar hierdie jong seun het ook ‘n man geword wat steeds oortuig was daarvan dat hy “meer” moes doen met sy lewe as “net” geld maak.

As hy ‘n sendeling geword het vir die Christelike boodskap, kon hy nog ‘n beroep gedoen het op die ondersteuning van ‘n Hoër Hand. Hy kon mooi Bybelversies aangehaal het in sy argumente oor hoekom hy nie ‘n vaste betrekking wil, of kan, aanvaar in ‘n maatskappy wat ingestel is op winsbejag nie. Hy kon aanspraak maak daarop dat hy ‘n Goeie Saak dien, en saam met sy familie bid vir begrip, en finansiële ondersteuning.

Die werklikheid vir die skrywer was egter dat hy ‘n toenemend persoonlike agenda begin dien het. Na ‘n paar jaar het hy nie werklik meer omgegee as mense hom eiesinnig, verwaand en selfsugtig genoem het nie. Hy wou doen wat hý wou doen; basta met die res.

Behalwe dat hy sy familie baie gemis het, en steeds graag die basiese vertroosting van sy eie gesin eendag sou wou geniet, het hy geweet dat sy lewe in selfopgelegde ballingskap in die Verre Ooste hom sekere geleenthede gebied het wat hy nie in sy eie land as vanselfsprekend kon aanvaar nie. Hy kon bekostig om dae en nagte lank die vrae te kontempleer wat hom na al die jare steeds gepla het; hy kon ook met ‘n paar klasse elke dag genoeg kapitaal verdien om aan sy familie (en aan die bank) te wys dat hy die hele geld-verdien-storie ernstig opneem, soos dit ‘n verantwoordelike volwassene betaam.

Hy het egter geweet dat selfopgelegde sosio-ekonomiese ballingskap uit die land van sy geboorte nie eindeloos volhoubaar is nie. Hy moes een of ander tyd terugkeer, ongeag hoeveel vrae onbeantwoord sou bly, en ongeag die implikasies van so ‘n aksie vir sy finansiële en sosiale status.

Hoe meer hy bewus geraak het van sy begeerte om sy eie ballingskap op te hef, hoe meer het hy ook bewus geraak van ‘n waarheid wat amper so groot gevoel het soos die dogma wat hy jare vroeër verloën het. Dit was waar dat hy dit geniet het om te skryf, dat dit ‘n goeie manier was om tred te hou met sy eie gedagtes, en ook dat hy sy eie vrese en ambisies op so ‘n wyse kon verduidelik aan sy familie en enige iemand anders wat moontlik sou belangstel. In die jare sedert hy begin dink het aan homself as ‘n “skrywer” het hy hard probeer om materiaal te produseer wat meer van ‘n kommersiële aard was. Hetsy kortverhale of artikels, hy het geglo dat hy moontlik op so ‘n wyse die kloof tussen sy persoonlike agenda en die ekonomiese realiteite van die moderne wêreld kon oorbrug. Hy kon egter nooit lank genoeg konsentreer op fiktiewe karakters, of relase oor nagmarkte om ‘n beroep as ‘n inkomste-genererende skrywer van die grond af te kry nie. In stede daarvan het hy aanhou opstelle skryf oor sy eie lewe, oor die vrae wat hom pla, die emosionele armsaligheid van sy lewe in “ballingskap” en die potensieël noodlottige implikasies van ‘n ontydige terugkeer na sy geboorteland.

Daar was egter meer agter sy skrywery as net ‘n goeie argument, of ‘n poging om iets na te laat wanneer alles verby is. Hy het toenemend bewus begin raak van sekere oortuigings wat meer en meer geklink het soos dié van ‘n sendeling. Hy het nie net geskryf vir sy eie vermaak, of vir die vermaak van ander nie. Hierdie voormalige kind van die Hervormde Kerk, van Bybelstudies en gebedskringe, was besig om meer te doen as om net sy persoonlike agenda te verwoord – hy was besig om te preek. Dat hy dit gedoen het in sy eie woorde, gekleur in die skadus van sy eie politiek en gemotiveer deur sy eie onsekerhede en vrese, het niks weggevat van die feit dat wat hy skryf, toenemend begin lyk het soos ‘n boodskap nie.

Hy wou nie net vertel van sy eie lewe nie (wat maar bra vervelig was op die beste van tye), en hy wou nie net meer hê dat sy familie moes verstaan hoekom hy nog steeds nie die moontlikheid wil oorweeg van ‘n vaste betrekking in sy eie land nie. Hy wou verkondig wat hy in sy eenvoudige begrip as verkeerd geag het in die moderne wêreld. Hy wou verkondig wat hy geglo het gedoen kon word om die situasie te verbeter. Hy wou preek vir mense wat hy glo nie altyd die beste keuses maak onder die beskikbare moontlikhede nie. En hy wou bekend maak aan ander wat ook wonder – en wonder almal nie aan die einde nie? – dat hy al ‘n bietjie hierdie sake oordink het, en al stem mense nie noodwendig saam met hom nie, dat dit is hoe hy reken dinge staan.

Hierdie kind van ‘n soort-van-middelklas-Afrikaner-familie wou, na vele jare, sy eie visie verkondig van ‘n beter lewe vir almal wat dit begeer.

Het die Skrywer dus, uiteindelik, ‘n Sendeling geword vir ‘n Goeie Saak? Al hoes en proes hy soms in ‘n taal wat nie heeltemal kerklik is nie. Al weet hy nie aldag wie die Baas van die Goeie Saak is nie. Al raak mense helfte van die tyd aan die slaap met sy skryfmateriaal in hulle hande. Al het hy nog steeds nie uitgewerk hoe hy gaan opmaak vir die feit dat hy nie wíl, of kán soek vir ‘n vaste betrekking in die wêreld van maatskappye en besigheid nie. En al mag dit hom twintig jaar vat voordat hy die basiese vreugde en vertroosting van sy eie gesin kan geniet.

Deel Drie: Administrasie

Hierdie is dan, soos die intelligente leser sekerlik afgelei het, die begin van BOEK TWEE. Die hoofprotagonis van die eerste boek is weer aan die woord (en genoeg woorde, soos dit geblyk het, om ‘n tweede boek te regverdig).

Ek het aanvanklik gereken om hierdie tweede boek ‘n afsonderlike entiteit te maak, ‘n fisiese gewig wat saam met die eerste boek gebruik kon word as boekstutte om ‘n paar ligter volumes staande te hou. Toe reken ek, as die eerste boek ooit gepubliseer word, mag verkope dalk nie bemoedigend wees nie. Dit lei toe tot die besef dat ek byvoorbaat seker moet maak dat die helfte van die storie nie ‘n stille dood op my eie rak sal sterf nie.

Hierdie tweede boek hervat die “verhaal” vanaf die eerste deel van Mei 2003, kort nadat ek BOEK EEN afgehandel het. Dit begin met ‘n brief aan ‘n geliefde vriendin, sonder wie se argumente, kritiek en geselskap oor ‘n honderd koppies romerige koffie ek moontlik nie my gesonde verstand sou behou het nie. Daarna volg die materiaal hoofsaaklik in chronologiese volgorde.

Dit moet ook genoem word dat hierdie tweede boek ‘n ander tipe skryfproses as die eerste volume behels het. Teen Mei 2003 was ek deeglik bewus van die feit dat wanneer ek iets skryf, ek die versoeking moontlik nie gaan weerstaan om dit in te sluit by my “projek” nie. Dit het egter nie die integriteit van wat ek geskryf het, beïnvloed nie. Siende dat ek steeds nie seker was (en is) of hierdie hele projek ooit geborg sal word deur ‘n kommersiële uitgewer nie, het ek geweet ek kan maar skryf wat ek wil, en op wyses wat ek ag as mees geskik vir die spesifieke inhoud. Hierdie benadering was ten sterkste aangehelp deur my oortuiging dat die eerlikheid en integriteit van die materiaal veel belangriker is as enige monetêre beloning wat ek ooit daarvoor mag ontvang. Sou hierdie projek dus ooit gepubliseer word (spesifiek deur ‘n kommersiële uitgewer), sal ek kan bevestig dat hierdie teks nie geskryf was op ‘n wyse wat dit meer publiseerbaar sou maak nie. En as dit nooit gepubliseer word nie, dan kan ek net my skouers optrek en verklaar dat ek ten minste gesê het wat ek wou sê.

Net nog ‘n paar laaste opmerkings oor die inhoud, en die potensiële vermaaklikheidswaarde daarvan. Die materiaal is baie selfgesentreerd, dit erken ek. Hierdie boek gaan hoofsaaklik oor een persoon, oor sy werklikheidservaring, en oor hoe hy die lewe sien. Die potensiële relevansie vir jou as leser lê in die feit dat dit jou dalk sal laat wonder oor die keuses wat jy gemaak het in jou eie lewe, of oor keuses wat jy huidiglik kontempleer. Dit is verder my opregte wens dat as jy nie saamstem met van die beweringe en opinies in hierdie boek nie, jy sal poog om die redes daarvoor te verwoord. En as jy wel saamstem, ook goed so (weereens sal dit ideaal wees as jy weet hoekom). Hierdie projek is egter nie ‘n Stephen King-riller, of ‘n Dalene Mathee-epic nie. Maar troos jouself as jy deur die soveelste stuk gegaap het: as die dobbelsteen anders geval het, het jy dalk hierdie boek geskryf.

Brand Smit (Dinsdag, 6 Januarie 2004)

___________

Hierdie inskrywing dateer: 06 - 01 - 2004 om 20:16 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.