Bleekbaard op die Trans-Mongolië

VRYDAG 13 JUNIE 2003

Wat sal ’n Ballingskap-stuk wees as ek dit nie bederf deur een of ander plan wat totaal onuitvoerbaar is nie?

So het ek gedink aan alles wat gesê is die afgelope paar dae en weke, en gereken: Goed, terug sal ek gaan, gewapend met die brokkie fantastiese insig dat ek nie ’n uitnodiging moet verwag na ’n middelklas teeparty nie. Soos ek dit egter reeds vermeld het, is ek nie van plan om weer rond te hang in bediendekamers nie, en as ek geforseer word om saam met mense by ’n uitspattige restaurant te gaan eet, sal ek absoluut daarop aandring om vir my eie knoffelbrood en Black Label te betaal.

Die burokratiese besluite van wanneer en wáár hang af, soos altyd, van die hoeveelheid banknote wat ek sal kan rondwaai op die dag van my terugkeer.

Verder, om ’n armblanke te wees is een ding; om ’n armblanke te wees wat nog steeds studieskuld rondsleep soos soveel sondes van ’n onverantwoordelike jeug, is iets anders. Dis bloot moeilikheid soek, en mens hoef nie eens die dogmas van persoonlike politiek te resiteer ter ondersteuning nie.

Behalwe dus vir hierdie verantwoordelikheid wat enduit gesien moet word, is daar ander sake wat oorweeg moet word. Een hiervan is ouderdom. As ek dan, sê aan die einde van volgende jaar (2004), weer my beddegoed oprol en my bokse pak, sal ek enkele maande ouer as 33 wees. Goed en wel, ’n mens sal beskik oor belangrike insigte oor jou eie lewe. Maar so ’n mens sal dalk in die versoeking wees om te wens hy kon ’n paar jaar gelede al antwoorde op ’n paar belangrike vrae gehad het (onverskoonbaar gierig, ek weet).

Wat ’n mens egter beter sal laat voel as jy die feit in die gesig staar dat jy sestig gaan slaan as jy te lank lê en slaap een middag, is ervarings. Om te weet jy’t nie agt jaar lank in die Verre Ooste gewoon, maar al foto’s wat teen jou yskas pryk, is dié van jou agter jou rekenaar – wat jy self moes geneem het, en dosyne foto’s van hoe jou sitkamer verander het oor die jare nie.

Watse ervarings sou ek graag wou gooi op die skaal wat ouderdom so vieslik eenkant toe laat oorhel?

Om presies te wees, ’n amper 15 000-kilometer treinreis wat sal begin in Hong Kong en sal eindig in Londen. Stede wat op menige reisiger se Where’s Where ere-posisies beklee, sal aangedoen word. Behalwe vir die begin en die einde, is daar plekke soos Guangzhou, Nanjing, Sjanghai, Beijing, Ulaanbatar, Moskou, Warskou, moontlik Praag, Berlyn, Parys, Brussel, Amsterdam – om net ’n paar moontlikhede te noem.

Daar’s die prentjies – wat in jou kop sal bly tot jy eendag seniel is – van uitgestrekte vlaktes, berge, riviere en klein dorpies. Dan is daar die Chinese stede waar rewolusies beslis is, Russiese stede waar rewolusies begin en geëindig het, Oos-Europese stede waar … ’n mens foto’s van jouself voor pragtige ou geboue kan neem, en Wes-Europese stede wat almal ten minste een keer in hul lewens behoort te sien. En aan die einde van hierdie treinreis wag jou ouer suster in Londen met (hopelik) die eerste nuwe geboorteling in die gesin in amper 26 jaar.

Uiteindelik arriveer jy terug in Suid-Afrika met ’n onversorgde baard wat wys dat jy nie nodig gehad het om te skeer vir twee maande nie, en honderde foto’s wat jy in jou bediendekamer kan ophang. Dan kan jy … wag, bediendekamer?!

Noodsaaklik om te noem dat jy weer sal moet teruggaan Taiwan toe om huurgeld bymekaar te gaan maak vir ’n twee slaapkamer woonstel vir wanneer jy dan uiteindelik vir ewig terugkeer na die Republiek van jou Geboorte – en hopelik spaar jy dié keer genoeg geld om, benewens die huur, ook ’n paar luukshede te kan bekostig soos ’n radio, ’n waaier vir die somer, en natuurlik ’n yskas vir die foto’s. Na hierdie hernude periode van noodsaaklike ballingskap is jy al weer ’n jaar of drie ouer, die baard begin al bleek te raak, en hoewel jy al Tang Dinastie poësie in jou slaap sal kan resiteer, sal jy heel moontlik smag daarna om eerder stories te vertel aan jou eie kinders – wat nog nie eens gebore is nie.

Wat my bring by die einde van nog ’n deel van hierdie stuk skryfwerk. Ek moet gaan slaap sodat ek voor middagete kan opstaan om ’n draai te kan maak by die reisagent. Ek is immers ’n man wat oor twee weke teruggaan Suid-Afrika toe – vir drie weke.

______________________