Belangrike gedagtes – waarvan sommige herhaal word

MAANDAG 22 JUNIE 2015

’n Gedagte kom deesdae gereeld by my op dat ons in baie gevalle die regte kennis het, ons weet heelwat dinge wat ons moet weet, maar ons kan dit nie altyd uitdruk in die regte woorde nie. Die resultaat is dat dit wat ons weet, afgestomp raak.

Ek glo dit is een van die redes hoekom mense so positief reageer op skrywers of sangers of sprekers wanneer hulle daarin slaag om “daai ding” in die regte woordeskat uit te druk.

DONDERDAG 2 JULIE 2015

My organiese robotbrein het op ’n stadium die instruksies afgelaai dat ek ten minste agt ure per dag moet werk om my bestaan te kan regverdig aan ander mense, en aan myself.

Die alternatief is dat ek baie geld moet hê want, so het Robotbrein ook verstaan, ryk mense hoef nie hulle bestaan te regverdig nie – net pagters hoef dit te doen, en diensknegte, slawe, en so meer.

VRYDAG 24 JULIE 2015

Sukses?

Ek is 44 jaar oud en ek kan vir my eie aandete betaal.

Niemand kan my beskuldig daarvan dat ek onrealistiese standaarde het nie.

VRYDAG 31 JULIE 2015

Tromgeroffel vir ’n belangrike insig: Mens sê graag, “Maar iemand anders het dit klaar gesê,” of “Iemand anders doen dit klaar.”

Feit is, nie almal het gehoor toe daai ander iemand gesê het wat hulle ook al gesê het nie, of hulle het nog nie daai film gesien nie, of daai boek gelees nie. En selfs mense wat gehoor het wat daai man of vrou gesê het, of wat ’n sekere film gesien het, of ’n sekere boek gelees het, het al vergeet van die liggies wat aangegaan het in hul koppe!

Almal vergeet dinge. Dit, aan die einde van die dag, is hoekom belangrike dinge herhaal moet word.

______________________