BALLINGSKAP NEGE
20 November 2001 (en ‘n paar dae daarna)
Ses jaar het al verloop sedert ek die briljante insig gehad het dat dit nie saak maak hoe ‘n mens geld maak nie; al wat saak maak, is dat jy geld het. Dit was na aanleiding van ‘n kettingbrief wat in ons posbus beland het en wat, as dit kon gewerk het, teoreties vir ‘n mens X-hoeveelheid geld per maand kon gegee het. Die belangrike punt hier was dat ek besef het dat jy nie noodwendig in ‘n besoldigde situasie hoef te wees om elke maand die huur te kan betaal, en van tyd tot tyd ‘n nuwe paar jeans te kan koop nie. Hierdie idee het goed gekorrespondeer met my onwilligheid om in te pas by die konvensionele gang van sake waar jy universiteit toe gaan, na graduering jou CV uitstuur in die groot hoop dat jy spoedig jou lewe as ‘n “grootmens” kan begin, en dan na ‘n jaar of drie trou met die persoon met wie jy op daai stadium seks het. Ek wou voortgaan met die tipe lewe waarvan my sogenaamde studentedae net ‘n voorsmaak was – ‘n lewe gevul met boeke, kennis, laatslaap, biblioteke en tweedehandse boekwinkels, en bowenal, die vryheid om ‘n baard te kan groei al lyk dit hoe sleg.
Ek was 24 toe ek besluit het om Ooste toe te kom. Ek het geweet dit sou my die reg gegee het om vir almal wat wou weet te kon sê dat ek ‘n “Engelse Onderwyser in Korea” is. Ek het ook geweet dat dit beteken dat ek die moontlik onvermydelike punt ‘n bietjie langer kan uitstel wanneer ek my vryheid moet inruil vir konvensionele sekuriteit en ‘n skoon gesig.
En so’t ek my soektog voortgesit na ‘n antwoord op die Groot Vraag: Wat is dit wat hierdie ou wil doen met sy lewe? (Ek wonder hoe dit moet lyk in die Kosmiese Kantoor van die Departement van Universele Antwoorde. Die klerk – wat al die pos beklee sedert sy pa afgetree het in die jaar 976 – skuif op ‘n Maandagoggend agter sy lessenaar in, maak die eerste pos oop, en daar is dit, die tot-vervelens-toe-bekende formulering: “Ek wil net graag aansoek doen tot ‘n antwoord op die vraag van wat ek met my lewe moet doen…”).
In die verloop van die volgende twee jaar het ek met ‘n paar idees vorendag gekom. Ek wou in plekke soos Engeland woon vir ‘n paar maande, of ‘n jaar. Ek wou soos McArthur van die Fillipyne ‘n trompetbeskalde terugkeer maak tot die lieflike universiteitsdorp van Stellenbosch. En ek wou skryf.
Kort voor die einde van my tyd in Korea (Mei 1998), het ek nog twee idees by die lys gevoeg: Ek wou myself toewy aan iets of iemand, en ek wou êrens behoort. Ander idees het ingesluit dat ‘n mens één ding moet hê waarop jy fokus, en dat die helfte van almal se lewens gaan oor die formulering of ontdekking van wat hierdie een ding is; dat my default position dié is van ‘n boemelaar; dat middelklas suburbia my nie gaan insluk as ek per ongeluk my paraatheid vir ‘n oomblik verloor nie; en ook dat mag die groot verskil is tussen mense wat dit uiteindelik maak, en dié wat sneuwel langs die pad.
Terug in Suid-Afrika – waar ek veronderstel was om Toe-Te-Wy-en-te-Behoort – bedink ek toe die hele konsep van Om-’n-Beroep-te-Hê. Ek vind toe, in nie die eerste briljante insig van my lewe nie, dat ek nie noodwendig ‘n probleem het met die idee van ‘n beroep nie. Die probleem was dat die beroep van so ‘n aard moes wees dat ek myself volslae daaraan kan toewy.
Kort daarna koop ek vir my ‘n paar boekies oor skryfwerk by ‘n Hospice-winkel (vir R1 elk), en ek vat my skryfambisies en my vars insig na nuwe hoogtes deur te verklaar dat dít my beroep sal wees – ek sal ‘n skrywer word! Maar meer as net dit, skryfwerk sou my besigheid wees. Ek sou dus besigheidsvernuf en my skryfambisies kombineer. Ek sou nie net skryf wat ék wou nie; ek sou kyk waarvoor daar ‘n mark is, en die tipe materiaal produseer wat publikasies soos tydskrifte nodig het om hulle bladsye mee te vul.
Vyf en ‘n half maande later was ek op ‘n straathoek in ‘n stad in die suide van Taiwan, besig om die konsepte van vryheid en onafhanklikheid te kontempleer. Siende dat briljantheid toe nie meer vir my ‘n nuwe ding was nie, was ek nie verbaas nie toe ek na net vyf minute se staan vorendag kom met die insig dat vryheid en onafhanklikheid vir my, leë ambisies is.
Ek het besef dat die aantrekkingskrag van hierdie twee konsepte fundamenteel te make gehad het met my begeerte om nie skuld te hê nie – om nie meer verplig te wees om ‘n finansiële skuldlas soos ‘n verrottende karkas agter my aan te sleep nie. (En natuurlik het dit ook verband gehou met die ou begeerte om ‘n baard te kan groei, al lyk ek soos ‘n boemelaar.)
Die aantrekkingskrag het egter begin kwyn toe ek besef dat volmaakte vryheid en onafhanklikheid ook sal impliseer dat jy niemand het vir wie jy omgee, of vir wie se lewe jy verantwoordelik is nie. Dít, het ek geweet, is in stryd met my ware ambisies. Ek wíl lief wees vir mense, en ek wíl eendag deel wees van ‘n intieme groepie mense waarvoor ek (mede-) verantwoordelikheid sal aanvaar.
So byt ou geliefde, maar naïewe ideale dus in die stof.
Dit was in my 24e jaar op hierdie planeet toe ek die eerste insig gehad het wat ek vermeld het in hierdie negende deel van wat nooit so ‘n lang “ballingskap”-reeks moes gewees het nie. Ek is nou dertig jaar oud. Dis 20 November 2001, vyf-en-twintig minute oor ses in die oggend. Die son het al slaperig haar eerste lig gegooi oor die koue, winterige landskap van Fengshan City. Ek het ‘n klein hondjie wat my regtervoet warm lê, en ‘n sigaret wat lê en uitbrand in ‘n nuwe asbakkie. Die mense by die plaaslike McDonald’s is besig om gereed te maak om die eerste cholesterol-belaaide ontbytkos in bakke vars olie te gooi soos ek hierdie woorde tik, en ek moet ‘n tweede skof gaan slaap sodat ek teen een-dertig intelligent genoeg kan lyk vir my 21-jarige Chinese onderwyseres.
Ek is deesdae vriende met mense van eksotiese plekke soos Krugersdorp, Kimberley, Vereeniging en Stellenbosch. Ek werk 14 ure per week by drie verskillende skole, en ek verdien ‘n paar duisend Taiwan dollar ekstra elke maand deur kort stukkies te skryf vir ‘n plaaslike uitgewer van ESL-tydskrifte. Ek het twee boekprojekte hierdie jaar afgehandel, ek kan Battle Hymn of the Republic op my keyboard speel, en ten minste ses of sewe drukke op my twee kitare. En as ek moet, kan ek ook ‘n deuntjie op die blokfluit, of op een van my twee mondfluitjies speel.
Die vraag wat egter instoom soos ‘n slegte reuk op ‘n windstil wintersoggend is steeds dieselfde: WAT WIL EK DOEN MET MY LEWE?
***
‘n Heerlike oggend van rus – gevul met koorsagtige drome vol moord, en soene op bloedrooi lippe van girlfriends wat nooit teruggebel is nie – het, soos gewoonlik, nuwe insig gebring. Ek weet lankal dat ek wil skryf. Die eintlike vraag is dus nie wát ek wil doen nie, maar watse tipe skryfwerk ek wil produseer.
‘n Sekondêre vraag het te make met iets wat ek aangeraak het in Ballingskap Nommer 8, naamlik dat om ‘n skrywer te wees soms soortgelyk is aan die beroep of roeping van sending. Die sendeling, wat glo hy is geroepe om ‘n bepaalde boodskap uit te dra, kan nie voltyds ‘n bankbestuurder wees én voltyds die beroep of roeping van die sendeling beoefen nie. Die sendeling het ‘n trade nodig, iets waarmee hy geld verdien op ‘n deeltydse basis, terwyl hy meeste van sy aandag en tyd spandeer aan die soms baie tydrowende aktiwiteite wat verband hou met sy sending. Wat ook al sy trade is – Paulus was byvoorbeeld ‘n tentmaker, dit sal altyd net ‘n praktiese maatreël wees om te verseker dat hy en sy familie nie honger ly nie, en dat daar meeste van die tyd petrol in die kar is. (As hy natuurlik onderhou word deur ‘n ryk voorstedelike gemeente gaan sy situasie effens anders daarna uitsien.)
Dieselfde kan ook gesê word van die politieke aktivis, wie se eerste prioriteit sy of haar politieke aktiwiteite is, maar wat moontlik iets anders doen om kos op die tafel te sit (behalwe weereens as ook hierdie persoon aan die gang gehou word met geld uit Noorweë of Swede… het ek die verkeerde roeping gekies?).
Die eerste vraag wat ek moet beantwoord is dus wát ek wil skryf, en derhalwe ook óór wat. Die tweede vraag, wat ter wille van suksesvolle nastrewing van my roeping deeglik oorweeg moet word, is watse werk ek op ‘n daaglikse, dog deeltydse basis wil doen om te verseker dat ek ‘n gereelde inkomste het.
***
‘n Ding wat al hoe duideliker begin deurskemer is dat nie alle beroepe, of selfs roepings, wat ‘n mens wil volg, in aanvraag is in die arbeidsmark nie. Siende dat sommige beroepe nie in aanvraag is nie, word ‘n mens ook nie altyd goed gekompenseer vir watse arbeid jy ookal verrig op hierdie gebied nie. Dit gee ook nie noodwendig aan die persoon in hierdie beroep ‘n bevredigende status in die gemeenskap nie.
As jy dus na jare se observasie van jou unieke persoonlikheid en deeglike oorweging van die beroepsmoontlikhede beskikbaar, op die punt kom dat jy aanvaar dat dit wat jy wil doen nie op die lys is van beroepe-in-aanvraag nie, moet jy besluit watse ander, verwante moontlikhede vir jou aanvaarbaar sal wees. Jy moet ook deeglik oorweeg wat jou idee is van ‘n behoorlike inkomste, en hoe belangrik status in die gemeenskap vir jou is.
Die alternatief is altyd dat jy, wat jy sien as jou werklike beroep (of selfs roeping), reduseer tot stokperdjie-status (vir die gebrek aan ‘n beter woord), en dan tevrede moet wees om die meeste van jou tyd, aandag, en inderdaad jou daaglikse lewe, toe te wy aan ‘n beroep wat van die begin af nie jou eerste keuse was nie, en wat jy heel moontlik nooit met passie of oorgawe sal kan beoefen nie.
Vraag Een
Om ‘n lang storie eenvoudig te maak, wil ek skryf wat ék wil skryf. Ek meen, ek is nie op pad om ‘n bankbestuurder of ‘n skool inspekteur te word nie. Die eenvoudige rede hiervoor is omdat ek ‘n lewe wil hê waarin ek daagliks, en sonder om verskoning daarvoor te maak of toestemming te vra daarvoor, uiting kan gee aan my kreatiwiteit. Watse waarde sal dit dus hê as ek al my tyd spandeer deur net die soort materiaal te skryf wat in aanvraag is, waarvoor ek weet daar ‘n mark is, en my kreatiwiteit in die proses te beperk in terme van woordeskat, en sinskonstruksies wat soos resepte reeds voor die tyd uitgelê is?
Dit gesê, om artikels en ander materiaal te skryf wat ek nie sou geskryf het as ek nie geweet het ek word betaal daarvoor nie, is steeds beter as om daai honderd of ‘n duisend rand te verdien in ‘n beroep wat géén kreatiwiteit vereis nie. Ek sal dus altyd bereid wees om van my materiaal te skryf volgens vasgestelde riglyne, omdat die besigheid wat dit gaan koop, dit so wil hê. Ek is egter nie bereid om na al hierdie tyd myself hoofsaaklik toe te spits om sulke tipe skryfwerk nie.
Om dus te skryf wat ék wil skryf… die hele teorie oor die middelklas… is dit nie al weer tyd om te gaan slaap nie?
***
Ek wil skryf oor die lewe, oor die mens, oor verhoudings, oor geskiedenis, oor godsdiens, oor die samelewing, oor politiek, oor kultuur, en oor hoe die mens dit regkry om elke oggend uit die bed op te staan en presies dieselfde ontbytpap te eet as die vorige dag. Ek wil nie gebonde wees aan temas en styl wat die verbruiker wat boeke en ander leesmateriaal kan bekostig, wil lees nie.
Ek wil skryf wat ék glo geskryf moet word, al is ek die enigste een wat so glo. Ek wil my eerlike opinie gee oor aangeleenthede wat voortspruit uit die lewe wat ek en baie ander mense leef. Ek wil so verwaand wees om te dink dat ek dinge het om te sê wat niemand anders sê nie, of dan nie op die manier wat ek dit sê nie. Ek wil my eie insig deel met ander, selfs al is ek nie die eerste, laaste, of enigste skrywer wat oor hierdie spesifieke insigte beskik nie. Ek wil skryf, en skryf, en nog meer skryf, en aanhou skryf tot iemand sê, “Het julle al gelees wat hierdie ou geskryf het?” En dan wil ek nog ‘n bietjie skryf…
Skrywers skryf gedigte, kortverhale, essays, romans, novelle, preke, toesprake, toneelstukke, draaiboeke, liedjies, of fragmente van enige of al die voorgenoemde. Skrywers skryf oor dinge wat reeds gebeur het, wat tans aan die gebeur is, en wat nog moontlik gaan gebeur (as niemand hulle skryfwerk ernstig opneem nie). Skrywers skryf fiksie, en nie-fiksie. Hulle skryf vir hulle vriende, familie, kennisse, vyande, en vir vreemdelinge. Hulle skryf vir volwassenes, en hulle skryf vir kinders. Hulle skryf vir mense wat hulle gister ontmoet het, en vir mense wat hulle nooit sal ontmoet nie selfs al raak hulle beroemd. Hulle skryf soms net vir mense in hulle binnekringe, en soms vir mense in lande wat hulle nooit sal besoek nie.
Vir nou sal ek myself beperk tot al bogenoemde.
As ek gedwing word om meer spesifiek te wees, sal ek sê dat ek hoofsaaklik, vir eers, in Afrikaans sal skryf, vir my tydgenote in Suid-Afrika, maar ook in lande soos Taiwan en Engeland en Frankryk en Amerika.
Ek wil my idees oor die lewe, oor hoe ek dink dinge is en hoe ek dink dit veronderstel is om te wees, verwoord in stukke wat mense sal lees om verskeie redes. Miskien lees hulle dit bloot omdat hulle iets soek om te lees, of omdat hulle iets wil wysraak wat hulle nie geweet het nie, of omdat hulle inspirasie soek of alternatiewe sienswyses wil oorweeg oor ‘n spesifieke aangeleentheid.
Dit is vir my belangrik om meer as net ‘n entertainer te wees. Ek wil myself aanstel as ‘n stem van rede, al vat dit twintig jaar om ander mense sover te kry om te luister.
Tweede Vraag
Om te wil skryf is dus nie ‘n eenvoudige ambisie soos om ‘n doktor te wil word nie. Met laasgenoemde hoef jy net universiteit toe te gaan, jou kop vir ses jaar lank onstabiel te leer, en dan kan jy lekker begin geld maak en almal respekteer jou en noem jou “dokter”. Om suksesvol te wees as ‘n skrywer verg baie meer tyd, en meer verstandelike en emosionele onstabiliteit (ten minste in sommige gevalle). Dit vereis ook ‘n deeltydse werk wat kontant aan die vloei hou terwyl jy ‘n paar volgelinge bymekaarmaak wat dink dit wat jý te sê het, wel ‘n plek het in die Annale van Idees en Opinies (en miskien ook in die Annale van Kortverhale en Gedigte).
Die lewe is nie volmaak nie. (Sou ‘n volmaakte lewe in kleur gewees het? Swart-en-wit is soveel netjieser.) ‘n Volmaakte lewe sou heel moontlik beteken het dat elkeen van ons twee of drie weergawes sou hê van ons lewens om alles te kan doen wat ons altyd wou doen. Elkeen sou ook heel moontlik sy eie persoonlike tydmasjien nodig gehad het, sodat as ons later belangrike lesse leer, of – kan jy jouself dit voorstel! – ons per ongeluk ‘n blaps maak, ons vinnig kan teruggaan en weer probeer.
Feit is, nie eens ryk mense se lewens is volmaak nie. (Kan Bill Gates byvoorbeeld skielik besluit om ‘n hippie te word en sy baard te laat groei?). Ons almal maak foute, ons mis kanse, ons maak droog; ons maak besluite en ons doen dinge wat maak dat ander mense hulle koppe skud en vir mekaar vra, “Wat dink die ou doen hy met sy lewe?” En meeste van die tyd is ons te verleë om te antwoord, of doodgewoon nie lus om te verduidelik nie.
Ek wil ‘n skrywer wees. Maar ek het ‘n ander job nodig om vir my ‘n inkomste te gee.
Sedert ek klaar gemaak het met my tersiêre studies het ek nog net twee jobs gehad. Die een was om ‘n glorified sekretaresse en verkoopsman van subskripsies te wees vir my vriend se omgewingsjoernaal; die ander was om kinders, en so nou en dan ‘n volwassene, in die Verre Ooste te leer om Engels te praat.
Laasgenoemde is nie ‘n werk waaroor ek vreeslik opgewonde is nie. Soms is ek verleë as ek in ‘n klaskamer staan en dink hoe belaglik ek moet lyk terwyl ek my arms swaai, of vir die vyftiende keer die woord “name” sê, terwyl ek my lippe opmekaar pers om te wys jou mond moet tóé wees met die “m”. Dis nie ‘n werk wat veel sekuriteit bied nie, en daar’s geen huissubsidie of pensioen nie. Om Engelse klasse te gee in Taiwan of elders in die Ooste kry ook nie amptelike erkenning as ‘n beroepskeuse soos om ‘n ingenieur of ‘n joernalis of ‘n besigheidsman te wees nie.
Nietemin, om Engelse klasse te gee genereer ‘n inkomste. ‘n Mens maak óf genoeg geld sodat jy ‘n…
———————
[... nuwe printer kan bekostig? 'n Pruik? 'n Buskaartjie uit die stad uit? So, asof ek skielik oorval was deur slaap of verveling, sneuwel nog 'n poging tot 'n essay. Maar daar was nog...]
