BALLINGSKAP DERTIEN

Deur 15 - 01 - 2003

(Laat dit gesê word – soos ek ook vroeër genoem het – dat ‘n mens moeg raak, nie oud nie.)

En so het dit ook gebeur met my in Taiwan. Vier jaar lank al skryf ek “ballingskap”-essays, en tot onlangs het ek dit selfs oorweeg om die titel te verander. Want is ek na 47 maande werklik steeds in selfopgelegde ballingskap?

Hoekom het ek in die eerste plek, na ek in ’95 tot die besef gekom het dat ek nie meer ‘n enkele akademiese boek se reuk kon verduur nie, nie begin werk soek soos talle van my tydgenote, en besig geraak met wat beskryf kan word as ‘n meer konvensionele post-universiteitsbestaan nie? Hoekom het ek na ‘n land toe gegaan wat ek nie eers (aanvanklik) op ‘n kaart kon vind nie, om ‘n werk te doen waarvoor ek geen ervaring gehad het nie, om my kop neer te lê – wie kon weet waar?

***

Vir weke lank het die rebelle ‘n stryd gevoer teen die regeringsmagte, teen die status quo. Dokumente was op een spesifieke Sondagaand angstig versnipper in dofverligte kantore in die hoofstad. Daar was gerugte van rebelle wat reeds in die voorstede, in die voortuine van verskrikte burgers, sit en braai.

Toe kom daar ‘n teenaanval, die Maandagoggend, op een flank van die rebelle-leër. Twee groepe wat mekaar moes aanvul het onderling stry gekry, en die regering het dit slim uitgebuit. ‘n Skietstilstand is uitgeroep vir ‘n dag, en die regering en die rebelle het gesels. Die regering het verduidelik dat die twee kante vir dieselfde ideaal stry. Moet hulle dan nie eerder saamwerk nie? was die herhaaldelike voorstel.

Teen weekseinde was daar weer in die voortuine baklei. Teen Sondag was die regering so te sê op sy knieë.

Sondagnag laat loods die regering ‘n desperate propaganda-aanval. Hulle laat weet as die volk hulle aan die kant van die status quo skaar, die regering bereid is om ‘n toegewing te maak: die tydelike reünie van familielede wat tydens die Ballingskap geskei geraak het.

Die rebelle verloor steun, vir die eerste keer in drie weke. Die regering praat weer met die rebelle-leiers. Laasgenoemde ontken heftig dat hulle nie genoeg proviand en ammunisie het om die stryd onbepaald voort te sit nie, maar gee toe dat die manne moeg is. En, laat hulle ook hoor, as die volk dan dinge so wil hê, moet daar seker maar gepraat word, vir eers.

Van hulle kant af het die regering erken dat daar steun selfs in hulle eie geledere is vir die ideologie van die rebelle. Daar is ook besluit dat dinge op so ‘n manier hervorm kan word – as die rebelle vir eers tru staan – dat die status quo wel anders daarna sal uitsien binne die afsienbare toekoms.

Dit was Maandagmiddag. Dinsdag het mense weer werk toe gegaan, kinders was skool toe, en geld het hande verwissel op die markte.

Teen Woensdag was daar egter weer onrustigheid in die lug. ‘n Groot groep mense het teen Woensdagnag laat voor die regeringskantore begin uitkamp. Die regering het die konklusie van die pratery aan die volk bekend gemaak, wat dit – tot die regering se teleurstelling – halfhartig aanvaar het.

Teen Donderdagoggend was daar genoeg van ‘n rumoer dat die rebelle-leiers weer die kanonne begin laai het. Albei kante het weer hulle saak aan die volk gestel. Manifeste en planne is verduidelik, geherformuleer en op plekke verander sodat die volk dan nou eenmaal kan besluit.

Een van die nuwe rebel-planne het aanvanklik ‘n klein oproer veroorsaak, maar na interne bespreking is daar besluit dat hierdie spesifieke plan die rebel-ideologie té veel gaan kompromeer op die langtermyn. Die ou plan – die een wat gewoonlik ter tafel gelê word – was ideologies suiwerder, maar niemand het ontken dat ook dít effe riskant was nie.

Die volk was moeg. Aan die een kant was daar die werklike begeerte vir verandering, en die aantreklike humanistiese ideologie van die rebelle. Die volk was nietemin bewus van die probleme wat rewolusie sou bring – daarvan het die rebelle-leiers seker gemaak met duidelike voorbeelde uit die geskiedenis. Opofferings sou gemaak moes word, dít het die volk geweet. Hulle het ook onthou van die vorige poging tot verandering wat gesneuwel het na ses maande. Die harde werklikheid van die huidige bestel kon egter nie geïgnoreer word nie.

So ook, kon die rebelle-leiers nie die onvolhoubaarheid van hulle huidige aanslag afskryf as ‘n oorkombare probleem nie. Hulle was by ‘n kruispad.

Teen die Vrydagaand het die leiers aan hulle vegters en aan die volk verduidelik dat die volle implementering van die rebel-ideologie onmoontlik sal wees indien die rewolusie op die huidige tydstip deurgevoer word, in ag genome a) beperkte fondse wat noodwendig gestrek sal moet word om die status quo omver te werp – wat, as ‘n noodsaaklike teenmaatreël, ekonomiese praktyke sal vereis wat die aandag van die volk sal verdeel, en b) die besluit van die leierskap dat langtermyn-ideale nie gekompromeer moet word vir korttermyn voordele nie.

Die heldhaftige pogings van die rebelle het die regering geskud, en die volk is rusteloos. Die faktor van beperkte rebel-kapitaal tersyde, weet die regeringsleiers dat hulle plegtige voorneme om die status quo te hervorm die enigste rede is hoekom hulle hierdie laaste veldslag kon wen – om die ekonomiese, opvoedkundige en politieke landskappe op so ‘n manier te sinchroniseer dat die status quo wél binne die afsienbare toekoms drasties verander sal kan word.

Die volk is rusteloos, en winde van verandering waai. Hoewel die rebelle vir eers sal retireer, hoewel leiers en voetsoldate vir eers sal rus, bly die kanonne ingestel op die instellings van die huidige regering. Glimmend. Gereed. Die status quo is kennis gegee.

4 Januarie 2003.

!@#$%^&*()_+ !@#$%^&*()_+!@#$%^&*()_

‘n Vergelyking van Hervormde Planne 1 & 2:

[...]

7 Januarie 2003

FAKTOR VIER, EN DIE IMPLIKASIES

Toe dink ek goed, ek is nou ‘n bietjie rustiger oor die hele “plan” issue. Op pad huis toe ‘n paar dae gelede – terwyl ek verby ‘n man ry wat vars lemoensap van ‘n trokkie af verkoop – dog ek toe, eintlik is hierdie plek nie so sleg nie. Die lug is blou, die vrouens fris, en jy kan vars lemoensap van ‘n trokkie af koop op pad huis toe.

Die middag op pad na die tennis neem ek die gedagte verder. Ek dink toe weer aan die hele storie van ‘n week gelede toe ek gedink het as ‘n mens vier jaar gelede met ‘n vierjaar-plan hier aangekom het… en dat dit wel goed sal wees, en dat dit nie onmoontlik is om steeds my huidige planne uit te voer, én soort van besig te wees met ‘n drie-tot-vyfjaarplan nie. En toe dink ek aan vakansie, en hoe om ‘n pelgrimstog aan te pak om slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog te besoek.

Kort voor lank dink ek weer aan my idees vir volgende jaar, en dat ek reken ek moet… uhm… en vandag is alreeds Dinsdagnag/Woensdagoggend, 14/15 Januarie 2003. Mooi.

Hierdie inskrywing dateer: 15 - 01 - 2003 om 01:47 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.