TEL-DIE-VOORDELE-MINUS-DIE-NADELE NO. 7542, OFTEWEL… BALLINGSKAP, DEEL VIII
[Is nege dae lank genoeg om te vergeet van die vorige plan, en met totaal ander planne vorendag te kom?]
———————
DIE PLAN
Ek bly aan in Taiwan, tot voorlopig die einde van volgende jaar.
DIE ONMIDDELLIKE VOORDELE
• Ek kan [...]
• Aprilmaand [...]
• NT$45,000 [...]
WAT IS DIE LANGTERMYN-VOORDELE?
Al die planne van die afgelope vier tot ses weke is gebaseer op TWEE groot begeertes:
1) om teen einde Junie 2003 op die laatste [...];
2) om so gou as moontlik behoorlike tyd met my familie te spandeer.
DIE DERDE FAKTOR
‘n Derde, maar nie minder belangrike faktor nie wat ook die heeltyd in ag geneem moes word, is die strewe om maksimum produktiwiteit te handhaaf met my skrywerk (en ander projekte). Dit is hierdie saak waaraan ek vir die oomblik meer aandag wil gee.
Ek is, en was nooit bestem om die hoof van een of ander maatskappy te word nie. Ek is ‘n skepper gebore – dis in my bloed, dis in my gene, dis in my hart, en dis in my brein. Of ek ‘n skepper is in hart en wese was ‘n vraag wat ek die afgelope vyf of ses jaar gereeld gekontempleer het. Ek het toenemend oortuig geraak daarvan dat dit die een ding was wat ek nie kan ontken sonder om myself ernstige persoonlike probleme op die hals te haal nie.
Maar die dominante kultuur van die wêreld waarbinne ek groot geword het, waarbinne my waardes gevorm is, waaruit meeste van die mense kom waarmee ek sosialiseer, dikteer dat almal (ten minste) moet poog om hulle lewens te leef op konvensionele wyses, hulle geld te verdien op wyses wat die ekonomie van hierdie middelklas-geregeerde wêreld kan handhaaf en versterk, en oor die algemeen ‘n bydrae te lewer tot die handhawing, versterking, en miskien selfs verbetering van die sosiale, ekonomiese, en politieke orde van die dag. Persoonlike sukses, en die hoeveelheid respek wat ander jou gee, word gemeet aan die hand van die resultaat van jou arbeid binne hierdie verwysingsraamwerk.
‘n Man kan byvoorbeeld die mees komplekse, en mooiste musiek komponeer sedert Amadeus Mozart, maar as hy geld moet bedel vir koffie en op sy suster se vloer slaap, sal hy uit die vuis geag word as ‘n mislukking. (In realiteit sal hy heel moontlik “volgelinge” hê, en in hierdie klein wêreldjie sal hy geag word as ‘n half-god. Dit kan ook gesê word dat as hy werklik so goed is hy heel moontlik nie so arm sal wees nie – wat egter sal bevestig dat finansiële status die sleutelfaktor sal wees in sy respekvolle aanvaarding deur die breë gemeenskap, en nie sy talent, of ‘n duisend musiekblaaie vol briljante komposisies nie). [sien NOTA]
In hierdie wêreld word mense uitgeken aan ‘n hele reeks “kentekens” (militêre kultuur is net ‘n baie sigbare manifestasie hiervan). Nasionaliteit, sosio-ekonomiese agtergrond, ras, godsdiens, politieke oortuigings, statussimbole, gedrag, en kleredrag is ‘n paar voorbeelde van hierdie onderskeidende etikette. Nog ‘n voorbeeld, wat oorvleuel met van die reeds genoemde items, is BEROEP. ‘n Advokaat, byvoorbeeld, word met eerste ontmoeting met meer respek behandel as ‘n straatveër; ‘n bankbestuurder met meer respek as ‘n kleuterskoolonderwyseres.
My ouer suster het gegradueer met ‘n kwalifikasie wat haar na die toepaslike ondervinding die reg gegee het om haarself voor te stel as ‘n “Geoktroïeerde Rekenmeester”. My een vriend is ‘n gesertifiseerde “Landskapargitek”. Ek het na vyf jaar se têrsiere opleiding die wêreld in die gesig gestaar as ‘n gekwalifiseerde “Hoërskoolonderwyser”. Die enigste probleem was dat onderwys – selfs in ‘n vak soos Geskiedenis waarvoor ek ‘n sterk affiniteit het – nog nooit die antwoord was wat ek wou gee op die vraag van hoe ek ten minste agt ure per dag, jaar-in-en-jaar-uit, wou spandeer nie.
HOE NOU GEMAAK?
Om alles te kompliseer het ek, na ‘n warrelwind van studielenings, teen die begin van ’96 gesit met duisende rande se skuld. Ek het ook die behoefte gehad –kenmerkend van my middelklas-agtergrond – aan ‘n nuwe hemp elke nou en dan, miskien een keer per jaar ‘n nuwe paar skoene, en elke dan en wan ‘n nuwe CD. En ek moes eet, en êrens woon. So, teen die einde van 1995 het ek gesit met ‘n dilemma: Ek wou nie ‘n loopbaan begin as ‘n “Hoërskoolonderwyser” nie, ek wou definitief nie ‘n “Administratiewe Klerk” word in ‘n kantoor nie, en ek wou nie enige ander werk hê waar ek elke dag agt-plus ure moes doen wat ander vir my voorskryf nie. Maar geld móés ek verdien.
Korea het my in staat gestel om tyd te wen. Ek kon ‘n bietjie avontuur smaak deur in ‘n vreemde land te woon, en terselfdertyd kon ek ‘n inkomste genereer sonder om te veel geëtiketeer te word volgens ‘n sekere beroep, en sonder dat te veel mense my vra wat presies ek met my lewe wil aanvang (of besig is om daarmee te doen). Na twee jaar in Korea was ek egter gevul met ‘n begeerte om te “commit” tot iets, en êrens te “belong”.
Terug in Suid-Afrika was ek weer gekonfronteer met die probleem van watter kenteken ek vertoon in ‘n omgewing waar mense beroep beskou as ‘n primêre aanduiding van wie jy is, en hoe hulle teenoor jou moet optree. “Geen kommentaar” was weereens die beste antwoord wat ek kon gee.
‘n Ambisie het egter reeds jare tevore begin groei in my binneste – om ‘n skrywer te wees. Dit was ‘n kenteken, onder dosyne moontlikhede, wat nie net soepel van die tong sou afrol nie, maar wat werklik sou sê hoe ek my dae wou spandeer. Teen die einde van ’98 het die idee dus by my posgevat dat OM TE SKRYF meer kon wees as net iets waarin ek geïnteresseerd was – dít kon my BEROEP wees!
Om ‘n Skrywer-van-Beroep te word was egter meer kompleks as om ‘n Geoktroïeerde Rekenmeester te word (nie noodwendig moeiliker nie – die eksamens wat daai mense skryf is blykbaar moeilik genoeg om jou tot pille te dryf). Om ‘n GR te word moet jy ten minste vier jaar lank amper voltyds agter jou boeke deurbring ten einde die regte tersiêre kwalifikasie te verwerf. Dan moet jy een of ander eksamen skryf, en drie jaar lank êrens ‘n klerkskap doen. Uiteindelik, na hierdie uitgerekte proses, het jy die reg verdien om jouself ‘n volwaardige “GR” te kan noem in beskaafde geselskap.
Die Pad-na-GR-skap ken ék, wat nooit eens sulke ambisies gekoester het nie. Die rede hiervoor? Omdat dit formeel uitgelê is.
Die Pad-na-die-Eer-om-Jouself-’n-Voltydse-(Gepubliseerde)-Skrywer-te-Noem is veel minder formeel. Daar’s nie ‘n graad wat jy kan verwerf wat netjies geraam kan word, en wat aan alle belangstellendes sal sê “Hierdie Ou is ‘n Skrywer” nie. Jy kan nie vir maande lank jou senuwees rou swôt om ‘n moeilike eksamen deur te kom, waarna ‘n Board of Writers jou amptelik as ‘n Skrywer verklaar nie.
Daar is, helaas, net één manier wat jou in staat stel om uiteindelik die Kenteken van die Skrywer te kan dra: SKRYF. Skryf bladsye vol, skryf boeke vol. Ontwikkel idees, lees, dink en skryf. Skryf gedigte, skryf kortverhale, skryf artikels, skryf essays, skryf briewe, skryf gemors, skryf goeie goed. Skryf oor die lewe. Skryf oor die dood. Skryf oor mense, diere, instellings en die natuur. Skryf oor berge, karre, beeste en blomme. Skryf oor liefde en haat. Skryf oor dorpe. Skryf oor stede. Skryf oor gutters en skryf oor paleise. En tussen al die geskrywery deur, stuur wat jy reken goed genoeg is na uitgewers toe. Leer hoe om manuskripte voor te lê. Leer in watse tipe materiaal watter uitgewers of publikasies moontlik sal belangstel. Wees kreatief, maar leer die gewoontes van ‘n professionele arbeider aan. Wees ‘n kunstenaar, maar weet ook dat jy jou eie brood en komberse moet koop.
LAASTE GEDAGTE
‘n Mens is soms geneig om vas te haak by die beeld van die mitiese, Boheemse kunstenaar – die kunstenaar wat nie sy hande vuil maak met iets so vulgêr soos geld nie, wat nooit sy kuns kompromeer ter wille van finansiële beloning nie, wat honger en vuil en moeg deur die strate strompel in ou gehawende klere, en wat op weggegooide velle kantoorpapier woorde skribbel wat eers na ‘n ontydige dood as “Briljant!” bestempel sal word.
Gelukkig is die kunstenaar wat ryk ouers het en steeds sakgeld kry al is hy veertig jaar oud, of wat ‘n vriend of beminde het wat vir hom sorg sodat hy ongesteurd kan werk aan sy artistieke skeppings, of wat nie van tyd tot tyd ‘n nuwe broek of ‘n nuwe paar skoene wil koop uit sy eie sak nie.
Voorwaar, voorwaar, gelukkig is die kunstenaar – of skrywer – wat nie studieskuld het nie…
(31 Oktober 2001)
———————
NOTA: Wie is die “breë gemeenskap” wat die “briljante komponis” aanvaar of verwerp? Ek was baie vaag hieroor, en dit stel my bloot aan kritiek wat ek kon vermy deur my terme beter te definieer.
Die probleem, soos ek veel later eers sou uitvind, was nie soseer die gemeenskap nie – wat wél oorbevolk word deur idiote wat nie verder as die geld-maatstaf kan kyk nie – maar hoe ék gevoel het oor myself wanneer ek ‘n verskyning gemaak het in die wêreld buite my woonsteldeur.
En nou dat ek dit noem, die frase, “die wêreld buite my woonsteldeur” kan vir alle praktiese doeleindes dien as die primêre definisie van die woord “gemeenskap”.
