BALLINGSKAP, DEEL 4

Deur 24 - 08 - 2000

Woensdagaand, 23 Augustus bring die gedagte dat ek eintlik nie wil werk nie. Nie ‘n uitsonderlike idee per se nie, sal enige iemand sê wat al my standpunte gehoor het oor die onderwerp. Die rede wat ek gewoonlik aanvoer vir hierdie houding is dat ek dit neerdrukkend vind om my tyd te mors met die tipe werk wat ek moet doen om te oorleef. Die argument sal gewoonlik ook gaan draai daarby dat ek nie afhanklik wil wees van een of ander maatskappy vir my daaglikse brood en botter nie.

Vanoggend (Donderdag, 24 Augustus), tref die eintlike waarheid my: Ek wil nie werk nie omdat ek, in wese, ‘n ongelukkige mens is. Ek word wakker in die oggend, en ek kan aan niks dink wat my kan motiveer om deur die gewone aksies te gaan wat sal dui op ‘n redelik normale lewe nie. Dat ek wél opstaan is ‘n aanduiding van suiwer wilskrag (“Ek moet opstaan! Ek moet, ek moet…”).

As ek op enige gegewe dag nie hoef te werk nie (soos gister toe al die klasse gekanselleer is as gevolg van ‘n tifoon), is ek nie werklik gelukkiger nie; my voortdurende neerslagtigheid en onvergenoegdheid is net makliker om te hanteer. Ek kan in die eerste plek slaap tot ek wakker word, en dan opstaan omdat ek nie meer in my bed wil lê nie. Dan kan ek óf video games speel, óf ‘n bietjie kitaar oefen, óf TV kyk, óf rondspeel op my rekenaar: alles aktiwiteite wat tydelik die aandag aftrek van my neerslagtigheid. Of ek kan iets skryf wat uitdrukking gee aan my neerslagtigheid; of iets skryf wat my amuseer, wat my neerslagtigheid tydelik laat afneem. Maar basies bly ek swaarmoedig.

Om te moet uitgaan, op my scooter te klim en deur die verkeer te struggle om by een of ander skool te kom, waar ek dan tyd moet spandeer in ‘n klaskamer waar ek nie kan uitgaan as en wanneer ek wil nie, en waar alles wat ek sê en doen moet inpas binne ‘n bepaalde voorgeskrewe raamwerk, maak my nie noodwendig neerslagtig nie. Die probleem: daar’s niks aan die tyd wanneer ek werk wat my laat vergeet van my neerslagtigheid nie. Daar’s niks wat dit verlig nie. Tyd wat ek dus spandeer deur te werk in ‘n “fixed environment” (in dié geval ‘n klaskamer), is tyd wat ek méér bewus is as ooit van my voortdurende, onophoudelike neerslagtige toestand.

Hoe pas hierdie gedagte oor my huidige lewe by die tema van ballingskap in? Die term – soos ek dit gebruik – het van die eerste stuk af verwys daarna dat ek in ballingskap verkeer uit ‘n plek waar ek eintlik wíl wees, maar om verskeie redes nie huidiglik kán wees nie. Die term het verder nog altyd verwys na ‘n tydelike situasie; dat ek na die opheffing daarvan sal terugkeer na Suid-Afrika, om dán ‘n gelukkige lewe te lei. (Wat nie impliseer dat die ballingskap noodwendig gekenmerk moet word deur emosionele armsaligheid nie. My oortuiging is net dat as ek nie nóú sprankelend gelukkig is nie, dit moontlik is omdat my situasie hier nie ideaal is nie. Ook dat my gemoed onder die huidige omstandighede verstaanbaar, en selfs regverdigbaar is, omdat ek in “ballingskap” verkeer.)

Geluk was dus nog die heeltyd – of ten minste hier in die Ooste die afgelope paar jare – iets wat ek bly uitstel, tot later, tot ek genoeg geld het, tot ek kan teruggaan Suid-Afrika toe. Hoekom glo ek so onwrikbaar dat ek gelukkig sal wees in die land van my geboorte? Omdat ek steeds waarde heg aan die sogenaamde Korea Teorie: Geluk sal noodwendig volg as ek voel ek behoort êrens, en as ek myself kan toewy aan iets.

Feit bly egter staan dat ek steeds, soos die afgelope hoeveel jare nou al, miserabel is; en as ek dan nie voortdurend sigbaar neerslagtig is nie, is ek wel iemand in wie se lewe die afwesigheid van enige betekenisvolle bewussyn van emosionele welstand merendeels ‘n kenmerk is. Dus is die eintlike rede vir my negatiewe houding teenoor enige konvensionele werksituasie dat ek voortdurend neerslagtig is, en dat geen konvensionele werksituasie my neerslagtige karakter enige vertroosting bied nie.

Die probleem is dus nie die sogenaamde ballingskap nie – dat ek híér is en nie in my tuisland nie, maar dat ek niks doen om myself gelukkig te maak tydens hierdie “tydelike situasie” nie. Dit volg natuurlik dat ek dalk moet ophou om te dink aan my lewe in Taiwan as ‘n ballingskap, want dit maak dat voortdurende neerslagtigheid amper aanvaar word as ‘n noodwendige byproduk.
Wat om te doen aan hierdie uiters onwenslike situasie? Om op te hou werk? Beslis nie, want ek sal myself binne ‘n kort tydjie in ‘n slegte finansiële situasie bevind, wat my neiging tot ellendigheid net sal vererger.

Moet ek teruggaan Suid-Afrika toe so gou as moontlik? Om wat te doen? Hierdie neerslagtigheid is nie iets wat in die Ooste gebeur het nie – dit kom al ‘n lang pad, van my studentedae af, van my hoërskooljare, selfs van my kinderdae af. Om net na ‘n ander plek toe te gaan, sal niks help solank my neerslagtige neigings die eerste ding is wat saam met my op die vliegtuig klim nie.

Nee, die oplossing, soos ek teen dié tyd al weet, is om myself gelukkig te maak híér, en nóú. Nie om geluk te vind, of te wag op geluk nie, maar om my lewe in so mate te verander dat ek myself gelukkig maak. Hierdie tipe transformasie het die afgelope paar maande met elke voorstel beteken dat ek minder moet werk. Dit is egter nie iets wat noodwendig sal lei tot geluk nie, omdat dit nie die werk is wat my in die eerste plek in hierdie toestand plaas nie.

Wat is dit dan wat my so ongelukkig maak? Wat kan ek doen om dit reg te stel?

Ek vertel graag myself, en tot my eie vermaak vir ander mense, dat ek buitengewoon is. Die ironie is dat, met al hierdie sogenaamde talent, met al die idees waarmee ek so graag myself en ander vermaak, ek nie kan dink aan maniere om myself gelukkig te maak nie! Maak dit my nie een van die grootste idiote wat ‘n mens se pad kan kruis nie? ‘n Man met idees en opinies – ‘n kreatiewe man! – maar hy kan aan niks dink wat aan hom ‘n voortdurende neiging tot geluk kan gee nie.

(24 Augustus 2000)

N.S. Ek begin in September met 21 klasse per week by ‘n laerskool [...]. Verder het ek besluit om onbepaald in #15 aan te bly, en om aan die einde van die semester (in Januarie) ‘n vakansie te vat. [...] Ek beplan ook om ten minste tot die einde van volgende jaar in Taiwan aan te bly. (28 Augustus 2000)

——————–

[Die laerskoolwerk, wat ek gereken het my situasie gaan verbeter, was aan die einde soos arseen op 'n maagseer.]

Hierdie inskrywing dateer: 24 - 08 - 2000 om 07:26 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.