BALLINGSKAP 7/DIE 22 OKTOBER 2001-DEKLARASIE

Deur 22 - 10 - 2001

Ses duisend boksies groen tee, ses honderd pakkies dried beancurd, sestig “Finale Planne!” en ses Ballingskap-opstelle later is ek nog steeds hier, agter my komper, besig om te skryf oor hoekom ek wel in “ballingskap” is, en wat ek volgende gaan doen.

(Moet ek nou in detail ingaan oor my nuwe post-”Belonging & Commitment”-teorie? Moet ek praat oor die boeke wat ek hierdie jaar geskryf het, en die stories wat ek nog wil skryf? Moet ek praat oor die feit dat ek al Level C songs op my keyboard kan speel, en dat dit my twintig minute gevat het om “Battle Hymn of the Republic” uit my kop te leer speel? Moet ek praat oor al die mense wat ek ontmoet het die afgelope paar weke? Moet ek ‘n lyn spaar oor die Boney M Gold-CD wat ek gekoop het met die eerste geld wat ek as ‘n skrywer verdien het?*  Moet ek met slim draaie praat oor hoe ek voel dis my morele plig om my ouers met hulle besigheid te gaan help? Moet ek in detail die huidige reeks planne uiteenlê, netjies met kolomme vir voor- en nadele? Moet ek verduidelik hoe ek, as ek nog X-hoeveelheid maande hier bly, al my skuld kan afbetaal? Hoe ek my blou kitaar en ‘n klomp boeke saam met my kan vat as ek in April huis toe gaan, en dan einde Augustus – wanneer my skuld afbetaal is – myself lock, stock en res van die boeke relocate na die plaashuis buite Pongola? Of hoe ek sonder ‘n sent op my naam einde Februarie kan teruggaan Suid-Afrika toe, in die goeie geloof dat “dinge sal uitwerk”? How about die nuutste een? Ja, al gehoor van hoe hulle teachers soek in Londen? Hoe hulle iets soos 100 pond per dag betaal word? Kan ek vertel hoe ek al my skuld kan afbetaal in probably ‘n jaar se tyd, en gedurende vakansies enige Europese stad of enige Eerste Wêreldoorlog-slagveld kan besoek? Hoe lekker dit sal wees om gereeld my ouer suster te sien, en ook meer gereeld my ouers en my jonger suster? Is dit werklik nodig om nóg ‘n Ballingskap-opstel te annekseer met planne, en visoene, en drome, en realiteit? Of kan ek sommer maar net sê “Hoesit, hoe hang hulle? Woef.”)

“Uh-huh… toets-toets, een-twee-drie-vier… kan almal my hoor? Ek dink ek gaan einde Februarie volgende jaar terug Suid-Afrika toe op ‘n enkel-kaartjie, dan gaan ek registreer by daai teacher’s agency, en dan einde April, na [M.] en daai ander perd se troue, gaan ek Londen toe vlug, uh… vlieg, en dan my agterent trek deur drie maande van Britse skoolgeëry, en dan Berlyn toe gaan vir ‘n week… of ‘n Eerste Wêreldoorlog-slagveld besoek. Dis al.”

———————

* Ek het vir ‘n paar maande lank teks geskryf vir ‘n Engelse opvoedkundige tydskrif.

Hierdie inskrywing dateer: 22 - 10 - 2001 om 22:45 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.