BALLINGSKAP 5?

Deur 08 - 12 - 2000

“You play out your happiness on a piano that is not infinite.” (The Legend of 1900)

8 Desember 2000

(Dis drie maande sedert my laaste essay.)

Dis nie altyd maklik om stil te sit, ‘n bietjie na te dink, en dan die varsheid van ‘n oop stuk papier te vernietig in ‘n poging om saam te vat waar jou lewe op ‘n spesifieke tydstip staan nie. Om die moeite wat so ‘n Groter Beskouing verg vry te spring sou ek vroeër die TV wat nie meer programme kon opvang nie aanskakel, en tot die einde van frustrasie Super Mario gespeel het. Toe koop ek my vierde Pearl Jam CD. Drie dae later koop ek vir my ‘n elektriese kitaar. En ‘n paar weke later ‘n keyboard (nog instrumente het oor die volgende paar maande gevolg). Nou as die gewete roep vir ‘n hernude klim na die heuwel bokant my lewe – om te kyk in watter rigting die winde waai, om te kan sê, “OK, dis waar ek staan” – dan kyk ek ander pad, gryp ‘n kitaar, en probeer ‘n paar nuwe drukke. Die tyd het egter gekom.

Dis die agste Desember. Daar’s nog drie weke oor voor Kersfees, en dan nog net ‘n paar weke voor die wintervakansie. Meer as twee maande het ook al verby gegaan sedert ek veronderstel was om, volgens ‘n voorspelling vroeg September, ‘n “complete physical, mental and spiritual breakdown” te hê. Dit gaan goed met my, ondanks die feit dat daar steeds niemand is om die goeie dinge mee te deel nie.

Maar… BALLINGSKAP! Die afgelope paar weke was baie insiggewend wat hierdie tema aanbetref. Ter wille van verheldering kan dit genoem word dat die idee se oorsprong – in my betrokke geval – lê in Korea, toe ek gesê het ek is in “economic exile”, weg van die druk van die konvensionele middelklas in die Republiek van My Geboorte. Ek het ook gesê dat ek my ballingskap sal ophef wanneer ek “sufficiently empowered” is om in Suid-Afrika op eie terme te kan leef. Ek het uiteindelik teruggegaan na twee jaar, nie omdat ek sufficiently empowered was nie, maar omdat ek gevrek het van eensaamheid. Ek het ook ‘n paar idees gehad – hardly watertight, maar soos die movie gesê het op pad terug, “a good idea today is better than no idea yesterday” (of so iets).

Nou is ek al amper twee jaar hier, en soos die titel van die stuk aandui, is hierdie nie die eerste woorde wat ek skryf oor die onderwerp nie. Ek probeer gewoonlik om nie Sondagaandblues-geïnspireerde idees oor die opheffing van my ballingskap ernstig te vat as dit nie hou tot ten minste Maandagaand nie, maar die afgelope paar weke het die blues-geïnspireerde idees ‘n betreklike rypheid bereik (ek skryf immers hierdie essay op ‘n Vrydagoggend).

Die mees onlangse idees gaan terug na daai wonderlike tweeling waaraan ek geboorte gegee het een aand in 1998 naby die treinstasie in Chonju City, naamlik “Belonging” en “Commitment”. Laasgenoemde het vroeër adolessensie bereik as die ander een, want ek het die afgelope paar jare eers een ding geïdentifiseer waaraan ek myself wil commit, en soos ek reeds vermeld het, het ‘n tweede haarself (weereens) onlangs aan my geopenbaar (die musiek). Op die oomblik is ek nog onseker watter een vir my die belangrikste is en waaraan ek meer tyd moet/wil spandeer, Ek het wel ‘n oorkoepelende beginsel geformuleer wat albei dek: dat ek deur ‘n kombinasie van persoonlikheid, genetiese samestelling en persoonlike politiek geforseer word om skeppend te wees.

Beide Skryfwerk en Musiek is dus prosesse wat deur dieselfde beginsel gemotiveer word. Aan watter een van dié twee prosesse ek die meeste tyd en energie gaan spandeer, is ‘n vraag wat net beantwoord kan word as ek vir myself ‘n paar ander, meer kwalifiserende vrae gevra het. Vir die doel van hierdie skrywe – wat nie bogenoemde vraag sal beantwoord nie – sal dit voldoende wees om te sê dat ek nou weet waaraan ek myself kan en wil commit (nou, en op die langtermyn): DIE SKEPPING VAN KREATIEWE WERKE.

Wat ons terugbring by die Ander Geboorteling van die Atom Plaza. Ek het ‘n paar maande gelede die oortuiging begin verkondig dat die lewe wat ons expat teachers het in Taiwan bevorderlik daarvoor is dat ons onsself bedrieg. Wat ek daarmee bedoel het is dat, as ‘n foreign English teacher in Taiwan, ‘n mens lekker baie geld maak sonder om jouself dood te werk. Jy bly in ‘n lekker gemaklike woonstel; jy’t ‘n paar luukshede wat jou lewe nog gemakliker maak; jy kan bekostig om jouself te bederf met artikels soos duur sonbrille; en jy leef ‘n eksotiese lewe in die Verre Ooste (eksoties in vergelyking met die lewe waarmee ék in elk geval groot geword het in ‘n soort-van middelklas voorstedelike omgewing). Maar niks van hierdie dinge maak jou gelukkig as daai groot oerbehoefte om êrens te behoort, nie vervul word nie. So dink jy dalk jy’s gelukkig, want “kyk net na my eksotiese lewe op die oomblik!” tot jy een Sondagoggend wakker word met ‘n babbelaas van nog ‘n Saterdagaand wat jy op jou eie gespandeer het (om die aand saam met ‘n paar ander foreigners deur te bring is ook maar net soos om lekkers vir ‘n honger kind te gee). Teen Sondagaand besef jy weereens dat jy jouself baie gemaklik gemaak het op ‘n plek waar jy nie werklik behoort nie. Om jouself dan beter te laat voel ry jy na die naaste musiekwinkel toe om geld op nog CD’s te spandeer, net om te hoor hoe Bob Dylan vir jou preek dat jy nie “paradise” moet verwar met daai “home across the road” nie (uit Ballad of Frankie Lee and Judas Priest).

Dit bring my toe op die punt wat ek ‘n nuwe oortuiging in die wind gooi: dat ek nooit sal voel ek behoort hier nie; met die uitsondering van as ek trou met ‘n Taiwanese vrou, wat die plek persoonlik sal maak tot so ‘n mate dat dit kan kompeteer met die land van my geboorte.

In die afwesigheid van enige betekenisvolle verhouding met ‘n vrou van hierdie land was dit dus onafwendbaar dat ek weer sou terugkeer na ‘n paar ou vrae: Wat presies maak ek hier? Gaan ek hier bly vir die res van my lewe? Indien nie, sal ek terugkeer Suid-Afrika toe? Indien daar wel goeie redes gevind kan word hoekom ek moet teruggaan, wanneer? Die belangrikste vraag wat dan na vore tree is presies wat ek sal doen wanneer ek terug is.

Dit sal dalk waarde hê om myself te herinner aan die redes hoekom ek in ’98 besluit het om, ten spyte van wat ek gesê het in Mei van daai jaar, weer my rugsak te pak en terug te kom Ooste toe. Ek het dit geniet om tussen my eie mense te wees, om my familie gereeld te sien, en om uit te gaan met vrouens met wie ‘n mens ‘n behoorlike gesprek kon voer. Die redes hoekom ek bereid was om dit, en baie ander dinge weer op te gee, was eenvoudig: Ek het gewoon in ‘n bediendekamer in die agterplaas van ‘n vriend van my se erf; al my meublement was gemaak van weggooiplanke; my bed was ‘n ou spons wat ek aanmekaar geplak het; ek het nie ‘n motorkar gehad nie; ek het R2600 per maand verdien, waarvan ek R2000 aan my studieskuld moes afbetaal; en ek het gewerk in ‘n administratiewe kapasiteit by die bedryf van reeds genoemde vriend wat my so goedgunstiglik toegelaat het om gratis op sy erf te woon. Daar was sekerlik ander opsies, maar my ambisies en my persoonlike politiek was van so ‘n aard dat om terug te kom Ooste toe geblyk het die enigste werklike oplossing te wees.

Wat ek in die afgelope twee jaar hier gedoen het was veel, veel meer as wat ek gedink het ek sou doen. Die oorspronklike idee was om geld te maak, en om my skuld af te betaal. Ek sou dan een of ander tyd terugkeer Suid-Afrika toe, ‘n huis koop, en op die stoep sit en vir almal wat verbystap middelvingers gooi. Ek wou vry en onafhanklik wees.

Dit het my nie lank gevat voor ek besef het dat ek hierdie doelwitte moes kwalifiseer nie. Om “vry en onafhanklik” te wees, so het ek besef, kan ook impliseer dat niks en niemand rêrig vir jou saak maak nie. Geen vrou nie, geen kinders nie, geen verpligtinge of verantwoordelikhede nie.

‘n Duideliker formulering het soos volg gelyk: om die vryheid te hê om te kan kies wat ek wil doen, en myself hoofsaaklik daarmee besig te hou; om onafhanklik te wees van base en besighede en instellings wat aan my dikteer hoe ek moet lyk, wat ek moet sê, en hoe ek ‘n baie groot deel my dag moet spandeer – net omdat ek afhanklik is van die geld wat hulle na my bankrekening toe kanaliseer aan die einde van elke maand.

Siende dat ek nog nie heeltemal in ‘n posisie is om middelvingers te lanseer nie, kan dit dus met betreklike sekerheid gesê word dat ek huidiglik vasgevang is tussen my ambisieuse doelwitte en my werklike situasie.

Twee oplossings bestaan vir hierdie dilemma. Die een is die alombekende gedagte wat my gereeld besoek in die vroegoggendure (nadat ek uiteindelik die werklikheid verlaat het vir die soma van my bed), naamlik die ontelbare miljoene wat jy jou eie kan noem as jy die Britse Lotery gewen het. Die ander oplossing is om werksgereedskap in te win waarmee jy vir jouself onafhanklikheid kan bewerkstellig van jou ekonomiese meesters. In my geval kom dit tot ‘n groot mate daarop neer om ‘n goeie rekenaar te besit. Ander items wat my eie stryd vir onafhanklikheid sal bevorder sluit in ‘n goeie musiekversameling; soos my ou held Springsteen op ‘n dag gesê het, “Rock & Roll motivates”.

Om oor al hierdie gereedskap te beskik, en selfs daadwerklik gebruik te maak daarvan, betaal natuurlik nie onmiddellik die huur aan die einde van die maand nie. Om hierdie rede is aanvangskapitaal ‘n noodsaaklikheid. Dit is met hierdie noodsaaklikheid in gedagte dat ek steeds my woonstel elke dag verlaat om ‘n diens te lewer waarvoor daar op hierdie plek ‘n aanvraag is, naamlik Engelse lesse wat aangebied word deur “an actual speaker of the language” (wat in meeste gevalle neerkom op ‘n bleker vel, ‘n langer neus, en ander kleur oë as al die plaaslike Engelse onderwysers wat soms meer bekwaam is om taallesse aan te bied).

Een ding is egter belangrik om te noem in hierdie bespreking van my edel stryd om onafhanklikheid – ek beplan nie meer om genoeg geld te akkumuleer om ‘n huis te koop, en vir die res van my dae op die stoep te sit en vir mense wat verbystap deuntjies op die blokfluit te speel nie. Die idee is om hierdie gereedskap wat ek bymekaar begin maak het eerder te gebruik om ‘n gereelde inkomste te verdien. Hierdie proses om die Skepping van Kreatiewe Werke my inkomste-genererende besigheid te maak, het reeds begin.

[...]

[Die res van die essay het 'n verduideliking bevat van die ekonomiese beginsels van Die Skepping van Kreatiewe Werke as 'n inkomste-genererende besigheid. Hoewel ek vasgeval het in lang sinne wat nie heeltemal gesê het wat ek wou sê nie – ek het die skryfproses gestop in die middel van een van hierdie sinne, word die idee en die argument daaragter voortgesit in die res van die boek.]

Hierdie inskrywing dateer: 08 - 12 - 2000 om 22:40 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.