“BALLINGSKAP 12″ (model ii)

Deur 29 - 09 - 2002

[Maande van skryf-stilte het gevolg, en toe einde September 2002 reken ek dis weer tyd om my "ballingskap" te heroorweeg. Die idee van om terug te keer Suid-Afrika toe – sporadies genoem sedert '99 – het teen hierdie tyd 'n kragtige invloed gehad op my gemoed. In hierdie verband noem ek 'n paar dinge waaraan ek op daai stadium gereeld gedink het, maar wat geen ontwikkeling gehad het in tekste wat dit voorafgaan nie (ek het byvoorbeeld ernstig begin rondspeel met die idee om China toe te gaan, en my keuse was die suidelike metropolis van Guangzhou, duskant Hong Kong).

Die idee van "seisoenale teaching" – wat sou neerkom op 'n paar maande elke jaar in Suid-Afrika, en dan 'n paar maande in die Ooste – maak ook 'n eerste verskyning in hierdie stuk. Dit sou 'n spoor blyk te wees waarop ek later weer gedagte-treine sou laat rol.

Hierdie is, soos die titel aandui, "model ii". Die eerste weergawe het hoofsaaklik tabelle bevat met datums en begrotings.]

———————

Wat is die redes vir hierdie oefening in tabellering en somme-maak? Soos gewoonlik is daar drie redes wat reeds van vroeër tye af paraat staan vir inspeksie: 1) Ek wil meer tyd met my familie spandeer, 2) ek wil meer tyd in vroulike geselskap deurbring, en 3) ek wil die eerste twee doelwitte bereik op ‘n wyse wat bevorderlik sal wees vir die nastrewing en realisering van my drie identiteite (Skrywer, Student en Leermeester). Hierdie dinge is wat saakmaak, nie twintig of dertig of vyftig duisend rand nie… ek moes dit net sê vir die rekord. (Om hierdie bravade oor geld te balanseer, moet ek noem dat my senuwees op kole is oor die moontlikheid om weer arm te wees in die land van my geboorte.)

In ag genome dus dat ek graag my familie wil sien oor naweke, gereeld Chinees wil praat, ten minste twee keer per week die koerant wil koop, en dit alles terwyl ek maatskappye en maatskaplike meesters sover as moontlik wil vermy, hoe gemaak? Het ons ‘n onoorkombare probleem op hande?

Een probleem wat opgeduik het in die kontemplering van “model i” hou verband met die deel waar ek na die vakansie in Julie 2003 sal terugkom Taiwan toe vir ses maande. Met nadere inspeksie het dit geblyk dat die enigste rede vir hierdie plan is dat ek dan, teen Maart 2004, sal kan terugkeer na Suid-Afrika met ongeveer R50,000.

Die probleem hiermee is tweeledig: Vyftig duisend sal net hou vir ‘n paar maande as ek nie ‘n inkomste verdien nie; in die tweede plek, selfs al verdien ek ‘n inkomste en die vyftig kase hou langer as wat begroot word, moet ek myself nog steeds inspireer om te wag tot MAART 2004.

Hier volg dus nou ‘n nuwe tabel, met nuwe somme:

[...]

(29 September 2002)

Ekstra nota: Die finale weergawe van die plan is beïnvloed deur Maandagoggend, 30 September, toe ek gemeen het ek vervroeg die hele skedule van Guangzhou 2004 met ‘n paar maande. Teen Maandagaand reken ek, miskien kan ek dit tog maak tot einde Junie 2003 [in Taiwan], maar dan hou ek die idee van China toe gaan in September 2003 vir seisoenale redes.

Siende dat ek dan vir slegs twee maande terug sal wees in Suid-Afrika hoef ek niemand te probeer bluf met groot formulerings nie. Ek kan eenvoudig sê, “Ek is op vakansie – studie-verlof as jy nou aandring op iets wat slim klink – voor ek vir ses maande Guangzhou toe gaan vir werk en verdere studie.”

———————

[En met hierdie voorlopige plan(ne) nog warm in die stomende voue van my brein, het nog 'n jaar van my lewe tot stilstand gekom.]

Hierdie inskrywing dateer: 29 - 09 - 2002 om 23:16 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.