BALLINGSKAP 11: ‘n NUGTER BESKOUING VAN MY PROJEKTE
[Heelwat frustrasie, te veel kantoorwerk, en enkele gedagtes oor konvensies en arbeidsverhoudinge...]
———————
INLEIDING (uittreksel uit die stuk, DOKUMENT9375foklystemaak’nlys0478C)
“Ek het te veel dinge wat my aandag vereis – dis hoekom ek nie kan ontspan nie! Daar’s die handboeke, en die Chinees. Dan’s daar al die skryfwerk waarmee ek begin het, wat afgehandel moet word – al die kortverhale, die roman-fragmente, gedigte wat weer ‘n bietjie verwerk moet word. Dan is daar die woonstel wat die heeltyd vuil is, die bad… die [hond se] stront… die wasgoed, die vloer, die laken-gordyn. Dan’s daar die essays wat ek reeds geskryf het, begin skryf het, en notas wat ek gemaak het van wat ek wil skryf. Dan is daar die lyste van Chinese woorde, en die sinne en die uitdrukkings. Dan is daar die studeerkamer wat opgeruim moet word, insluitende die muur wat ek wil skoonmaak. Dan pla my tande my ook al weer, wat beteken ek moet ‘n afspraak maak by die tandarts. Dan’s daar die foto’s wat ek wil neem, die foto’s wat ek moet in-scan, en die foto-album wat ek wil maak.
Dan is daar die vrae wat antwoorde soek: Hoekom verbeel ek myself ek is die Pous? En, wil ek vir die res van my lewe English teach en teaching material ontwerp, of is daar iets groter waarop ek nie fokus moet verloor nie?
Dan is daar die groot belangstelling van 2000 – die musiek. Ek het maande laas kitaar gespeel, en weke laas aan die klavier geraak (moontlik omdat dit vol papiere is wat nog uitgesorteer moet word). Daar’s die great boek oor song writing wat ek nog ‘n bietjie wil deurwerk… en songs wat ek nog wil skryf. Ek het hierdie urgency dat ek glo dat ek alles nóú moet doen, en as ek nie die heeltyd besig is nie, dan voel dit of ek sondig!
Nodeloos om te sê maak ek lyste. En hierdie lyste is nie soos voorheen nie, want alles op die lys word óf aan gewerk, óf dis iets wat heeltemal binne my onmiddellike bereik is.
Daar’s te veel chaos in Brand se Kantoor! Hoe lank gaan hy nog in Taiwan bly? Wanneer gaan hy sy skuld afbetaal? Wanneer gaan hy vir hom ‘n vrou kry? Wanneer gaan hy verder studeer? Wat is die doel van sy lewe? Wanneer gaan hy terug Suid-Afrika toe? Wat moet hy met sy lewe doen? Wat moet hy eers doen, die hond kos gee of die uitgeprinte papiere sorteer?
Gee die hond kos. Rook ‘n sigaret. Sorteer die uitgeprinte papiere. Haal dan die ander papiere van die muur af en clip dit bymekaar. Kry al die lyste wat jy nóú nodig het en plak dit teen die muur. Gaan gee klas. Kom terug en doen jou Chinese huiswerk. Ruim die lessenaar op. Speel ‘n paar kaartgames, luister musiek, en gaan slaap…”
(RES VAN DIE TEKS)
Wat wil ek regtig hierdie jaar doen… anders gestel, as ek die totaal vat van al die lyste met goed wat ek die afgelope paar maande wou gedoen het, en nog wíl doen, en wat nog nie afgehandel is nie, en ek KANSELLEER! ‘n paar van die items, wat sal oorbly? Wat is die dinge wat ek regtig graag in die volgende… sê ses maande of so wil doen?
Ek wil my Chinees verbeter. [...] Ter opsomming dus, ‘n lys van die materiaal wat ek huidiglik gebruik, en waarmee ek wil voortgaan: [...]
Verder wil ek my studieskuld afhandel. Ek weet ek het gevra na wat ek wil doen binne die volgende ses maande, maar ek glo werklik dat dit moontlik is om my skuld af te betaal in hierdie tydperk. Twee jaar gelede het ek ook geglo dat ek dit binne ‘n jaar of so kan afhandel. In teorie was dit nog altyd moontlik, maar ander dinge het altyd verby die skuld geskuif op die prioriteitslys. Ek is nou al amper drie jaar hier, en my skuld staan omtrent nog op dieselfde as wat dit gestaan het toe ek hier aangekom het. Ek het heelwat gedoen met drie jaar se inkomste, en met die tyd wat ek gehad het wanneer ek minder geld verdien het, maar ek kan nie wat ek gekoop het of gedoen het met my tyd vir krediet omruil ter afbetaling van my skuld nie (ek sou dit ook nie wou gedoen het as ek kon nie).
Die feit bly staan dat, ten spyte van al die goeie dinge wat ek gedoen het, ek steeds ‘n slaaf is, vasgeketting aan die strik wat so bekend is in middelklas geledere: Kry hulle om vroeg skuld te maak, verlei hulle om meer te koop op krediet as wat hulle werklik kan bekostig om af te betaal, en hou hulle sodoende vasgevang in die maalkolk van ‘n ewigdurende skuldlas, wat sal verseker dat nie te veel die Moederskip sal verlaat vir Eilande van Onafhanklikheid nie. In elk geval, dis nóú meer moontlik as ooit tevore om my skuld af te betaal. (Hierdie stuk is pas, om 23:58, herdoop tot BALLINGSKAP 11).
‘n Derde ding wat ek wil doen, is om my Links_Muur skoon te maak, en plakkate op te sit met die spesifieke name van die GOED-GESELEKTEERDE projekte van 2002 – the chosen few.
Ek gaan voort – enkele dae later (22 Januarie). Vanmiddag het ek weer na my Chinese les toe gejaag met dieselfde frustrasie en, sal ek waag om te sê, teleurstelling in myself. Ek het gedink, dis nou omtrent sestien maande al wat ek elke week hierdie les het, en ek voel nog steeds asof ek in Graad Een rondhang. Ek het omtrent al ‘n miljoen woorde geleer, maar soms blyk dit asof ek niks meer as tien kan onthou nie – en van hierdie tien woorde spreek ek miskien twee reg uit, as ek gelukkig is! Ek voel teleurgesteld in myself, soos ‘n ouer wat sy kind elke dag by die Engelse klas aflaai, en as hy die kind na ‘n tyd vra wat hy al geleer het, kan die kind nie ‘n enkele woord onthou nie. Ek spandeer nie genoeg tyd, op ‘n daaglikse basis, aan die bemeestering van hierdie taal nie. Dis so eenvoudig soos dit.
Terug by die huis (na die klas) rook ek ‘n sigaret, en ek besef toe dat ek nie net ‘n paar projekte het nie, ek het drie beroepe wat ek probeer balanseer op my neus! In die eerste plek is daar my inkomste-werk, 25 tot 30 ure per week as ‘n Engelse onderwyser. Dan is daar die twee sekondêre beroepe wat ek van die grond af probeer kry, naamlik as ‘n outeur van taalhandboeke, en as ‘n skrywer van fiksie en nie-fiksie (in beide Afrikaans en Engels). Daar’s ook my stokperdjies – fotografie en musiek, waaraan ek tyd móét spandeer, anders voel dit asof ek goed begin met groot entoesiasme, net om te sien hoe alles platval. (Dis soos die einste pa wie se kind na sestien maande nog nie vlot Engels kan praat nie, wat óók kla dat hy vir sy kind duur speelgoed koop, dan speel die kind net ‘n paar keer daarmee, en dan word dit in die kas gegooi. En ek het altyd gedink ek sal nooit my kinders oor die afgrond dryf nie…)
Wat my bring op ‘n ander onderwerp. ‘n Week of wat gelede herinner iets my aan die fliek, The Saint, en hoe die hoofkarakter na sy banksaldo kyk en dink, nog soveel, “then I’m out”. Ek dink toe weer aan ‘n vraag wat ek al meer as een maal vir myself gevra het: Hoeveel geld het ek nodig om myself los te koop van die Diktat van Establishment Konvensies? (Wat nog ‘n nes vol termiete oopkrap. Om dinge kort te hou, sal ek net noem dat ek nie ‘n kluisenaar wil wees nie, en dat ek geen probleem het daarmee om midde-in die sogenaamde establishment te woon, te werk, en nou en dan sosiale omgang te hê nie. Maar ten einde die werk te kan doen wat ek glo my doel in die lewe is, moet ek op ‘n daaglikse basis vry wees om my werk te kan doen soos ek dit goedvind. Sekere kompromieë sal altyd gemaak moet word, dit aanvaar ek. Dis ‘n geval van graad – hoe meer die vervulling van jou behoeftes en die kwaliteit van jou lewe afhanklik is van die eerbiediging van konvensies veral soos aangetref word in die ekonomiese verhouding tussen “Baas” en “Werker” en selfs dié tussen “Besigheidsman” en “Kliënt”, hoe minder vryheid het jy om te wees wat jy werklik kán wees, om jou werklike potensiaal te kan inspan, en om eerlike uitdrukking te kan gee aan jou oortuigings en opinies.)
Hoeveel dus, het ek nodig om te kan sweef? NT$500,000? R250,000? US$100,000? Dit sal voldoende wees om te verklaar dat ek genoeg geld nodig het om my skuld af te betaal, en óf eiendom te koop wat uitverhuur kan word, óf om genoeg kapitaal te belê in iets anders om ‘n maandelikse salaris onnodig te maak.
Ek kan dit dus so verduidelik dat my huidige beroep(e) in die onderwysveld die weg voorberei vir uiteindelike kreatiewe onafhanklikheid. Alternatiewe beroepe mag egter nooit as ‘n verskoning dien om nie reeds my aandag en tyd te fokus op dít wat vir my die belangrikste is nie. Maar kortverhale, essays, poësie, nie-kommersiële literatuur, en studie van enige aard sal noodwendig soms moet wag terwyl geld gemaak word op ander wyses wat binne my belangstellingsveld lê. (Gaan hierdie fokken essay vir ewig vat om klaar te kom? Ek het handboeke wat wag, manifeste, foto’s wat geneem moet word, stories, liedjies, musiekinstrumente…)
Ter wille daarvan om my tyd meer effektief te benut, en om hierdie stuk AF TE HANDEL! sal ek nou ‘n kort lys saamstel van persoonlike projekte wat sedert 29 Oktober 2001 tot ‘n mindere of meerdere mate belangrik was (minus die obvious sogenaamde projekte, studie, skryfwerk, en die materiaal waarmee ek besig is): [...]
Dit is dan BALLINGSKAP 11, nie omdat ek nie meer het om te sê nie, maar omdat dit my irriteer om vir weke lank te moet onthou, “met watter essays is ek nou besig?” Any case, daar’s altyd Ballingskap 12. (Afgehandel: Donderdagaand, 31 Januarie 2002)
