Verwag die ergste, maar hoop vir beter

MAANDAG 23 OKTOBER 2023

Wat doen jy as jy dink die kans is sterk dat die vrot vrugte die elektriese waaier gaan tref in die volgende twintig jaar?

Ontwikkel volhoubare stelsels om jouself so fiks en gesond as moontlik te hou.

Leer hoe om jou eie kos te kweek.

Leer nuwe vaardighede aan, en verskerp bestaande vaardighede. Leer die basiese woordeskat en sinstrukture van addisionele tale. Leer vaardighede aan wat waarde vir ander mense sal hê, ongeag of die “vrugte” die waaier tref, maar veral as dit tref.

As jy op bates in die wolk of op papier gaan vertrou, belê in goeie gesondheidsversekering.

Belê in klein items wat ruilwaarde sal hê, soos goue en silwer munte en ander trosse goud en silwer.

Ontwikkel nuwe verhoudings, en hou bestaande verhoudings gesond. Jy moet op iets staat maak.

WOENSDAG 25 OKTOBER 2023

Beste is om te hoop die vrugte tref nie die waaier nie. Niks sal maklik wees nie. Selfs al het jy honderde stukkies goud en silwer en ander juwele om te ruil vir kos en mediese sorg en so aan – hoe lank sal dit vat voor iemand besef jy verskyn elke paar weke met ’n waardevolle item, en jou volg terug na jou huis toe? Jy’t wapens waarmee jy indringers kan uithou? Hoe lank voordat mense wat nie wapens het nie, en wat weet wat hulle kan bekom as hulle ’n wapen teen iemand se kop kan druk, jou beroof van joune? Hoe lank voor mense jou groentetuin stroop?

Natuurlik moet jy voorberei vir meer as een toekomscenario. Maar moenie dink die zombie-apokalips sal ’n stappie in die park wees omdat jy ’n honderd goudmuntstukke in jou kluis het, ’n groentetuin in jou sitkamer, en ’n AK-47 langs jou bed nie.

______________________

Hoekom die waarheid nie ’n swart pil hoef te wees nie

VRYDAG 15 SEPTEMBER 2023

Weereens, waaroor gaan die lewe? Dis ’n stryd om oorlewing, en vir ’n mate van geluk om die stryd die moeite werd te maak. En op die ou end hoop jy dat jy nie ’n pynlike dood sterf nie. En wanneer jy dood is, sal ’n paar mense jou vir ’n tydperk mis, maar die res van die wêreld sal voortgaan asof jy nooit geleef het nie.

Hierdie is koue, harde feite.

Maar ’n mens is in die versoeking om te wonder of die pil nie ’n bietjie te swart is om te sluk nie.

Die sleutel is in die graad van geluk.

Daar’s ook verskillende grade van oorlewing. As jy optimisties is en glo aan die wye spektrum van moontlikhede beskikbaar om ’n goeie lewe te lei, kan jou oorlewing relatief gemaklik wees – van die kos waaraan jy smul drie tot vyf keer per dag, tot die drankies wat jy in jou keel afgooi, tot die beddegoed waaronder jy slaap, en die hoeveelheid tyd wat jy spandeer om die wêreld te verken en te spandeer met jou geliefdes en vriende.

Die kwaliteit van jou oorlewing dra ook by tot jou bewussyn van geluk.

En as jy ander mense bystaan in húlle stryd om oorlewing en húlle pogings om die lewe die moeite werd te maak, verhoog dit jou eie bewussyn van ’n lewe wat die moeite werd is om te leef.

Die einde is egter gewoonlik nie jou keuse nie.

Wat dit soveel belangriker maak om gelukkig te wees voor die einde aanbreek – stadig en uitmergelend, of genadig vinnig.

______________________

Lewe en dood – ’n reeks gedagtes

SONDAG 30 APRIL 2023

Twee dinge wat albei waar is:

’n Mens gaan nie so maklik dood nie.

Maar net soos dit, en jou lewe is verby.

* * *

Jy leef asof jy nié vandag gaan sterf nie. En tog kán jy vandag sterf.

Of, jy moet leef asof jy inderdaad vandag gaan sterf!

Maar as jy dit doen … het jy nie geld om môre kos te koop nie.

* * *

Die lewe is vieslik. Die lewe is mooi.

Die lewe is wreed … en vol genade.

Die lewe is voorspelbaar. En die volgende dag is jy weg.

* * *

Ons wat agterbly, moet voortgaan. Tot dit ons beurt is.

* * *

Dié wat nog lewe diskrimineer teen dié wat reeds ontslape is.

Die ontslapenes wéét wat dié wat nog leef, nié weet nie.

* * *

Lewe word aan ons geleen.

En wat geleen word, word uiteindelik teruggeëis.

(Opgedra aan ’n vriend)

______________________

Kunsmatige Intelligensie as Engelse Onderwyser

DINSDAG 28 MAART 2023

Is my dae as Engelse onderwyser getel, of is daar hoop in hierdie ongekarteerde dae van Kunsmatige Intelligensie?

In die eerste plek is ek nie ’n Engelse onderwyser soos die term gewoonlik verstaan word nie. Wat ek doen, kan meer akkuraat beskryf word as facilitating the acquisition of English conversational skills, and consulting on matters of western culture – and sometimes history.

Natuurlik kan beide hierdie rolle vervul word deur enige van die kletsbotte wat reeds beskikbaar is vir die publiek, en sal binne ’n paar maande (of weke, of dae) nog beter vervul kan word deur pasgemaakte kletsbotte wat ontwerp is vir hierdie spesifieke doele. Ek kan ook self ’n kletsbot ontwerp om die take te vervul soos ék dit sou doen, siende dat dit nie so moeilik is soos wat ’n mens ’n paar dae of weke gelede gedink het dit is nie.

Nietemin, behalwe vir bogenoemde rolle wat ek in die klaskamer vervul, of langs iemand se eetkamertafel, voorsien ek ook ’n graad van vermaak aan my betalende kliënte. Goed en wel, die vermaak is nie noodwendig eersteklas nie, maar mense put voldoende genot daaruit om aan te hou om my te betaal. Kan Kunsmatige Intelligensie vermaak voorsien? Waarskynlik in die nabye toekoms, maar nie volgende maand nie.

Die derde rol wat ek voorsien is soortgelyk aan dié van die Katolieke priester, of die kroegman of -vrou. Mense is verbasend eerlik met my oor hulle doen en late, en oor wat aangaan in hulle families en sosiale sirkels. Omdat ek nie beweeg in dieselfde sirkels as hulle nie, en omdat hulle tereg vertrou dat ek diskreet sal wees, deel hulle soms stories met my wat hulle van hulle borste af wil kry. En ek sal hier en daar ’n woord korrigeer, of die korrekte grammatika verduidelik, net sodat dit darem nog lyk soos ’n Engelse klas.

Sal mense hierdie stories vertel aan ’n Kunsmatige Intelligensie kletsbot? Dalk eendag. Vandag se kinders wat grootword daarmee sal dit seker doen. Maar ek verbeel myself dat dit nog ’n rede is hoekom ek vir ten minste nog ’n jaar of so geld kan verdien in my huidige beroep.

Natuurlik werk ek hard daaraan om by te bly, siende hoe vinnig dinge deesdae verander.

______________________

Beter as geen plan nie

MAANDAG 16 JANUARIE 2023

As ’n sensasie van geluk nie ’n gereelde ervaring in jou daaglikse bestaan is nie, of indien ’n netto positiewe bewussyn nie iets is wat jou lewe kenmerk nie, sal sommige mense tot die gevolgtrekking kom dat hulle daaglikse bestaan nie die moeite en die somtydse swaarkry werd is nie.

As jou daaglikse bestaan nie die moeite en die somtydse swaarkry werd is nie, sal sommige mense argumenteer dat jy net sowel jou eie lewe kan beëindig. Tensy – jou lewe-eindigende daad te veel skade sal doen aan mense vir wie jy omgee. In so ’n geval moet jy eenvoudig die moeite doen om te oorleef en die somtydse swaarkry verduur.

Indien jy godsdienstig is, het jy dalk ander redes om voort te gaan met jou lewe – al reken jy dit is die moeite nie werd nie. Jy glo dalk dis nie jou reg om jou eie lewe te eindig nie, of dat die god waarin jy glo ’n plan het met jou lewe. Dat jy eenvoudig die swaarkry en die moeite moet verduur tot die plan ontbloot word, of tot die tyd aanbreek vir jou om te doen waarvoor jy op aarde geplaas is, by wyse van spreke.

Klink swartgallig (veral vir ’n eerste stukkie teks van die jaar), maar dit was ook die idee agter ’n stuk van jare gelede: Die lewe is soms swaar en moeilik. Om geluk te ervaar, balanseer soms die swaarkry en die moeite van daaglikse bestaan. Dis ook maklik genoeg om jou eie lewe te beëindig. As jy egter nie méér swaarkry en ellende wil veroorsaak vir jou geliefdes nie, doen wat jy kan om jou lewe die moeite werd te maak. Sodoende kan jy dalk ook jou geliefdes (en selfs vreemdelinge) se pogings om húlle lewens die moeite werd te maak, fasiliteer, sodat hulle nie húl lewens beëindig en jóú lewe daarmee ellendig maak nie.

In ander woorde: Ek maak myself gelukkig sodat my lewe die moeite werd is om te leef, en sodoende help ek jou om gelukkig te wees sodat jóú lewe ook die moeite werd is om te leef.

Werk nie altyd nie, maar dis beter as om met geen plan deur die lewe te gaan nie.

______________________