“As geldmaak nie jou eerste prioriteit is nie, wat is dan?”

WOENSDAG 4 FEBRUARIE 2015

Stel jouself voor iemand vra jou om ’n redelike groot geldelike bydrae te maak tot ’n saak, en jy antwoord, “Ek kan jou nie regtig help nie. Ek maak nie juis veel geld nie. Dis nie my fokus nie.”

“Wat bedoel jy geldmaak is nie jou fokus nie?” sal die persoon vra. “Almal het tog geld nodig!”

Nie een om ’n kans te laat verbygaan om ’n wanopvatting uit te wys nie, reageer jy deur te bevestig dat meeste mense geld nodig het, maar dat nie almal nodig het om geld te maak nie. As voorbeelde noem jy monnike en nonne, ryk mense se kinders, mense wat ryk geërf het, kriminele wat reeds genoeg gesteel het, en so aan.

Jy verduidelik verder dat jy wel ’n deeltydse werk het, maar dat jy net genoeg geld maak om huur te betaal, kos te koop, rekeninge te betaal, en so nou en dan iets te doen wat jy geniet. Jy voeg by dat enige ekstra geld gespaar word sodat jy elke jaar of twee jou familie kan besoek.

Na ’n oor en weer gevraery kom dit uit dat jy tog probeer om meer geld te maak.

“Ja,” sal jy erken. “Dit is so.”

Jy’s nie onnosel nie, sê jy. Jy is bewus van die voordele daarvan om meer geld te hê as net wat jy nodig het om die nodigste te betaal en die noodsaaklikste dinge te koop. “So ek probeer om ’n bietjie meer geld te maak, maar weereens, dis nie my eerste prioriteit nie.”

“Jy’t nie kinders nie, het jy?” sal die ander persoon vies vra.

“Nee,” sal jy antwoord. “Daarvoor sal ek immers heelwat meer geld nodig hê.”

“As geldmaak nie jou eerste prioriteit is nie, wat is dan?” sal die ander persoon vra, teen dié tyd sigbaar geïrriteerd.

“Soos elke ander mens op hierdie planeet,” begin jy nadat jy ’n gepaste pose ge-strike het, “insluitende die man of vrou wat met liefde ’n kind grootmaak, die man of vrou wat in groot opregtheid ’n god aanbid, en die man of vrou wat groot hoeveelhede dwelms of drank gebruik, is my eerste prioriteit om my eie lewe die moeite werd te maak. Ek het ontdek dat daar dinge is wat relatief min geld vereis wat my inderdaad laat voel asof my lewe die moeite werd is om te leef, meer as wat die geval was toe ek bloot probeer het om soveel geld te maak as moontlik en nie veel anders nie.

“As ek deur wie ek is en wat ek doen ’n klein bydrae kan maak om ander mense te help om ook oortuig te wees dat húlle lewens die moeite werd is om te leef,” voeg jy dan na by na ’n kort pouse, “is dit ook goed.

“Maar,” sê jy dan, en sirkel terug na die begin van die gesprek, “ongelukkig maak ek nie tans genoeg geld om veel by te dra tot hierdie edel saak nie.”

Is dit goed genoeg vir jou ondervraer?

Dit sal die dag wees.

______________________