As ek terugkyk oor die laaste vyftien jaar

DINSDAG 5 JULIE 2011

As ek terugkyk oor die laaste vyftien jaar (klink skielik nie so lank nie), dan kry ek amper lus om te sê: Ek moes nooit moeite gedoen het met geldmaak nie. Dis duidelik nie my ding nie. Dis nie wat ek veronderstel is om te doen nie …

Natuurlik kan ek nie te ver gaan met die hele veronderstelling-storie nie. Dit impliseer Goddelike Roeping, of Kosmiese Opdrag, en hoewel ek hierdie tema aanraak vir literêre waarde, kan ek dit nie deel maak van ’n rasionele argument nie – of ek kan, maar hierdie is nie die plek daarvoor nie.

Die vraag wat wel by my opkom as ek dink aan ’n alternatiewe persoonlike geskiedenis sedert 1996, is waaroor sou ek geskryf het?

Die feit dat ook ék moes geld maak om te oorleef, het my geforseer om, ongemaklik soos dit was, te onderhandel met die wêreld, soos ek die wêreld gesien het oor die laaste vyftien jaar. Ek moes op een of ander manier my plek vind, of my plek definieer, of uitkrap, of oopbaklei. Ek moes uitvind wie en wat ek was – en is – IN HIERDIE WÊRELD.

Ek moes dit doen omdat ek geld nodig gehad het, en niemand het geld aangebied vir niks nie. Soos meeste ander van my geslag en dié voor my, moes ek op die arbeidsmark my ware uitstal en hoop iemand sien iets waaruit hulle ’n wins kon maak. Indien die proses dan nie kon werk in my geboorteland nie, dan enige ander plek in die wêreld.

Om te sê hierdie proses van maak-jouself-bruikbaar-vir-iemand-met-geld-of-word-’n-boemelaar was nie regtig waaraan ek my tyd wou verwyl die afgelope dekade en ’n half nie, is om net die oppervlak te krap. Punt is, ek moes dit doen. En dit het my storie geword: Hoe ek vanaf my middel-twintigs probeer het om te onderhandel met die sogenaamde establishment. Hoe ek probeer het om, soos ek geskryf het in Mei 1998, my rekening met die establishment te vereffen – sodat ek die vryheid kon hê om te kon kies wáár, hóé en op watter terme ek ’n verhouding met hierdie wêreld sou hê.

Waaroor sou ek geskryf het as ek uit ’n “ou geld” familie gekom het, as ek die opsie gehad het om te onttrek na die kothuis op die familie landgoed? Sou my skryfwerk beter gewees het? Interessanter? Sou dit meer literêre waarde gehad het? Sou ek materiaal geproduseer het met meer kommersiële waarde?

Wie weet. Dalk was, en is dit, nie deel van my Kosmiese Opdrag, of my Goddelike Roeping nie.

En as daar geen opdrag of roeping is nie?

Dan weet ek steeds: Ek moet skryf.

______________________