As alles regverdigbaar is, waar staan jy?

Saterdag 5 Julie 1997

Enige persoon kan dit regverdig om politieke mag met geweld oor te neem en ’n despoot te word. Enige persoon kan dit ook regverdig om hierdie despoot te elimineer. Enige despoot kan dit verder regverdig om sy posisie te versterk met enige middels tot sy beskikking.

’n Krimineel kan dit regverdig om kriminele dade te pleeg. Agente van Wet en Orde kan dit regverdig om die krimineel te jag soos hulle sal doen met ’n dol hond en hom of haar te verwyder uit die samelewing. Die krimineel kan dit natuurlik regverdig om sy vryheid te beskerm teen die Agente van Wet en Orde met alle middels tot sy beskikking. En die Agente van Wet en Orde kan dit regverdig om, ter wille van die Gemeenskaplike Goed, wet en orde te handhaaf met alle middels tot húlle beskikking.

Agente van Rewolusie kan dit regverdig om teen (huidige) Wet en Orde in opstand te kom. En enige hoeveelheid individue kan dit regverdig – aan ander en aan hulleself – om die opstand te steun.

’n Mens kan dus sê dat dit nie uitsonderlik was dat Agente van Apartheid dit kon regverdig om Apartheid te probeer handhaaf deur die gebruik van alle middels tot hulle beskikking nie; en dit was heeltemal redelik dat die Agente van die Struggle for Human Rights dit regverdig het om Apartheid te beveg met alle middels tot húlle beskikking.

Agente van die (huidige) Orde vind dit dus regverdigbaar om die Orde te beskerm teen Agente van Rewolusie; Agente van Rewolusie vind dit ook regverdigbaar om die Orde te beveg met alle middels tot hulle beskikking.

Vraag: Op grond van wát regverdig mense en groepe hulle aksies?

Voorlopige oorwegings: Oorlewing van die sterkste … gemeenskaplike goed … enige iets anders?

Geen persoon, instelling of organisasie kan dit as vanselfsprekend aanvaar dat dit die sterkste is nie. Enige persoon, instelling, of organisasie kan dit regverdig om met alle middels en metodes tot hulle beskikking ’n sterker persoon, instelling of organisasie uit te daag in ’n poging om hul eie posisie te verbeter.

Een Persoon kan dit dus regverdig om Ander Persoon uit te daag indien eersgenoemde glo hy kan sy opponent oorwin; en indien hy hom oorwin, dat hy sy nuwe posisie sal kan verdedig.

Indien Een Persoon Ander Persoon die stryd aansê en dan verloor, kan laasgenoemde dit volgens sy eie begrip van die wêreld regverdig om Een Persoon, en selfs ander persone wat dink soos hy, uit te wis met genadelose brutaliteit. Sal dit regverdig kan word volgens die Wet van die Oerwoud, van Slaan Dood of Word Doodgeslaan? Dit wil so blyk.

Is die Wet van die Oerwoud moreel regverdigbaar? Wat is die maatstaf?

Waar, aan die einde van die dag, staan jy as individu? Hoe werk jy uit aan watter kant van die skeidslyn jy jouself posisioneer?

______________________