Arm skrywer of ryk entrepreneur

WOENSDAG 16 MAART 2016

’n Gedagte het gisteraand gehop van een ding tot ’n volgende, en toe ek my weer kon kry, vra ek myself: Wat sal ek eerder wil wees, ’n arm skrywer of ’n ryk entrepreneur? Die idee was argumentsonthalwe dat ek as ryk entrepreneur geen kreatiewe werk sal doen nie.

Dit was ’n moeilike vraag.

Tien blokke later (ek was op my fiets) was ek tevrede met my voorlopige antwoord: Dit is moeilik om te sê, het ek gereken, want hoe arm sal ek wees, en wat sal ek skryf?

Die implikasie was dat ek steeds bereid is om ’n eenvoudige bestaan te voer ter wille daarvan om produktiewe tyd te kan spandeer aan skryfwerk, maar ek is nie bereid om swaar te kry ter wille van een opstel elke week of twee oor die weer in Kaohsiung of iets anders onbenulligs nie.

Die vraag is ook hoe eenvoudig die bestaan sal wees. Ek wil nie in die park slaap nie, al moet ek dan ’n paar goeie, geïnspireerde stukke prysgee in die proses. (Hoeveel sal ek in elk geval produseer voordat ’n hawelose digter my notaboek en my pen steel?) Feit is ook dat ek nie alleen is nie. Verwag ek dat my lewensmaat saam met my moet suffer? Of sal ek beweer dat ek bereid is om te suffer, wetende dat dit nie nodig sal wees nie want my lewensmaat sal jammer voel vir my en haar kos met my deel?

* * *

Die gedagte het gekom toe ek gedink het aan dinge wat ek oor die volgende paar dae moet doen vir een van my bronne van inkomste – ’n vryskutdiens wat ek lewer aan ’n paar kliënte. Ek het gedink hoe ek bereid is om te doen wat nodig is om die besigheid aan die gang te hou, solank ek nie op ’n straathoek hoef te gaan staan om enige iets te verkoop nie.

Ek het ook gedink aan iets anders wat ek ’n tyd gelede geskryf het – dat ek enige ambisies om my eie besigheid te begin of te bestuur genadeloos moet vergruis. Hoekom? Ek was van opinie dat ek nie myself 100% daaraan sal kan toewy nie.

Natuurlik is daar ander mense wat beskou word as suksesvolle besigheidsmense of entrepreneurs wat sukkel met dieselfde dinge as ek. Hoekom is húlle dan suksesvol? Hoekom kom hulle weg daarmee en ek nie? Ek reken die antwoord is nie te ingewikkeld nie: hulle neem mense in diens, of werk andersins saam met mense wat die dinge doen wat hulle nie kán of wil doen nie.

Dit is dus nie ’n geval dat ek nie in staat is om ’n suksesvolle entrepreneur te wees nie; ek werk net nie saam met die regte mense nie … of eerder, ek probeer steeds om alles self doen.

* * *

Ek wonder gereeld wat ek sal kan uitrig as ek voltyds moet skryf eerder as om ’n halfdosyn inkomstebronne aan die gang te probeer hou. Dis natuurlik ’n ope vraag. Dalk sal al die oefening in woordkuns lei tot ’n paar kortverhale of artikels wat deur meer as tien mense gelees sal word, en – wie weet? – ek mag dalk genoeg geld maak om ’n nuwe fiets te kan koop. Of dalk sal ek na ’n jaar of twee met honger oë opnuut kyk na dinge wat ek voorheen beskou het as benede my.

Daar is immers niks soos hongerte en vernedering om ’n mens te laat vergeet van boheemse drome nie.

______________________

4 kommentare op “Arm skrywer of ryk entrepreneur”

  1. Is ‘n skrywer nie ‘n entrepreneur nie.? Ek meen wat is ‘n skrywer anders as ‘n entrepreneur? 1.Albei skep sy eie werkgeleentheid. 2. Albei moet dit uitstal, op die internet of op ‘n sypaadjie. 3. Albei moet beplanning doen(tensy jy net lemoene verkoop, hoef jy seker nie te beplan wat om te koop maar tog moet jy beplan hoeveel,..) 4. Altwee moet bemarking doen. Of gillend straatadres hardloop, of ‘n agent kry wat jou geskrifte by die regte plekke kan gaan voorhou (ek wil sê voorlê) ewenwel. Daar is geen verskil tussen die twee hul toerusting en werk area verskil. Punt. Ek dink balans is die wagwoord. Hoekom kan ‘n skrywer nie finansieel selfversorgend wees nie? Bemark hy op onbekende, ontoeganklike plekke? Of skryf hy oor ‘n onderwerp wat geen aanklank vind by die mense onder wie hy bemark. Selfde met ‘n lemoen verkoper, hy gaan erg sukkel om een aan my te verkoop. Hulle is mooi oranje gesond vol Vit C….. Maar ek hou nie van die smaak. As die outjie nou op Loftus was, was hy ‘n ryk mannetjie. Balanseer jou dag met lekker skryfwerk en met ‘n minder aangename taak, wat gaan sorg dat daar fondse is om papier te koop. Dit is nou hier waar ek hoop om eendag ‘n Fiksie Roman van jou te sien. Onthou: soet is proe nooit soet as jy nie reeds die bitter geproe het nie! SM

  2. Elke skrywer moet vir hom- of haarself besluit watse tipe skrywer hulle wil wees. Wil hulle geld maak met hul skryfwerk? Wil hulle opvoed? Wil hulle bloot vermaak, of dalk vertroosting bring?

    In my geval weet ek die waarskynlikheid is laag dat ek geld sal maak met wat ek skryf; derhalwe moet ek sorg dat ek op ander wyses ’n inkomste verdien.

    As ’n mens wil geld maak met jou skryfwerk, moet jy ’n mark identifiseer vir wie jy wil skryf, en dan skryf wat daai mense wil lees, en waarvoor hulle bereid is om te betaal. Dieselfde as jy geld wil maak deur enige iets te verkoop: as jy net lemoene het om te verkoop, beter jy gaan waar mense lemoene wil koop; andersins moet jy uitvind wat die mense soek waar jy is, en maniere probeer vind om daai produk aan hulle te lewer.

    Vir my is my skryfwerk in die eerste plek vrye uitdrukking van my lewenservaring. As ek dit in boekvorm beskikbaar stel, aanvaar ek dat geld deel is van die storie. Oukei, dan maak ek maar ’n paar rand. Maar ek verkoop eerder lemoene elke naweek buite ’n rugbystadion, by wyse van spreke, om geld te maak, om sodoende te verseker dat ek nie nodig het om te verander wat ek skryf sodat meer mense daarvan kan hou, en dalk meer geld in my hand kan stop vir ’n kopie daarvan nie.

    Ek is dus eerder deeltyds entrepreneur om geld in te bring, en die res van die tyd skryf ek wat ek wil, eerder as dat ek ’n voltydse skrywer is, maar ek moet skryf wat gedikteer word deur die mark. As ander skrywers dit doen, goed vir hulle – almal moet eet. Daar was ook nog altyd die gelukkiges, wat geskryf het wat hulle wou, soos hulle dit wou skryf, en toe hulle weer sien, val mense oor hulle voete om ’n kopie daarvan in die hande te kry.

  3. Ek stem. ‘n skrywer moet eerlik met homself wees. Eerstens uitvind hoekom hy wil skryf. Mammon of ‘n eerlike begeerte om sy denke vas te pen, om welke rede ook. Ek glo tog enige skrywer kan geld verdien as sy werk op die regte manier en plek blootgestel word. Skrywers het nie altyd die koudheid wat dit verg om bemarking te doen nie. Dit is nou HIER waar ‘n skrywer die beste bemarker, van sy werk moet betrek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui