Argument met geen reëls nie

DONDERDAG 5 NOVEMBER 2015

My posisie sedert ten minste “Om oor God te praat” (geskryf in November 2001) is soos volg: Jy kan nie glo in “God” sonder om “God” te definieer nie. En wanneer jy vir “God” gedefinieer het, het jy vir jouself ’n afgod gemaak – soos Moses se broer Aäron ’n afgod gemaak het uit goud en juwele, so doen mense dit met woorde.

VRYDAG 6 NOVEMBER 2015

Vele mense sal gereed wees met ’n teen-argument: “Ek definieer nie vir God nie. Ek glo in wat God van Homself geopenbaar het.”

Oukei, sal ek sê, laat ek weer probeer: ’n Mens kan nie glo in “God” sonder om eers vir “God” te definieer nie. En wanneer jy vir “God” gedefinieer het …

“Geen mens het vir God gedefinieer nie. Hy het Homself geopenbaar.”

Hoe weet jy? sal ek vra.

En so sal die heen-en-weer voortgaan, tot jy besef jy is kniediep in ’n argument met geen reëls nie. Want hoe argumenteer jy met, “Ek glo so want ek voel so”? Hoe argumenteer jy met, “Ek glo wat ek glo want ’n boek wat deur God self geskryf is wat die skrywers se hande op ’n sekere manier beweeg het, sê dis hoe dit is. En die boek moet reg wees want die boek sê dit is reg. En my gevoel bevestig dit. En dinge wat ek al voorheen gevoel het, bevestig dit ook. En omtrent almal wat ek ken, glo ook so.”

Hoe argumenteer jy ’n punt as die ander persoon kan sê net wat hy wil sonder enige verwysing na onafhanklike navorsing of bevestiging buiten ander mense wat ook ’n sterk persoonlike aandeel het dat dit wat hy sê en glo, waar is?

“Hierdie is die dop van ’n draakeier,” sê iemand met ’n volstruiseierdop in haar hand.

“Hoe weet jy dis ’n draakeierdop?” vra iemand anders.

“Want ek voel dis waar, en jy kan niks sê wat my sal oortuig wat ek voel is nie waar nie.”

______________________