Almal wil ’n punt bereik

WOENSDAG 18 JANUARIE 2017

Sommige mense organiseer hulle lewens volgens stelsels wat hulle reken die waarskynlikheid sal verhoog dat hulle sal oorleef en ten minste die helfte van die tyd goed sal voel oor hulleself. Ander mense het doelwitte wat hulle een vir een nastreef. Ongeag of jy stelsels of doelwitte verkies, of iets van albei, ek glo almal streef na wat ek kan beskryf as ’n punt. Soms is jy bewus daarvan dat jy hierdie punt nastreef, soms nie.

Hierdie punt is vir vele mense ’n ideale leefstyl – ’n spesifieke manier hoe hulle hul dae en nagte op aarde wil verwyl.

Sommige mense se punt is om ’n gesin te hê, om die rol van moeder of vader te speel vir kinders van hul eie.

Dan is daar mense wat ’n punt nastreef van amper onuitputlike finansiële vermoëns – om te weet hulle kan koop wat hulle wil, en doen wat hulle wil, die put gaan óf nooit opdroog nie, óf die geld wat vandag gespandeer word, word eenvoudig môre vervang.

My punt is om die vermoë te kan hê om verlore te kan raak in ’n aktiwiteit – kan wees ’n skryfprojek, of ’n boek, of navorsing oor ’n onderwerp wat my interesseer. Ek wil verlore kan raak daarin sonder om nodig te hê om myself te herinner daaraan dat ek later moet uitgaan om iets te verkoop (gewoonlik my vermoëns om iets te kan doen), of om iets anders te doen wat veronderstel is om geld te maak.

Meeste mense dink nie elke dag daaraan dat die werklike doel wat hulle nastreef is om daai betrokke dag en nag te oorleef nie. En as jy oorleef, doen jy wat jy moet doen om jou oorlewing die moeite werd te maak. Om ’n punt te hê wat jy nastreef, is meer as net ’n doel wat jy hoop om te verwesenlik. Dit voorsien die inspirasie wat jou vorentoe dryf; dit help om jou oorlewing vandag die moeite werd te maak.

______________________