Alles draai om die PUNT

DINSDAG 3 MEI 2005

Die een advertensie op CNN reken sommige mense “live inspired lives”. Ek hou van die idee, maar wat sou die teenoorstaande wees? Oftewel, watse naam kan mens gee aan ’n lewe wat nie soseer geïnspireerd is nie … en geïnspireerd deur wat? ’n Idee?

WOENSDAG 4 MEI 2005

15:41

Soms ontvou ’n mens se lewe op ’n wyse wat jou laat verstaan dat daar ’n PUNT is waarom jou lewe draai. Wat dan gebeur is dat alles wat jy doen, gesien kan word in terme van hoe ver hierdie aktiwiteit van die PUNT af is. Basiese higiëne en voedselinname onderhou byvoorbeeld die liggaam, wat noodsaaklik is vir jou om jou lewe (wat nie moontlik is sonder die liggaam nie) te laat draai om hierdie PUNT. So ook is dit met werk, of dan inkomste genererende arbeid, wat in die eerste plek gedoen word om kapitaal te verdien om jou lewe te onderhou. (Tensy jou werk die PUNT van jou lewe is, wat ’n saak is wat jy met jouself moet uitsorteer.) Nog ’n voorbeeld is my eie EFL-projekte. Ek kontempleer tans of ’n sekere reeks uit drie of vyf boeke moet bestaan, hoeveel prente daarin moet kom, of dit in kleur of swart-en-wit moet wees, hoeveel en watse tipe oefeninge ek moet insluit, wat die grootte van die boek moet wees, en so meer. Solank ek weet hierdie besluite wat ek moet maak, is steeds verwant aan die PUNT van my lewe (in hierdie geval in ’n sekondêre/onderhoudende/bevorderlike rol), kan ek voortgaan om dit te doen sonder om ’n eksistensiële krisis daaroor te ontwikkel.

17:02

Alles draai om die PUNT.

Die PUNT is nie ’n doelwit waarna jy streef en dan bereik nie – dis iets waarom jou lewe draai. Jy streef wel vir jare daarna om iets te bewerkstellig SODAT jou lewe om hierdie PUNT kan draai.

[27/01/15: Wat is “doel”, en wat is “punt”? ’n Doel is ’n rede hoekom jy iets doen (soos leef). Jy kan óf slaag daarin, óf misluk. ’n Punt is ’n spil waarom dinge draai. Hoekom draai dinge om daai spesifieke spil? Dalk omdat dit jou in staat stel om die doel van jou lewe na te streef. Dus: om die doel van jou lewe na te streef en te vervul, moet jou lewe om ’n bepaalde spil draai.]

[13/06/15: ’n Vrou sê, “Om my kinders gelukkig te hou en hulle goed groot te maak sodat hulle self eendag produktiewe lede van die gemeenskap kan wees en kan help om beskawing te onderhou, is die doel van my lewe … Nee, wag. Die vrou sê eintlik: “Die doel van my lewe is om ’n bydrae te lewer om van die wêreld ’n ordentlike plek te maak, vir myself, vir my kinders, vir al die ander mense wat ek liefhet, en vir almal met wie ons die wêreld deel. In ag genome dat ek dit sien as die doel van my bestaan, sien ek my primêre rol op hierdie stadium van my lewe om my kinders gelukkig te hou en hulle goed groot te maak sodat hulle self eendag produktiewe lede van die gemeenskap kan wees en kan help om beskawing te onderhou. Om dit te kan doen, om hierdie rol behoorlik te kan speel, moet my kinders die PUNT wees waarom my lewe tans draai.”]

______________________