Alle materiaal is skryfwerk van ’n bepaalde tyd

MAANDAG 16 JANUARIE 2017

18:03

Ek is besig om deur ’n paar stukke te gaan van ‘99 en 2000, en ’n tema skemer deur: Ek was ’n gewone man wat net wou trou, ’n gewone werk wou doen, ’n huis wou koop en kinders wou groot maak, maar toe krap iets my programmering deurmekaar. Sedert daai tyd was ek verlore, en onseker van wat ek moes doen met my bestaan. Ek sit toe tussen die boom en die bas, verduidelik ek: Ek wou alles hê en alles doen, en ek het geweet ek mag dalk opeindig met niks.

19:40

Persoonlike Agenda is nie meer “My versameling skryfwerk” wat elke stukkie teks moet insluit wat ek op een of ander stadium geag het as oukei genoeg vir ander mense om te lees nie. Daar is teks in die oorspronklike Persoonlike Agenda wat ek definitief wil publiseer, soos “Dertien minute op ’n Saterdagaand”, maar ek reken Persoonlike Agenda het tog ’n breë tema, dan nie? (Ek het dit veral besef toe ek die “Voorwoord vir die totale projek” gelees het.)

Anders gestel, daar is sekere stukke wat tans deel vorm van Persoonlike Agenda. Hierdie stukke is slegs deel van die projek omdat dit geskryf is tussen Januarie 1999 en Februarie 2004, omdat ek op ’n stadium gedink dit is goed genoeg om vir ander mense te wys, en omdat ek op daai stadium net een boekprojek gehad het (naamlik, Persoonlike Agenda), het dit sin gemaak dat al die stukke deel moes wees van die een projek.

Feit is, ek het intussen twee internet eiendomme ontwikkel met honderde stukke inhoud daarop. As ek iets geskryf het in 2000 of 2002 wat ek wil deel met ander mense, hoef dit beslis nie meer deel te wees van Persoonlike Agenda om dit te kan doen nie.

DINSDAG 17 JANUARIE 2017

01:25

Persoonlike Agenda gaan oor sekere ernstige sake: om alleen te wees; self-opgelegde ballingskap (hoekom? waar? vir hoe lank?); identiteit; familie en vriende en lewensmaat; eie taal en kultuur as deel van ’n tema oor plek en belonging; ’n poging om sin en betekenis in die lewe te ervaar; om die lewe goed genoeg te verstaan om te kan funksioneer buite ’n sielkundige inrigting (wat insluit om die godsdienstige oortuigings te verwerk waarmee jy grootgeword het; om dit as volwassene óf te inkorporeer in jou wêreldbeeld, óf om dit verwerp; indien laasgenoemde, hoekom?); kreatiewe ambisie (in my geval om te skryf) as iets wat waarde gee aan jou lewe, wat jou ’n sin gee dat jy iets doen met jou bestaan wat gepas is in ag genome watse manjifieke dier jy is. Dit volg dat slegs stukke wat handel oor hierdie temas ingesluit moet word in Persoonlike Agenda.

09:36

’n Nuwe dag het helderheid gebring: Persoonlike Agenda is inderdaad “My versameling skryfwerk” van die tydperk Februarie 1999 tot en met Februarie 2004. Sekere temas staan uit, soos vermeld in hierdie nota gisteraand, maar in die eerste plek is en was dit my skryfwerk van daai tydperk, net soos Post Ongetiteld, volume een my versameling skryfwerk is van Maart tot Desember 2004, Post Ongetiteld, volume twee my versameling skryfwerk is van 2005, ensovoorts. Om sekere stukke uit te haal omdat dit nie spesifieke temas aanraak nie, is om te beweer die boek is beplan en geskryf met daai temas in gedagte. Dit was nie. Ek het geskryf waaroor ek ook al wou skryf, en eers later begin om stukke bymekaar te sit.

Slotsom: In 1994 het ek begin aantekeninge maak oor sekere dinge wat my geïnteresseer het. In 2003 het ek begin om aantekeninge saam te bundel in ’n projek, en aangehou skryf. Toe dink ek ’n titel uit. Ek kan nie nou na die titel kyk en sê, “Wag ’n bietjie, hierdie titel lyk asof die boek oor sekere temas gaan, en hierdie 12 of 34 stukke handel nie oor hierdie temas nie, so dis uit.” Elke bundel, vanaf Waar jy niemand is tot die bundel waarvan die 2017-materiaal deel gaan wees, is versamelings van my skryfwerk – in die eerste plek van ’n bepaalde tyd, en as jy mooi kyk, sal jy bepaalde temas kan identifiseer. BrandSmit.NET en Assorted Notes is bloot nuwe platforms waar ek kan deel wat ek geskryf het. Die materiaal, soos ek dit geskryf het, is steeds my skryfwerk van ’n sekere tyd.

______________________