Aantekeninge, avontuur, en om jou droom na te jaag

DONDERDAG 19 NOVEMBER 2015

Soos ek werk aan materiaal wat ek geskryf het in 2005, besef ek dat ek uiteindelik klaar gaan wees met 25 jaar se aantekeninge – oorgetik, geredigeer, vertaal, en gepubliseer.

Een-en-twintig jaar gelede was ek 23 jaar oud, en aan die begin van my volwasse lewe; nou is ek in my middel-veertigs, halfpad op pad daarna om bejaard te wees. Ek kan myself voorstel hoe iemand sal reageer wat die notas volg al die pad van ‘94 af tot en met die mees onlangse notas van hierdie week. Ek sal nie te verbaas wees nie as die persoon sy skouers moet optrek en moet vra: “Is dit al?”

Ek is bewus van die feit dat daar nie juis avontuur was nie. (Of was daar, en ek ignoreer dit net? Ek het immers in drie verkillende lande gewoon sedert 1994.) Ek het wel iemand ontmoet en ’n lewe saam met haar begin, maar geluk maak nie noodwendig vir goeie literatuur nie. En behalwe vir my mislukkings om meer geld te maak die afgelope tien jaar, was daar nie juis groot uitdagings wat ek die hoof moes bied nie.

Is hierdie ’n oproep tot aksie? Moet ek iets doen om my skryfwerk interessanter te maak? Ek meen, as ek fiksie geskryf het, kon ek nog weggekom het met ’n saai lewe. Of as ek geskryf het oor ander onderwerpe as my eie lewe …

WOENSDAG 9 DESEMBER 2015

Om ’n maandlange reis deur Asië te onderneem om in ’n museum of paleis in Frankryk op te eindig, sal die lewe wat ek reeds bewerkstellig het meer kleur gee, en ’n paar onvergeetlike herinneringe – daaroor is daar geen twyfel nie.

Maar ek word ook gereeld daaraan herinner dat mense avontuur najaag omdat die avontuur deel is van hulle ideale bestaan. Hierdie nota is die nuutste manifestasie daarvan dat ek mý droom, mý ideale bestaan, nagejaag het, en tot ’n betekenisvolle mate gerealiseer het.

* * *

Op Saterdag 19 September 2015 skryf ek die volgende:

Twee beskouings van my lewe die afgelope twintig jaar:

1. Ek het ’n kreatiewe lewe nagestreef, en opofferings gemaak in die proses.

2. Ek het nie genoeg opofferings gemaak om ’n kreatiewe lewe na te streef nie.

______________________