7 AUGUSTUS-STUK OOR PLANNE
Vanaf Donderdag, 7 Augustus 2003 tot en met Donderdag, 4 Maart 2004 is 30 weke.
Dertig weke is die tydsperiode wat ek tot my beskikking het om myself voor te berei vir die grootste skuif in my lewe sedert Januarie 1999. (OK, “skuif” sinspeel dalk op die werklike aksie van om ‘n rusbank of ‘n boks vol papiere te skuif vanaf Phoenix City, Taiwan na Kant-Van-Die-Dorp Woonstelle in Bronkhortstspruit. ‘n Beter woordkeuse sal moontlik wees, “transformasie”.)
Sekere voorbereidings is vir hierdie transformasie onontbeerlik. Ek het ‘n kreatiewe natuur waarmee ek in daaglikse aanraking is. Ek weet ook ek kan twaalf ure per dag werk, sewe dae per week, as dit nodig is. Wat ek nie het nie, en wat ek weet ek nodig het soos die warm lyf van… ten minste ‘n troeteldier in my koue huis, is die kennis en bedrewenheid om idees te manifesteer in geld-generende entrepreneurs-projekte. Vir hierdie doel het ek sekere materiaal vergader tydens my onlangse besoek aan die land van my geboorte. Hierdie materiaal moet bestudeer word.
Wat ek verder nodig het om nie net te oorleef in Suid-Afrika nie, maar om my lewensbestemming te bereik, my doel op aarde te vervul, is idees. Idees soos “die aarde is rond”, “blomme groei hoofsaaklik in die lente” en “die baskitaar is ‘n belangrike instrument in moderne populêre musiek” is gaaf, maar ons almal weet wat ek nodig het, is idees wat EK, oor SEWE MAANDE, in SUID-AFRIKA kan gebruik om my finansiële welstand te verbeter.
Soos my geluk dit wil hê het ek alreeds ‘n paar idee-eiers uitgedruk, en hulle lê op hierdie oomblik en wag om uit te broei. Sommige projekte wat ‘n mens aanpak, dit moet ek erken, sal nooit suksesvol wees nie. Sommige projekte lyk ook goed op papier, maar in werklikheid is dit halfgebakte windeiers. Ek glo egter dat ‘n mens hardkoppig sowel as slim moet wees. Ek glo verder ‘n mens moet aan die begin soveel projekte op papier hê as wat jy kan, siende dat nie almal aan die einde geld gaan manifesteer nie.
So, die lys: [...]
Dis dan nou die lys. Ten spyte van die skeptisisme wat ek deesdae kweek – ek glo ‘n entrepreneur moet sonder sentiment na ‘n projek kan kyk – moet ek bieg dat ek dink die lys lyk befok. Aan die einde sal ek dalk geld maak met idees wat huidiglik nie verskyn op Die Lys nie, maar wat miskien aan my geopenbaar sal word soos ek werk aan ander projekte. Of miskien maak ek ‘n miljoen rand oor die volgende drie tot vyf jaar met een of meer van die projekte wat nóú net woorde op ‘n lys is.
Feit is dit, ek raak deesdae toenemend bewus van die idee dat ek iets beet het. Dat die afgelope sewe jaar, en meer spesifiek die afgelope vyf jaar (insluitende die minder aangename ervarings van hierdie jaar) my by ‘n punt gebring het waar ek op die spreekwoordelike bergkruin staan. Dit nadat ek nie net soseer geklim het, op teen die berg nie, maar geklouter het, en gekruip het, deur doringbosse en ruig plantegroei om by die punt van die kruin te kom (so asof ek al jare op die kruin is, maar net nog nie die uitsig kon geniet van die rand af nie?).
Vanaf hierdie kruin sien ek ‘n pad. Ek sien dit lei na dorpies en plekke wat aan my bekend is, waar “my mense” hulle lewens verwyl. Ek sien ook die pad wat ek moet loop om by die berg af te klim (dink Tafelberg, nie noodwendig Mount Everest nie). Ek weet ook dat ek die insigte van my jare in woestyne, grotte, en op bergkruine (maar vasgevang in digte bosse) met my saam moet dra, af na die vlakte, na die dorpe, na die mense, na die wêreld waarna mens kyk as jy op ‘n berg is, maar waarvan jy nie deel is nie.
Watter boeke is op my leeslys vir hierdie voorbereidingsperiode? [...]
Goed, kom ons kom by die punt uit. (Die punte wat ek reeds gemaak het is dalk nie te vrot nie, maar die eintlike doel daarvan was net om myself op te warm vir wat nou gaan volg). Dit het begin Sondagaand – dit moet êrens begin, en begin meeste goeie idees nie altyd op ‘n Sondagaand laat op pad terug van die Seven Eleven af nie? – toe ek vir myself te vertelle gehad het dat ek eintlik verveeld is. Voorheen sou ek ‘n sigaret teen my eie voorkop doodgedruk het as ek so ‘n afskuwelike gedagte gehad het, maar miskien omdat ek moeg was van die stappie kafee toe luister ek toe maar na my eie nonsens-pratery.
Ek reken toe dat dit goed sou wees as ek vorendag kon kom met ‘n idee, ‘n plan waaraan ek kon werk op so ‘n eensame, vervelige Sondagaand – ‘n plan wat my sou inspireer. Dit was nie belangrik dat ek noodwendig die plan moes uitvoer nie, dit het ek geweet. Wat belangrik was, was dat ek moes dink aan een of ander plan wat my opgewonde kon maak. Soos, “Kom ons speel ons beplan om in Finland te gaan ys pak,” of so iets. Vervelig soos ek was, speel ek toe vir ‘n rukkie rond met, “Kom ons gaan Mainland China toe vir ses maande.” En toe op ‘n kol gaan slaap ek maar (ek kan nie meer mooi onthou nie).
Oor die volgende twee dae dink ek toe weer baie aan geld, en spesifiek hoeveel ek nodig gaan hê vir my Beplande Transformasie. Ek reken toe rofweg NT$220,000 sal die basiese uitgawes dek, maar 340,000 sal aansienlik meer vars brood en eiers koop.
Die gedagte aan ‘n plan wat my sal inspireer, bly toe egter neuk in my kop. Dis toe reeds Dinsdag, en ek raak toenemend bewus van die feit dat ek eindeloos verveeld is by die kleuterskool, en dat die verveling my moraal, soos voorheen, negatief beïnvloed. Ek kry toe die briljante gedagte dat daar twee maniere is om 340,000 in die hande te kry. Die een manier is om vanaf September ‘n ekstra teaching job te kry – waarskynlik in die oggend, en heel waarskynlik by nog ‘n kleuterskool. Die ander moontlikheid, reken ek toe, is om een of twee van my kommersiële projekte te ontwikkel en te verkoop, en daarmee die ekstra 100,000 of so bymekaar te maak.
(OK, dit het my nou net bygeval. Ek het Sondagaand gaan slaap met die gedagte van die alternatiewe metode van fondse inwin, en ek kon toe nie aan die slaap raak nie. Ek moes toe aan die einde weer opstaan, en het toe in die sitkamer gesit en werk aan die idee. So in werklikheid het ek al van Sondagnag gesit met die idee van om miskien ‘n profyt te sien van een of ander idee voor ek huis toe gaan.)
Teen Woensdagmiddag, net voor ek met my agt-uur klasgee-skedule moes begin, sit ek by die spieëltafel en dink ‘n inspirerende plan uit: Wat van as ek nie net NIE vir my ‘n ekstra job kry vanaf September nie, maar ek los ook my huidige kleuterskool-posisie aan die einde van hierdie maand? [My kleuterskoolwerk was op hierdie stadium in die middag.] Wat sal gebeur as ek al daai tyd – ten minste agt ure per dag – kan spandeer aan my projekte? Om wat nou net woorde is op papier, en prentjies in my kop, te ontwikkel tot so ‘n mate dat ek teen die einde van die jaar projekte op die tafel kan neerlê en kan sê: “Dis die projekte waarmee ek verwag om geld te maak in die nuwe jaar. Dis hierdie projek, en dis hoe die finale produk behoort te lyk. En dis daai projek, en hoe die uiteindelike resultaat daar behoort te lyk.”
Dit is dus ‘n keuse tussen twee totaal verskillende lewens oor die volgende paar maande. Aan die een kant ‘n kreatief-armoedige laaste paar maande in Taiwan, ter wille daarvan om met genoeg geld in my bankrekening te kan gaan sit en kreatief te wees in Bronkhorstspruit. Aan die ander kant kan ek nou reeds blokke ure elke dag van my teaching-skedule omruil vir kreatiewe ure, en daarmee saam moontlike profyt wat meer as net sal kompenseer vir die verlore teaching-inkomste oor die volgende paar maande.
Wat is op die spel as laasgenoemde my keuse is? Aan die een kant kan ek misluk daarin om ‘n ekstra 100 of 200,000 bymekaar te krap wat noodsaaklik is vir die opheffing van my ballingskap. Dit sal noodwendig beteken dat ek langer hier moet bly.
Maar hoeveel langer? Ek sal realisties gesproke teen Desember al weet of ek hier in Taiwan reeds ‘n profyt kan maak om by my bestaande Strydfonds te gooi. Indien ek dan na my sake kyk, en beslis dat dit nie gaan gebeur nie, dan verander ek onmiddellik my strategie, en verruil vanaf Januarie 90 persent van my kreatiewe ure vir klas-ure.
Hoekom sal ek dit kan doen? Want 90 persent van die voorbereiding van my produkte sal teen Januarie afgehandel kan wees!
Hoeveel langer sal ek dus in Taiwan moet bly? Vanaf Januarie tot en met einde Junie. Oftewel ‘n ekstra vier maande vanaf my beplande vertrekdatum van einde Februarie.
En toe’s my tyd op, en ek moet op my fiets klim en deur die reën jaag om te begin met my skedule wat my vir agt ure van die spieëltafel, en van die rekenaar, en van my notaboek gaan weghou…
Naskrif: Dit is suiwer toeval dat my daaglikse lewenskwaliteit sal verdubbel as ek tot agt ure per dag spandeer aan kreatiewe projekte (al is die projekte kommersieel van aard). En word daar nie gesê as jy daagliks doen waarvoor jy lief is, jy nie net gelukkiger sal wees nie, maar as jy dit toepas op kommersiële projekte, jy ook finansieël suksesvol sal wees?
___________
