31 Desember 2004

Presies een jaar gelede het ek in ’n ander vertrek in hierdie woonstel gesit en gedink dit sal ’n goeie idee wees om ’n laaste stuk van die jaar te skryf eerder as om te gaan dronk raak in die stad saam met ander buitelanders. Ek het geskryf (en sou meer daaroor geskryf het as ek nie tog aan die einde ’n paar biere gaan wegkap het nie) van planne wat gekom het, en planne wat nog gaan kom, van literêre projekte, idees waarmee geld gemaak kan word … en van die toilet wat water drup in die emmer onder die pyp.

Dis Vrydag 31 Desember 2004, om drie minute oor een op ’n winterse middag. Die rede hoekom ek so vroeg al begin om hierdie stukkie teks te produseer, is omdat ek vanaand by my vriendin N.S. se Nuwejaarsparty ’n verskyning gaan maak, en derhalwe nie rondom die middernaguur agter my rekenaar gaan sit met my vingers plegtig hangende bokant die sleutelbord nie – soos ek soms reken dit ’n besete, of obsessiewe skrywer betaam.

Hierdie is dus, benewens die lys wat ek besig is om saam te stel in my notaboek oor die dinge wat definieer wat mens is of wil wees, die laaste teks wat ek hierdie jaar gaan produseer. (Sekerlik is daar nog ’n paar ure oor voor ek my twee klasse moet gaan aanbied, maar ek het die gek idee gekry om die vloer plek-plek met ’n besem by te dam, en die oppervlakke waar ek ornamente en boeke uitstal met ’n verestowwer op te kikker. En siende dat hierdie tipe aktiwiteit onnodiglik lank uitgerek kan word met smoke breaks en nog meer aantekeninge oor definisies en etikette van menslike bestaan, reken ek tyd vir sit agter die rekenaar tydens hierdie spesifieke kalenderjaar is … getel.)

Die jaar 2004 was goed; en indien nie altyd goed nie, meestal bevorderlik vir goeie dinge.

Volgende jaar? Wie weet wat niemand kan weet nie? Aardbewings, siektes, oorlog; inkomstegenererende bedrywe, en dan bedrywe wat goeie resultaat van ’n ander aard sal bewerkstellig; lekkende pype in die badkamer, nuwe rekenaars, en onvergeetlike movies; die beste pizza wat ek ooit in my lewe gehad het, nuwe teorieë, en nog gedigte wat nie altyd rym nie; baie geld, min geld, wasgoed, skottelgoed, gebreekte TV’s en wasmasjiene wat een van die dae gaan breek; CD’s wat oor en oor geluister gaan word, voëls wat buite klets, en vlermuise wat gaan wonder hoe hulle weer by my kombuis gaan inbreek; fietswiele wat gaan pap word op die mees ongeleë tye, nuwe tegnologiese ontdekkings, medisyne wat mense wat gedink het hulle gaan doodgaan, beter gaan maak, en lank uitgestelde besoeke aan die tandarts; koffie saam met vriende, twaalf kilogram vet wat amper oornag gaan verdwyn, en duur Amerikaanse sigarette wat vir dae of weke op die 7-Eleven se toonbank gaan wag vir iemand anders om hulle te koop; dae en nagte wat gespandeer gaan word in diepe bepeinsing, vrae, antwoorde, gemeenskap, samesyn, liefde …

Mag lesers en skrywers, en tandartse en ingenieurs en bediendes en besigheidsmense, en susters en broers en ouers en kinders en ander familie en vriende ’n volgende jaar geniet wat bevorderlik is vir ’n goeie bewussyn, en vir meestal goeie eindresultaat van hul lewens.

Mag 2005 ’n goeie jaar wees. En so ook 2006, en 2007, en 2008, en … as jy ’n goeie patroon gevestig het, hoekom dit versteur?

____________________