Begeerte om die waarheid na te volg – met onverwagse resultate

VRYDAG 19 MEI 2017

Jannie vra sy pa hoekom húlle WP-ondersteuners is, en oom Sarel-hulle vir die Blou Bulle skree.

Jannie se pa antwoord: “Omdat WP die beste span in die land is.”

“Maar hoekom skree oom Sarel-hulle dan nie ook vir die WP nie?” wil Jannie weet.

“Omdat,” antwoord Jannie se pa met ’n glimlag, “húlle dink die Blou Bulle die beste span in die land is.”

Dan sien Jannie se pa die frons op sy seun se voorkop. “Oom Sarel-hulle skree vir die Blou Bulle,” voeg hy dan by, “omdat hulle in Pretoria woon, en die Blou Bulle is die Pretorianers se span. Maar óns weet die WP is eintlik die beste span in die land. Dis hoekom ons vir hulle skree.”

* * *

My ouers het ’n kritiese fout begaan toe hulle my groot gemaak het. In wat sekerlik gesien kan word as bewys dat hulle eerlike mense is wat opreg geglo het wat aan hulle geleer is, het hulle my geïndoktrineer met die oortuiging dat ek trou moes sweer aan die Christelike religie, nie net omdat dit die dominante plaaslike religie was nie, maar omdat hulle dit gesien het as die waarheid.

Toe ek as jong man meer geleer het oor die geskiedenis van die Christelike religie, en die historiese ontwikkeling van teologiese idees, het dit toenemend duidelik geblyk dat die Christelike religie ’n menslike skepping is. Ek het dit ook toenemend moeilik gevind om dit te sien as iets anders as “ons” religie, wat “waar” is omdat ons daaraan glo. Ontmoediging om verdere ondersoek in te stel het ook hoogs verdag aan my voorgekom. Hoekom moes ek nie meer lees oor die onderwerp nie? Hoekom was dit sleg om te wonder daaroor? Hoekom moes ek versigtig wees vir “slim akademici”?

My ouers, wat steeds glo aan dinge wat vir hulle sin maak en wat die lewe vir hulle leefbaar maak, het in my die begeerte laat posvat om die waarheid na te volg – min wetende waarheen dit sou lei.

* * *

Ek skryf dat my ouers my geïndoktrineer het met die Christelike religie. Dit is duidelik ’n kontroversiële woordkeuse. Indoktrinasie word gesien as iets wat totalitêre state doen met die bevolkings onder hul beheer, of wat kultiese leiers doen met hulle volgelinge.

Maar is dit nie tog wat mens se ouers ook doen nie? Hulle stel hulle kinders bloot aan spesifieke politieke affiliasies en religieuse oortuigings van nog vóór hulle oud genoeg is om te verstaan. En soms word een stel kulturele waardes, asook spesifieke politieke affiliasies en religieuse oortuigings, nie net bevorder ten koste van ander waardes, affiliasies en oortuigings nie, alternatiewe word soms ten sterkste gekritiseer, en enige positiewe sienings daarvan aktief ontmoedig.

Ek twyfel nie daaraan dat meeste ouers goeie bedoelings het in hoe hulle hul kinders grootmaak nie, maar as iets lyk soos indoktrinasie, klink soos indoktrinasie, en die resultaat produseer wat indoktrinasie gewoonlik produseer, reken ek is dit nie oneerbiedig om dit indoktrinasie te noem nie.

———–

Terloops, hier is wat Wikipedia sê oor die onderwerp: “Indoctrination is the process of inculcating a person with ideas, attitudes, cognitive strategies or professional methodologies. Humans are a social animal inescapably shaped by cultural context, and thus some degree of indoctrination is implicit in the parent-child relationship, and has an essential function in forming stable communities of shared values.”

______________________

Wanneer geskiedenis verlore gaan

DONDERDAG 4 MEI 2017

Ek dink uit die bloute vanaand aan “verlore geskiedenis”. As voorbeeld dink ek aan die Schoeman-gemeenskap by Vissershoek, noord van Pretoria, vanaf die 1890’s tot en met ten minste die 1940’s (toe my pa daar gewoon het as kind – my ouma was ’n Schoeman).

Lewens is daar geleef – maar wie weet nog daarvan? Wie ken nog die staaltjies? Wie kan nog sê wat gebeur het Oukersaand in 1915? Wie kan nog vertel van die insident een stil Sondagmiddag in 1927? Wie onthou nog die rede hoekom die kinders so bang was een donker nag in die winter van 1931?

Die familiebegraafplaas is vol. Die wind ruis deur die blare aan die bome. Die stemme is stil.

Laerskool Vissershoek skoolfoto, 1909
Laaste rusplek van MC Schoeman (1877-1923)
Laaste rusplek van Frederik Stephanus Schoeman (1859-1892)
Laaste rusplek van Susara Elizabet Johanna Schoeman (1887-1887)
My pa by die grafte van sy oupa, Jacob Bernard Schoeman (1882-1968), en ouma Maria Magdalena Schoeman (geb. Joubert) (1886-1955)
Veld in Vissershoek, noord van Pretoria

______________________