Waar trek mens die streep vir moord?

WOENSDAG 19 OKTOBER 2016

Op Vrydag 5 Oktober 2007 het ek ’n nota geskryf wat soos volg begin het: “Is self-verloëning – die verloëning van jou waardes, van wie jy is – regverdigbaar as die eindresultaat goed is?”

Ek skets toe ’n situasie van iemand wat skynbaar ’n goeie mens is, wat ’n slegte daad pleeg, maar vir goeie redes.

Lang storie kort, ek besluit toe om nie die oorspronklike teks te gebruik nie, want ek reken as ’n “goeie mens” ’n slegte daad pleeg – soos moord, vir ’n goed genoeg rede – soos om honderd mense se lewens te red, hy nie werklik sy morele waardes verloën het nie, en nie regtig sy “goeie gewete” opgeoffer het op dieselfde wyse as wat iemand anders sy lewe of ’n ledemaat opoffer om iemand anders te red nie.

Nietemin, dink ek toe, ’n mens moet sekerlik ’n streep êrens trek.

I

Sê byvoorbeeld iemand red honderd mense se lewens deur iemand anders te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag – nadat hy sy vertroue gewen het. Die persoon voel baie skuldig, maar die wêreld is ’n beter plek. Is dit nie ook ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense nie?

II

Sê byvoorbeeld iemand slaag daarin om langtermyn huisvesting te voorsien aan twee honderd hawelose mense deur iemand anders te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag – nadat hy sy vertroue gewen het. Hy voel baie skuldig, maar die wêreld is ’n beter plek – daai twee honderd mense het vanaand ’n warm plek om in te slaap. Is dit ook ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense?

III

Sê byvoorbeeld iemand red ’n duisend mense se gevoelens deur iemand wat hulle godsdiens beledig het, te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag. Hierdie persoon voel skuldig, maar die wêreld, so glo hy, is ’n beter plek, omdat die gemeenskap voel geregtigheid het geseëvier. Is dit ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense?

Baie mense sal ’n paar minute benodig om die eerste twee scenario’s te oorweeg. Ek glo minder mense sal tyd nodig hê voordat hulle die derde scenario veroordeel. Die vraag bly: Waar trek ’n mens die streep?

______________________

Skakels na ’n paar kwaliteit artikels, plus een of twee stukkies teks

MAANDAG 10 OKTOBER 2016

Soos enige intelligente mens lees ek my kwota goeie artikels. Hierdie stuk bevat hoofsaaklik ’n paar skakels na sulke artikels, en een of twee ander stukkies teks.

Op 18 September 2016 skryf Andrew Sullivan op NYmag.com oor stilte en tegnologie. Hy herinner lesers daaraan dat die Protestantse Reformasie begin het met ’n aanval op die Middeleeuse vestings van stilte, naamlik kloosters. Dit was gevolg ’n paar eeue later deur die geraas en ontwrigting van die Industriële Rewolusie. Hy is verder van mening dat stilte in die moderne era ’n simbool geword het van die waardelose bygelowe wat ons agtergelaat het. En die slimfoonrewolusie van die laaste dekade is volgens hom die finale spyker in die kis – waar die laaste stil oomblikke wat ons nog het, wat hy noem “the tiny cracks of inactivity in our lives”, ook gevul word met stimulus en geraas.

Lees gerus self die artikel: “I Used to Be a Human Being”.

* * *

In nog ’n uitstekende opiniestuk getiteld, “Will the Left Survive the Millennials?” maak Lionel Shriver ’n paar goeie punte:

* Toe hy grootgeword het in die sestigs en vroeë 1970’s, was konserwatiewe mense die handhawers van konformiteit. Dit was die mense aan die regterkant van die politieke spektrum wat agterdogtig was, alewig opsoek na tekens van opstand. Nou, reken hy, is hierdie rol oorgeneem deur mense aan die linkerkant van die politieke spektrum.

* In ’n era waarin mense so ontsettend sensitief is, raak deelname aan openbare gesprek so riskant, met die gevaar om elke hoek en draai dat jy per ongeluk die verkeerde woord kan gebruik of nie die regte graad van sensitiwiteit openbaar ten opsigte van gestremdheid, seksuele oriëntasie, sosio-ekonomiese klas, ras of etnisiteit nie, dat mense gaan begin om eerder weg te bly van ’n sosiale bymekaarkoms waar die waarskynlikheid dat iemand aanstoot sal neem, groot is.

* Hy wonder ook hoe dit gebeur het dat liberale mense in die Weste sensuur en die oplegging van ortodoksie in denke en spraak omhels het as ideologie.

* Hy herinner ook die leser daaraan dat vryheid van spraak beteken dat jy ook die stemme van mense sal beskerm waarmee jy totaal en al verskil.

Lees die hele stuk hier: www.nytimes.com/2016/09/23/opinion/will-the-left-survive-the-millennials.html

* * *

Die wetenskaplike, Donald Hoffman, sê ewolusie begunstig nie mense met ’n goeie begrip van objektiewe werklikheid nie – dit wil sê, realiteit soos wat dit werklik is, maar dat dit diegene begunstig wat die werklikheid waarneem op ’n manier wat hulle in staat stel om op effektiewe wyse te oorleef en suksesvol voort te plant.

Lees die stuk, “What If Evolution Bred Reality Out Of Us?” deur Adam Frank.

* * *

En laastens, wyse woorde van iemand wat probeer uitwerk hoe om ’n sportspan uit die vallei van wanhoop te kry:

“[T]o paraphrase Albert Einstein, you cannot solve a problem with the same level of consciousness that created it. In other words, problems created with one type of thinking will persist until you think differently — and that usually requires different people (because, in my experience, it takes a mighty epiphany for a person to change their thinking drastically enough).”

www.timeslive.co.za/thetimes/2016/10/10/Einstein-can-help-Boks

______________________