’n Gepaste lewe vir ’n fantastiese dier

VRYDAG 29 APRIL 2016

’n Paar jaar gelede het ek baie tyd spandeer aan dinge waaraan ek nie werklik geglo het nie. Hierdie aktiwiteite het ingesluit om internet eiendomme te ontwikkel wat ek wou verkoop, om inhoud te produseer wat ek aan ander internet bemarkers wou verkoop, en om inligtingsprodukte wat ander mense geskryf het, te probeer verkoop aan ander mense wat dit uiteindelik aan eindverbruikers sou verkoop wat hopelik die inligting nodig gehad het.

Wat beteken dit dat ek moes glo aan wat ek besig was om te doen? En hoekom moet ek glo aan dit waaraan ek werk, of aan dit waaraan ek ’n betekenisvolle aantal ure per dag spandeer?

Ek reken dit het te make met my beskouing van die mens. Ek glo die mens is ’n fantastiese dier. Inderdaad kan mens amper sê die mens is ’n wonderwerk van ’n wese – die gesofistikeerde meganika, die asemrowende kompleksiteit van wat in die brein aangaan, en die ingewikkelde dinamika van interpersoonlike verhoudings.

Met dit as vertrekpunt glo ek ’n mens moet jouself besig hou met aktiwiteite wat waardig is van jou kompleksiteit en sofistikasie.

Jy kan self deur ’n lang lys van aktiwiteite gaan om uit te werk hoe gepas dit is: lees, dink, skryf, koskook, atletiese kompetisie, webblaaie ontwerp, ’n koffiewinkel bestuur, siek of beseerde diere behandel, tande regmaak, Engelse klasse gee vir Taiwannese studente, en so kan jy aangaan.

Wat ek gedoen het tot ’n paar jaar gelede, was om teen die prikkels te skop. Ek het jare gelede al geweet dat om te dink aan dinge en dan my gedagtes neer te skryf, die aktiwiteit was wat my die gelukkigste gemaak het. Ek sou later terugkeer na notas wat ek gemaak het, dele herskryf, dele byskryf, die formulering skerper maak, en so aan. Uiteindelik het ek ook geleer om te publiseer wat ek geskryf het sodat ander mense dit ook kan lees. Jaar in en jaar uit het ek weer en weer en weer besef dat om besig te wees met hierdie kreatiewe proses, my natuurlike toestand is. Ek kon myself druk in enige rigting in, myself forseer in verskillende rolle in, myself oortuig dat ek allerhande aktiwiteite moes onderneem wat kwansuis geld sou maak. Maar ek moes kon raai: as ek myself net ’n halwe kans gee, sou ek altyd terugkeer na my natuurlike kondisie toe.

Hierdie proses van dink en lees en aantekeninge maak en later publiseer, so reken ek, kwalifiseer as ’n reeks aktiwiteite wat gepas is vir ’n fantastiese dier om hom- of haarself mee besig te hou. Ek reken verder dit is ’n geval van geleentheid wat aangegryp word en tyd wat behoorlik benut word.

Natuurlik moet ’n mens jou brood en botter, en dak oor jou kop op een of ander manier verdien. Glo ek dan aan die dinge waarmee ek tans geld maak? Is dit gepaste aktiwiteite vir ’n fantastiese dier?

Ek glo in die waarde van taalstudie. Om ’n tweede of derde taal te probeer bemeester, is in my opinie ’n waardige en hoogs waardevolle onderneming. Ek het geen probleem om tyd te spandeer om mense te probeer help wat gretig is om hulle taalvaardigheid te verbeter nie. Ek het ook nie ’n probleem daarmee om ’n produk aan te beveel wat ek glo goeie waarde bied aan taalstudente nie. Ek gee ook glad nie om om tyd en geld te belê om produkte te skep wat in hierdie mark se behoeftes voorsien nie.

Ek het op ’n stadium ’n obsessie gehad daaroor om te probeer uitvind hoekom ek so hard werk en so min vrugte pluk van my arbeid. Ek het aan die einde vorendag gekom met iets soos nege of tien redes, wat ingesluit het gebrek aan beleggingskapitaal en vennote, die feit dat ek nie gefokus het op oorvloed nie, en dat ek nie voldoende probleme opgelos het vir mense nie. Ek het egter nooit gedink aan watse probleem dit was dat ek nie geglo het aan wat ek gedoen het nie. En ek reken ek het nie geglo aan wat ek gedoen het nie, omdat die gedagte êrens in my grysstof aan-en-af geflikker het dat waarmee ek myself besig gehou het, nie gepaste aktiwiteite was vir ’n fantastiese dier wat net een kans op die lewe kry nie.

SATERDAG 30 APRIL 2016

00:34

Wat van sportweddenskappe en handeldryf op die finansiële markte? Hoekom het ek geen probleem om myself daarmee besig te hou nie? Glo ek daaraan? Dink ek daai aktiwiteite is gepas?

Antwoord: Ek kan dit verduur dat ek nie daaraan glo nie, want dit hou my nooit lank genoeg besig om ’n probleem te raak nie.

01:39

Ek het sopas hierdie nota ontdek van Dinsdag 12 Oktober 2010: “As ek nie toegewyd is aan iets nie, is die waarskynlikheid baie skraal dat die projek afgehandel sal word. En selfs al word dit afgehandel, is die waarskynlikheid dat dit suksesvol sal wees nie baie goed nie. Ook, as ek nie GLO aan iets nie, kan ek nie toegewyd wees daaraan nie.”

Naskrif (Desember 2016)

Dit is makliker om te glo aan wat jy doen as jy waarde skep vir iemand anders. Die skrywer van Killing Sacred Cows, Garrett Gunderson, sê: “How can it be risky to wake up each morning and do what we love doing, provided it […] creates value in the world.”

Hy haal ook vir Steve Farber aan: “Do what you love in the service of people who love what you do.”

Uit wat ek geleer het ’n paar jaar gelede, kan ek byvoeg: Doen dinge wat jy geniet om te doen vir mense wat waardeer wat jy doen omdat jy hulle weglei van ’n plek waar hulle nie wil wees nie; omdat jy hulle lei na ’n plek waar hulle wel wil wees; omdat jy dinge makliker maak vir hulle; omdat jy aan hulle vermaak of vertroosting verskaf; of omdat jy vir hulle iets leer en hulle help om dinge beter te verstaan. Doen hierdie dinge vir mense, en jy sal waarskynlik nie ’n probleem hê om te glo aan wat jy doen nie.

______________________

Om geld te maak, is ’n noodsaaklike onaangenaamheid

DONDERDAG 28 APRIL 2016

Daar is mense wat regtig daarvan hou om geld te maak. Hierdie mense weet hoekom hulle geld maak. Dit laat hulle goed voel om geld te hê, hulle hou daarvan om geld te spandeer, en hulle hou daarvan om goed te besit.

Ander mense dink nie veel aan die rede hoekom hulle geld maak nie. Hulle weet alte goed as hulle nie geld inbring elke maand nie, gaan nie net húlle swaarkry nie, maar ook geliefdes wat afhanklik is van hulle, of wat op hulle finansiële bydrae staatmaak.

Ek het die nare gewoonte om sake soos hierdie te kompliseer. Ek vind dit nodig om aan spesifieke redes te dink hoekom ek wil geld maak, of hoekom ek reken ek nie ’n keuse het anders as om geld te maak nie.

Een van die redes hoekom ek tans meer geld wil maak as wat ek nodig het, is omdat ek in ’n posisie wil wees binne die volgende 10 of 15 jaar waar ek minder aktief kan wees in die proses van geldmaak. Dit sal verder besonders goed wees as my lewensmaat ook in staat kan wees om minder van háár tyd te spandeer daaraan om geld te maak.

Wat die geldmaak-storie vir my kompliseer is dat ek nie die aktiwiteite waarmee ek tans geld verdien, beskou as my werklike professie nie. Ek skryf, en ek publiseer wat ek skryf – dit is my werklike beroep, en ek is goed bewus daarvan dat dit heel waarskynlik nooit veel geld sal inbring nie.

Het ek dus nie nodig gehad om geld te maak nie, sou ek heel waarskynlik nie veel daaraan gedink het nie. My produktiewe ure elke dag sou gevul gewees het met werk wat ek as belangriker ag as enige arbeid waarmee ek vergoed word met harde kontant of geld in my bankrekening. Ek sou besig gewees het om met my hande woorde en sinne te produseer in ’n notaboek of op ’n rekenaar, en as ek nie besig sou wees daarmee nie, sou ek besig gewees het om te dink aan dinge wat waarskynlik sou opeindig op papier of in een of ander digitale formaat.

Om geld te maak, is derhalwe vir my ’n noodsaaklike en onvermydelike onaangenaamheid.

______________________

Waarin ek glo, en ’n paar ander punte

DONDERDAG 14 APRIL 2016

Punt 1.

Dit is moeilik om te sê waarin ek glo.

Punt 2.

Ek vind dit moeilik om myself toe te wy of te verbind aan iets, want ek moet 100% glo daaraan, en ek sal deurentyd toewyding daaraan aan myself moet verkoop.

Punt 3.

Ek wens ek kan meer kosmiese verslag-tipe skryfwerk ontdek: Ek is bewus daarvan dat ek bestaan; ek het leer lees en skryf; ek het identiteit ontwikkel; ek oorleef (hoe?); ek funksioneer (hoe?); ek skryf wat ek dink, hoe ek voel, en hoe ek dinge ervaar.

Indien ek so ’n langtermyn skryfprojek van iemand anders ontdek, sal ek nie my eie literêre pogings vergelyk met daai persoon s’n nie. Ek sal verheug wees. Ek sal gretig lees wat die persoon dink, hoe hulle voel, en hoe hulle die lewe ervaar.

Punt 4.

Tien of vyftien jaar gelede het ek geglo ek kan iets skryf, iemand sal dit lees, en dink: “Hierdie ou is reg. Dit moet eintlik so wees. Ek sal van nou af anders optree.”

Punt 5.

Op Dinsdag 2 Junie 2015 skryf ek: [Dalk verskil my lewe nie veel] van die volgende ou s’n nie, en ek mors my tyd met my sogenaamde skryfwerk.

Aan die ander kant is daar ’n skraal moontlikheid dat ek my volwasse lewe sover op ’n manier geleef het wat aan my ’n unieke beskouing gegee het van die mens se bestaan en die lewens wat ons leef, en dat ’n kombinasie van persoonlikheid en tersiêre opleiding dit moontlik maak dat ek iets kan skryf wat iemand anders sal laat sê, “Ek hou van die bewoording hiervan. Dis nie regtig iets waaraan ek self nog nooit gedink het nie, maar die manier hoe die ou daaroor praat, maak dit makliker vir my om my eie gedagtes agtermekaar te kry.”

Punt 6.

Op Vrydag 31 Julie 2015 het ek die tromme geroffel vir ’n belangrike insig: Mens sê graag, “Maar iemand anders het dit klaar gesê,” of “Iemand anders doen dit klaar.”

Feit is, nie almal het gehoor toe daai ander iemand gesê het wat hulle ook al gesê het nie, of hulle het nog nie daai film gesien nie, of daai boek gelees nie. En selfs mense wat gehoor het wat daai man of vrou gesê het, of wat ’n sekere film gesien het, of ’n sekere boek gelees het, het al vergeet van die liggies wat aangegaan het in hul koppe!

Almal vergeet dinge. Dit, aan die einde van die dag, is hoekom belangrike dinge herhaal moet word.

Punt 7.

Op Donderdag 28 Januarie 2016 het ek geskryf: Dalk is die beste roman wat ooit geskryf sal word in enige taal, reeds geskryf. Maar steeds moet ons aanhou om te skryf.

Dalk is die mees vrygewige mens wat ooit sal leef, dekades of eeue al dood. Maar steeds moet ons aanhou om te gee.

MAANDAG 18 APRIL 2016

Ek dink nou al ’n geruime tyd aan hierdie ding dat ek nie werklik weet waarin ek glo nie. Tref dit my vanmiddag soos ’n bliksemstraal: Ek glo in bome.

Dink daaraan: bome is sag op die oog en goed vir die hart; dit voorsien beskutting en voedsel aan mense, diere, voëls en insekte; in vele gevalle is ’n enkele boom ’n ekologiese sisteem waarbinne sommige kreature hul hele lewensiklus uitleef; bome maak besoedelde lug skoon en maak dit derhalwe makliker vir mense om asem te haal; bome voorsien hout vir huise en hutte en ander skuilings, en vir meubels; bome voorsien hout vir warmte; bome voorsien papier vir boeke; ’n mens kan ’n aktivis word vir die saak van bome – om die waarheid te sê wy vele mense reeds hulle lewens toe aan hierdie saak; bome kan vir honderde jare aanhou groei; en laastens maar nie die minste nie, vind jy jouself skielik een dag nakend buite jou huis, kan jy eenvoudig oorstap na die naaste boom toe, sagkens ’n takkie vol blare afbreek, en jou gesig daarmee bedek.

______________________

Die Groot Trek – vlees-en-bloed geskiedenis

MAANDAG 11 APRIL 2016

Ek het as kind aan die Groot Trek gedink as meer Bybelse geskiedenis as gewone geskiedenis. En ek het goed geweet: jy het anders gedink oor Bybelse geskiedenis, jy het anders daaroor gepraat, en jy het dit anders bestudeer.

Soos die Bybelse verhale, was die Groot Trek gevul met super-figure: Piet Retief, Gerrit Maritz, Andries Pretorius, en die vrou wat gesê het sy sal eerder kaalvoet oor die Drakensberg loop as om weer onder Britse heerskappy gebuk te gaan. Daar was ook aartsvyande, van die kaliber wat jy ook net in die Bybel aangetref het, waarvan die bekendste, die boosaardigste, Dingaan was, die koning van die Zoeloes.

Dan was daar gebeurtenisse wat so epies was dat ’n mens as kind nie anders kon as om te dink daaraan as Bybelse tipe-verhale nie. Daar was in die eerste plek die trek oor die vlaktes en later oor die Drakensberg. Dan was daar die moord op Piet Retief en sy geselskap deur hul aartsvyand en sy Zoeloe impi’s. En uiteindelik was daar die epiese triomf by Bloedrivier, toe die Trekkers teen die verwagtinge in hulle vyand, wat die Trekkers oortref het in getalle tien teen een, verslaan het. Om die Bybelse kwaliteit van die Groot Trek storie te verseël, was God ook daar, aan die kant van die Trekkers, soos hy meer as 20 eeue tevore ook aan die kant van die Israeliete was.

Gesien vanuit hierdie beskouing, was die Groot Trek die Boere se Eksodus verhaal; die Oos-Kaap was Babilon; Natal en die Vrystaat en later die Transvaal was die Beloofde Land; Piet Retief was Moses; Andries Pretorius was Joshua; die Engelse was die Egiptenare; en Dingaan was die Farao, of Goliat wat verslaan moes word op die slagveld deur die klein groepie Boere, of dan die getroue kryger, Dawid.

As jong student in ’n veranderende Suid-Afrika in die vroeë negentigs het ek bewus geraak van ’n proses onder geskiedskrywers om die Groot Trek te demitologiseer. Dit was blykbaar glad nie so ’n massiewe volksbeweging nie; net iets soos 10% van die afstammelinge van die oorspronklike Europese immigrante het deelgeneem aan die trek. En die oorwinning by Bloedrivier was ook eintlik glad nie ’n wonderwerk nie; die Trekkers het immers moderne wapens gehad, en die Zoeloes net assegaaie en skilde van hardgemaakte leer om die koeëls van hulle lywe af te weer.

Aan die een kant het jy dus gehad die Groot Trek as mitologie wat vir dekades lank gebruik was deur politici en die regerende elite om etniese nasionalisme te kultiveer; aan die ander kant, gediskrediteerde geskiedenis, iets wat nie regtig was soos wat mens altyd geleer het nie.

Soos ek egter onlangs weer besef het, is die waarheid veel interessanter as enige opgeblase propaganda. As mens met ’n oop kop weer na hierdie geskiedenis kyk, sal jy ontdek die vlees-en-bloed mans en vrouens en kinders wat vrees en onsekerheid ervaar het; mense wat bemin het en wat geliefdes aan die dood moes afstaan wat die wêreld vir hulle beteken het; mense wat gehoop het om rustig te raak op ’n eie stukkie grond as die stof uiteindelik gaan lê het.

* * *

Uit ’n oorsig oor The Great Trek Uncut: Escape from British Rule – The Boer Exodus from the Cape Colony 1836, deur Robin Binckes: “The author distances himself from the noble characters stereotyped for the past two centuries and portrays them in their true light: wonderful, courageous people with human feelings, strengths and failings.”

Koperbedekte seremoniële ysterwaens wat min of meer die uitleg van die waens tydens die Slag van Bloedrivier uitbeeld. Foto deur Renier Maritz (CC BY-SA 3.0)

______________________

Neem eienaarskap van jou mislukkings

DONDERDAG 7 APRIL 2016

Ek lees vroeër vanaand ’n nota wat ek geskryf het op Vrydag 28 Augustus 2015. Die nota gaan oor sukses, maar soos die storie maar is, meer oor mislukking. Ek hou regtig van die stuk. Ek is vies toe ek bevestig wat ek vermoed het: ek het nog nie die teks geredigeer nie so dit is nog nie gepubliseer nie.

Ek reken die rede vir die vertraging is dat die deel oor mislukking my ’n bietjie te kaal laat voel, te weerloos.

Bespring ’n gedagte my toe soos ’n besete kat: Neem eienaarskap van jou mislukkings.

Tot ’n mate is ek reeds eerlik oor my mislukkings, maar ek dink nietemin nou al vir ’n geruime tyd aan die ongemak wat ek steeds daaroor ervaar.

Feit is, mislukking in my pogings om meer geld te maak vanaf 2006 is ’n integrale en belangrike deel van my lewensverhaal. Ek behoort dit nie toe te gooi, of met suiker te besprinkel nie. Ek moet dit nie probeer wegpraat, of praat daaroor asof dit nie heeltemal waar is nie (in elk geval bietjie te veel van ’n uitdaging).

Net soos wat ek ander goed wat ek gedoen het waarmee ek gelukkig is, aanvaar as deel van my storie, so is mislukking ook deel van my storie. Dit is mý mislukking. Dit is mý proses. Dit is mý lesse geleer. Dit is mý emosionele ongemak, en mý teleurstelling. Ek het duur betaal daarvoor, en ek moet maak daarmee wat ek wil.

Ek het al misluk in vele ondernemings wat ek aangepak het sover in my lewe. Ook dit, is ek.

______________________